Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Woorde van wyse manne,wat rustig aangehoor word, is beter as die geskreeu van 'n heerser onder die dwase – Prediker 9
BY DIE BLINKKLIPPE
Dr JP Botha
(Uit skrywer se boek oor diereverhale: Langs die Toelanie)
BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog stories by Boekrak vir Afrikanertjies
Roerloos, met pote onder hom ingevou en sy pens plat op die grond gedruk, lê die jakkalsmannetjie en wag. Hy luister en loer aandagtig, halfongeduldig, halfnuuskierig. Hy lê aan die kant van die kol hoë stinkgras, veilig versteek agter 'n paar bedekkende polle. Hy sien mooi deur die blaargordyn voor hom oor die kaalte na die tweede kol gras daarvoor. Daar is 'n paar fisante lustig aan die skrop. Hulle maak groot lawaai, om hul genoeë te kenne te gee met die frisse, vroeë môre. Maar die geslepe rooijakkals weet hoe waaksaam dié skelm voëlsoort kan wees. Hy kan dit nie waag om oor die kaaltetjie te sluip nie. Hy lê nog besluitloos toe sy vrees bewaarheid word. 'n Groot fisantmannetjie tree statig uit die gras te voorskyn en beklim trots 'n miershopie aan die kant van die gras. 'n Paar minute lank wil hy nou brandwag speel. Hy verklaar dit ook met klappende vlerke en gestrekte nek aan die bos soos hy daar op die miershoop troon en sy skelle "klarrr! klarrr...!" die môrestilte instuur. Kort-kort slyp hy sy mooi, lang spore dat die hale teen die miershoop lê. Verder in die gras skrop die ander fisante nog houtgerus en lawaaierig voort op soek na rysmiere.
Vies lê die ou rooie die pronker en betrag. Die posisie skyn vir hom maar haglik te wees. Hy het vannag vergeefs hier in die brosdorings gejag. 'n Brandende hongersteek knel sy ingewande en die geniepsige koue van die stil wintermôre byt aan sy pote en neus. Hy lek sy lippe en dink met weemoed terug aan die tyd toe die jakkalspare van heinde en ver aangetrek gekom het na hierdie eertydse lushof, hierdie ou geil brosdoringbulte, toe jy nog nie nodig gehad het om jou snags pootseer te sukkel vir 'n ou stukkie kos nie. Maar die mannetjie is vasberade soos hy hier lê, sy stertkwas suutjies kwispelend. Sy geslepe jakkalsbrein werk vinnig om 'n oplossing vir die moeilike toestand te vind. Die fisantmannetjie daar op die miershoop is wakker en gee dit luidkeels aan alle vyande in die bos te kenne. Nog 'n rukkie lê die rooijakkals met vlammende oë deur die blaartjies en loer. Eindelik draai hy versigtig om en sluip op sy hoede in die teenoorgestelde rigting weg.
Tot dusver het die fisantmannetjie nog geen gevaar bespeur nie en nog minder sy klompie trawante daar in die gras. En selfs al sou hy nou die jakkals sien wegsluip het, sou dit geen agterdog by hom gewek het nie, so doelbewus het die geslepe ou skelm weggedraf. In die kolletjie gras is nogal 'n aansienlike geselskap aan die skrop. 'n Paar vet hennetjies is besig om met 'n klompie opgeskote kuikens tussen die polle rond te snuffel. Onder hulle is 'n paar groterige haantjies wie se spore al pik, maar hulle het nog groot ontsag vir die ou rooibel-leier wat daar so geesdriftig op die miershoop te kere gaan. Dis tog snaaks dat die ou vanmôre net die een kant van die weiveld bewaak. Sy voëlverstand besef blykbaar nie dat die ander kant ook aan gevaar blootgestel is nie. Dit is juis waarop die jakkals gereken het toe hy, reeds so 'n endjie in die bosse in, koers verander en met 'n omweg terugdraf. Versigtig nader hy nou van die teenoorgestelde kant af. Die wind is juis in sy guns; dit trek glad nie en kan hom dus nie verraai nie. Van pol tot pol kom hy suutjies aangeseil totdat hy naderhand in die digte kolletjie is. Dis nog sterk skemer en dit help hom baie. Hy neem posisie in langs die smal voetpaadjie in die hoë gras, goed verskuil, sy neus amper in die paadjie onder 'n pol bedek. Hy weet goed die fisante moet netnou hier verbykom as hulle klaar het. Dis sy enigste hoop. Hy ken die wakker voëls te goed om hom in hulle te vergis; om hulle sommer aan te val sou hopeloos misluk.
Die rooijakkals se verwagting word vervul. Van die anderkant uit die gras kom 'n gebiedende "korrr!" van die ou leier. Die fisante raak stil en die jakkals hoor aan die gekraak van die grassies in die paadjie dat hulle nader. Toe die eerste jong haantjie om die draai in die gangetjie verskyn met sy nuuskierig-uitgestrekte nek geen twee duim van die jakkals se neus af nie, verdwyn sy koppie blitssnel tussen die twee kake en word die lewelose outjie vinnig uit die paadjie geruk. Die lot tref ook 'n tweede kuiken, maar terselfdertyd kom 'n groot hen om die draai en skrik haar boeglam terwyl sy nog waarskuwend piep. Die ou rooie dink nou vinnig en handel ook oombliklik. Hy stoot 'n luide gehuil uit en spring vorentoe. Die kuikens word so verbouereerd dat hulle halsoorkop onder die polle induik. Die groot fisante vlug egter onder groot lawaai van die ou leier met dreunende vlerkslae deur die bome weg. Ná 'n deeglike soektog snuffel die jakkals nog wee kuikens uit en maak hulle van die gras af. Die ander sit egter te deeglik verskuil en hy besef gou hoe nutteloos dit sou wees om verder te soek. Een van die fisantjies word gou opgevreet om die las ligter te maak en daarna gryp hy die ander drie se koppe in sy bek en draf deur die gras.
Dit is al heeltemal lig. Hy het die kordaatstuk net betyds uitgevoer gekry. Dit is hoog tyd om weg te kom van die kolletjie gras af, want sy lawaai kon maklik ander hongeriges daarheen lok. In hierdie tyd van gebrek ly is elke jakkalsoor gespanne. Met dié gedagtes kom die ou na 'n rukkie se draf uit die gras te voorskyn en gaan staan aan die kant van die wapad wat hier voor hom lê. Nou is hy dubbel versigtig. Hy weet goed met watter kêrel hy gewoonlik in hierdie lang, nou pad te doen het. Dis die mens wat soms met sy klomp langoor-diere voor 'n snaakse affêre gespan hier verbykom en naderhand weer teruggaan met die ding vol hout gelaai, daar onder na die vlakte waar hy woon. Die rooijakkals vrees hom. Hy het eenmaal agter 'n bossie in die gras lê en loer hoe die mensing met 'n stuk hout in sy hand agter 'n haak-en-steekboompie aangekruip kom na 'n steenbokkie wat 'n end daarvandaan gewei het. Die jakkals het toe gereken dat dit pure kaf is met hom, want hy het vreeslik gesukkel om op sy drie pote vorentoe te kruip. Om 'n steenbok te bekruip en te bespring of in te loop, is mos nie elke man se werk nie. Maar was die jakkalsmannetjie nie verbaas toe die mensding skielik agter die boompie regop gaan sit en die stok na die bokkie toe wys nie. Skielik hoor hy 'n vreeslike slag en sien rook uit die stok trek en daar lê die steenbok op die grond en spartel! Hy het nog lê en kyk hoe die mensding opspring en jou waarlikwaar penregop na die bok toe hardloop, hom optel en wegstap. Van toe af vermy hy die gevaarlike kêrel met sy dodelike stuk hout.
Met hierdie gedagtes draf die jakkals oor die pad nadat hy alles deeglik in oënskou geneem het. Daar volg nou weer 'n kol hoë stinkgras waardeur hy sy weg met moeite baan, gehinder deur sy prooi. Eindelik kom hy op 'n klein kaaltetjie uit, omring deur hoë, bedekkende gras. Hier lê 'n paar groot klippe. Hul uitstaande punte is rond en gladblink geskuur deur die talle grootwild wat vroeër deur die jare heen hier kom aanleun en skuur het onderwyl hulle 'n rustige middagslapie geniet. Tussen die klippe is daar 'n smal opening wat toegang verleen tot 'n ruim, doeltreffende jakkalswoning.
Die rooijakkals nader die klippe en laat die fisante voor die bek van die opening val, gee 'n knor en gaan vly hom dan 'n endjie daarvandaan neer om te wag totdat die son hom hier kom warm bak. Dadelik strompel drie jong jakkalsies deur die opening en storm knorrend op die buit af. Dog daar tree hul ma ook te voorskyn om die orde te handhaaf. Sy snou hulle gou van die voëls af weg en skeur twee van die fisante in repe, waaraan hulle nou hongerig wegval. Dan gaan sy rustig lê en kou aan die derde een.
Die son kom op en styg na die hoogte. Stadig word die veld warm en lomerig gebrand. 'n Vlaag tevredenheid wel in die gemoed van die jakkalsmannetjie op, waar hy op die oop kaaltetjie lê en skroei. Sy stemmings stem steeds ooreen met die wisseling van die elemente. Hy voel nou weer die selfvoldaanheid van die warm son deur sy ledemate sypel, soos in die vroeër, volop jare. En tog het hy nie juis veel te vrete gekry in die afgelope tyd nie, Vanmôre se fisantjie dien darem om die honger tydelik te verdryf.
Die wyfie kan haar egter nie tevrede stel nie. Die enkele fisantkuiken was te min vir haar. Die drie kleingoed is egter versadig en lê vlak langs die opening in alle onmoontlike posisies uitgestrek, so lui en loom, dood aan die slaap soos alleen 'n dikgevrete klein jakkals kan wees.
Die wyfie het self vannag met die drie gaan jag. Hulle is al groot en word reeds bedrewe in die jagveld. Maar hier in die bos word kossies in die afgelope tyd so moeilik bekombaar dat hulle dikwels ná 'n vergeefse lang nag pootseer na die skeur moet terugkeer. Gedurende die voornag het die familie saam gejag, maar later het die wyfie besluit om terug te keer na die gat. As die mannetjie alleen is, is sy kanse beter om iets op die lyf te loop.
Flus, toe die jakkalse nog heerlik lê en droom het, het 'n stokstertmeerkatjie versigtig deur die kant van die gras oor die kaalte geloer. Hy het die vleisreuk gewaar en kom verken. Maar toe hy die jakkalsreuk ook teëkom, was hy dubbel versigtig. 'n Goeie vyf minute lank het die klein knaap die wêreld lê en besnuffel en beloer en eindelik besluit dat daar nie veel gevaar skuil nie. Bangerig kom hy oor die kaalte aangedraf en begin heerlik aan die repies vleis te smul wat nog oral rondlê. Sy waaksaamheid verslap naderhand en hy gewaar nie hoe 'n lelike rinkhals geruisloos van die ander kant af oor die kaalte op hom toeskiet nie. In sy haas het die slang hom egter misreken en slaan met sy stert dat die stof so trek, skuins by die katjie verby. Skielik is die stilte by die blinkklippe verbreek. 'n Gesis en geblaas van die ander wêreld is aan die gang. Dit is hierdie rumoer wat die jakkalse wek. Alle vrees het uit die meerkatjie gewyk. Met stertjie gespan en sy hare hoog gerys sodat sy smal lyfie komieklik kwaai lyk, spring hy heen en weer, om, oor, langs die slang verby, blitsvinnig, sy bekkie oopgerek dat die slagtandjies wit glinster in die middagson. Met hierdie wending van sake is die rinkhals min gediend. Met opgehewe kop spuug hy blasend na sy aanvaller, onderwyl sy verwoede ogies elke beweging van die meerkat noukeurig volg. Die jakkals volg belangstellend die geveg; sy vrees het ook skoon verdwyn.
Die meerkat se bewegings word al vinniger; dit maak die slang nog meer verwoed. Met 'n geweldige kraginspanning pik hy na sy teëstander. Hy mis sy doel en kantel so effens. Van hierdie geleentheid maak die katjie gebruik om die slang 'n sydelingse byt in die lyf toe te dien en weer blitssnel weg te spring. Die slang voel half lam, maar staan nog verwoed sy man. Die meerkatjie haal weer 'n ander taktiek uit en spring soos 'n klein dronkaard al om hom heen. Die slang se ogies volg elke beweging; hy word naderhand duiselig van die ronddraaiery. Die stokstert merk dit en die rinkhals kry weer 'n onverwagte hou aan sy lyf. Nou maak die meerkatjie hom klaar om drasties op te tree, maar voordat hy vasberade op die slang afstorm, loer hy vlugtig oor die kaalte en laat nael skielik dat die stof so trek na die gras toe!
Skoon uit die veld geslaan wonder die jakkals wat nou sou gebeur het. Die slang, al taamlik lam gebyt, verstaan ook nie die toedrag van sake nie, dog skielik gewaar hy die oorsaak daarvan en probeer so vinnig as wat sy seer lyf hom kan dra, na die gras toe pyl. 'n Swaar gedruis van vlerkslae word opeens gehoor en die jakkals sien hoe 'n groot sekretarisvoël op die rinkhals neersuis en hom meedoënloos onder sy kloue teen die grond hamer. 'n Rukkie daarna hardloop hy met die dooie slang in sy bek deur die veld en styg tevrede op na die bloute van die lug, waar hy sy prooi los, weer vinnig in sy kloue vasgryp en dan maar verder en verder voortvlieg terwyl sy genoeglike gebrom nog lank daarna loodswaar in die lug hang.
Die son sak al hoe laer. Die jakkalse slaap nie meer nie. Die skouspel van vaneffe het alle slaap verdryf. Die ou vos voel baie teleurgesteld dat die sekretarisvoël alles kom bederf het. Hy was vas van plan om, sodra die meerkat die slang klaar op sy baadjie gegee het, die buit vir homself te kom toeëien, want met sy verskyning sou die outjie dadelik op die vlug geslaan het. Nou is daar egter niks aan te doen nie. Die son gaan reeds onder en nuwe hoop vir die nag se jagtog ontvlam in die ou rooie se hart. 'n Rukkie daarna staan hy en sy familie in die aandikkende skemer op die kaaltetjie en luister na die geroep van die jakkalspare wat nou oral op die bulte en in die bos uit hul gate te voorskyn kom. Ons jakkalse sluit aan by die verspreide koor en laat die lang, huilende note met kort, blaffende afwisselinge troosteloos deur die stilte van die nag weergalm.
Die mannetjie draf nou voort deur die gras met sy honger familie kort op sy hakke. Aan die kant van die wapad vertoef hulle eers 'n rukkie om te spioeneer. Die rooijakkals draf 'n endjie al in die pad op om sy nuuskierigheid te bevredig aangaande die eienaardige groot, lomp soort bokspoor wat hierlangs gaan. Daar is 'n kleintjie by, seker dié van die lam. Skielik dring die herinnering weer helder tot sy bewussyn deur en hy onthou dat hy al voorheen dié soort diere gesien het. Hy het een aand teen sononder hier langs die pad die mensding met 'n klompie van dié diere sien verbykom. Dis skape. Die rooijakkals weet goed dat al die diere waarmee die mensding te doen het, maar vreeslik dom is.
Hy draf belangstellend verder op die spoor. Sy familie volg nuuskierig. Die wyfie het af en toe moeite om die drie rakkers in toom te hou. Die kleinste knaap dink dis 'n plesiertog en vind sy pa se snuffelbewegings tog te vermaaklik. Hy wil kort-kort met sy potsierlike lyfie luidkeels daaraan meedoen. Na 'n paar van sy pogings het sy ma hom egter so geniepsig afgeknou dat hy hom nie weer aan wangedrag sou waag nie.
Toe die spoor wat nog betreklik vars is, ná 'n rukkie uit die pad die veld indraai, word die jakkalsmannetjie se nuuskierigheid en belangstelling groter. Dit is nie juis baie donker nie. Die maan se grou lig laat die veld vaal vertoon; die lug is onbewolk en die sterre help om die omgewing effens te verlig. 'n Endjie verder gaan staan die jakkals weer 'n slag om te luister. Vorentoe iewers het hy 'n sagte geblêr en getrippel verneem. Hy voel nou heeltemal seker en kruip vinnig nader. Sy familie volg stigtelik. Eindelik steek die jakkalsmannetjie sy kop deur die kant van die gras en loer in die flou maanlig oor die kaaltetjie voor hom. 'n Tien tree verder, onder 'n groot deurmekaarbos, lê 'n skaapooi met haar lam. Sy het vanmiddag toe die trop aan die kant van die bos gewei het, afgedwaal van die ander en die wagter het dus sonder haar na die kraal teruggekeer.
Met gespitste ore staan die jakkalse die posisie en betrag. Die ou rooie voel hoe die moed stadig in sy ledemate opkruip, aangemoedig deur die hongersteke in sy maag. Eindelik gee hy die teken en die jakkalse storm met groot lawaai vorentoe. Die ooi het opgespring en staan verbouereed en rondtrap by haar lam. Huilend skaar die jakkalse hulle om die twee. Die ooi, met kop na vore gebuig, blaas kwaai en kap manmoedig met haar voorpootjie in die grond. Die jakkalsmannetjie besef egter dat hy nie hier moet aarsel nie, anders hou die ooi hulle tot môre besig. Tjankend kom hy met opgehewe maanhare en ontblote tande astrant nader gestap. Die ooi storm vorentoe. Met 'n hartoerende gehuil vlieg die jakkals om en vlug halsoorkop deur die gras terwyl die ooi kopswaaiend agterna kom. Onmiddellik natuurlik, draf die jakkalswyfie die lam by. Sy benoude geblêr laat die ooi weer vinnig omspring en naderstorm, maar voordat sy weer die deurmekaarbos kan bereik moet sy haar weer teen die mannetjie se rugaanval beskerm. Hy skyn nou desperaat te wees en dreig met sy vreeslike geknor en getandewys om elke oomblik kleingeld van haar te maak.
Intussen is die lam al dood en solank as die jakkalsmannetjie die ooi besig hou by die deurmekaarbos, draf die jakkalswyfie so vinnig as wat die swaar las dit wil toelaat, deur die gras weg. Toe die wyfie met die drietal weer die wapad kruis op pad na die blinkklippe, besluit die rooijakkals dat hy nou genoeg het van die komediespel. Hy lig sy kop in die hoogte en "haahaaaa . . .!" huil hy opeens voor die ooi. Dan spring hy vinnig om en laat vat agter sy familie aan. Daar agter by die deurmekaarbos hoor 'n mens die vinnig heen-en-weertrippelende geluid van die skaapooi wat angstig en blêrend na haar verlore lam rondsoek.
So gly die nag se ure traag verby. Eindelik breek die môre aan. Die jakkalse het, nadat hulle van die lam by die blinkklippe kleingeld gemaak het, die tweede maal bos toe koersgevat, maar teen dagbreek het hulle moeg gedraf na die klipskeur teruggekeer. Hulle voel vanmôre nie so erg honger nie. Dis 'n tevrede jakkalsfamilie wat die veiligheid van hul blinkkliptuiste opsoek.
Toe die son laat in die middag, asof moeg in die weste bokant die enkele hoë brosdorings hang, strek vossie homself onder in die holte net 'n paar keer lui uit om heerlik verder te dut totdat die nag met nuwe verwagtinge sou daag ...
Die son het pas ondergegaan. Sommige diere ontwaak, ander gaan slaap. Luisterend staan die jakkalsfamilie weer by die blinkklippe en wag. Die vlaktes weerklink vanaand van kant tot kant van hongerige jakkalskore wat luid hul nood aan die bos uittjank. Die mannetjie besluit om vanaand 'n nuwe jagterrein aan die westekant van die blinkklippe op die proef te stel. Hy draf weg. Die wyfie skyn egter nie met die idee gediend te wees nie. Sy blik hom besluiteloos agterna en begin dan stadig in die teenoorgestelde rigting aanstap na die wapad. Sy vertrou meer op die ou bekende jagveld. Net soos die mannetjie die vorige aand, besluit die wyfie ook om 'n entjie in die pad op te draf.
Skielik gaan sy stilstaan en snuif belangstellend in die lug. Die windjie trek effens en bring die reuk van vars ingewande en pensmis in haar neusgate. Nuuskierig gaan die viertal ondersoekend verder totdat die wyfie naderhand op 'n sleepsel afkom wat die grootpad kruis en verder die gras inlei. Met neuse laag op die grond, draf die jakkalse voort, al op die aanloklike reuk langs. Omtrent 'n kilometer ver gaan die ondersoekingstog voort. Dan kom die wyfie op 'n stukkie vleis af en sluk die lekker happie gretig weg. Met nuwe ywer volg hulle die spoor. Naderhand het die drie kleintjies ook al elkeen 'n flentertjie raakgeloop. Dan draai die wyfie skielik uit en gaan lê hygend onder 'n rosyntjiebossie. Verbaas staan die drietal om haar heen geskaar en wonder wat nou met hul ma aan die gang is. Dan begin een outjie ook kreun terwyl hy inmekaargekrimp gaan lê. Nog 'n paar minute van verbystering gaan verby voordat die wrede lot ook die ander tweetjies tref. Die wyfie byt wanhopig met haar tande in die graspolle vas en slaan geen ag op die kleintjies se magtelose gesteun nie. Eindelik, na 'n lang ruk, lê al vier roerloos uitgestrek, slagoffers van die mensding se vreeslike wraak...
Aan die ander kant van die blinkklippe is die ou rooijakkalsmannetjie ywerig aan die jag. Skielik kom hy op 'n dooie haas af waaraan hy hongerig begin smul. Hy sou hom eers versadig eet en dan verder vir sy familie jag. Nadat hy genoeg het bly daar nog 'n groot stuk oor, want dit was 'n mooi, vet haas en kon ook nie te lank dood wees nie. Hy begin daarmee aandraf na die blinkklippe toe. Maar 'n paar tree verder skiet verlammende pyne deur sy maag en verwonderd laat hy die haas val. Die krampe word al hoe hewiger. Hy begin weer stadig aansukkel. Hy wil so graag die blinkklippe haal, waarom, weet hy nie. Eindelik strompel hy uit die gras te voorskyn en bly 'n oomblik op die kaalte lê. Stadigaan word alles swart om hom en eindelik weet die kranige ou rooijakkalsmannetjie niks meer nie...
Die nag se ure gaan langsaam verby. Die son verskyn en verdryf die tekens van die duisternis uit die bos. Die diertjies is elkeen weer vroeg aan die roer en elkeen gaan sy gang. Oral in die lug draai aasvoëls rond en skiet af en toe in klompies neer, want kort-kort gewaar hulle die heerlikste buit. By die blinkklippe op die kaalte gaan 'n paar ou langnekke vlerkflappend sit en wip dan nader met uitgestrekte hals en begerige oë voordat hulle gulsig op die gewese ou rooijakkals afstorm...