Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is geen hopelose situasies nie; dit is slegs die mens wat hooploos raak . Behou jou hoop want dit red jou in die middel van alle teëspoed – Christelike hoop is nie om maar net te glo in die moontlike nie maar om sekerheid te hê; God sal ongetwyfeld gee wat Hy belowe het.
HASIE WORD BEESWAGTER
BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies
Koning Leeu het 'n paar koeie aangehou wat hy gereeld gemelk het. Sy vrou het daarvan gedrink en ook hyself. Die melk wat oor was het hulle botter van gemaak om hulle kinders se neusies blink te hou.
Daar was vyf koeie. Drie van hulle was wegloperkoeie. Koning Leeu het hulle nie self opgepas nie, want dit betaam nie ‘n koning om sulke werk te doen nie. Hy het die ander diere laat beurte neem om sy koeie op te pas.
Die drie wegloperkoeie het maar gereeld probeer om weg te loop. Bewaar dan die arme dier onder wie se toesig dit gebeur het. Hy kon nooit weer koeie oppas nie. Koning Leeu het hom geslag en opgeëet.
Toe kom Hasie Kalbassie aan die beurt om vir sy koning hierdie ou werkie te doen. Op ‘n goeie môre dans en sing hy al agter die koeie aan. Hy sal hulle wys hoe maklik dit is om vyf ou koeie op te pas. Hy steek ‘n grassie in sy bek, stoot sy hoed skuins op sy kop en jaag die koeie in ‘n kampie langs die rivier. Toe gaan sit hy op ‘n koppie om hulle in die oog te hou. Hy sê vir homself: “So doen ‘n mens dit. Wat is nou makliker as dit? Hulle het volop gras en water. Hulle sal nooit wegloop nie; hulle het te veel verstand.”
Na ‘n rukkie begin sy oë te dwaal. Hy bekyk die wêreld en gewaar ‘n bos wat hy nog nooit vantevore raakgesien het nie. Hy wip daarheen en bekyk die blare en bevoel die wortels.
Toe kom daar ‘n klomp blesbokke verby. Hy sien hoe die klein bokkies hulle ma’s met hulle neusies besnuffel. Hy spring op en begin die klein bokkies lastig val, totdat die ou bokke hom wegjaag. Hy onthou dat ou Skilpad ‘n entjie langs die rivier af bly en wip soontoe om hom te gaan terg, maar Skilpad is nie daar nie. Dit maak vir Hasie kwaad en hy begin klippe in die rivier gooi en trek die riete uit wat langs die water groei.
Toe sien hy vir Heuningvoël bokant hom rondvlieg en dink dat daar êrens heuning moet wees om te eet. Maar daar was toe geen heuning nie. Hasie het toe omgedraai, maar die son is so warm en die skaduwee onder die bossies is so koel dat hy besluit om ‘n bietjie te rus. Hy gaan lê in die skaduwee en dit was nie lank nie of hy is vas aan die slaap.
Laat namiddag toe dit koeler word, skrik hy wakker en laat vat net so vinnig as wat hy kan na die kamp waar die koeie moet wees. Hy sien net die twee bedaarde ou koeie. Die drie weglopers is nie daar nie. Hoe hy ook al soek, hy kan geen haar of horing van hulle gewaar nie.
Uiteindelik word dit tyd om hulle kraal toe te bring. Hy jaag die twee makkes aan tot naby die kraal en spring toe om om weer na die ander drie te gaan soek. Daar was ‘n ruigbegroeide en klipperige eiland in die rivier. Tussen die wal en die eiland het ‘n paar groot klippe uitgesteek. Klein Haas spring van die een klip na die ander en kom op die eiland te lande. Hy soek ‘n veilige plekkie uit tussen twee groot klippe en gaan lê daar.
Dit was nie lank nie of hier kom koning Leeu en hy brul: “Waar is daardie Haas wat vanmôre so kordaat gaan koeie oppas het? Wag tot ek hom in die hande kry!”
Hasie trek sy lyf so plat soos ‘n pannekoek daar tussen die twee klippe en hy wens dat hy vlerke gehad het. Koning Leeu brom en brul en gaan sit regop op sy agterpote en stoot so ’n vreeslike brul uit dat die hele eiland bewe, maar Hasie lê plat. Hy is te lam van skrik om uit te spring en te vlug. Koning Leeu loop al brullende langs die rivier af.
Hasie Kalbassie kan weer asemhaal. Hy slaap nog ‘n nag op die eiland, maar toe verlang hy huis toe, want hy is baie honger. Hy kom by koning Leeu se huis aan toe dit al donker was en gaan langs die waenhuis sit om te sien wat in die huis aangaan. Na ‘n rukkie kom sy eie vrou uit die kombuis, waar sy besig was om skottelgoed te was. Sy skrik toe sy vir Hasie gewaar, ma
Later sê sy: “Ons het gedink jy is dood.”
“O,” sê Haas, “dan het jy seker al ‘n ander man in die oog.”
“Nee,” sê sy, “een is genoeg as hulle almal soos jy is. Maar toe koning Leeu gister daardie koeie sonder jou sien huis toe kom, het hy gedink jy’s dood.”
“Was hy spyt?”
“O,” sê Hasie en dit lyk of hy daaroor dink. “Bring tog net vir my iets lekkers om te eet; dan sal ek dink wat ek gaan doen. Die ou is groot en lelik, maar hy is nie so slim soos iemand wat ek ken nie.”
Sy bring vir hom mieliepap en melk en daarna vra hy vir ‘n hark en stuur haar weer die huis in. Hy sit ‘n rukkie stil en dink hoe lekker hy en sy vrou, Hasina, hier by koning Leeu gebly het, maar toe begin hy homself met die hark verinneweer. Hy skeur sy klere en trek sy hare uit en krap diep snye en skrape met die hark se tande oor sy gesig, sy hande en sy ribbe, sodat dit lyk of hy in ‘n haak-en-steekbos geval het en iemand hom aan sy agterpote daar uitgepluk het. Toe steier hy die kombuis in en slaan op die vloer neer. “Waar is dokter Jakkals?” kreun hy. “Bring vir dokter Jakkals, want ek gaan dood!”
Sy vrou Hasina gaan aan die gil en al die bediendes storm die kombuis binne. Koning Leeu hoor die lawaai en hy kom kyk wat aangaan. “Hier jou haas, waar kom jy nou vandaan?” brul hy. Maar toe hy sien hoe stukkend hasie is het hy hom maar vergewe en besluit om hom nie meer te eet nie.