Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Pyn en siekte is meestal nie 'n straf van God nie maar 'n geleentheid wat Hy aan ons gee vir verskeie redes. Soms is dit net om weer na liggaam en gees te herstel tot daar waar ons weer tyd maak om Hom te loof en tyd te maak vir ander dinge wat gedoen moet word.
DRAMA BY DIE KUIL
Dr JP Botha
(Uit skrywer se boek oor diereverhale: Langs die Toelanie)
BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog stories by Boekrak vir Afrikanertjies
Die rivier se oewer is hier dig begroei om een van die grootste kuile van die Toelanie. Op die wal het ruie fynbos en katnael tussen die wilgers ingevleg sodat dit 'n paradys geword het vir vinke en ander voëls en ook vir sluipende wildekatte, muishonde en ander kleiner roofdiere.
Die son kom op. Aan die kant van die groot waterkuil op die sandbedding lê 'n ou knewel van 'n waterlikkewaan roerloos op die sand uitgestrek, dog as die koesterende sonstrale verskyn, kom daar meteens lewe in sy skynbaar stywe litte. Hy lig die kop op en onderwyl hy fyn luister na die verskillende oggendgeluide oor die water en deur die bos, skiet sy gesplete tongetjie vinnig uit en in by die skurwe bek.
Oral in die bome en op die lang, slap oorhangende grasstingels, gesels die vinke lustig. Die ou likkewaan loer teleurgesteld na die dun wilgertakkies waaraan die neste hang. Maar in die digte ruigte daar oorkant in die vlak watertjies, is ook 'n paar rooivinknessies wat hy gereeld besoek. Daar tref hy ook nog platannas aan.
Sy lang, plat skurwe lyf vertoon al te koddig en lomp onderwyl hy oor die witsand aanwaggel en in die water tuimel. 'n Rukkie later is daar net 'n paar borreltjies op die oppervlakte van die stil kuil te sien, maar dan roer en lewe die ruigte skielik aan die oorkant soos hy lawaaierig daar uitklouter. Hy maak geen geheim van sy teenwoordigheid nie. 'n Paar oomblikke daarna begin die vinke rumoerig swets en al oor die ruigte heen draai, al bokant die vraatsugtige rower wat skaamteloos die lang grasstingels omdruk en een vir een nessie deursnuffel. Af en toe vind hy 'n paar eiertjies en sluk dit gulsig in.
Die lewe om en in die kuil is in volle gang. 'n Paar wilde-eende kom vinnig oor die bome aangevlieg en met 'n gewirrr van vlerke ploeg hulle skuimend deur die water totdat hulle eindelik soos klein, wit bootjies tussen die ander begin ronddobber. Drie goudkleurige, donserige kleintjies roei vinnig en lustig tussen die grotes rond.
Aan die kant van die kuil, onder 'n paar oorhangende biesies, kom 'n swart koppie stadig te voorskyn en draai versigtig heen en weer. Dan klouter 'n groot waterskilpad sukkelend aan wal en stap swaaiend 'n paar tree aan. Spoedig volg die wyfie. Nie te lank daarna nie speur die ongeoefende oog alleen twee mooi skurwe klippe aan die kant van die water op die wit sandbank, waar die twee oues heerlik lê en bak in die môreson.
Kort-kort duik een van die wilde-eende agter 'n paddavissie aan en kom dan weer 'n klein endjie daarvandaan te voorskyn. Een van die mannetjies sien 'n klein kurpertjie vlak voor hom verbyswem en pak hom vinnig beet. Hy spartel vlerkflappend uit die water op en vlieg vinnig oor die ruigte weg.
Die waterlikkewaan hoor die vinnige vlerkgeflap oor hom heensuis en sien hoe die eendmannetjie 'n paar honderd tree verder in 'n klein deurmekaarbos inwaggel en amper onmiddellik daarna weer te voorskyn kom, sonder die vissie, en vinnig afsit water toe.
Haastig draf hy nou, swaaiend deur die polle, reguit na daardie deurmekaarbossie toe. Toe hy op sy agterpote staan, kyk hy vas in die rooi ogies van die wilde-eenwyfie wat sit en broei. Sy begin meteens hewig blaas en met die vlerke te klap, maar 'n oomblik later piets die likkewaan haar skoon uit die nes met sy geweldige stert en ryg die mooi, spierwit eiers een vir een in. Die wilde-eendmannetjie het nou weer by sy wyfie aangesluit - in die lug - waar hulle doelloos en met 'n harde eendegesnater rondmaal om dan maar eindelik weer na die kuil te keer en hul troos op die wateroppervlakte te gaan soek.
Tussen die digte gras deur sukkel die dikgevrete waterlikkewaan ook terug na die kuil, want dit word nou stadigaan middag en die loomheid wat volg op 'n goeie eetmaal, begin sy werk doen. Hy vly hom op die wit sandbedding neer en bly roerloos lê.
'n Rukkie later hoor hy die sagte gekrap van iets in die sand en lê nog maar versteen en rondloer met wakker, listige ogies. Uiteindelik! Ja, daar kom die skilpadwyfie tydsaam uit die ruigte gestap en gly stadig oor die wal, die water in. Sy het natuurlik pas haar eiers gelê en hulle nou toegekrap onder die sand, dink die ou skelm. Alleen die luiheid, veroorsaak deur die heerlik-bakkende son en sy vol maag, weerhou hom daarvan om die eiers te gaan oopgrawe en te verslind. Hy dommel maar weer heerlik in.
Die wilde-eende wat nog besig is om lui-lui rond te vroetel in die water, begin kriewelrig rondloer en besluit dan om die kuil te verlaat. Die takke van die hoë vaarlandswilgers rondom die water begin meteens lewe van klein, swart gesiggies wat nuuskierig om die stamme loer. Die son was warm vandag en die trop blouape het besluit om hulself langs die waterkant te kom verkoel en te vermaak. 'n Paar klim versigtig grondwaarts en galop huiwerig nader. Dan volg die hele trop.
Die likkewaan skop meteens die sand dat die klippies so spat en slaan met 'n harde geploemps bolmakiesie in die water in. Die voorste apies het verskrik vasgesteek, maar nou kom almal weer nader. Spoedig heers daar 'n opgeruimde geselsery om die kuil onderwyl sommige, veral die jonges, in die vlak water baljaar dat die druppels so spat. Party grawe uit pure lewenslus in die sand rond. Toevallig word die broeisel skilpadeiers ook ontdek en spoedig lê net die doppe oor die sand verstrooi.
Maar lank voor sononder is alles weer rustig by die kuil. Soos altyd swem die wilde-eende weer kommerloos op die watervlak rond.
Diep onder die oorhangende biesies in, rimpel die water meteens liggies as die likkewaan sy snoet bokant die oppervlakte uitsteek. 'n Klein endjie verder swem drie klein eendjies en pik goggatjies op. Skielik breek 'n golf oor hulle heen en een verdwyn onder die water. Die likkewaan is op die jag uit. Die ander twee haas hulle met klappende vlerkies in die rigting van die groot eende wat ook nou vinnig naderswem.
'n Rukkie later sukkel die likkewaan tussen die biesies in met sy buit in die bek. Die eende herstel gou van hul skrik en gaan weer rustig voort om kos te soek.
Die son het reeds agter die vaarlandswilgertoppe ingeskuif. Eindelik lê die sluwe ou likkewaan weer op die sandbedding uitgestrek en luister na die nuwe geluide wat een vir een in die bos begin ontwaak. Hy merk hoe slordig die wêreld hier agtergelaat is deur die geselsende bosvolkie wat vanmiddag kom besoek aflê het. Ook die skilpadeiers is nou sy neus verby.
Die son gaan onder. Die paar wilde-eende vlieg die een na die ander op en verdwyn geselsend oor die ruigte. Hoog bokant die toppe van die bome kom meteens 'n swerm tarentale oorgewarrel en vat fladderend pos op die ruie takke van die vaarlandswilgers om daar te oornag. 'n Rukkie later sweef 'n groot oortjiesuil soekend oor die ruigte op soek na prooi. Sy jagtyd het begin.
Die likkwaan luister na die aangroeiende paddagesang, maar dit lok hom nie eintlik nie. Vanaand voel hy nie lus vir paddas nie. Hy besluit om te gaan rondvroetel tussen die ruie bosse op die wal van die rivier en begin lomp oor die wit sand aan te waggel.
Alles is doodstil lang die Toelanie, maar onder die sluier van die nag is menige klein roofdiertjie ywerig besig om te jag. 'n Wildekat wat behoedsaam langs die oewer nadersluip, loer ergerlik op na die opkomende maan toe hy merk dat hy omtrent 'n sekonde lank sigbaar was tussen die ruigte. Nou word alle sintuie tot die uiterste ingespan want hy weet dat hier voor langs die groot kuil die beste kans bestaan om 'n honger maag te vul - as jy wakker is.
Vér op die vlakte klink meteens die krete van 'n paar kiewiete op toe hulle begin om heen en weer deur die lug te maal. Dis natuurlik weer muishonde wat daar op die jag uit is, dink die wildekat, en hy verskerp sy waaksaamheid nog meer om ook iets op die lyf te loop.
Skielik steek hy vas en bly roerloos staan met een voorpoot opgelig en met gespitste ore. 'n Klein entjie vorentoe is 'n swart bondeltjie op een van die talryke dwarstakke van 'n vaarlandswilger sigbaar. Geen geluidjie of sigbare beweginkie dui aan dat die wildekat stadig nadersluip nie. Vlak onder die boomstam loer hy opwaarts. Dis 'n jong tarentaalkuiken. Waarom sou die outjie so laag naby die grond sit en slaap?
Die wildekat besluit om nie van die grond af 'n sprong te waag nie. Dit kan dalk hoër wees as wat dit in die bedrieglike duisternis lyk. Versigtig soek sy naels vashouplek teen die donker wilgerstam. Hy klouter geruisloos tot regoor die dwarstak en 'n oomblik later trek sy lyf deur die lug. Net 'n effens versteurende kwiek klink deur die nagstilte en daarna die sagte plof wat die katpote veroorsaak deur sy val op die grond. Die kuiken is reeds dood; sy nek is af.
Alleen die gedagte dat hy verdere prooi sou afskrik, weerhou die hongerige, maar tewens tevrede wildekat daarvan om 'n sagte knor van genoegdoening te laat hoor. Hy val dadelik weg aan die buit.
Op hierdie tydstip is die ou likkewaan besig om aan die oorkant van die bos versigtig op 'n kaalte van pol tot pol te sluip en die omgewing te deursnuffel. Tot hier waag hy dit nie in die daglig nie, maar die duisternis van die nag bied genoeg beskerming en stem selfs sy likkewaanhart dapper. Hy het reeds in die polle 'n drawwertjienes met twee eiertjies uitgevroetel en die inhoud vraatsugtig ingesluk. Suutjies beweeg sy lomp pote oor die grond. Hy is skaars sigbaar in die flou maanlig. Meteens bly hy doodstil lê soos 'n stukkie boomtak, lank reeds vergaan... Hy hoor die sagte slaapgekweel van kiewiete hier vlak voor hom in die graspolle. 'n Hele rukkie gaan verby, want die likkewaan is bang dat sy lomp geskuifel die voëls kan wek.
'n Steenbokkie het argeloos aangestap gekom. Skielik voel die likkewaan 'n harde, skerp kloutjie wat hom teen die grond vasdruk, toe die niksvermoedende bokkie op hom trap. Blasend skeer hy die wêreld nou terug rivier toe en storm holderstebolder onder die vaarlandswilgers in. Die bokkie het liggies die veld ingewip en die naglug weergalm weer eens van die angstige wekroepe van vesteurde kiewiete. Op die hoë takke van die vaarlandswilgers sit die swerm tarentale met gestrekte nekke in die donkerte en tuur.
Die waterlikkewaan nael reg op die feesvierende wildekat af. Laasgenoemde sien dadelik die aanstormende gevaarte en spring blitssnel, snouend en blasend uit die pad, terwyl hy hom in die verbygaan 'n klap met sy kragtige klou toedien. Die likkewaan nael nou met verdubbelde snelheid krakend deur die ruigte en tuimel dan kaplaks ....... halsoorkop in die water! Die stil naglug weerklink nog van die slae van talle kragtige tarentaalvlerke soos die voëls rigtingloos die nag invlug.
Dit duur nog lank voordat die verbaasde ou likkewaan weer sy skurwe kop bokant die watervlak uitsteek. Hy kruip voetjie vir voetjie uit en verdwyn dan onder die uitgeholde stam van 'n groot vaarlandswilger aan die kant van die kuil.
Die nag slaap rustig deur ...