Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Het u al so gevoel?: 'Ek is moeg van gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane, my oog het dof geword van verdriet... Wees my genadig Here, want ek is verswak; maak my gesond HERE, want my gebeente is verskrik. Ja, my siel is baie verskrik...' So huil Dawid sy nagte deur totdat hy verlig besef dat die HERE hom nog altyd gehoor het en altyd sal help: 'Die HERE het my smeking gehoor; die HERE neem my gebed aan.' Onthou in u grootste beproewing dat die HERE alles weet nog vóór u Hom gesmeek het maar práát met Hom want dit sál verligting bring.
BOBBEJAAN EN DIE EINA-PERE
BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies
Bobbejaan is lief om Hasie te tempteer. Wanneer Hasie 'n bietjie in boer se slaai-akkertjie gaan wei, sit Bobbejaan hoog in die vyeboom en skree: "Boer! Maak gou! Haas is in die groentetuin."
Dan kom boer met sy honde en geweer, en hy is so kwaad dat hy skoon van Bobbejaan en die vye vergeet.
So hou dit nou 'n week lank aan. Hasie het al by Bobbejaan gekla, en hy het mooigepraat, en elke slag beloof Bobbejaan beter maniere. Maar hy is nie 'n man van sy woord nie.
"Nou goed," sê Hasie by homself. "Party diere hoor net wat hulle voel." En hy hou sy oë oop tot hy sien wat hy soek, en hy draf na Bobbejaan toe.
"Ja, wat is dit Hasie?" vra Bobbejaan, en hy lag in sy kies. "Het jy al weer 'n klagte?"
"Niks klagtes nie, Oom," antwoord Hasie.
"Ai, maar jy het vanoggend weer oopgelê," sê Bobbejaan, en hy lag uit sy maag. "Daardie windhond van boer is darem haastig op sy voete."
"Ek hou van so 'n bietjie hardloop vroeg in die oggend," sê Hasie. "Dis goed vir die gesondheid."
"Sien jy nou, Hasie," sê Bobbejaan, en hy lag kliphard, "Jy kerm altyd so oor ek boer en sy honde roep, maar eintlik dink ek net aan jou."
"Nee, ek verstaan, Oom," sê Hasie, "Dis waarom ek graag vir Oom ook iets wil doen. Ek sien boer het sullke lekker pere maar ek kan hulle nie bykom nie. Wil Oom nie 'n bietjie gaan pluk nie? Daar is oorgenoeg vir ons altwee."
"Ons kan so maak, Hasie," sê Bobbejaan, en sy mond water. "Baie dankie. Maar die pere is mos vroeg vanjaar?"
"Dis 'n nuwe soort," antwoord Hasie. "Hulle sê jou oë traan eintlik as jy hulle proe."
Ewe vriendelik stap hulle in die paadjie af na boer se vrugteboord toe. Dit word al skemer, maar Bobbejaan wil nie wag nie.
Hasie lei Bobbejaan tot tussen die bome waar die eerste peertjies nog skaars begin boep maak, en hy wys hom 'n paar perdebyneste wat hoog aan die takke hang. "Daar is hulle, Oom. Sulke vet rooies. Maar pluk tog gou, want dit lyk my ek sien iets by boer se huis."
Bobbejaan laat nie op hom wag nie. Dis net hier trap en daar trap, wip-wip en raak vat – en reguit kies toe. Want hy was nog nooit van plan om vir Hasie ook van hierdie pere aan te gee nie.
Maar dit moes hy nie gedoen het nie. Perdeby wil net gaan skuinslê toe hy sy huis vreeslik voel skud. Voor hy nog kan regop kom, kraak iets die dak wawydoop. Perdeby ken nie 'n ding soos skrik nie en aan vlug het hy nog nooit gedink nie. "Storm!" skree hy vir vrou en kinders, en hy lê met sy angel in.
Bobbejaan sit regop. Nee, dis snaakse soort pere hierdie. Dit smaak net soos grond, en as jy dit byt, dan byt dit terug. Bobbejaan wil uitspoeg wat hy nie insluk nie en hy laat los wat hy nog vashou. Maar nou is Perdeby op hom, saam met sy hele gesin – en sy ooms en tantes en neefs en niggies en aangetroude familie ook. Bobbejaan koes en klap, en hy val reg tussen die takke deur tot op die grond, maar die perdebye steek.
"Eina! Eina! Eina!" roep Bobbejaan.
"Hoe lyk dit, Oom?" vra Hasie, "Traan Oom se oë al?"
"Eina! Eina! Eina!" skree Bobbejaan, en hy lê oop berge toe.
"Eina! Eina! Eina!" tjank Bobbejaan tot sy stem in die skemerte verdwyn.
"Nee wat," sê Hasie kamtig onskuldig, "sulke eina-pere wil ek ook liewers nie proe nie." En hy draf weg na die slaaibedding toe.
Uit Die mooste Afrikaanse sprokies, deur Pieter W Grobbelaar en Séan Verster.