Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Al bring ouderdom 'n verswakking in jou liggaamskragte mee, sal jy beloon word met meer wysheid om dinge te beoordeel, en genadiglik ook meer tyd kry om bid vir alles wat jou na aan die hart lê.
LANGS DIE TOELANIERIVIER
Dr JP Botha
(Uit skrywer se boek oor diereverhale: Langs die Toelanie)
BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog stories by Boekrak vir Afrikanertjies
Versigtig kom die twee voorste rooibokramme oor die lang sandbedding aangestap. Enkele treë na agtertoe, waar die hoë apiesdorings teen die skuinste van Toelanie se skurwe walle wortel, staan die res van die trop onrustig en rondtrap, voordat hulle aarselend die twee ramme volg. Maar steeds bly elke sintuig gespanne, bedag op die geringste teken van gevaar.
Dit is winter. Al wat nog van die rivier oor is, is enkele vlak kuile wat deesdae die drukbesoekte suipings van die wild uitmaak. Die rooiboktrop se doelwit is juis die groot kuil, 'n honderd tree daarvandaan in die draai van die rivier, waar die uitgestrekte takke van die twee ou reuse-apiesdoringbome op die wal, hoog oor die ruie bosgasie troon. Heel op die voorpunt kom Snel, die leier van die trop, en kort agter hom volg 'n ander uitgegroeide ram.
Onverwags verander die bokke hulle koers en stryk 'n paar tree verder oor die sand aan voordat hulle aarselend gaan staan. Meteens spring die hele trop om en nael 'n paar tree terug om dan maar weer vas te steek en met nuwe versigtigheid in die rigting van die groot kuil aan te stryk.
Snel weet dat dit hier nie baat om ter wille van die dors sommer argeloos water toe te stap nie. Jy moet eers baie seker maak of daar nie miskien êrens tussen die ruie bos langs die water enige verborge gevaar skuil nie.
Aan die anderkant van die kuil ontstaan meteens 'n hewige lawaai en die rooibokke weet onmiddellik dat 'n blouaaptrop in aantog is. 'n Rukkie later verskyn hulle galoppende gestaltetjies op die sandbedding regoor die kuil, onderwyl die volgroeide mannetjies swetsend teen mekaar gryns. Dog skielik word 'n paar waarskuwende note gehoor en die hele aapgemeenskap spat met lang hale en gekromde sterte teen die rivierwal uit om op veilige afstand in die hoë bome grommend te gaan sit en tande wys.
Die bokke het intussen vasgesteek en snuif die lug wantrouig. Die ooie beweeg rusteloos tussen die opgeskote lammers rond. Snel is met hierdie jongste wending van sake by die kuil gladnie tevrede nie. Toe hy 'n rukkie later drie vlakvarke teen die wal aan die oorkant na die water sien aftrippel, hou hy hulle gespanne dop, in die hoop om finaal te kan vasstel of dit vir sy trop veilig sal wees om ook nader te staan.
Die vlakvarke het sommer onverskillig die wal afgedraf, oor die sand tot by die eerste vlakwatertjies, waar hulle nou gulsig, met sagte slurpgeluide besig is om hulle dors te les. Snel sien weer 'n groot aapmannetjie oor die sand aangestryk kom. Die varke skenk geen aandag aan hom nie, maar toe hy regoor die groot apiesdoringboom verbygalop, loer hy meteens in daardie rigting en versnel sy pas geweldig, terwyl hy by die kuil verbynael. Die drie ou langsnoete het nou vervaard orent gewip en lig hul sterkwassies en misvormde koppe hoog in die lug om vas te stel wat die konsternasie van die aap veroorsaak het. Maar hulle slaag daar blykbaar nie in nie en ná nog 'n paar haastige slurpe draf hulle vinnig teen die wal uit en verdwyn tussen die bome.
Hierdie laaste onraadsteken het ook nie die wakker oë van Snel, die sierlike rooibokram, ontgaan nie. Hy kyk verlangend na die waterkuil want hy en sy trop is die vorige dag ook verhinder om te kom water drink, maar instinkmatig voel hy dat daar êrens tussen die riete langs die kuil vanmôre gevaar skuil. Die bokke voel egter baie dors en met die prikkelende geur van die water in die neusgate, begin die trop weer stadigaan kuilwaarts beweeg. Snel en die ander groot ram staan nog steeds op die sand en rondtrap. Uiteindelik nader die voorste bokke die waterkant en begin versigtig te drink ...
Meteens is daar 'n geweldige knal en die rooiboktrop spring vervaard om en wip met lang hale oor die sand heen. Teen die wal begin een van die jong ramme gevaarlik kantel en stort dan hard teen die grond neer, waar hy skoppend op sy sy bly lê.
Agter die massiewe stam van die groot ou apiesdoring kom 'n manspersoon te voorskyn en stap vinnig oor die sand na sy buit aan. Toe hy by die bok kom, beskou hy hom met 'n kennersoog, terwyl hy hardop met homself gesels: "Darem nie te sleg nie, die beste wat ek in die omstandighede kon doen. Was dit nie vir die ellendige ape nie, kon dit nou daardie pragtige groot ram gewees het."
Hy lig die bok met moeite op sy skouers en begin swaar deur die dik sand aansukkel ...
Ver op die oop veld tussen 'n lap kurkbos, steek Snel en sy verwilderde trop weer die eerste keer vas. Terwyl sommige van die jonger bokke onrustig in die rigting van die onheilsplek terugstaar, meet die groot rooibokram die stand van die son met sy oë en dink onrustig daaraan dat daar 'n baie onaangename dag vir hom en sy trop voorlê. Die son het nog nie eers tot op sy hoogste punt geklim nie en die bokke was vroeg vanoggend al baie dors. Om twee dae sonder water klaar te kom, het die nood hier langs die Toelanie al dikwels vereis, maar om desnoods drie dae so deur te sukkel, soos waarskynlik vandag gaan gebeur, is genoeg om enige groot rooibokram om te krap.
Hy maak aanstaltes om sy trop laer langs die rivier af te lei, want 'n kilometer of wat ondertoe is daar 'n lang vals vlei, waar sekerlik nog iets groens te knibbel sal wees.
Die gevreesde jagters is besonder bedrywig hierdie winter, dink Snel. As dit so moet aanhou, sal dit naderhand hier langs die Toelanie vir 'n rooiboktrop heeltemal onveilig word ...
'n Paar kilometer daarvandaan, waar 'n wit tentjie onder 'n groot haak-en-steek opgeslaan staan, sit twee persone op veldstoeltjies en toekyk hoedat 'n ou jong die ram afslag. Die een klop sy pyp teen sy skoen uit en vervolg : "Ek sê jou maat, dit was 'n pragtige ram, daardie leier van die trop; ek het gevoel my vel word hoendervleis toe hy teen die skuinste afgetrippel kom en ek sy swaar rooibruinlyf in die son sien glinster ..."
"En jy sê die ape het jou kans toe heeltemal bederf?"
"Ja man, die ellendige goed ... maar luister, jy weet daardie bokke sal môre vroeg nie lank ná sonop by die water wees nie en ons moet daardie ram hê."
"Hulle sal natuurlik nie môre weer na dieselfde kuil toe kom nie."
"Ek twyfel, maar 'n entjie laer af in die rivier is 'n ander groterige kuil waar die wild ook volop drink. Ek dink ons moet môre vroeg daar gaan probeer ..."
Die dag is uiteindelik aan die breek en waar die rooiboktrop ver op die vlakte gretig die koms van die sonlig inwag, trap Snel reeds lankal haastig rond. Hy het besluit dat hulle nie 'n dag langer meer in hierdie omgewing gaan vertoef nie. Sy plan is om wei-wei al verder langs die rivier af te trek, maar darem op veilige afstand daarvan verwyderd te bly. Langs die rivier af behoort daar ook nog goeie weiveld en waterkuile te wees, waar miskien nog geen gevreesde jagter heen deurgedring het nie. Maar voordat hy die tog met sy trop aanvaar, sal hulle eers hul knaende dors moet les.
Snel voel nog steeds te lugtig om weer die groot kuil in die draai van die rivier te besoek en het die tweede kuil in gedagte toe hy luierig agter sy trop aanslenter. Eindelik steek die voorste bokke ondersoekend op die digbegroeide wal voor die droë sandbedding van die rivier vas en tuur stip voor hulle uit. Aan die oorkant lê 'n taamlike groot eiland, want gedurende reëntyd vloei hier twee strome water, ongeveer 'n honderd tree van mekaar af, voordat hulle 'n paar honderd tree verder weer saamsluit.
Die bokke moet in 'n oopgetrapte voetpad dwarsoor die eiland langs gaan om die kuil aan die anderkant te bereik, Die dors het egter nog nie die oorhand oor hulle ingebore versigtigheid gekry nie en kort-kort gaan hulle senuweeagtig staan en rondtrap, bedag op die geringste teken van gevaar. Eindelik lê die kuil voor hulle en die troppie aanvaar die laaste paar tree oor die sand. Die voorste bokke begin alreeds haastig te drink maar Snel staan maar nog ondersoekend op die agterhoede en rondtrap. Uiteindelik waag hy dit, om ook nader te staan ...
Meteens knal daar twee oorverdowende skote bykans gelyktydig en die bokke spring verwilderd die beskutting van die eiland binne. Hulle storm daar blindelings dwarsdeur na die veiligheid van die oop vlakte aan die anderkant. Snel voel 'n verskriklike brandpyn in sy bors and sy andersins kragtige bene dra hom traag en moeisaam tot aan die punt van die eiland, waar hy hygend onder 'n digte bos inkruip. Hy voel hoe die bloed langs sy voorbene op die grond begin afdrup en vir die eerste maal in sy lewe voel die gewig van sy sierlike horings meteens te veel vir die spiere van die slank nek en druk hy sy neus laag teen die grond.
Hy is vaagweg bewus van haastige voetstappe op die droë blare, 'n paar tree daarvandaan. Hy bly egter roerloos staan en die geluid sterf weer langsaam weg.
Aan die anderkant van die eiland is die twee jagters nou besig om naarstiglik al in die droë bedding langs spoor te sny. Uiteindelik staan hulle moedeloos langs mekaar.
"As ons net sy bloedspoor kan kry, waar hy die veld in is ..."
"Ja ons kan nie die pragtige ram verloor nie."
"Gaan bewerk jy solank die ander bok, dan draf ek kamp toe om die honde te gaan haal ..."
Snel staan nog steeds onder dieselfde bos en luister gespanne of hy nie miskien weer iets van sy agtervolgers gewaar nie. Die brandpyn in sy bors het effens afgeneem maar sy hele voorlyf begin stadigaan stram en styf word. Hy wonder vaagweg waar sy verstrooide trop hulle tans bevind. Hy sal miskien maar vandag nie hier probeer verroer nie en teen sononder 'n poging aanwend om die veiligheid van die doringveld te bereik. As die ellendige lamgevoel net eers weer sy voorlyf wil verlaat en as sy agtervolgers tog maar net nie weer spoedig terugkeer nie ...
Skielik lig hy sy kop regop en luister aandagtig. Laer af op die eiland is 'n duidelike pootgetrippel en 'n geritsel in die lang gras hoorbaar. Die geluide word al duideliker en spoedig gewaar Snel twee snuffelende gedaantes al op sy bloedspoor aangesluip kom. Dit is honde!
Met die laaste bietjie krag wat nog in sy pynlike liggaam is, spring hy onder die bos uit en koers blindelings tussen die bome voort. Sy nuwe vyande uit 'n paar kort tjankblaffies en snel meedoënloos agterna. Snel voel dat sy laaste kragte kom begin begeef. Hy struikel oor 'n katnaelbossie en hoor die onheilspellende pootgeklap kort agter hom. Toe gryp die voorste hond hom aan die agterbeen en pluk hom genadeloos teen die grond. Hy probeer weer opstaan, maar die tweede aanvaller is in 'n oogwink by en val langs sy maat in. Moedig beur die rooibokram sy pynlike voorlyf orent en probeer om die honde met sy horings by te kom.
Tussen die bome kom twee hygende regop gestaltes aangehardloop en die een nader versigtig van vooraf en kry die weerlose bok skielik aan sy horings beet. Snel voel hoe sy nek met geweld vooroor gebuig word en die volgende oomblik skiet 'n skerp steekpyn agter sy kop in en elke senu in sy liggaam tril, onderwyl hy stadig sy bewussyn verloor ...
Die twee jagters sukkel swaar met hul vrag teen die steil wal van die rivier uit.
"Ons het hom," sê die een.
"Dis die mooiste rooibokram wat ek nog ooit in my lewe geskiet het," sê die ander.
Op hul hakke volg die twee honde met druipende tonge wat vér uit die hygende bekke hang, selfvoldaan oor hulle ongewaardeerde kordaatstuk.
Vér aan die anderkant van die Toelanierivier staan 'n klompie rooibokke rusteloos op die vlakte en rondtrap, af en toe in die rigting van die rivier turend, asof hulle nog steeds verwag om die slank gestalte van Snel, hulle gewese leier, enige oomblik oor die lang grassade aangespoed te sien kom.