Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Pyn is nie net sleg vir jou nie, dit laat mens baie dink oor baie aspekte van die saak, en denke gee 'n mens nuwe wysheid, en wysheid bring vrede. Verdra dus jou pyn met die wete dat daar 'n groter saak aan verbonde is.
GELOFTEFEES 2025 – VILJOENSKROON (SLOT)
Dewald Schoeman
In die een hand het ons God se belofte aan die Afrikanervolk, soos in Josua: "Wees nie bevrees vir hulle nie, want Ek gee hulle in jou hand; niemand van hulle sal voor jou standhou nie.”
In die ander hand het ons Satan se belofte aan die Zoeloes. Doen vir my ‘n duiwelse ritueel van 3dae, eer my wat Satan is en ek gee vir julle medisyne wat julle in staat sal stel om die veldslag te wen.
Vriende, hier kan ons baie duidelik die twee koningkryke sien bots, die Koningkryk van die Lig en die koningkryk van duisternis.
Die aanvalstaktiek van die Zoeloes het gewoonlik ‘n oskop, bors en horings uitgebeeld. Die twee horings, links en regs, was jonger en meer gevegslustige krygers. Hierdie horings sou dan die vyand vleuel en probeer omsingel. Hulle was ook met werpassegaaie bewapen en kon so ‘n assegaai dan akkuraat oor ‘n afstand van 50m gooi.
Die kop wat bestaan het uit meer ervare krygers sou dan ná die omsingeling instorm en met die vyand kontak maak. Hulle het eerder steek-assegaaie gedra en wou naby kom om fisies met die vyand slaags te raak.
Die bors was die mees ervare krygers en ‘n tipe reserwe mag. Hulle groot doel was ondersteuning en dan om seker te maak dat geen regiment mag huiwer en terug val nie. Eers as die vyand gebreek het, sou hulle instorm en vlugtendes afmaai. Die respek van die Zoeloe-leër vir hierdie bors-divisie was uitsonderlik. Geen Zoeloe-kryger van die horings of kop, sou dit waag om terug te val nie, want die bors-krygers het enige huiweraar summier vermoor. Die aanvallers was dan banger vir die vernederende dood in die geval van ‘n terugval as wat hulle vir die vyand was. Hou hierdie inligting in gedagte.
Elke een van hierdie vier divisies het uit ongeveer 4000 soldate bestaan, die hele Zoeloe-leër wat op Bloedrivier ontplooi was, het uit tussen 16 en 20 000 soldate bestaan. Dingaan het net sy uitgesoekte beste regimente vir die konfrontasie opgeroep. Dit is ook ‘n bewys van hoe oortuig die Zoeloes van oorwinning was, dat hulle nie die hele weermag ontplooi het nie.
Die een klein verskil aan hierdie leër-orde by Bloedrivier was dat die linkerhoring wat gewoonlik uit jong, onervare krygers bestaan het, by dié geleentheid uit ervare krygers wat gewoonlik in die kop geveg het, bestaan het. Die rede hiervoor was dat die krygers op ‘n vorige veldslag vir Dingaan teleurgestel het; hy het hulle toe gedemofeer na gewone horing-krygers. ‘n Groot vernedering. Dis waarom die linkerhoring tot so naby aan die laer gevorder het deur die vroeë oggend ure van 16 Desember 1838. Hulle was gretig om met hulle dapperheid Dingaan se guns terug te wen.
Die Zoeloes het die laer vanuit die suid-ooste benader.
Op die oggend van 16 Desember 1838 is die manskappe binne in die laer ongeveer 2 ure voor dagbreek wakker gemaak. In die nag kon hulle duisende Zoeloes hoor skuifel oor die vlaktes rondom die laer, hulle kon ook die vetgesmeerde lywe ruik. Almal het in afwagting gesit vir dagbreek sodat hulle kon sien wat om hulle aangaan. Dit was ‘n Sondag en as ‘n gevolg van die Trekkers se agting vir die Sabbat, sou hulle nie graag wou oorlog maak op dié dag nie.
Die mis was nogsteeds stikdig op hierdie oggend en die Voortrekkers was bekommerd dat dit kon begin reën. Dit het dan ook die vorige 2 dae gereën. Soos ek vroeër genoem het, sou dit katastrofies wees as die kruit natgeword het.
Ons sien nog ‘n wonderwerk toe hierdie digte miskombers eweskielik teen dagbreek opklaar, voordat die son nog kans gehad het om oor die horison te loer.
Tot die Trekkers se verbasing, kom hulle agter nadat die slagveld sigbaar raak, dat die Zoeloes se linkerhoring in die nag tot ongeveer 50m van die laer af gevorder het en op hulle skilde gaan hurk het. Hulle het deur die donga geklim en wes van die laer posisie ingeneem.
Die Zoeloes was ook effens onkant gevang en het nie geweet dat hulle so naby aan die laer posisie ingeneem het nie. Hulle besef toe onmiddellik dat hulle binne reikafstand van die voorlaaiers is en besluit om te storm voordat Dingaan se hoofmag nog op die veld was. Hulle vasberadenheid om Dingaan se guns terug te wen het ook ‘n rol gespeel.
Die veldslag begin eweskielik in volle vaart. Die Zoeloes gee ‘n oorverdowende kreet en die linkerhoring, wat nou eintlik ervare krygers was, daal onverskrokke op die laer neer, omtrent 4000 krygers.
Pretorius se bevel is om te wag dat die krygers ongeveer 10m van die laer af kom voordat die voorlaaiers losbrand. Dit word so uitgevoer en die eerste sarsie lopers saai verwoesting in die Zoeloe range. Op die nat en taai potklei val daar nou Zoeloe-krygers in hope morsdood neer voor hulle makkers wat nog van agter af aanstorm. Die lyke breek die terrein al hoe meer en die Zoeloes kan nie op vaart kom nie. Hierdie linkerhoring huiwer nie en met baie om te bewys, stuur hulle aanval op aanval elkeen meer doodsveragtend as die vorige een.. Binne in die laer is dit ‘n gedruis, voorlaaiers word aan gegee, skote volg kort op mekaar. Die westelike kanon word ook ingespan, en skiet kanale deur die Zoeloes. Kort voor lank is die rookwolk van die swartkruit so dig dat die Trekkers nie meer kan sien waar die Zoeloes is nie, hulle voorlaaiers het ook begin warm word. Pretorius beveel dat die skietery gestaak moet word. Dit het ongelukkig vir die Zoeloes ‘n blaaskans gegee om te hergroepeer en weer te storm. Die Zoeloes sloer toe egter net genoeg dat die rook damp wegtrek en die Trekkers weer die slagveld kon sien.
Toe die Zoeloes weer storm is die Trekkers reg vir hulle. 10 meter van die laer af, tref gedissiplineerde geweervuur die Zoeloes soos ‘n lood muur. Honderde sterf. Na ongeveer 2 ure se heen en weer het die linkerhoring genoeg gehad, hulle gees was gebreek.
Tydens hierdie geveg het die regterhoring gepoog om ook in posisie te kom. Oor die rivier in vloed was, moes die krygers ‘n entjie noord van die laer deur ‘n drif die rivier oorsteek. Hulle het dan op die oostelike oewer noordwaarts beweeg om op die slagveld te kom.
Terselfdertyd breek die linkerhoring se aanval en Pretorius gee bevel dat ‘n perdekommando van ongeveer 200 man die vlugtendes agterna moes sit. Baie Zoeloes van die linkerhoring spring in die donga en hardloop wanordelik weg. Die Trekkers saai verwoesting van die hoë walle af, en skiet baie Zoeloes binne in die donga dood. ‘n Deel van die kommando staan ook op die Westelike oewer en skiet op die aankomende regterhoring, wat die rivier wil oorsteek.
Soos al hoe meer Zoeloes toe wel slaag om weer aan die suidweste kant oor die donga en oostekant oor die rivier te vorder word die Trekkers terug in die laer in gedwing. Dit blyk nou asof die intensiteit van die stryd afgeneem het. Dit was vir die Trekkers ‘n groot risiko om die geveg uit te rek tot die aand. Die Zoeloes, nou effens gedemoraliseer na die oggend se gebeurtenisse sover, het nou begin planne maak. Voordat algehele orde in die Zoeloe-geledere herstel word, beveel Pretorius dat vyf man, waaronder Bart Pretorius, Andries Pretorius se broer, die Zoeloes moet gaan uitdaag om nog ‘n stormloop te ontlok.
Bart was dan ook vlot Zoeloe magtig en het die Zoeloe-slagordes gaan uitdaag. Hy het onder andere vir hulle gesê dat hulle baie dapper was toe hulle teen die weerlose vrouens en kinders by Bloukrans wou baklei, maar nou dat hulle teen die regte manne kragte meet, skiet hulle kamtige manhaftigheid ver tekort.
Dit ontketen reaksie van die Zoeloes en Bart Pretorius en sy vier manne storm die laer in met nog ‘n Zoeloe-stormloop kort op hulle hakke.
Niemand is vandag doodseker nie, maar hierdie stormloop lyk asof dit nou deur gemengde divisies bestaan het. die Zoeloe-leër het nie tyd gehad om weer te hergroepeer in horings, kop en bors nie. Dit kan wel aanvaar word dat die resewe-mag van die bors nog nie ten volle toegetree het tot die geveg nie. Hulle doel was ondersteuning en om te verhoed dat krygers begin terugval – veral op hierdie belangrike veldslag was hulle waarskynlik op die moontlike terugval roetes geposisioneer. Hulle dissipline was ook ongetwyfeld die sterkste in die hele leër. Hulle het nog onder Shaka geleer hoe om oorlog te maak.
Net soos vroeër die oggend word hierdie stormloop ook teruggeslaan met onverbiddelike geweer- en kanonvuur. Die posisie van die laer het die Zoeloe-bevelstruktuur heeltemal raadop. Na hierdie laaste gefaalde stormloop het die Zoeloes weer ordelik teruggetrek en gewag vir opdragte. Weereens het Pretorius geen blaaskans vir die Zoeloes gegun nie. Hy gee bevel dat sy kanon, ‘n 3 ponder wat ‘n 3 pond (1.3kg) loodbal sowat een kilometer ver kon slinger op die Zoeloe-hoofbevel struktuur gerig moet word. Hierdie Zoeloe-bevelkwartier was sowat 2 km suidoos van die laer geposisioneer om ‘n goeie uitsig oor die hele slagveld te kon kry.
Die kannoniers, waarskynlik van Pretorius se eie manne wat hy van Graaf Reinette saamgebring het, het vir Pretorius gesê dat die kanon nie so ver kan skiet nie. Pretorius het geantwoord: “Hierdie kanon mòèt vandag so ver skiet.”
Klippe is onder die kanon gepak dat hy hoër kon mik. Hulle het die kanon ook met ‘n dubbel lading kruit gelaai. Die kanon is gerig en die skoot het oor die vlakte geknal. Die kanonskoot tref in die middel van die Zoeloe hoofbevelstruktuur. Drie Zoeloe prinse is opslag doodgeskiet. Dit ontketen ‘n woede onder die ganse Zoeloe-leër. Byna onmiddellik storm elke kryger op die slagveld soos een man op die laer af. Die vasberadenheid en doodsveragting van hierdie stormloop moes die dapperste manne laat bewe het.
Net soos vroeër die oggend wag die Trekkers vir die Zoeloes en brand los toe hulle naby kom. Stormloop na stormloop weer die voorlaaiers en kanonne die Zoeloes af. Die Zoeloes was dié keer egter meer vasberade as ooit om binne in die laer te kom en wraak te neem vir hulle prinse wat nou gesneuwel het.
Die Trekkers se voorlaaiers het begin warm word en ammunisie-voorrade het gevaarlik laag gedaal. Iets moes nou gedoen word, die laer se verdediging kon nie meer lank uithou nie.
Na ‘n ruk van hierdie onverpoosde geweer vuur het Pretorius ‘n huiwering in die Zoeloes se stormlope bemerk; hy het besef dat die nekslag nou toegedien moes word.
Hy beveel nog ‘n teenaanval met 160 ruiters wat hy self lei om die Zoeloes te bestorm. Die ruiters wat deur die rookwolk eweskielik met volle vaart op die Zoeloes afstorm moes ‘n belewenis gewees het. Ons sien nog ‘n wonderwerk toe die Zoeloes groot skrik en wanordelik begin retireer… Toe die Zoeloe-hoofbevel sien wat gebeur, stuur hulle die reserwe-mag in om die saak te probeer red. Die vlugtende kop en horing divisies hardloop binne in die bors-divisie vas. Algehele pandemonium breek los, ‘n geweldige tussengeveg ontstaan tussen die Zoeloes, met die bors-reserwe mag wat die vlugendes links en regs uitmoor om hulle terugval te probeer stuit. Dit help niks.
Die teenaanval-geselsskap laat nie op hulle wag nie en laat lees met die voorlaaiers tussen die deurmekaar Zoeloe-range in. Dit saai nog meer paniek. Van die manskappe, waaronder Sarel Cilliers, verlaat die laer te voet en gaan maai vlugtende Zoeloes in die donga af. Ander ruiters skiet soveel Zoeloes aan die oostekant in die rivier dood dat die water in bloed verander. Dit is dan ook hierom dat die slag sy naam gekry het – Bloedrivier.
Die Zoeloe mag word geheel gebreek; verskeie ruitergroepe het die Zoeloes in verskillende rigtings agterna gesit. Teen ongeveer 12 uur die middag het die groepe ruiters een na die ander na die laer teruggekeer. Hulle ammunisie was op en hulle was pootuit na die dag se gebeure.
Pretorius het opdrag gegee dat gewere skoongemaak moes word en dat hulle moes herbewapen. Hulle het ook nuwe lopers gegiet omdat voorrade nou gevaarlik laag was. Pretorius het weer ‘n sterk kommando uitgestuur om die Zoeloes so ver as moontlik te agtervolg, maar die kommando kon die Zoeloes nie inhaal nie. Hulle het laatmiddag weer by die laer aangesluit.
Die slag van Bloedrivier was beklink…
Net ná die slag word aangeteken deur Bantjes, Pretorius se sekretaris, direk vertaal uit Nederlands: “...met offerende gebede en danksegging tot God dat die oorwinning aan ‘n Hoër Mag toegeskryf word.”
Nie vir een oomblik het die Trekkers gedink dat hierdie oorwinning uit hulle self was nie, maar het alle eer aan God toegeskryf.
Jare later vertel Zoeloe-krygers wat aan die geveg deelgeneem het dat hulle nie so bang was vir die 160 ruiters wat op hulle afgestorm het uit die laer uit nie, maar dat angs hulle oorweldig het toe perderuiters in die lug bo die laer ook op hulle afstorm. Hierdie ruiters was so vreesaanjaend vir die Zoeloes dat hulle eerder die onverskrokke bors divisie sou aanpak, as om enigsins weer op die Trekkers af te storm. Vandag kan ons dit net verklaar as engele wat deur God gestuur is om die Trekkers te beskerm.
Bloedrivier was nie die eerste veldslag waar ons God se hand in die oorlewing van ons Afrikaner volk kan sien nie, ook nie die laaste nie. Maar Bloedrivier het ons aan God verbind. Ons het vir Hom ‘n geloftevolk geword.
Te maklik kyk ons vandag terug na ons roemryke geskiedenis en verklaar ons ons volk se heldemoed, ons volk se gevegskuns, ons volk se dapperheid as redes vir ons talle oorwinnings. En dit is waar… ons volk is dapper, vaardig en bekwaam.
Maar al hierdie vaardigheid, al hierdie dapperheid, is genadegawes van God wat Hy aan ons gee sodat ons tot eer van sy Naam sy Koningkryk hier op aarde kan uitbou –nie sodat ons onsself kan vereer nie.
Vandag is ons in net so ‘n vernederde posisie soos die Voortrekkers na Bloukrans, ons word uitgemoor en ekonomies gaan dit al hoe swaarder met ons volk. Menslikerwys lyk die stryd verlore. Baie volksgenote gooi dan ook handdoek in en vlug, die wêreld in, opsoek na ‘n beter toekoms.
Hoe is dit moontlik dat daar vandag ‘n heidense nasie oor ons regeer. Onbevoegde luibuike dwing nou die eens dapper, trotse Afrikanervolk op sy kniee…
Die Here wys ons dat ons nie so groot en sterk is soos ons dink nie, as ons dan wil aanhou om die buiteland te smeek om hulp, of hierdie heidense regime bly soebat vir ‘n stukkie grond in die Noordkaap – ons swaarkry sal nie einde kry nie.
Eers wanneer ons tot God keer en opreg omverskoning vra oor ons verwaandheid en Hom vra dat Hy vir ons die weg moet aanwys omdat net Hy ons kan verlos. Vriende ,dan verklaar ek vandag dat as dit die Here se wil is, ons net soos voor Bloedrivier slegs een wonderwerk weg is van ware VRYHEID.
Vir die Slag van Bloedrivier, die slae vooraf en al die veldslae na die tyd, ook vir al die veldslae wat dalk nog mag kom: ALLE EER AAN GOD. Amen!