Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Skoolgaan eindig nie wanneer jy die laaste eksamen geslaag het nie. Jou belangrikste les kom nog: LEER HOE OM TEL LY. Wanneer jy dit bemeester sal die lewe vir jou sin maak.
TANTES WOLF EN JAKKALS...
Dit sou met ou Wolf beter gegaan het as hy ‘n beter vrou gehad het. Tant Wolf het ‘n humeur gehad soos van ‘n kwaai meerkat. Die diere het gewonder hoe ou Wolf dit reggekry het om met haar saam te lewe. Ou Jakkals het gesê: “As sy net my vrou vir vyf minute kon wees, sal ek haar darem ‘n les leer wat sy nooit weer sal vergeet nie!”
Dan plak hy sy hoedjie skuins op sy kop en stap ewe deftig weg met sy ken in die lug. Maar ou Wolf kyk eers of hy nie vir tant Wolf gewaar nie, voordat hy swaarmoedig wegstap. Hy dink swaar en diep, maar daar het nog nooit iets van sy dinkery gekom nie.
Een môre staan tant Wolf op en sy kyk na die balk waaraan hulle altyd hulle vleis ophang. Dit is leeg. Sy kyk na die pot, maar daar is geen mielies in nie. “Ag aarde, daardie ou Wolf is die luiste ou skelm wat ‘n mens ooit vir ‘n man kan hê. Ek gaan nog een van die dae van honger sterf.”
Sy sien ou Wolf op die stoep in die son sit en bak. Hy sit ewe geduldig en droom oor die “brekvis” wat hy gaan kry. (Hy het nie die mooi woord “ontbyt” geken nie). Tant Wolf loop hom by en raps hom met ‘n mieliespaan oor die kop. “Jou ou lui skelm! Hier’s geen vleis vir brekvis nie. Maak dat jy wegkom en gaan haal vleis! Toe, hoor jy?”
Ou Wolf sê niks, maar hy laat spaander net so vinnig as wat hy kan om weg te kom. Nadat hy ‘n paar kilometer gehardloop het, steek hy vas om eers te dink waar hy vleis in die hande kan kry.
“Ek dink ek sal ou Jakkals vanmôre saam met my op hierdie jagtog neem. Hy is altyd so onnodig slim. Dalk kan sy slimmigheid help om iets te vang.”
Ou Jakkals was besig om langs sy huis in die son te sit en bak. Hy sit en wonder waar hy ‘n brekvis gaan kry, want hy voel erg honger. Maar hy is só lui dat hy wens die gras moet skape word, sodat hy net daar waar hy sit kan begin eet. Maar gras word nie skape voordat dit binne-in die skape is nie.
Tant Jakkals is besig om vir Antjie, hulle dogtertjie, te klop en sy wonder waar sy ‘n stukkie vleis kan kry om vir die kind te gee, sodat haar gehuil kan ophou. “Ek wens jou pa wil ’n bietjie sorg dat daar altyd bene is om aan te kou.”
Klein Antjie hou dadelik op met huil toe sy van bene hoor, maar toe daar geen been naby is om aan te kou nie, steek sy albei vuisies in haar oë en begin weer hardop huil. Tant Jakkals kry vir Antjie beet en skud haar só geweldig dat albei haar oë oopvlieg. “Ek is nou moeg van jou geskreeu,” kners tant Jakkals.
Onderwyl Antjie hard dink wat dit beteken, hoor tant Jakkals hoe ou Wolf daar buite vir ou Jakkals vra of hy nie saam met hom wil gaan jag nie, maar ou Jakkals sê hy kan nie gaan nie, hy is baie siek. Antjie het dit ook gehoor en sy gee toe ‘n skree wat hulle ore laat tuit. Tant Jakkals gee haar so ‘n harde klap dat sy van skone verbasing doodstil bly. Tant Jakkals steek haar kop by die deur uit en fluister: “Ons het geen vleis vir brekvis nie, ou man.”
Maar ou Jakkals steur hom nie aan vrouepraatjies nie en skuif net nader aan die muur om beter in die son te bak. Hy kreun: “Ek sê jou ek is siek; ek kan nie gaan jag nie.”
Ou Wolf stap weg en Jakkals kyk hom agterna en sê: “Watter geluk tref my vanmôre! Ek is so honger en nou gaan ou Wolf vir ons iets vang.” Hy draai sy kop na die deur en roep: “Vroutjie, sê vir Antjie sy moet ophou skreeu. Ou Wolf sal netnou met ‘n bok terugkom en dan sal ons brekvis kry. As sy nie ophou nie, sal ek binnekom.” Tant Jakkals frons haar gesig en sê: “Antjie, hoor jy? Bly nou stil of jou pa sal jou kom stilmaak!” Toe geniet ou Jakkals die stilte in die huis en sy gebakkery in die son.
Na ‘n rukkie kom ou Wolf daar verby met ‘n vet eland op sy rug. Die sweet tap hom af, so swaar dra hy. Ou Jakkals maak of hy niks gewaar nie, maar al die tyd water sy mond vir die heerlike vleis waaraan ou Wolf so swaar dra. Hy begin planne beraam hoe om ‘n deel daarvan in die hande te kry. Net toe sy gedagtes mooi koers kry, spring klein Hasie uit die gras en staan voor hom.
“Môre klein Haas,” sê Jakkals en hou hom skielik ewe deftig, want klein Haas is koning Leeu se boodskapdraer en hulle moenie dink hy wat Jakkals is, is sommer vuilgoed nie.
“Môre neef Jakkals,” sê Hasie statig en stadig. Hy kyk ou Jakkals met groot oë aan en kry die punt van een van sy lang ore beet en bekyk hom goed. “Ai, waarvoor het ek hiernatoe gekom?” Toe val dit hom by. “Jy moet jou roer, man! Ou koning Leeu brul vir dokter Jakkals dat die berg dreun. ‘Waar is daardie ou Jakkals? Waarom het ek hom my dokter gemaak as hy nie byderhand kan wees as ek hom nodig het nie? Ek het hierdie nael gister byna uit my klou geskeur toe ek die koedoe gevang het. Hy moet baie gou kom. Loop haal hom!’ En hier is ek. Ek raai jou aan om jou lyf te roer!”
Maar ou Jakkals skud sy kop en sê hy is tot sterwens na siek. “Ek voel te swak om my kop regop te hou. Gaan sê vir koning Leeu ek sal kom sodra ek die medisyne klaar het.” Haas bekyk hom met ‘n yslike vraagteken in sy groot oë. “Wel, ek het jou gesê en ek raai jou aan om hierdie keer vinniger as weerlig te wees.” Toe wip hy weg.
Jakkals besef hy sal moet gou speel, maar hy wil nie sonder sy brekvis na ou Leeu toe gaan nie. Hy loop stadig die bos in en pluk hier ‘n paar blare en grawe daar ‘n paar wortels uit tot hy genoeg het. Toe sien hy vir Wolf ‘n endjie van hom af loop. Ou Wolf lyk so selfvoldaan en trommeldik van al die elandsvleis wat hy geëet het dat ou Jakkals hom sommer vererg. Maar hy maak asof hy vreeslik haastig is en hardloop agter ou Wolf aan en roep: “Ag ou Wolf, jy is net die man wat my kan help. Ou koning Leeu het sy poot beseer en hy brul dat jy hom wie weet waar kan hoor. Ek het gou hierdie medisyne vir hom gekry, maar in die haas het ek my doktersboek by die huis vergeet. Nou vra ek baie mooi: Neem tog gou hierdie medisyne na hom toe, terwyl ek terughardloop om my boek te kry. Asseblief man, so kan jy my help om die koning se lewe te red en ons sal jou goeie daad altyd onthou.”
Ou Wolf was skoon verbaas. Hy sê net: “Gee die medisyne, ek sal dadelik gaan,” en hy spring weg. Ou Jakkals rol soos hy lag, maar toe spring hy op en stryk aan na ou Wolf se huis. Op pad tel hy ‘n stuk koerant op en sê: “Dit sal goed te pas kom.”
Ou tant Wolf sit op die stoep met haar kappie diep oor haar gesig getrek, om die vlieë van haar neus af te hou. “Goeie môre niggie,” sê ou Jakkals so soet soos stroop.
“Môre,” sê sy so suur soos asyn en sy kyk hom aan asof sy hom al êrens gesien het maar nie haar hart sal breek as sy hom nooit weer sien nie.
Ou Jakkals sê: “Ek het hier ‘n brief van jou man. Miskien sal jy dit wil lees om te sien wat hy wil hê.”
Tant Wolf kyk met een oog na die “brief” en met die ander oog na ou Jakkals. Naderhand neem sy die koerant en draai hom onderstebo en dan weer boonste onder. Toe sê sy: “Ek kon nooit geskrewe skrif so goed lees soos gedrukte skrif nie en daardie ou Wolf het ‘n aaklige handskrif. Ek het altyd gesê hy moet weer skool toe gestuur word. Lees jy dit vir my, neef.”
Ou Jakkals vat die stuk koerant en maak asof brieflees nie sommer kinderspeletjies is nie. Hy “lees” dit eers brom-brom deur en toe hardop met ‘n vies trek op sy gesig. “O,” sê hy, “jou man vra dat jy my die twee agterkwarte van die eland moet gee, wat ek van hom geruil het. Maar sies, dis gemeen van hom. Hy het beloof om dit na my huis te bring en nou sê hy hier ek moet dit self kom haal. Ek kan dit net sowel nou maar neem terwyl ek hier is. Maar ek sal ‘n appeltjie met hom skil as ek hom weer sien!”
Tante Wolf gluur ou Jakkals aan, maar hy lyk net so vroom soos ‘n predikant op huisbesoek. Sy bekyk die papier en skud haar kop. “Ja,” sê sy, “as julle ‘n ruil gemaak het, sal ek vir jou die vleis moet gee. Maar ek sal ook met ou Wolf ‘n appeltjie te skil hê as hy huis toe kom.” Sy gee toe die vleis vir hom, en hy brom kwaai toe hy daarmee wegstap, omdat hy dit self moet dra.
Jy moes hom gesien het toe hy ‘n ruk later weer uit sy huis kom. Sy hare blink van die vet en sy stert sleep amper op die grond. Hy is só trommeldik en hy voel só lui dat hy wens hy kan maar weer in die son gaan lê en bak. Maar koning Leeu wag vir hom en as hy nie gaan nie, sal dit hom suur bekom. Maar hy moet ‘n “doktersboek” saamneem.
“Vrou!” roep hy, “gee vir my daardie almanak waarin Antjie so baie prentjies geteken het. Ou koning Leeu sal dit nie raaksien nie.”
Toe hy wegstap, span sy onderbaadjie so styf om hom dat hy nie weer ‘n hotnotsriel kan dans nie, maar hy plak sy hoedjie agter op sy kop en sing “Kimberley se trein,” so luidrugtig soos ‘n lokasie-hotnot wat op ‘n Saterdagaand ‘n paar sopies in het. Hy kom by koning Leeu se huis en hoor hom raas en brul. Hy sit sy hoedjie reg op sy kop en stap binne met sy almanak-doktersboek in die hand.
“Waar was jy al die tyd?” skreeu koning Leeu. Die mure van die huis dril soos hy brul.
“O, asseblief tog, o Koning! Daardie dwase vrou van my het my doktersboek vir daardie ou skinderbek, mevrou Eend, geleen en ek moes toe van huis tot huis hardloop om haar te soek en my boek weer te kry. Maar ek het ou Wolf met die medisyne gestuur en hom presies gesê wat hy moet doen.”
“Ag so!” brul koning Leeu. “En hier staan hy al die tyd soos ‘n kleipot en sê geen woord nie en my klou word elke oomblik vreesliker!”
Ou Wolf begin te bewe. Ou Jakkals kyk hom vies aan en bekyk toe die koning se poot. Hy skud sy kop. “Die inflammasie het al baie ver gegaan, maar daar is net een ding wat dit nog gesond kan maak.”
“Wat is dit?” brul koning Leeu só hard dat ou Wolf voel sy hare rys.
Ou Jakkals tik op die almanak onder sy arm. “Ja, o Koning, hierdie boek sê daar is niks so goed soos die vel van ‘n lewendige wolf om die inflammasie hok te slaan nie. As ou Wolf nou sy ou oom kon gaan haal…”
“Nee, vat dan vir ou Wolf self!” brul Leeu en gryp na ou Wolf, maar die ou was nie meer daar nie. Hy het die ding voel kom en toe ou Jakkals “Wolf” sê, stryk hy al daar ver oor die bult dat die stof so staan.
“Ag Koning, hoe jammer tog dat ou Wolf ontsnap het, maar nou sal ons maar met hierdie medisyne moet klaarkom.”
Hy dokter toe die koninklike klou en stap daarna huis toe. Maar dit gaan nie weer so vrolik soos toe hy gekom het nie, want hy dink aanhoudend hoe hy uit ou Wolf se kloue gaan bly wanneer hulle mekaar weer raakloop.