Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Liewe Here, waarom sukkel ek so om lief te hê? Ek kry dit reg om fatsoenlik, beskaafd en medemenslik te wees, die wet te gehoorsaam, geen verkeerde dade te doen nie. Maar om met liefde en omgee na my medemense uit te reik, dáár Here, is ek in die skuld met opofferende liefde! Leer my asb hoe om lief te hê!?
WIE IS DIE AFRIKANER- BROEDERBOND? (5)
Lees reeks by Wie is die Afrikaner-Broederbond?
B Schoeman
COTTESLOE-KERKEBERAAD
Die Cottesloe-kerkeberaad is van 7 tot 14 Desember 1960 in Johannesburg gehou. Ondanks alle verklarings tot die teendeel was dit 'n berekende poging om vanuit liberale kerklike kringe 'n aanslag op die politieke orde in Suid-Afrika te maak deur die owerheid aan georganiseerde druk van sowel die Afrikaanse as die Engelse kerke te onderwerp om ingrypende politieke beleidsveranderings af te dwing. Terselfdertyd moes dit buite Suid-Afrika se grense die regte atmosfeer skep vir toenemende druk op die Verwoerd-regering om voor die sogenaamde wêreldmening te swig.
Vanaf die kerklike vlak moes hierdie druk tot verandering en aanpassing sy verlenging na die politiek vind en hiertoe is die hulp van liberale Afrikaanse akademici, redakteurs en ook sekere politici ingeroep. Dit moet in gedagte gehou word dat die Cottesloe-beraad belê is in dieselfde jaar as die ernstige Swart onluste by Sharpville en Langa. Klaarblyklik is in die linkse kringe in Suid-Afrika geoordeel dat die klimaat reg was om van kerklike kant 'n aanslag op Verwoerd en apartheid te waag. Die organiseerders van die beraad het geredeneer dat die tyd vir so 'n aanslag nooit ryper was nie en dat die gemoedstoestand van die mense in Suid-Afrika, met inagneming van die oplaaiende gevoel in linkse oorsese kringe, sukses in so 'n aanslag sou waarborg.
Hoewel die NG Kerk en die NH Kerk op daardie tydstip nog lede was van die Wêreldraad van Kerke, die organiseerder van die beraad, bly die kerke se deelname aan die konferensie in die geselskap van sulke linkses soos die SA Institute of Race Relations steeds bedenklik. Dat die Broederbond nie voor die konferensie enige waarskuwing teen deelname laat hoor het nie, is net so vreemd, veral as in gedagte gehou word dat die oorgrote meerderheid Afrikaanse predikante en teoloë wat afgevaardig is, ook lede van die Broederbond was. Onder die Kaapse afvaardiging het sulke prominente AB-lede soos A.J. van der Merwe (Moderator), Landman, ds. A.P. Smit (Argivaris van die Kaapse NG Kerk), prof. F.J.M. Potgieter, prof. P.A. Verhoef en prof. T.N. Hanekom getel. Uit Transvaal het AB-lede soos Beyers Naude, ds. A.M. Meiring (Moderator van die Algemene Sinode), O'Brien Geldenhuys (hy het later as AB-lid bedank), prof. E.P. Groenewald, prof. A.B. du Preez, ds. C.B. Brink en andere gekom. Die NH Kerk se verteenwoordiging het net so 'n sterk groep AB-lede ingesluit: dr. A.J.G. Oosthuizen, di. J.G.M. en T.F.J. Dreyer, P.M. Smith, J.P. Oberholzer en proff. P.S. Dreyer, S.P. Engel-brecht, B.J. Engelbrecht en F.J. van Zyl.
Toe dit uiteindelik geblyk het waarvoor die beplanners van die beraad die konferensie gebruik het, het die twee Afrikaanse kerke aangevoer dat hulle nie amptelik by die beraad verteenwoordig is nie. In die stukke van die konferensie word egter deurgaans na hulle as amptelike afvaardigings van die twee kerke verwys. As die Cottesloeberaad een pluspunt gehad het, dan was dit om die NG Kerk en die NH Kerk te dwing om finaal hulle verbintenisse met die Wêreldraad van Kerke, later een van die belangrikste finansiers van die terroriste, te verbreek. Terselfdertyd het dit ook gedien om die linkses in die kerk en in die Broederbond in die ope te dryf en hulle makliker identifiseerbaar te maak.
Hier het 'n buitelandse instansie, met die hulp van geesgenote in Suid-Afrika, vir die eerste keer in naam van 'n kerklike beraad partypolitiek bo-oor die kop van die Suid-Afrikaanse Regering kom bedryf. Dit is 'n ontwikkeling wat later, veral in die sewentigerjare, 'n algemene verskynsel geword het en wat nie net tot die kerk beperk gebly het nie. En dit is betekenisvol dat prominente AB-lede gereeld aan sulke byeenkomste meegedoen het. In 1971 byvoorbeeld is die USSALEP se eerste internasionale jaarvergadering in Suid-Afrika onder leiding van AB-lid, D.P. de Villiers, by die Lughawe Jan Smuts gehou. Altyd was en bly dit rasseverhoudinge en wetgewing in verband met rassesake wat op hierdie konferensies onder die soeklig kom.
Dit is belangrik om te let op sommige van die besluite wat in die verklaring na afloop van die Cottesloe-beraad ingesluit is:
"1. Ons erken dat alle rassegroepe wat permanent in ons land gevestig is, deel is van ons totale bevolking, en ons beskou hulle as inheems. Lede van al hierdie groepe het eweveel reg om hulle bydrae te lewer tot die verryking van die lewe van hulle land en om te deel in die verantwoordelikhede, belonings en voorregte wat daaruit volg.
- In die tyd van snelle maatskaplike verandering het die
Kerk ‘n besondere verantwoordelikheid om vreesloos binne die gemeenskap te getuig. - Die Kerk as die liggaam van Christus is 'n eenheid en binne hierdie eenheid is die natuurlike verskeidenheid van mense nie opgehef nie, maar geheilig.
- Niemand wat in Jesus Christus glo, mag uitgesluit word
uit enige Kerk op grond van sy kleur of ras nie ... - Ons besprekings het aan die lig gebring dat daar nie ge-
noeg konsultasie en kommunikasie is tussen die verskillende rassegroepe waaruit ons bevolking bestaan nie. Dit het dringend noodsaaklik geword om 'n meer doeltreffende metode van raadpleging te vind tussen die Regering en die leiers wat deur die Nie-blanke groepe van Suid-Afrika aanvaar word. Die segregasie van rassegroepe wat deurgevoer word sonder doeltreffende konsultasie en wat diskriminasie inhou, lei tot ontberinge vir die lede van die groepe wat daardeur geraak word."
Dit wat betref die besluite met betrekking tot rasseverhoudinge in die algemeen. Wanneer die beraad politieke besluite in meer besonderhede in sy verklaring aanstip, kom die werklike motiewe en betekenis van die konferensie aan die lig. Dit lui onder meer:
10. Daar is geen Skriftuurlike gronde vir 'n verbod op gemengde huwelike nie. Die welsyn van die gemeenskap en pastorale verantwoordelikheid vereis egter dat die nodige oorweging geskenk moet word aan sekere faktore wat sulke huwelike onwenslik mag maak.
11. Ons wil opnuut die aandag vestig op die ontbindende uitwerking van trekarbeid op die Bantoelewe. 'n Stabiele samelewing is nie moontlik nie, tensy die kardinale belang van gesinslewe erken word en vanuit Christelike standpunt is dit gebiedend dat die integriteit van die familie beveilig moet word.
12. Dit word nou vry algemeen erken dat die lone van die
oorgrote meerderheid Nie-blankes hulle verplig om heelwat onder die algemeen-aanvaarde minimum standaard vir 'n gesonde lewe te bestaan. Verenigde optrede word vereis om hierdie ernstige toestand die hoof te bied.
13. Die huidige stelsel van werkreservering moet plek maak
vir ‘n billiker werkstelsel wat die belange van almal wat
daarby betrokke is, beveilig.
14.Dit is ons oortuiging dat die reg om grond te besit waar hy ook al gedomiliseer is en om deel te hê aan die regering van die land, deel is van die waardigheid van die volwasse mens, en om hierdie rede kan 'n beleid wat aan Nie-blankes permanent die reg tot medeseggenskap in die regering van die land waarvan hulle burgers is, ontsê, nie geregverdig word nie.
15. Vir sover nasionalisme vanuit 'n drang tot selfverwesenliking groei, behoort Christene dit te begryp en te eerbiedig. Die gevaar van nasionalisme is egter dat dit sy doel mag probeer bereik ten koste van die ander se belange, en dat dit van die volk 'n absolute waarde kan maak wat dan die plek van God inneem. Die taak van die kerk moet dus wees om te help om nasionalistiese bewegings na regverdige en waardige doeleindes te lei.
- a. Dit is ons oortuiging dat daar in beginsel geen beswaar kan wees teen die direkte verteenwoordiging van die Kleurlingbevolking in die Parlement nie.
b. Ons spreek die hoop uit dat oorweging verleen sal word aan die toepassing van hierdie beginsel in die afsienbare toekoms."
- Met betrekking tot woonbuurtes vir Nieblankes verklaar die beraad: Met besondere waardering vir wat reeds in verband met die daarstelling van huise vir Bantoes en ander Nie-blankes bereik is, versoek die samespreking dringend dat eiendomsreg op 'n vaster grondslag gestel sal word en dat woonbuurtes met inagneming van die ekonomiese en kulturele peil van die inwoners beplan word."
- Onder punt "Trekarbeid" lui die verklaring: "Die Samespreking versoek dringend dat 'n verteenwoordigende kommissie deur die Regering benoem word om die stelsel van trekarbeid te ondersoek, aangesien die kerk pynlik bewus is van die nadelige gevolge van hierdie stelsel op die gesinslewe van die Bantoe. Die Kerk beskou dit as 'n besondere verantwoordelikheid om 'n normale gesinslewe te bepleit vir die Bantoe wat langdurig of permanent in die Blanke gebiede woon."
- In die verklaring verseker die beraad ook die Indiërs en die ander Asiatiese bevolkingsgroepe in die land "dat dieselfde eise van geregtigheid wat hier ten opsigte van ander bevolkingsgroepe gehandhaaf word, ook op hulle van toepassing is." Ook word dit gestel dat die owerheid dringend versoek sal word om "voldoende en gerieflike fasiliteite vir aanbidding van Nie-blankes in stedelike gebiede toe te staan." Blanke gemeentes word ook versoek om hulle eie geboue vir die doeleindes van aanbidding aan die Nie-blankes af te staan.
Die verklaring wat die Hervormde Kerk ná die beraad uitgereik het en waarin hy hom van die resolusies gedistansieer het, is van groot belang, veral wanneer die toestand later en die Regering, die Broederbond en ook die Afrikaanse kerke se standpunte daaroor getoets en beoordeel moes word.
Met betrekking tot die kwessie van politieke regte aan Bantoes in Blanke gebied lui die NH Kerk se verklaring:
"Teen hierdie besluit het die Nederduitsch Hervormde Kerk hom met al sy mag verset, aangesien dit:
(i) Impliseer dat daardie mense geen regte deur midde bestaande Bantoe-owerhede sal hê nie. Die Nederduitsch Hervormde Kerk is daarvan oortuig dat die inskakeling van die stedelike Bantoe reeds ver gevorder is en dat hy sy politieke regte binne die Bantoegebiede kan uitoefen waar die Blankes geen politieke regte sal hê nie.
(ii) Impliseer dat die Bantoes permanente woonplek binne die Blanke gebied gegee word.
(iii) Die begin van integrasie van die Bantoe is. Dit is die standpunt van die Nederduitsch Hervormde Kerk dat dit nie 'n verskil maak of daar 1 miljoen of 6 miljoen geïntegreerd is nie, en hy beskou dit as onregverdig dat daar alleen so 'n hoeveelheid geïntegreer sal word as wat die Blankes voor kans sien om te behartig sodat hulle nie daardeur ondergeploeg sal word nie. Dit is 'n beginselsaak aangesien hy ten gunste is van algehele vertikale segregasie en nie ‘n onregverdige horisontale segregasie kan regverdig nie.
(iv) Nie regverdig is teenoor die Blanke wat geen politieke regte binne die Bantoegebied het nie."
Oor die Kleurlingstemreg lui die Hervormde Kerk se breëre uiteensetting: "Dit is die oortuiging van die Nederduitsch Hervormde Kerk dat die besluit om geen beswaar te maak teen die regstreekse verteenwoordiging van die Kleurlingbevolking in die Parlement nie, nie geregverdig is nie en daarom moet hy hom met alle mag daarteen verset, omdat —
(i) die owerheid op die oomblik besig is om aandag aan die hele saak te gee en dit nie die taak van die kerk is om wetgewing voor te skryf oor hoe dat die Kleurling of enige ander groep sy politieke regte moet geniet nie.
(ii) dit in stryd is met die beleid van die kerk van territoriale segregasie en 'n verdere vorm van integrasie bewerkstellig."
Dit was te verwagte dat die besluite van die Cottesloe-beraad beroeringe in sowel politieke as kerklike geledere sou veroorsaak vanweë die politieke strekking daarvan. Veral in Kaapse en Transvaalse kerkkringe was daar groot onsteltenis oor die optrede van die twee afvaardigings by die beraad.
Die Kerkbode, amptelike orgaan van die NG Kerk in Suid-Afrika, het 'n paar dae ná Cottesloe skerp gereageer op die besluite wat daar geneem is. In 'n hoofartikel sê die redakteur van die blad, dr. A.P. Treurnicht, onder meer:
"Die prediking van geregtigheid op maatskaplike en politieke terrein bly die verantwoordelikheid van die Kerk, maar wanneer hy hom met politieke formules inlaat, is dit 'n ontoelaatbare staatsgreep”
Wat betref die kwessie van politieke regte vir die Kleurling skryf Treurnicht: "Ten slotte 'n woord oor die verklaring in verband met regstreekse verteenwoordiging van Kleurlinge in die Parlement. Oor die positiewe implikasies van afsonderlike ontwikkeling hoef ons nie te verskil nie. Indien dit dan vir die Kerk nodig is, kan hy dit duidelik stel dat politieke ontwikkeling nie beteken dat die Kleurling permanent in 'n onmondige staat gehou sal word of in 'n politieke doodloopstraat gerangeer kan word nie.
"Maar daar mag en sal gevra word of die kerk gereed is met 'n politieke formule waarvolgens die Kleurlinge volwaardige selfbeskikking ontvang, terwyl die Blanke se selfbeskikkingsreg en beheer oor sy eie belange en karakter gewaarborg bly.
"Die slotsom dat Kleurlinge in die Parlement moet sit, is die slotsom van 'n bepaalde politieke plan. En dit is slegs wanneer hierdie formule absoluut die enigste is, dat die Kerk dit mag waag om die aanvaarding daarvan te bepleit. Maar is dit die enigste? Ons verstout ons om te sê: hieroor het nog die kerk nog die staat klaar gedink. En as ons nie klaar gedink het nie, moet ons nie die enigste oop weg wat ons sien, tot 'n kerklike of Bybelse beginsel verklaar nie. Daar is sommige kerkmanne wat gerus juis hierin 'n laer profetiese noot kan aanslaan."
Dit is ook van belang om te let op die verklaring van die Sinodale Kommissie van die NG Kerk van Transvaal. Die verklaring wat na 'n daglange samespreking in Pretoria uitgereik is, lui onder meer:
2. Hy bevestig sy volmondige onderskrywing van die beleid van die kerk soos geformuleer op agtereenvolgende Sinodes van 1951 tot 1958 waarvolgens dit ook duidelik blyk dat die NG Kerk:
a. Nog nooit ten gunste van gemengde huwelike tussen Blanke en Nieblank besluit het nie.
b. Hom sedert 1857 op die standpunt van afsonderlike kerklike inrigtings van die verskillende etniese groepe in ons land gestel het, en
c. Ook op staatkundige terrein nog altyd 'n beleid van differensiasie of afsonderlike ontwikkeling, gegrond op die beginsels van Christelike voogdyskap, voorgestaan het.
Die integrasioniste van Cottesloe het in 1960 en daarna gestuit teen die onversetlike standpunt van Verwoerd en sy Regering dat die Nieblanke nie op politieke, sosiale en kerklike gebied met die Blanke mag integreer nie. Die Broederbond van destyds het Verwoerd hierin sterk onderskraag. Net soos Verwoerd in Februarie 1961 dit nodig gevind het om deur die Federale Raad van die Nasionale Party 'n verklaring uit te reik om die Cottesloe-integrasioniste te stuit, net so is in Broederbondgeledere skerp gereageer. 'n Verklaring wat destyds gesirkuleer is, is van groot belang wanneer die vroeëre standpunte met die huidige ontwikkelinge vergelyk word.
Reeds in die inleidende paragraaf word verklaar: "Op hierdie vergadering (die Cottesloe-beraad) is 'n hele reeks besluite geneem wat ons kleurbeleid ten nouste raak en die apartheidsbeleid in die Kerk en op staatkundige terrein ten sterkste veroordeel." Let veral op die beklemtoning van die "apartheidsbeleid in die Kerk en op staatkundige terrein."
Onder die opskrif "Wat beoog die Wêreldraad van Kerke met sy byeenkomste en konferensies?" lui die dokument onder meer: " ... om voorlopig alle grense tussen kerke uit te wis." En wanneer die vraag gestel word hoe die WRK hierdie grense wil uitwis, lui die antwoord: "Hulle wil dit doen deur alle kerkgangers, afgesien van ander verskille, saam kerkdienste te laat bywoon en saam Nagmaal te laat vier."
Onder die opskrif "Sosiale, politieke en ekonomiese oogmerke" word dan onder meer verklaar: "Die stelling wat die Wêreldraad huldig dat status-verskil onreg is en dat reg en billikheid gelykheid vereis, is die tipies liberalistiese vooroordeel wat hulle verdedig op die Christelike leer van gelykheid van alle mense voor God en Christus."
Verder aan oor die WRK se houding teenoor rasseverhoudinge en kleurbeleid lui die dokument: "Totale gelykheid en broederskap op sosiale terrein vir alle rasse, is nie genoeg vir die teoloë van die Wêreldraad nie. Hulle dryf hulle nivelleringsproses verder om die aarde deur algehele verbastering aan te moedig ... Hulle meen dat ons reeds die trap bereik het dat die Bantoe erken kan word as nie meer slegs potensieël nie, maar ook reeds aktueel beskaafde mense en medeburgers wat aanspraak kan maak op die gewone omgangsvorme en voorregte."
Net hierna word die kwessie van gemengde huwelike en ontug oor die kleurskeidslyn behandel. Die veroordeling van die WRK se standpunt oor die saak is ewe betekenisvol.
"En terwyl voorheen," lui die dokument, "die bloedvermenging ongetwyfeld voortgegaan het deur buite-egtelike verkeer, kan die weg nou geopen word vir wettige gemengde huwelike, waardeur mettertyd die rassevraagstuk en rassewrywings self opgelos sal word en 'n nuwe maar homogene bevolking sal ontstaan, met 'n konstitusie, versterk deur die oerkrag van swartbloed, soos die befaamde Bernard Shaw aanbeveel het na sy vlugtige besoek aan Suid-Afrika meer as 'n kwarteeu gelede. Dus, daar is niks nuuts onder die son nie. En ons herken ook die leuse van Cecil Rhodes in Suid-Afrika: 'Equal rights for all civilized men'."
Wanneer die Cottesloe-besluite behandel word, raak die dokument nog meer aktueel. "Die kern van hierdie besluite," lui dit, "is algehele gelykstelling tussen blank en nie-blank, met grondbesit en stemreg aan nie-blankes saam met die blankes. Hierdie kern is verdoesel onder die Christelike idioom en versuiker met besluite soos: 'Die Kerk het verantwoordelikheid om te getuig van die hoop van Christus sowel teenoor Blanke Suid-Afrikaners in hul onsekerheid as teenoor nie-blanke Suid-Afrikaners in hul frustrasies'."
Die volgende paragraaf van die dokument is van besondere betekenis. Dit lui: "Terwyl ons in Suid-Afrika bid en ywer vir aparte woonbuurtes en vir die strenge handhawing van die wet teen gemengde huwelike en ontug tussen blank en nie-blank, kom die Wêreldraad met die ongelukkige strewe, wat maar net 'n voortsetting is van die strewe van die Dr. Philipse en die Dr. Van der Kemps wat, as dit toegepas word, ongetwyfeld sal uitloop op die stigting van 'n republiek van die swart geweldenaar, waarvan die Kongostaat en ander state in Afrika 'n voorbeeld is."
Skryf of praat oor hierdie dinge en jy word summier aangekla dat jy goeie rasseverhoudinge versteur. In die Broederbond sal sulke stellings natuurlik later suiwer kettery.
Later is hierdie standpunte nie meer die standpunte van baie leiers op kerklike vlak en in die Broederbond nie. Dertien jaar na hierdie verklaring vind 'n mens die NG Kerk in sitting by sy Algemene Sinode in Kaapstad waar gemengde dienste en ander gemengde kerklike byeenkomste gesanksioneer word. En vanuit die Broederbond is die argument daarna gehoor: "As Nie-blankes saam met Blankes op die sportveld mag meeding, waarom mag hulle nie saam met die Blankes in die kerk aanbid nie?" — dit nadat juis die Broederbond die leiding geneem het om veelrassige sport in Suid-Afrika te vestig.
Hoe rym dit wat vandag in kerklike en Broederbondkringe gepredik word met die standpunte wat in hierdie verklaring gestel is? Vandag is dit die klanke van Cottesloe, die Wêreldraad van Kerke en die SA Institute of Race Relations wat die refrein by kerklike konferensie in Suid-Afrika vorm: Skeiding van die verskillende rasse is nie in ooreenstemming met die Skrif nie omdat die Skrif die eenheid van die kerk predik.
En by die kerkekonferensie van Januarie 1982 in Pretoria is dit Boshoff, die voorsitter van die Broederbond, wat die AB se seën op hierdie tweelingboetie van Cottesloe uitspreek wanneer hy verklaar: "Daar is algemene instemming dat die status quo nie aanvaarbaar is nie. Daar is niemand hier wat die status quo sal verdedig nie. Die vraag is hoe dit verander moet word."
Natuurlik sal die AB-leiding nie die "status quo" (aparte kerke) verdedig nie, want die UR het reeds in Januarie 1981 onder leiding van Boshoff besluit dat die "status quo" (aparte konstitusionele strukture) op politieke gebied nie gehandhaaf kan word nie.
Dit is interessant dat die voorsitter van die Broederbond so instemmend oor die Pretoriase kerkekonferensie gepraat het, terwyl dit juis 'n nie-Broeder, dr. Pierre Rossouw, was wat hom op die ander standpunt gestel het. Terwyl die voorsitter van die Broederbond gesê het die kongres "was positief en het hoop geskep waarop ons kan voortbou", het hierdie nie-Broeder gesê: "Ek het egter die indruk gekry dat as ons nie die NGK nakend uittrek en kritiseer nie, ek nie gehoor word nie. Talle van die sogenaamde kontroversiële dinge wat ek in my referaat oor ander kerke gesê het, is ook van toepassing op die NGK." (Dr. Rossouw is hoof-uitvoerende amptenaar van die NG Kerk.)
Vandag word nie meer dikwels oor Cottesloe gepraat nie. Baie mense weet nie eens wat dit beduie nie. Cottesloe is dood, maar vanuit sy graf is hy vandag besig om Suid-Afrika te regeer. 'n Mens hoef maar net te let op die resolusies wat destyds aangeneem is om te besef hoe dit later een na die ander deur die NP-regering en met die seën van die Broederbondleiding uitgevoer is: die afskaffing van werkreservering; die afskaffing van trekarbeid en die verlening van permanensie aan die Swartes in Blanke gebied; die toekenning van eiendomsreg aan Swartes in Blanke gebied; die gelykmaking van lone, ens.
Uit kerklike, akademiese en politieke kringe is 'n volgehoue veldtog teen skeidingswette soos die Groepsgebiedewet, die Wet op aparte geriewe, die Ontugwet, die Wet op Gemengde Huwelike gevoer. Baie van diegene aan die voorpunt van die veldtog was prominente AB-lede. P.W. Botha self verklaar op 19 Mei 1979 in 'n BBC-onderhoud dat hy "moreel en godsdienstig" geen beswaar teen gemengde huwelike het nie — dit is net plaaslike omstandighede wat dit ongewens maak. En in 'n spesiale studiestuk, gedateer Januarie 1981, is dit juis die wette wat deur die UR uitgesonder word as "diskriminerende maatreëls" wat geen bestaansreg meer het nie.
Later sit die Kleurlinge toe saam met Blankes, Indiërs en 'n Sjinees in 'n Presidentsraad. En die Regering het by monde van P.W. Botha en Chris Heunis, toe Minister van Binnelandse Aangeleenthede, verklaar dat die veelrassige Raad "binnekort 'n ten volle verkose liggaam gaan word en die funksies van 'n huis van hersiening sal hê". Die Blanke Senaat is afgeskaf op voorwendsel dat 'n Presidentsraad in die lewe geroep kan word, maar in werklikheid was dit net die begin om aan Nie-blankes regstreekse verteenwoordiging in die Blanke se politieke bestel te gee. In Cottesloe se dae het Treurnicht as redakteur van Die Kerkbode gepraat van 'n ontoelaatbare "staatsgreep". As daar ooit 'n "staatsgreep" uitgevoer is, dan was dit hier. Twintig jaar na Cottesloe het die Regering elke aanbeveling en eis van die Wêreldraad van Kerke by daardie konferensie uitgevoer.
En later was dit die Uitvoerende Raad van die Broederbond wat met fopwoorde, soos die onhoudbaarheid van die handhawing van die status quo, amptelik die resolusies van die Wêreldraad van Kerke en die SA Institute of Race Relations by Cottesloe gesanksioneer het.
Die pad van die Afrikaanse kerk en die Broederbond het inderdaad kronkeldraaie sedert Cottesloe gemaak.