Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'Groot' sondes kan ons maklik vermy: dit verg nie groot opoffering om nie moord, egbreuk, diefstal, ens , te pleeg nie; dit is die klein jakkalsies wat die wingerde verniel: ons woede-uitbarstings, stilstuipes, ons selfsug, vloek en twis, ens, waaraan ons meestal skuldig is – dus is daar nie werklik 'groot' en 'klein' sondes nie...
TUSSEN DIE BLOUHAAK
Dr JP Botha
(Uit skrywer se boek oor diereverhale: Langs die Toelanie)
BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog stories by Boekrak vir Afrikanertjies
Dis winter. Dit sien mens ook aan die veld hier tussen die blouhaakbome, want die fyngras wat tussen die doringagtige stamme opgeskiet het, is vaal verkleur en leweloos. Tog is die omgewing ruig en só bly dit deur die jaar heen, want die geniepsigheid van die blouhaakdorings verhoed dat die veld deur die vee kaal gewei word. Moontlik is dit die rede waarom Rooibel, die kranige fisantmannetjie, 'n geruime tyd reeds die blouhaakveld as verblyfplek vir hom en sy gevolg gekies het. Dit bied die beste skuilplek aan.
Die son is pas op. Trots op sy status as leier van sy trop, troon Rooibel bo-op 'n miershoop aan die kant van die blouhaakbos. As die ander veldbewonertjies dan nie hul stem laat hoor nie, sal hy dit doen. Hy skrop pronkerig teen die harde kors en laat sy welluidende wekroep deur die môrestilte weergalm. Een vir een kom die ander fisante skelm tussen die gras te voorskyn en draf by Rooibel verby, af in die dowwe voetpaadjie wat na die afgeoeste mielielande daaronder lei. Trots kyk Rooibel sy troppie agterna; 'n klompie uitgegroeide wyfies en 'n paar mannetjies, die oorblyfsels van verlede jaar se kuikenoes, nadat die wildekatte hul deel weg het. Hy wonder hoe dit hierdie winter sal gaan...
Die fisantmannetjie volg egter nie onmiddellik die ander nie. Na nog 'n paar kragtige roepe kruip 'n fisantwyfie uit die gras, gevolg deur 'n stuk of ses opgeskote kuikens. Rooibel spring van die miershoop af en pronk 'n slag spoggerig om sy wyfie voordat hulle die ander fisante volg.
Tussen die stronke van die afgeoeste mielieland, is die fisante reeds lustig aan die skrop. Daar lê nog volop mieliepitte rond en hulle loop selfs hier en daar 'n heel mieliekop raak. Hierdie voorwinter sal geen kossoekprobleem oplewer nie. Rooibel bly in die nabyheid van sy wyfie om 'n wakende oog te hou oor die klein fisantjies. Af en toe laat hy nog sy pronkgeroep hoor.
Al aan die bokant van die lande groei 'n streep bome en struikgewas op die wal van die watervoor. Rooibel se waaksame oog sien meteens 'n opgeskote seun vanuit hierdie beskutting te voorskyn kom, geweertjie in die hand. Hy is op 'n vroeë fisantjag uit. Die mannetjie fluit waarskuwend. Al die fisante hou op met skrop en hou die indringer onrustig dop. Hy kom egter houtgerus aangestap sonder om iets te gewaar. Dan begin Rooibel voor sy trop uitdraf om hulle van die gevaar weg te lei. Die wyfie met die kleintjies volg laaste.
Eers toe die fisante oor die klein kaaltetjie aan die kant van die land draf, gewaar die seun hulle vir die eerste keer. Rooibel steek manhaftig vas om die gevaar in oënskou te neem. Onmiddellik fluit 'n paar stofwolkies 'n endjie vorentoe op. Die voortdraffende fisante wirr...! gelyktydig in die lug op en skiet voort in die rigting van die blouhaak. Die twee ou fisante bly egter onverskrokke voortdraf met die kuikens. Toe die seun die oorsaak van hulle manmoedigheid merk, spring hy weg en laat nael agterna so wat hy kan. Die wyfie fluit gebiedend en die twee ou voëls volg hulle makkers langs die korste weg deur die lug, terwyl die kleintjies voor die verbaasde oë van die seun verdwyn.
Hy soek hot en haar tussen die betreklike kort grassies rond, maar sonder sukses. Die wyfie het egter nie vér gevlieg nie en was reeds versigtig agter 'n paar haak-en-steekboompies aan die terugkeer. Anstig fluit sy en kom 'n oomblik van agter 'n paar polle te voorskyn om onmiddellik weer te verdwyn. Die seun kruip-kruip dadelik agterna. . . dog spoedig hoor hy die sagte gefluit al weer 'n endjie verder tussen die bossies. Die wyfie vertoon haarself af en toe net 'n rapsie lank en gee hom geen kans vir 'n skoot nie. Dan besef hy dat sy hom maar net probeer weglok van die terrein waar haar kleintjies tussen die polle wegkruip en hy gaan terug om die soektog opnuut voort te sit, dog tevergeefs.
Toe hy 'n rukkie later weer die wyfie se angstige gefluit van agter 'n paar struike verneem, gee hy die gesoek prys en stap aan in die rigting van die huis, geweer oor die skouer. Die son het al hoog gesit toe die fisantwyfie met haar kroos ongedeerd tussen die beskutting van die blouhaak indraf.
Hierdie doringbosse bied veiligheid gedurende die dag. Rooibel en sy fisanttroppie verlaat selde hierdie doeltreffende skuilplek gedurende die middelure van die dag. Maar snags slaap hy en sy gevolg tussen die polle van 'n lap droë gras aan die kant van die ruigte omdat dit veiliger is as tussen die blouhaak self. Vyande kan hulle daar nie so maklik verras nie en by onraad is dit nie moeilik om tussen die polle op te vlieg nie, terwyl die blouhaakbome in hierdie geval 'n hindernis sou wees.
Laat in die middag, wanneer die blouhaakskaduwees reeds lankgerek oor die grond lê, hoor 'n mens tussen die droë gras weer die sagte geritsel van versigtigtrappende fisantpootjies. Rooibel is besig om sy trop bymekaar te maak en 'n rukkie later draf die fisante oor die kaalte van die ruggie aan die onderkant van die mielieland. Spoedig is hulle weer ywerig aan die skrop. Naderhand kom die fisante op 'n streep mieliepitte af wat dik gesaai oor 'n kaal kol heen lê en almal begin ywerig te geniet van die ryke vonds. Tussenin lê graansorghum en sonneblomsaad wat 'n spesiale lekkerny uitmaak. Die affêre kom vir Rooibel effens vreemd voor. Nog voordat die ander fisante hulle kroppe klaar gevul het, staan hy al die omgewing aandagtig en bespied. Na 'n paar minute verslap sy waaksaamheid, want nêrens is daar iets agterdogwekkends te bespeur nie.
'n Entjie hoër op, al met die digbegroeide watervoor langs, stap 'n man en 'n seun in die rigting van die plaaswoning. "Sien jy hierdie lap blouhaak?" sê die man. "Ek dreig elke jaar om die goed te laat uithaal en hier lande te maak." "Maar, dis so ruig, Pa. Hoe sal die werkers tussen die dorings inkom?"
"Ons sal dit een aand moet kom skoonbrand."
"A, kyk 'n bietjie daar onder in die mielieland, Pa, die fisante! Dis net waar ek vanmiddag die voerplek gemaak het. Môrevroeg gaan ek hulle met die haelgeweer voorsit!"
Al geselsend verdwyn hulle oor die bult, terwyl Rooibel die twee vreemde figure met uitgestrekte nek wantrouig agternastaar.
Die son het pas ondergegaan en 'n skraal winterluggie begin trek. Nietemin voel ou Rooibel vanaand selfvoldaan. Hulle kroppe is almal vol en hier lê kos vir 'n hele paar dae.
Die skemer begin net skerp toesak toe die gelukkige fisantfamilie hulle gerieflik tussen die ruie graspolle nestel vir die nag. Veraf huil 'n jakkals, want dis winter. Die fisantwyfie "korrr" nog vir oulaas onrustig en vou haar vere digter om haar kroos as sy dink aan al die gevare van die nag. Verder is alles stil. Net 'n paar kiewiete is flus van hul slaapplek opgejaag en vlieg nog protesterend rond. Ou Rooibel luister onrustig na hulle gekla. Hy wonder watter rusverstoorder dit kan wees...
Aan die ander kant van die blouhaakbos, waar die kaalte dof in die skemer sigbaar is, is twee muishonde aan die speel. Dit is 'n lekker baljaarplek hierdie. Die twee muishonde agtervolg mekaar met lompe bewegings. Dan rol hulle om en om in die sagte sand, spelend en stoeiend, om na 'n paar oomblikke telkens asem te skep en die stof uit die neusgate te nies.
Suutjies het 'n ander grou gestalte, deur die geluide gelok, tussen die droë gras genader tot aan die kant van die opening vanwaar hy nuuskierig die vaagomlynde figure dophou. 'n Effense luggie trek in sy rigting en die wildekatmannetjie kry meteens die walgende muishondgeur in sy neusgate. Sy twee vurige oë begin boos vlam. Hy hou net niks van hierdie stinkende indringers wat al ewig die wild voor 'n mens se neus uit verwilder of op hul hoede stel nie. Met 'n waarskuwende knor sluip hy vinnig vorentoe en kap woes links en regs op die plek waar die twee muishonde nog 'n oomblik tevore baljaar het! Dié het elk met 'n benoude piep holderstebolder onder die blouhaakruigte ingetuimel en hul onwelriekende geur hang nou besonder skerp in die lug.
Die wildekat het nie sy aanval ernstig bedoel nie; dit was net om hulle die skrik op die lyf te jaag. Hy is op soek na fisante. Hy hoor saans met sononder hoe hulle in die rigting van die blouhaakbos te kere gaan en daarom is hy vanaand hier. Sonder versuim beweeg sy lenige gestalte oor die kaalte om dan langsaam en ondersoekend aan die rand van die blouhaakbome voort te sluip; hy weet reeds deur ondervinding dat jy nie snags fisante binne in die bos moet soek nie, maar in die oop veld. Die wildekat beweeg baie versigtig, hy weet hoe waaksaam hierdie voëls is...
Rooibel lig vir die soveelste keer sy koppie onder sy vlerk uit om na 'n verdagte geluid te luister... maar hy is 'n paar sekondes te laat! Kortby klink meteens 'n dowwe slag, gevolg deur 'n paar ligte vlerkflappe en onmiddellik daarna die wildekat se genoeglike knor. Toe dreun dit soos die fisante elkeen sy eie koers die nag in kies. Die wyfie het angstig oor die lap blouhaak heen geskiet en sover as wat sy die lug klief, laat sy 'n dringende tjik-tjik-tjik-geluid hoor, want twee of drie van die sterkste fisantjies het haar gevolg. Op die kaalte aan die ander kant stryk sy neer, want sy weet dat die kuikens dit nie veel verder kan maak nie. Die muishondpaar luister verras na die ongewone gedruis van vlerke en waggel nuuskierig onder die beskutting van die graspolle uit. Een van die kuikens stryk vlak voor hulle neer. Die muishonde besef oombliklik dat dit weer 'n gelukkige nag gaan wees toe die mannetjie vinnig op sy prooi toespring...
Die sekelmaan hang hoog in die lug en sy flou lig verkleur die veld in 'n dowwe dynserigheid. Rooibel se trop slaap vannag verstrooid op die blouhaakveld en wag angstig op die koms van die dag.
"Kwarrr! Kwarr, kwarrrr!" klink die fisantmannetjie se fors geroep vanaf sy ou plek op die miershoop. Die son is skaars op, maar ou Rooibel is haastig en ongeduldig om sy verspreide trop bymekaar te maak. Hy verwens al wat wildekat is en sy misnoeë is duidelik herkenbaar in sy stem. Een vir een kom die skugter fisante uit die gras gekruip en Rooibel merk hoe hul geledere uitgedun is. Dit kwel hom egter nie lank nie en die fisante begin aanstalte maak om na die mielieland te vertrek.
Agter die digte lower van 'n kareeboom aan die kant van die land, sit die seun ongeduldig en wag met haelgeweer in die hand. Vanoggend, toe die skemer nog swaar oor die veld gehang het, het hy hom reeds hier kom versteek. Die fris wintermôrelug byt geniepsig aan ore en hande en hy wens dat die fisante moet kom. Die voerplek is reg. Die mielies lê in 'n mooi lang streep oor die land, reg in die pad van die hael.
Rooibel het nie lus om soos gewoonlik rustig-weiend in die rigting van die lande te beweeg nie. Hy gee die teken en 'n oomblik later waaier hy oor die blouhaakbosse heen. Die ander fisante volg op 'n streep. In die land slaan fyn stofdampies op waar hulle gaan sit. Toe die fisantmannetjie op die voerplek afdraf, waarsku iets hom dat alles vanmôre nie pluis is nie. Hy het kortweg vasgesteek en die ander fisante volg sy voorbeeld. Hulle trek die lyfies plat op die grond, gereed om by die geringste teken van gevaar te laat spat.
"Nou wat is dit nou?" dink die seun, terwyl hy sit en wag. Dis duidelik dat die fisante reeds klaar onraad bemerk het. Darem skelm voëls... As hy nie gou maak nie... Hy lê aan, liewer een as niks nie...
Die stilte van die oggend word versteur deur die bulderende skoot en tegelykertyd word die rumoer gehoor van kragtige vlerkgedruis soos die fisante in alle rigtings die lug deurklief. Die seun voel teleurgesteld as hy uit sy skuilplek tree om die spartelende fisant op te tel. Hy wou nou vanmôre 'n spogskoot geskiet het, maar dié voëls is nou eenmaal te fyn...
Die son sit reeds hoog. By die blouhaakbos klink kort-kort die sagte, maar deurdringende gefluit van 'n fisant. Dis Rooibel wat weer trag om sy verstrooide makkers tuiswaarts te rig. Wat sou dan deesdae oor die blouhaakveld los wees?
Later in die dag het die fisantfamilie reeds gedeeltelik van die onsteltenis van die oggend herstel. Al is hulle vanmôre die lekkernye van die mielieland ontsê, is daar tog nog heelwat te pik tussen die blouhaak aan rosyntjiebessies en grassprinkane en die meeste fisante lê al lui en skrop aan die kant van 'n opening tussen die bome. Die koesterende wintersonnetjie maak dit aangenaam om die ure van die dag hier te verdryf. Rooibel staan eenkant en toekyk hoe die paar kuikens behaaglik in die losgeskropte grond vlerkflap. Nadat elke outjie vir homself 'n holtetjie reg het, keer hy sy magie na die son, onbekommerd oor wat reeds gebeur het of nog kan kom. Maar die fisantmannetjie laat selfs hier nie sy aangebore waaksaamheid verslap nie.
Dit sou egter nie vir die fisanttroppie nodig wees om nog meer beproewings gedurende die rustige ure van die dag te verduur nie. Die son is reeds vinnig op pad na die westerkim, toe die fisante weer vir die soveelste keer wei-wei onder die beskutting van die blouhaak uitdraf en doelbewus in die rigting van die ou mielieland koersvat. Dog ou Rooibel lei sy trop vanaand so ver as moontlik weg van die onheilsplek van die oggend, want die herinnering aan dié gebeurtenis is nog vars in sy geheue.
Toe die fisante 'n ruk later by die blouhaak in die gras verdwyn, is dit duidelik dat Rooibel dit raadsaam geag het om hul slaapplek ook heelwat te verskuif. Hy voel huiwerig as hy dink aan die nag, want daar dreig soveel gevare. Maar 'n ruk later het die fisante, soos al die ander diertjies van die dag, hulleself aan droomland toevertrou al lig die ou leier so af en toe sy koppie onder sy vlerk uit om na verdagte geluide te luister.
Eers dof en veraf, maar naderhand al hoe nader en duidelik, klink die geluid van voetstappe en mompelende stemme. Die fisantmannetjie verwonder hom oor hierdie vreemde gedoente. Dit moet 'n vyand wees wat nie omgee om sy teenwoordigheid te verraai nie. 'n Paar oomblikke later het die fisante nog meer rede om so te dink, want toe die geluide tot op 'n kort afstand genader het, ontstaan daar meteens 'n liggie in die gras wat gou groter groei en die omgewing begin verlig. Die fisante het almal hul koppies opgelig en betrag die wonderlike verskynsel met stygende onrus. Die wyfie kirr bekommerd en maak seker dat haar kleinspan veilig is.
Die vuur het vinnig posgevat en die bewegende figure daarby is duidelik sigbaar. Met sekels word bondels gras gesny en nadat dit vlam gevat het, word die vuur vinnig in 'n groot sirkel om die blouhaakveld gelei sodat die hele omgewing rondom die fisante gou-gou aan die brand is. Toe die lekkende vlamme die digte bosgasie inrol, knetter miljoene vonkies met lustige gekraak soos skietende pyltjies in die lug op en laat meteens die blouhaakomgewing helder in die lig geteken staan. Die fisante voel hoe die geweldige hitte aangroei en ou Rooibel besluit om nie meer langer in hierdie onheilsplek te vertoef nie.
Die seun kyk verras op toe enkele fisante 'n paar tree van hom af voor die lekkende vuur opwaaier en onmiddellik daarna in die donkerte versmelt. Dan sien hy weer hoe op dieselfde plek 'n fisantwyfie besorg heen en weer draf, fluitend en roepend in die rigting van die dansende vlamme waar haar kleintjies agtergebly het, totdat die angs haar moederinstink oorwin en sy met 'n benoude gekêk-kêk in die nag verdwyn...
Die son het weer oor die blouhaakveld opgekom. Maar in plaas daarvan om deur die vrolike geroep van 'n fisantmannetjie wat op 'n miershoop sy trop inwag begroet te word, bespeur jy vanmôre tussen die verkoolde stamme 'n uitgestekte swart tapyt, wat soos 'n roukleed oor die vernielingswerk lê wat aan die tuiste van soveel gelukkige veldbewonertjies gedoen is.
Op 'n knoppie aan die onderkant van die ou mielieland kom Rooibel en sy gevolg uitgedraf. Die ou leier steek vas en blik in die rigting van die kaal stamme waar daar vir die fistante nog kort gelede 'n doeltreffende skuilplek was. Dan is die fisante meteens duidelik sigbaar bokant die hoë bome langs die watervoor soos hulle vinnig in die lug opstyg voordat hulle gelykweg oor die bosse voortskiet, voort na 'n nuwe tuiste, êrens aan die oorkant van die rivier, waar minder gevare dreig.