Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Het u al ooit 'n sielsongelukkige 'kunstenaar' gesien? Nie sommer nie! Iemand wat iets skep, enige iets, selfs net 'n pragtige bord kos, is nie 'n ongelukkige mens nie. Skeppende mense is gelukkige mense want om dinge te skep gee jou visie, rigting en selfrespek. Hoe besiger jy is om kreatief te wees, hoe gelukkiger sal jy wees.
BEWONERS VAN BOSKOP
Dr JP Botha
(Uit skrywer se boek oor diereverhale: Langs die Toelanie)
BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies
Oor die ruie boskop breek die dag. Reeds begin die bome swart vertoon teen die vinnig-verhelderende oosterlug daaragter. Maar vroeg reeds, nog voordat die lug selfs die geringste teken van die naderende dag verraai het, het Slink, die sekretarisvoël wat nou soos 'n roerlose nagwag bo-op die kruin van 'n groot, plat haak-en-steek links van die boskop vertoon, sy nek 'n slag lank uitgerek en sy vere effens geskud. Toe het hy sy kop maar weer onder sy vlerk ingesteek en 'n rustige môreslapie geniet.
Nou dat die môrelig al haas deur elke digte bossie straal, laat Slink nie meer op hom wag nie. Hy lig sy vlerke, wip met 'n sprong oor die boom se kant en begin met kragtige vlerkslae al hoe hoër styg.
'n Lekker stil môre dié, met alle tekens van 'n warm dag wat kom. Slink voel opgeruimd daaroor; hy voel of hy sommer vir die pret kan styg en styg tot wie weet waar! Toe hy hoog oor die boskop in die blou lug hang en die uitgestrektheid van sy koninkryk betrag, pak 'n gier van vrolikheid hom beet en hy begin te brul... brul... brul... van pure genot.Die môreson bak warm teen die klippe op die boskopkroon. Bo-op die gelykte van die hoogste rots draai Stompie, die dassie sy koppie skuins na bo en sy blink-swart ogies bespeur die rustige vlieër daar in die bloute. Helder en welbekend klink die sekretarisvoël-gebrul vir hom: "Wwwoe-oe-oe-oe! Wwoe-oe...!"
Hy ken Slink. In sy enigheid is hy bly dat hy nie een van die slange is wat hier in die vlaktes om die boskop boer nie, want dan sou sy lewe maar onrustig gewees het.
Slink se stoom is eindelik voldoende afgeblaas. In groot sirkels sak hy stadig grond toe en kies die sonkant van die boskop. Daar stryk hy in die vlakte neer en stuit sy vaart met 'n wiploop van 'n goeie tien tree, met die vlerke nog steeds wyd gespan soos dié van 'n vliegtuig.
Die jag begin. Met afgemete treë stap hy nou die vlaktes deur, baie deftig gekleed in sy blou baadjie en swart broekie. Die klossie agter sy kop is nog stewig en dik. Hy is nog in die fleur van sy dae, hierdie Slink, en hy dink ook nou nie meer aan die droewige nag kort voordat hy as kluisenaar sy intrek in die vlaktes rondom die boskop geneem het nie. Of woel daar soms herinneringe deur die klein vaal koppie, waanneer hy stil deur die vlaktes stap sonder om links of regs te kyk? 'n Sekretarismannetjie so jonk soos Slink, sou lankal reeds 'n nuwe maat gesoek het. Maar hy doen dit nie; dit skyn asof hy nog te goed onthou.
Vier jaar gelede toe hy nog 'n pas uitgegroeide jong mannetjie was, het hy een middag in die kameelvlaktes ten weste van die boskop vir Slim, 'n jong wyfie ontmoet. Die volgende aand het hulle saam op die kruin van 'n groot ou kameeldoring geslaap. Dit was 'n woeste nag en die wind het donker wolkmassas deur die lug laat snel. Eindelik het die storm losgebars en strome water het neergesjor. Maar meteens het 'n blits met sidderende gekraak Slink se jong wyfie langs hom weggeruk... Hy het veskrik die duisternis ingewip en homself in ylende vlug op sy breë vlerke die nag ingewaag...
Die volgende môre het die dassie op die boskopkruin die vreemdeling bespeur, waar hy ingetoë op die plat kruin van die haak-en-steek gesit het. Vier jaar nou al en die kluisenaar het die heerser van die boskop geword.
Slink maak vanmôre 'n klopjag op alles wat voorkom: goggas, sprinkane, muise en ander diertjies wat dom genoeg is om hulself te vertoon. Daar snel nou al weer 'n vaal graskoggelmander oor die kaalte na 'n wag-'n-bietjie, stert in die lug, en die sand spat om hom heen! Hy hoor die geklap van reusepote en 'n groot skaduwee val oor hom. Dan trap Slink met een hou alle lewe uit hom uit voordat hy hom as 'n lekker happie na binne wurg. So gaan dit telkens. Nou stap hy weer deur 'n hoë kol stinkgras. "Woerts!" vlieg 'n grasvoëltjie al skreeuende amper onder hom uit. Slink buk en soek daar rond. Ja-nee, hier is dit! Uit 'n oop nessie haal hy vier klein voëltjies. Hy smul lekker.
Met die klim van die son begin Slink se jaglus bedaar. Een, twee maal staan hy besluiteloos stil. Dan spring hy weg, asof hy resies hardloop en styg na 'n paar tree op, reguit na die plat haak-en-steek toe waarop hy van plan is om tot kort voor sononder heerlik met 'n vol maag te staan en droom van 'n groot slang wat hy nog wil vang voordat die son vanaand agter die westerrant verdwyn.
Die hele môre het Stompie op die rotspunt in die son sit en bak. Een vir een het sy familie ook verskyn; eers die wyfie om te loer of alles pluis is, toe 'n kleintjie. Stompie het vir tydverdryf gedurig die sekretarisvoël probeer in die oog hou, waar hy soos 'n rustige wandelaar die vlaktes deurkruis het hier aan die boskop se sonkant. Indien die dassie dit kon doen, sou hy seker ook altyd tel hoeveel maal in die voormiddag Slink iets vang, want Slink is die enigste bewoner van die boskopomgewing wie se teenwoordigheid vir hom 'n genot inhou. Hy hou daarvan om dag in, dag uit die onverstoorbare kluisenaar hier vanaf sy sonplek te betrag. Maar die ewige spul katlagters wat gereeld tot sy ergernis hier in die stamvrugtebome kom sit en skater soos dol goed, kan hy nie verdra nie. En dan het hulle gewoonlik nog die vermetelheid om hier so rakelings oor sy kop heen te vlieg.
So sit hy en dink toe hy Slink sien neersak op sy boom en dit is vir hom die teken dat sy onderaardse kamers nou voldoende verwarm sal wees. Haastig word sy wyfie en die piepende kleinding deur die skeur ingejaag, want êrens in sy dassiehart vreet nou skielik 'n vrees wat gereeld ontstaan presies wanneer Slink elke middag laat na sy haak-en-steek toe pyl. Die dassie wag dan geen oomlik langer nie. Kort voor sononder waag hy dit dan eers weer om versigtig 'n swart neusie deur die donker openinkie te steek en te luister en te loer en hom eindelik dan saggies na buite te begewe, waar hy ook eers 'n hele ruk doodstil sit met sy kop na die opening toe, gereed om by die geringste teken van onraad soos 'n vaal blitsie weer daarin te verdwyn.
Ongeveer tweehonderd tree van die boskop af groei die hoë gras welig om 'n jong blinkblaarboompie en verberg 'n ronde tuitmiershoop geheel en al. Hierin boer 'n yslike geelslang. Die groot kol gras is so dig dat hy nooit nodig het om elders te gaan kos soek om hom dan op die kaal vlaktes in lewensgevaar te begewe nie, want Slink se skerp oë sal hom dadelik van uit die lug daar raaksien. In die voormiddag maak hy jag op grassprinkane, toktokkies en miere, maar sorg dat hy altyd in die nabyheid van die miershoop en onder die digste gras bly. Hy ken die verskrikking wat hier rondwandel in 'n swart broekie en blou baadjie.
Wanneer dit middag word, seil hy elke maal versigtig na 'n veilige opening vanwaar die plat haak-en-steek sigbaar is. Indien Slink dan daar bo-op troon, kan ou Gele maar gerus wees en dan pyl hy uit die digte veiligheid uit in oorhaastige vlug na die rotse van die boskopkruin, waar die heerlike middagson so aanloklik blaker. Bo-op 'n groot plat klip bak die son alle sekreatisvoëlvrees uit sy geel lyf uit en lê hy lomerig met sy gitswart ogies na die slaper op die haak-en-steek en tuur.
'n Ruk voor sononder wip Slink weer van sy boom af om na die voorwerp van sy drome te soek. Kruis en dwars deurstap hy die soetdoringveld, maar vergeefs. Sy geliefkoosde jagveld is aan die oostekant van die boskop omdat die son hier die warmste braai en gevolglik hier meer slange is as op ander plekke. Maar Slink het reeds vier jaar lank hier onder hulle gevang. Baie van hulle het al hees hul laaste noodsein geblaas wanneer sy genadelose pote hulle woedend teen die grond trommel-stamp en skop. Daarom het 'n aantal van die reptiele die boskopveld ontruim en ooswaarts verhuis, waar hulle nou 'n salige slanglewe in die digte ruigtes op die wal van 'n breë palmietrivier voer. Die weiniges wat agtergebly het, is uiters versigtig en slu.
Slink het lanklaas van sy geliefkoosde kos geniet. Dit was toe hy een middag met gespande vlerke op 'n klein ou bakkopie afgestorm het. Hy het eintlik skaam gekry dat hy die skadelose ou dingetjie so woes toegetakel het. Die voorvalletjie het net opgekropte lus aangewakker en daarom soek Slink vanmiddag so naarstiglik na die voorwerp van sy hongerlus. Maar die son dreig eindelik om agter die verre rante weg te raak en Slink is verplig om na sy haak-en-steek terug te sweeg.
Toe die helder môreson weer eens vriendelik teen die boskop bak, verskyn Stompie soos gewoonlik op sy plat klip om die komende dag te begroet. Werktuiglik deursoek sy ogies die bloute maar hy gewaar nie vanmôre die gestalte van die sekretarisvoël nie. 'n Blik na die haak-en-steek verban dadelik die gedagte dat Slink hom moontlik kon verslaap het. Toe vou hy maar sy gladde, swart pootjies onder sy wollerige lyfie in en laat twee dromerige ogies oor die brosdoringvlakte dwaal. Die veld is taamlik oop hier aan die boskop se oostekant en gewoonlik kan hy Slink se bewegings hiervandaan goed volg. Die statige wandelaar is egter nêrens te sien nie.
Vanmôre vroeg - die skemerte het nog oor die vlakte gehang - het Slink sy vlerke oopgesprei en sonder om sy gebruiklike plesiervlug te onderneem, laag oor die boskop gevlieg om die voormiddag aan die westekant daarvan te jag. Hy voel honger want die peuselkossies voed nie lank nie en dit is hoog tyd dat hy weer 'n slag 'n heerlike slang raakloop, dink hy, onderwyl hy die ruigte van 'n vals vleitjie met groot verwagtings deursif.
Op hierdie oomblik het Stompie al die raaisel oor Slink se verdwyning laat vaar en baljaar uitgelate met sy familie oor die steiltes van die enkele groot klippe rond.
By die blinkblaarboom waar die tuitmiershoop skuil, voel die geelslang vanmôre sleg omgekrap. Hy het vannag op die vlakte vergeefs na muise gesoek en het kort voor dagbreek boosaardig in die tuitgat afgeseil. Soos gewoonlik verskyn sy klein spits koppie met die eerste strale van die son in die tuit en die twee venynige ogies soek na die teenwoordighed van Slink daar bo in die lug. Maar hoe hy ook al luister, weerklink daar vanmôre geen gevreesde gebrul uit die hoogte nie. Versigtig seil hy uit by die opening, vanwaar hy die haak-en-steek gereeld in die oog hou. Ook nie! Hy laat die probleem van Slink se verdwyning nie so gou soos Stompie vaar nie. Dis immers sy doodsvyand wie se bewegings hy moet dophou en 'n knaende onrus pak hom beet onderwyl sy stertpunt kwaai in die sand heen en weer kronkel.
Eindelik skyn dit asof daar rustigheid kom. Hy kry 'n plan want hy vertrou die skielike verdwyning van Slink glad nie. Hier op die vlakte sal hy vandag nooit veilig voel nie. Uit ondervinding weet hy dat Slink nooit tussen die klipsplete na hom sal gaan soek nie. As sy vyand nou vandag weer die gier kry om ure lank daar bo rond te sweef en elke bewegende ding hieronder dop te hou soos 'n ruk gelede toe hy byna 'n halfdag roerloos onder 'n yl bossie opgerol moes lê...wat dan?
Skielik begin die geelslang vinnig koersvat na die boskop toe. Amper oorhaastig, maar tog versigtig, kies hy sy pad al onder enkele klein boompies en digte graskolle langs. Hy is al oor die helfte van die afstand...
Meteens gaan lê hy doodstil in die gras. Hy lig sy koppie stadig op en loer oor die graspol na die boskop. Tussen die skuinste wei die dassies. Baie versigtig nou, onderwyl sy linkeroog die drie gedurig dophou, begin die slang na regs te seil om agter 'n digte ghwarrieboompie tussen hom en die dassies te kom. Hy gly vinnig dog geruisloos op die boompie af en die blare ritsel hoorbaar toe sy voorlyf in die lower duik...
Meteens fladder 'n katlagter bo hom uit en breek met sy harde "Ga! Ga! Ga!" los, onderwyl hy vinnig om die boompie begin sirkel. Uit alle oorde kom die wit gedaantes aangeswerm en binne 'n paar tellings maal 'n stuk of twaalf voëltjies met 'n vreeslike lawaai al om die ghwarriebos. Die slang sit goed verskuil tussen die blare, sy lyf om die stam gedraai. Sy ogies blits venynig en die dun tongetjie glip kort-kort vinnig heen en weer uit sy bek.
Die klomp lawaaimakers verdwyn ewe skielik as wat hulle gekom het en na 'n paar oomblikke is alles weer doodstil. Toe die geelslang deur die blaregordyn na die groen streep gras onder die rotse loer, het die dassies reeds spoorloos verdwyn. Vies glip hy uit en lê manhaftig die laaste endjie af na die plat klip daar bo waar die warm son weer die vrede in sy gemoed moet herstel.
'n Paar oomblikke later lê hy lomerig uitgestrek, skaars 'n tree van die donker skeurtjie in die rots waar die dassie-drietal flussies haastig deurgeglip het. Hul reuk kleef nog aanloklik-tergend hier aan die klippe en herinner die ou gele gedurig aan sy mislukte poging. Hy kry amper lus en daal in die donker opening af, maar die instinktiewe vrees vir alles wat vreemd is weerhou hom en 'n toenemende vaakgevoel begin hom langsamerhand oormeester.
Aan die anderkant van die boskop het Slink nie te sleg gevaar nie. Die son het wreed op die aarde neergeskroei en gevolglik was daar volop singende goggas en sprinkane in die gras. Die kwaai hitte het veroorsaak dat die ou nie baie lus gevoel het om sy jagterrein vanuit die lug te deursoek nie. Die meeste vinnige slange gaan met 'n stapjag gewoonlik verlore. Maar tog het Slink reeds drie lomp ou skaapstekertjies een na die ander op 'n kaal vlaktetjie oorrompel waar hulle die warm son opgesoek het om te lê en droom. En nou voel hy al weer so bykans versadig. Hier duskant het hy nou naasteby alle maklik-bekombare slaggoedjies vankant gemaak en gaan nou weer 'n slag oorkant in sy ou jagveld probeer.
Hy buk weg en begin opvlieg, styg tot 'n goeie hoogte en draai 'n paar maal stadig bokant die boskop. Sy oë loer skerp na onder. Meteens duik hy uit die lug reg op die paar rotse af. Dit lyk asof hy hom daarteen gaan verpletter; maar nee, skaars 'n meter bokant die plat klip skiet hy reguit verby. Die slang, ru uit sy slaap gewek, spring penregop en sis verskriklik. Hy het hom koud geskrik en in sy nood vergeet hy geheel en al die veilige rotssplete. Hy vaar in aller yl teen die skuinste af, reguit na die blinkblaarbos. Slink merk met voldoening dat sy bekende skrikmaaktaktiek weer geslaag het. Hy draai in klein sirkeltjies bokant die voortvlugtende slang rond totdat hy op die gelyktetjie kom. Toe suis die sekretarisvoël soos 'n warrelwind op sy prooi neer. Die slang lig haastig sy kop op om te pik, maar 'n fluitende vlerkslag klap in die verbysnel die geel koppie half-bedwelmd teen die grond. Slink stuit vinnig sy voorthollende vaart en vlieg met uitgestrekte vlerke die slang by. Dis 'n geblaas van die ander wêreld! Die ou gele probeer nie meer voortseil nie, maar verdedig hom met alle mag. Tevergeefs! Teen 'n valk of 'n meerkat sou hy kon volhou, maar die swaarlywige Slink kom met sy skurwe pote meedoënloos op sy rug neer. Hy probeer telkens sy kop oplig om te pik, maar hy word onmiddellik platgeslaan. 'n Paar geweldige skoppe laat die geelslang inmekaar krul. Toe voer die sekretarisvoël 'n dodelike trippeldans op die slangpens uit. Na enkele oomblikke is dit gedaan...
Slink skud sy vere en stryk hulle effens plat onderwyl hy manhaftig om sy buit heen stap. Skielik gryp hy die slang se middellyf in sy bek en gaan met hoog opgeligte kop aan die hardloop, vlerkswaaiend totdat voldoende snelheid hom die lug inhelp. Hoër en hoër styg hy met sy vrag totdat die boskop daaronder belaglik klein vertoon. Slink se oorwinnaarshart voel opgeruimd. Hy los die slang en skiet soos 'n pyl agter hom aan. Dan klap sy vlerke weer vinnig en as hy die volgende oomblik stadig grond toe sak, hang die slang weer in sy bek.
Toe Stompie, wat in die donkerte van sy kamers die geweldige rumoer daar buite gehoor het, weer genoeg moed bymekaar geskraap het en baie versigtig in die bek van die rotsspleet verskyn, is alles weer rustig en stil. Hy bespied en beruik die omgewing 'n paar oomblikke voordat hy hom op die plat klip in die daglig waag. Hy gewaar die sekretarisvoël daaronder. Dié spring eintlik op en af soos hy ruk en skeur en sluk aan die slang! Stompie volg sy manewales met belangstelling totdat die voël na 'n laaste wurging sy bek teen die grond skoonvee en dan na sy haak-en-steek laat vat om oor sy oorwinning te gaan droom. Toe pak die ou geelslangvrees weer vir Stompie beet. Hy spring haastig om en vlug ylings deur die skeur!
Die son sak al hoe laer, maar nog steeds troon die stil figuur van Slink daar bo-op die haak-en-steek. Hy het vanmiddag laat geen poging aangewend om die vlaktes weer te deurkruis nie. Stompie, wat al weer hoog en droog vanaf sy platkliptroon die omgewing betrag, kyk kort-kort verbaas na die haak-en-steek en wonder waarom die sekretarisvoël dan nie weer gaan jag het nie. Toe die skemer vaal-swart die omtrek begin vul, glip hy ook deur die donker skeur na binne. En die nag sak swart om die boskop toe.