Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die laaste vreugdes van die lewe is nie net stiller nie maar ook voller en dieper as dié van die jeug. Die aand van die lewe voorsien sy eie lamp; nie ‘n skerp elektriese lig nie, maar die sagte, warm kerslig van Godsvertroue en dankbaarheid.
WIE IS DIE AFRIKANER- BROEDERBOND? (4)
Lees reeks by Wie is die Afrikaner-Broederbond?
B Schoeman
DIE AB EN DIE KERK
Dit moet vir almal teen hierdie tyd baie duidelik wees dat 'n berekende en tegelyk fyn georkestreerde aanslag vanuit sekere liberale kerklike kringe teen die gevestigde gebruike en beleidsrigtings van die Afrikaner gemaak is. Dit is natuurlik nie 'n vreemde verskynsel in ons geskiedenis dat die kerk hom by geleenthede as instrument deur mense in die politiek laat gebruik het om eintlik die politieke aanslag teen die Afrikanerdom vooruit te loop nie. Wat later meer bekend geword het, is dat predikante en teoloë, sommige van wie prominente lede van die Broederbond was en steeds is, 'n nie onaansienlike rol in hierdie politieke aanslag in naam van die kerk en die godsdiens gespeel het nie.
Wat ook betekenisvol is, is dat die liberaliste in die Afrikaanse kerke nie altyd die moed gehad het om alleen hierdie veldtog te voer nie, maar dit in medewerking met ander organisasies gedoen het.
Die veldtog van die vyftigerjare dien as voorbeeld hiervan toe die hulp van SABRA ingeroep is om die eerste werklike aanslag vanuit liberale kerklike geledere op die politieke terrein te maak. SABRA se hoofkwartier was in daardie tyd op Stellenbosch en afgesien van liberale akademici wat ook lede van die Broederbond was, het liberale predikante, soos ds. W.A. Landman, die kern van die bestuur van SABRA gevorm.Dit is interessant om te lees wat 'n man soos prof. Edwin Munger, van die Verenigde State en vertroueling van menige liberalis in Suid-Afrika, destyds oor die leidende figure in SABRA geskryf het. "SABRA-leiers," se hy, "het nie sterk partyverbintenisse gehandhaaf nie. As 'n groep het hulle min ervaring van die politiek of politici gehad. Prof. Olivier, byvoorbeeld, is nie amptelik 'n lid van die Nasionale Party nie, hoewel hy kwalik daaraan kan dink om anders as Nasionaal te stem. Burgemeesteres Erika Theron is opsigtelik afwesig van Nasionale Partyfunksies op Stellenbosch."
Ten opsigte van albei persone was Munger heeltemal reg. Olivier was inderdaad nooit 'n oortuigde Nasionalis nie en het uiteindelik by die Progressiewe Party geeïndig. Van Theron kan dieselfde gesê word, veral as gelet word op haar striemende aanvalle op apartheidswette waarvoor Malan, Strijdom en Verwoerd se regerings verantwoordelik was. Later stel sy in haar aanvalle op die Ontugwet, die Wet op Gemengde Huwelike en die Groepsgebiedewet selfs mev. Helen Suzman, van die Progressiewe Party, in die skadu.
Die rol wat Landman destyds en ook in latere jare in die kerk gespeel het om Verwoerd se beleid van afsonderlike ontwikkeling te ondermyn, is ook baie betekenisvol. In die vyftigerjare was hy eers ondervoorsitter en word in 1956 voorsitter van SABRA en net soos Olivier was hy ook 'n prominente lid van die Broederbond. Sy veldtog in naam van die kerk teen apartheid het horn telkens in botsing met dr. J.D. (Koot) Vorster, bekende kerkleier en latere Moderator van die NG Kerk, gebring. Landman, op sy beurt, was een van daardie Kaapse liberale groepie wat Vorster jare lank uit die Broederbond gehou het. Vorster het eers ongeveer 1965 lid van die Broederbond geword en dit word vertel dat sy naam telkens, wanneer dit deur die Uitvoerende Raad as 'n aspirantbroer gesirkuleer is, deur Landman en sy medestanders geveto is.
Landman het ,reeds vroeg aansluiting by die linkse vyande van die Regering hier en in die buiteland gevind. Hy was 'n stigterslid van die USSALEP en was saam met Fred van Wyk 'n belangrike skakel in die aanvoorwerk wat die stigting van die organisasie in Suid-Afrika voorafgegaan het. Hy het ook 'n prominente rol saam met sulke linkse organisasies soos die Wêreldraad van Kerke, die SA Institute of Race Relations, en andere gespeel in die voorbereiding van die Cottesloe-kerkeberaad van Desember 1960.
Hoewel die Regering en SABRA aanvanklik goed oor die weg gekom het, het daar tog in die vyftigerjare, en veral rondom die posisie van die Kleurlinge, spanninge begin intree in die verhouding. SABRA het onder leiding van 'n klompie liberaliste geleidelik in 'n rigting begin beweeg wat noodwendig op 'n ernstige konfrontasie met die Regering afgestuur het.
Hoewel die gisting in SABRA in daardie tyd nog nie as sodanig bestempel kon word nie, het dit tog al die elemente van 'n latere rebellie bevat. Dit het dan ook taamlike ingrypende reperkussies gehad toe hierdie leidinggewende figure hulle denke oor rassesake 'n verlenging na die aktiewe politiek probeer gee en die Afrikaanse kerke daarvoor ingespan het. Die getalle van hierdie groep was nooit juis groot nie, hoewel hulle dikwels die indruk wou wek dat hulle denke omtrent die Kleurlinge verteenwoordigend van 'n groot en invloedryke groep Afrikaners was. In werklikheid was dit beperk tot 'n groepie predikante, akademici, sekere Afrikaanse joernaliste, skrywers en ander sogenaamde intellektuele in Wes-Kaapland. Hier en daar is in die ander provinsies dieselfde geluide gehoor. Die denke van hierdie mense het sekerlik met verloop van tyd na ‘n groter groep uitgekring, maar teen die middel van die vyftigerjare was dit hoofsaaklik beperk tot die groepie wat hierbo genoem is — sommige wie se name in daardie tyd ook met die "Hermanus-groep" verbind is.
Die kwessie van die Kleurlinge se politieke toekoms het in daardie tyd ook in die kringe van die Broederbond ter sprake gekom. Heelwat van die leiersfigure in SABRA wat die voortou geneem het in die propagering van die standpunt van politieke gelykstelling vir die Kleurlinge, was ook lede van die Broederbond en dit is te begrype dat hulle die gedagtes ook binne die Broederbond sou indra. Op die Broederbond se Bondsraad in 1955 het dit dan ook tot 'n kwaai hotsing gelei. Hierdie botsing sou in die vroeë sestigerjare uitloop op 'n soort "suiwering" van SABRA en die verskuiwing van die organisasie se hoofkantoor van Stellenbosch na Pretoria. SABRA is oor 'n lang tydperk deels uit die Christiaan de Wet-fonds van die Broederbond gefinansier.
Na die botsing op die Bondsraad van 1955 het die Broederbond 'n "studiestuk" oor die Kleurlingpolitiek die lig laat sien. Dit is as spesiale bylae by die notule van die Bondsraad aan lede versprei. Die titel van die studiestuk is al klaar betekenisvol. Dit lui "Ons Apartheidsbeleid en die Kleurlingbevolking."
Die Broederbond het destyds bevind dat die Afrikaner slegs aan twee alternatiewe ten opsigte van die Kleurlinge se politieke toekoms oorweging kon skenk en dit soos volg geformuleer:
"(b) Die Kleurlinge kan wel as aparte groep behandel word, maar dieselfde beleidsbeginsel kan ten opsigte van hulle toegepas word as ten opsigte van die Bantoe. Waar die bedoeling dan is dat die Bantoe uiteindelik 'n volwaardige tuiste in die Bantoegebiede (reservate) moet vind, so moet ook voorsiening gemaak word vir die skepping van spesiale Kleurlinggebiede (reservate) waarheen die Kleurlinge mettertyd moet uitwyk;
"(e) Die vyfde moontlikheid is dat die Kleurlingbevolking aanvaar word as 'n aanhangsel van die Blanke bevolking, met behoud van die groots moontlike mate van skeiding, en dat bewuste stappe gedoen word om binne die raamwerk 'n bondgenootskap en vriendskap met hulle te ontwikkel wat die Blanke in sy stryd om voortbestaan en selfhandhawing kan help."
Die Broederbond stel egter reeds in daardie stadium twee belangrike voorvereistes wat altyd in gedagte gehou moet word in die uitvoering van die aangeduide beleidsmoontlikhede. Dit is:
(1) Die Blanke bevolking, soos elke ander volk, het die volste reg om sy politieke selfbeskikkingsreg te beskerm en om die nodige maatreëls te tref om sy politieke selfbeskikkingsreg nie in gevaar te stel nie; en
(2) Vanself-sprekend ook het die Blanke bevolking die reg om stappe te doen om sy rassesuiwerheid te handhaaf. (Onder meer behels dit die onderskrywing van maatreëls soos die Wette op Bevolkingsregistrasie, op Ontug en Gemengde Huwelike, op Groepsgebiede, ens.)
Aan die begin van 1956 het Landman vir dr. G.B.A. Gerdener, as voorsitter van SABRA opgevolg. Op die jaarvergadering waar hy as voorsitter aangewys is, is ook besluit dat hy 'n soort pelgrimstog deur die land moes onderneem om mense in Suid-Afrika gunstig teenoor die organisasie en sy rigting te stem.
Landman, wat later hoofinligtingsbeampte van die NG Kerk geword het, se standpunt was dat die Regering en ander instansies nie blind mag wees vir die sogenaamde wêreldmening ten opsigte van Suid-Afrika se rassebeleid nie. Hy het verder geglo dat hierdie wêreldmening baie magtig is en dat niks daarteen staande kan bly nie.
Hierdie standpunt het hy ook op die jaarvergadering van SABRA verkondig en verder die standpunt ingeneem dat niks die gekleurde rasse in die wêreld kan keer nie. Hulle maak hulleself vry en hulle word magtig. In die VSA het die Nie-blankes nieteenstaande die geweldigste verset, uiteindelik gewen.
Op die SABRA-vergadering het van die politici en andere wat teenwoordig was, in opstand gekom teen die nuwe rigting waarin SABRA klaarblyklik besig was om te beweeg. Hulle het nie geskroom om Landman openlik aan te val nie. Op latere vergaderings van SABRA is die proses herhaal.
Dit het ook daartoe gelei dat heelwat mense Strijdom oor die saak gaan spreek het en sy aandag gevestig het op die gevaarlike implikasies wat dit vir die Nasionale Party ingehou het. Strijdom het later Landman en ander SABRA-lede na sy kantoor ontbied en hulle versoek om die veldtog te staak. Hy het hulle glo in vriendelike dog besliste terme gewaarsku dat hulle met vuur speel, dat dit 'n onverkwiklike stryd met die Nasionale Party kan ontlok en dat so 'n stryd SABRA baie skade kan berokken.
Landman se kruisvaart deur die land sou aanvanklik drie maande duur, maar na sy onderhoud met Strijdom het hy aangekondig dat dit slegs oor 'n paar weke sou strek.
SABRA en sy nuwe rigting het ook op die koukus van die Nasionale Party ter sprake gekom. Op 7 Februarie 1956 het sekere Volksraadslede die saak in die koukus geopper en die standpunt ingeneem dat die organisasie met die party begin bots. Hulle het daarop aangedring dat Strijdom hard en vinnig moes optree.
Strijdom was meer taktvol. Hy het die standpunt ingeneem dat 'n mens nie met jou vriende moet stry nie. Hy het die koukuslede meegedeel dat hy 'n gesprek met Landman gehad het en hom gevra het om so op te tree dat 'n botsing met die Nasionale Party voorkom kan word. In gegewe omstandighede, soos hierdie, is dit nie die beste taktiek om hardhandig op te tree nie. As mense te ver gaan, moet 'n mens eerder met hulle praat en kyk of jy hulle nie tot ander insigte kan bring nie, het hy gesê.
Landman se reis deur die land ten behoewe van SABRA het wel plaasgevind, maar dit is na die eerste paar vergaderings beëindig. Die rede wat daarvoor aangegee is, was dat sy gesondheid op daardie oomblik nie na wense was nie. Dit is heftig ontken dat dit op aandrang van Strijdom gedoen is. Juis op daardie tydstip is 'n groot kongres van al die kerke en ander liggame oor die Tomlinson-kommissie se verslag beplan. Die kongres is vir 28 Junie 1956 belê. Dit is betekenisvol dat die integrasiedenkers die kongres nie die kleur van 'n suiwer SABRA-kongres wou gee nie, maar ook die kerke daarby wou betrek. Dit moet duidelik toegeskryf word aan die invloed van kerkmanne soos Landman en andere wat deur die Afrikaanse kerke druk op die Regering oor die toekoms van die Kleurlinge wou uitoefen. Dit blyk dus dat daar toe reeds goeie samewerking tussen integrasiedenkers in die kerk en in SABRA was om 'n verlenging van hulle idees na die kerke te vind om vandaar groter invloed op die politieke terrein uit te oefen. Hierdie pogings sou uiteindelik uitloop op die Cottesloe-kerkeberaad in Desember 1960.
Van die kant van die politici was daar groot bedenkinge teen hierdie SABRA-kongres oor die Tomlinson-verslag, maar die organiseerders daarvan was vasbeslote om voort te gaan. Thorn, rektor van die Universiteit van Stellenbosch en lid van die Uitvoerende Raad van die Broederbond, was reeds aangewys as voorsitter van die kongres. Sprekers sou insluit prof. Tomlinson self, Olivier, prof. C.H. Badenhorst en prof. S.L. Sadie — almal manne wat in die liberale kamp saamgegroepeer was.
In die jaar van Cottesloe het daar verdere roeringe van die kant van SABRA gekom. Op 22 April 1960 is 'n komitee benoem om spesiaal aandag te skenk aan die posisie van die Kleurling in Suid-Afrika. Die komittee het bestaan uit prof. S.P. Cilliers (voorsitter), Sadie, ds. H.J.C. Snijders, mnr. G.J. Viljoen, Gerrit Viljoen en mnr. J.W. Germishuys (sekretaris). Die komitee se verslag is gedateer 18 Januarie 1961 en is as baie vertroulik behandel.
Met betrekking tot die toekomstige politieke ontwikkeling van die Kleurling het die komitee die volgende aanbevelings gedoen:
"(a) Die Kleurlingkiesers moet die vryheid verkry om op die huidige basis van afsonderlike verteenwoordiging deur mede-Kleurlinge in die Parlement verteenwoordig te kan word, indien hulle dit verkies;
(b) Aanbeveling (a) sal ook van toepassing wees ten opsigte van die Provinsiale Raad van Kaapland;
(c) Dat die uitbreiding van stemreg aan Kleurlinge in ander provinsies op dieselfde basis as in die Kaapprovinsie, met die oog op die Volksraad en Senaat, so gou moontlik geskied;
(d) Dat die verlening van die stemreg aan die Kleurlingvrou mettertyd oorweeg word;
(e) Dat die beleid in verband met die oorname van enige dienste deur die Departement van Kleurlingsake nie moet wees een van oorname ter wille van die beginsel van rasseskeiding of logiese saamgroepering nie, maar eerder geskoei moet word op die beginsel dat oorname alleen geregverdig is indien en wanneer die Departement van Kleurlingsake inderdaad in staat kan wees om die betrokke dienste meer doeltreffend en tot groter voordeel van die Kleurlingbevolking te hanteer as wat andersins die geval is.
In wese stem die komitee se aanbevelings ooreen met wat die Hertzog-standpunt ten opsigte van die Kleurlinge se politieke toekoms in 1925 was. Die komitee, waar hy ten gunste is van regstreekse verteenwoordiging vir Kleurlinge in die Blanke Parlement op 'n afsonderlike kieserslys, laat egter na om te meld of daar enige beperking geplaas moet word op die getal Kleurlinge wat op hierdie wyse tot die Volksraad verkies kan word. By gebrek daaraan, moet 'n mens aflei dat die komitee geen beperking in gedagte gehad het nie en dieselfde stelsel as dié ten opsigte van die Blankes voorgestaan het, naamlik verteenwoordiging volgens kiesafdelings en 'n kwotastelsel vir sodanige kiesafdelings.
Ook laat die komitee na om die verdere ontwikkeling na die invoering van so 'n stelsel van regstreekse verteenwoordiging vir die Kleurlinge te skets. 'n Mens moet aanneem, en die komitee het seker ook daarmee rekening gehou, dat die Kleurling nie daarmee tevrede sal wees om in die Blanke Parlement te sit sonder dat ook verdere toekomsmoontlikhede vir hom geskep word nie. Sitting in die Volksraad en deelname aan die wetgewende gesag, open die weg vir aandrang op deelname aan die uitvoerende gesag, naamlik opname in die kabinet. Waar die komitee hom in sy ondersoek en bevindings baie sterk stel op die morele aspek, sal dit uiters immoreel wees om so 'n ontwikkeling aan die Kleurlinge te ontsê.
Die komitee het ook aanbeveel dat vir die voortsetting van die beleid van werkafbakening die Blanke en die Kleurling as een kategorie behandel moet word. Wat maatskaplike aangeleenthede betref, het die komitee bevind "dat ... maatreëls soos die Wet op Gemengde Huwelike, die Wet op Ontug, die Wet op Bevolkingsregistrasie, die Wet op Aparte Geriewe, ensovoorts, belangrike bronne van frustrasie, antipatie, ontbering en vervreemding by die Kleurlingbevolking is."
Op grond hiervan het die komitee onder meer aanbeveel:
- Dat, aangesien die Wet op Gemengde Huwelike en die On-
tugwet verhoudinge tussen Blank en Kleurling benadeel,
SABRA 'n beroep op die Kerke doen om hierdie wetgewing krities te ondersoek en te toets aan die Christelike etiek, en om leiding aan die Staat en volk daaromtrent te gee. - Dat 'n persoon wat as Kleurling geklassifiseer was onder
die Bevolkingsregistrasie wet, op grond van assosiasie en
lewenswyse herregistreer kan word as Blanke, afgesien
van afkoms. - Dat, wat maatskaplike geriewe betref, skeiding tussen
Blanke en Kleurling soveel moontlik aan maatskaplike
konvensies oorgelaat word, eerder as aan wetgewing, en
waar skeiding wel deur wetgewing vasgelê word, dit nie
noodwendig afgedwing sal word nie.
Hierdie verslag is eenparig deur die komiteelede onderskryf. Viljoen, die latere voorsitter van die Broederbond, se handtekening verskyn ook daarby. So ook die handtekening van Snijders, nog 'n AB-lid.
Wat baie betekenisvol is, is die feit dat hierdie integrasioniste binne SABRA die kerk se hulp inroep om wetgewing soos die Ontugwet, die Wet op Gemengde Huwelike en ander skeidingsmaatreëls "krities te ondersoek en te toets aan die Christelike etiek." Die komitee het sy ondersoek gedoen enkele maande voor die Cottesloe-kerkeberaad en dit is dus duidelik dat die veld vir die linkse kerkeberaad deur 'n liggaam soos SABRA voorberei moes word. Dit bevestig wat vroeër gesê is, naamlik dat daar tussen die kerk en 'n AB-organisasie soos SABRA oor en weer beïnvloeding was ora die gedagte van politieke en sosiale gelykstelling tussen Blank en Nie-blank ryp te druk.