Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die meeste mense verkeer in angs as hulle dink dat hulle hul geliefdes aan die dood moet afgee. Natuurlik laat die dood van 'n naasbestaande 'n groot leemte; maar het jy al só daaroor gedink: om my seun of dogter of eggenote aan die dood af te gee - God het alreeds ter wille van mý daardie pyn en angs verduur – ons hoef dit nie só te ervaar nie! Hy het sy eie Seun aan 'n kruisdood afgegee, 'n veel aakliger dood as meeste van ons. En dan wag nog die blye weersiens in die hiernamaals waar ons weer ons geliefdes sal sien.
BRANDSTOF- WYSHEID
Dr P.E. Van der Dussen
Die aangekondigde prysverlaging van brandstof is alles goed en wel, maar die verbruiker word alweer benadeel ten gunste van die oliemaatskappye. Die gemiddelde oorverhaling vir die tydperk 31/10-27/11 was 10c/liter groter as die prysverlagings omdat die minister die oliemaatskappye se winsgrense opgestoot het. Vir petrol bedra die maatskappye se aandeel vanaf Woensdag R2,149 per liter teenoor R2,028 in November en R1,989 in Junie 2014. Ten opsigte van Junie is dit ses maande later in Desember 8,5% meer, ‘n jaar-op-jaarstyging van 15+%. Diesel se toedrag van sake is soortgelyk, behalwe dat vulstasies self besluit hoeveel van die verhoogde groothandelsmarge aan verbruikers deurgegee word.
Die skerp daling in SASOL se aandeelprys dui daarop dat die afwaartse gang van petroleumpryse nog nie verby is nie
DRAAI OM TERWYL JY TYD HET!
Ds Andrè van den Berg
“En hy het opgestaan en na sy vader gegaan...” - Luk.15:20
Wat is die beste ding om te doen indien jy jou in die lewe vasloop en in ʼn doodloopstraat bevind? Om om te draai. Daar is egter ook ʼn voorwaarde aan verbonde: Jy moet dit betyds doen! Die Gelykenis van die Verlore Seun is een van die bekendste van Christus se gelykenisse omdat dit die verlore toestand van sondaars so treffend beskryf. Dis ʼn evangelie binne in die Evangelie.
Jesus vertel hierdie gelykenis sodat mense tot besinning moet kom en deur die bekering hul toevlug na God neem. Bekering beteken om ʼn geestelike u-draai te maak; terug na vanwaar jy gekom het – van God wat jou aarde toe gestuur het om Hom deur jou lewe te gaan verheerlik. Vers 18 praat van hierdie u-draai waar die jongman sê: “Ek sal opstaan en na my vader gaan”.
Hy loop hom lelik in die lewe vas en gaan sit.
OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (10)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Pergamus moet deur volharding vernuwe
Openb.2 12-17
1. Die stad
Pergamus met n bevolking van slegs 12,000 was 72 km noord van Smirna en is deur Alexander die Grote in ʼn militêre vesting omskep omdat dit op ʼn heuwel geleë was. Daar was ʼn tempel vir Zeus en aanbiddingsplekke vir talle gode asook ʼn biblioteek met 200,000 boekrolle. Die stad het saam met Athene en Alexandrië as sentra van geleerdheid bekend gestaan. Velle skryfmateriaal van diervelle is daar vervaardig – perkament. Dit was ʼn florerende bedryf om aan ʼn wêreld skryfmateriaal te voorsien. Pergamus was ook die godsdienssentrum van Asië. Daar was tempels, altare en heiligdomme ter ere van Zeus (hoofgod), Athena (godin van oorwinning), Dionusius (beskermgod met ʼn bul as simbool) en Asklepius (god van genesing met ʼn slang as simbool).
Daar was ʼn wêreldbekende mediese sentrum waarheen mense van heinde en verre vir genesing gekom het.
OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (9)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Smirna, ʼn gemeente deur die Satan geteister
Openb.2:8-11
1. Die stad Smirna
Smirna, die huidige Ismir, was ʼn hawestad ongeveer 56 km noord van Efese met die bynaam Die eerste in Asië. Dit was die geboortestad van Homeros en het ʼn inwonertal van ongeveer 100,000 gehad met tempels vir die godin Roma, die god Asklepius, keisers Augustus en Tiberias asook Zeus. Dit was ook die hoofsentrum van die keiserkultus sowel as die mediese wetenskap. Dit het ook een van die grootste Joodse bevolkings in daardie geweste gehad. Hierdie Jode was die Christene nie goedgesind nie. Hulle het laasgenoemdes by die Romeinse owerheid verdag gemaak sodat die Christene onderdruk is. Die gemeente is hetsy deur Joodse pinkstergangers of Paulus tydens sy derde sendingreis gestig.
2. Die boodskap aan Smirna
Die brief aan Smirna begin basies soos die een aan Efese.
VOLHARD IN DIE GELOOF!
Hannes Ollewagen
Hebreërs 12:1-29
Die samelewing van ons tyd is so belas met die dinge van die wêreld wat geen heil inhou nie, maar steeds sleep mense hierdie laste saam. Die las van die gejaag na geld, die las om mense te probeer behaag, die las om deur my vriende aanvaar te word, daardie dinge wat eintlik ‘n las vir my word, omdat ek nie meer myself kan wees nie, want ek moet my eie karakter en beginsels prysgee om daardie las te kan saamdra. Nou wonder ons waarom daar soveel hartseer en ongelukkigheid in die wêreld is?
In vers 1 van die gelese gedeelte word ons opnuut uitgenooi om die las en sonde wat ons so maklik omring af te lê om sodoende die wedloop van die lewe met volharding te voltooi.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (29)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas
Op drie pote konsentrasiekamp toe
Mev. C Bell
Ons het op die plaas Hangklip, distrik Zastron, gewoon. Op 24 Mei 1894 is my een broertjie gebore, op die dag dat ons nuwe klein hondjie, Jack, vier dae oud was. Witoog, Jack se ma, was baie lief vir my ander boetie, Fransie, en ek kon op Witoog vertrou dat sy hom sou oppas.
Solank Moeder in die bed was, moes ek die huiswerk doen. Boetie Fransie het so lekker met sy kleiossies sit en speel dat ek hom skoon vergeet het. Meteens roep Moeder: “Hester, waar is Fransie?”
Ek het gaan soek, maar kon hom nie kry nie. Toe kry ek ’n plan, wys vir Witoog Fransie se hoedjie, en daar gaan sy! Sy soek die huis deur en snuffel daarna op die werf rond totdat sy die regte spoor kry.
BLOEDSONDES – FEIT of LEUEN?
Eseg. 18
Talle Charismatiese kerke leer dat daar so ʼn iets soos bloedsondes bestaan. Dis glo oorgeêrfde sondes wat kinders vir die sondes van voorouers laat boet. Hierdie leer is soos so baie ander leerstellings van die Charismatiese kerk ʼn gruwelike dwaling en van alle Bybelse waarheid ontbloot! Die Bybel is oor een ding baie duidelik: God dra die straf op sondes nie van die een geslag na die volgende een oor nie. Hy is ʼn liefdevolle en billike God.
Waar kom die Charismate dan aan hierdie dwaalleer? Hulle grond hul siening op subjektiewe, persoonlike waarneming i.p.v. die Bybel. As jy jou oog van God se Woord afneem, dwaal jy! Jesus waarsku: “.... julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mt.22:29).
Die siening oor bloedsondes is egter geen nuwigheid nie. Meer as 2,500 jaar gelede was daar alreeds ʼn debat rondom hierdie onderwerp wat in Esegiël 18 opgeteken is.
ERNS MET JOU BELOFTES?
Ds Andrè van den Berg
“En Jefta het aan die Here ʼn gelofte gedoen en gesê: As U werklik die kinders van Ammon in my hand gee, dan sal ek wat uitkom, wat uit die deure van my huis uitkom my tegemoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die Here behoort, en ek sal dit as ʼn brandoffer bring”.
Die era van die Rigters was ʼn baie deurmekaar periode in Israel se geskiedenis. Vir 300 jaar het die een rigter die ander opgevolg om God se volk te lei. Name soos Ehud, Otniel, Gideon en Simson en selfs die van ʼn vrou, Debora, is aan ons bekend. Maar waarom was dit so ʼn deurmekaar tydperk? Omdat daar min stabiliteit in die Ou Nabye Ooste was en Israel gevolglik gereeld in oorlog verkeer het.
In Rigt.11 het Israel haar in ʼn ander soort oorlogvoering bevind nl. terrorisme.
OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (8)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Efese; ʼn gemeente in ʼn veranderende wêreldstad
Openb.2:1-7
1. God laat ʼn brief skryf
Johannes se aangrypende visioen in Openb.1:9-20 was ʼn inleiding tot die sewe boodskappe wat sou volg. Dit het as’t ware die gordyn op die doel, hoofkarakters en gebeure van Openbaring laat oopgaan. Elke boodskap begin met die opdrag om te skryf. Die vraag is of dit afsonderlike boodskappe was of ʼn briefbundel om situasies wat in die hele kerk voor gekom het te skets? Laasgenoemde blyk die waarskynlikste te wees.
Daar was ook ander gemeentes in Klein-Asië. In 61nC het die gemeente in Kolosse ʼn brief van Paulus ontvang wat ook op sy versoek in Laodisea voorgelees moes word. Daar was ook ʼn gemeente in Troas, ʼn belangrike stad op die keiserlike posroete. Ander stede wat ook gemeentes kon huisves, was Neapolis, Magnesië, Tralles en Koesikus, ʼn stad op ʼn baie besige skeepsroete.
2. Interessante spekulasie
Die bedelingsvoorstanders het geglo dat die briewe sewe kerktydperke uitbeeld.
BRANDSTOF- WYSHEID
Dr PE van der Dussen
Driekwart van die waarnemingstydperk is nou vertreke. Die gemiddelde oorverhaling op petrol is tans ongeveer 90c/liter en op diesel net minder as 60c/l. Gister was die daaglikse oorverhaling ongeveer 100c/l vir petrol en net minder as 70c/liter vir diesel. Met inagneming dat slegs ‘n kwart van die waarnemingstydperk oorbly, lyk prysverlagings van meer as 75c? liter vir petrol en 55c/liter haalbaar. Mits die minister natuurlik om die een of ander duistere rede besluit om die winsgrens vir klein- en groothandel te verhoog teneinde in die guns van die oliemaatskappye te bly.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (28)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas
Rolla red haar maat
Mev. L. Bosch
Ons was in die oorlog “wilde Boere”, dit wil sê ons het van plek tot plek gevlug om die gevreesde konsentrasiekampe te ontduik. Ons ses kinders het saam met diere grootgeword, en Moeder het dikwels gesê dat, as sy elke kind sou toelaat om ’n troeteldier huis toe te bring, ons huis meer na ’n dieretuin as iets anders sou gelyk het. Daar was nie net katte en honde nie, maar byna altyd ook meerkatjies, hanslammers, mak voëls en konyntjies - om van perde nie eens te praat nie.
Toe ons so moes vlug, was dit vir ons kinders baie swaar om ons maatjies onder die sorg van ander agter te laat. Gewoonlik het ons hulle ook nie weer gesien nie. Ons honde het darem altyd saamgegaan, en Sannie, ons huiskat, het saamgevlug solank die oorlog geduur het. Sy moes dikwels ook haar hele familie saamneem tot groot blydskap van ons kinders, wat dan in die wa met die katjies kon speel.
OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (7)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Johannes se moedskep-visioen
Openb.1:9-20
1. ʼn Mismoedige Johannes
Openbaring het die gelowiges in Klein-Asië wat dikwels mismoedig was laat moed skep. Wanneer dit gevoel het asof dinge net te veel word, het Openbaring hulle daaraan herinner dat Jesus self deur ʼn donker drif gegaan het waarin Hy selfs sy lewe verloor het! Wanneer die verheerlikte Heiland sy hand op die mismoedige Johannes se skouer neersit, is dit asof Hy dit met die res van die gelowiges doen. Dit het die gemeentes weer laat moed skep - hulle was veilig in God se hand. Ons ontmoet hier vir Johannes soos hy waarlik is; nie net slaaf of dienaar nie, maar ook profeet. God bemagtig profete met ʼn duidelike roeping soos vir Jesaja, Jeremia en Esegiël.
2. Die indeling van die visioen
Die visioen van die verheerlikte Christus stel die lesers aan Johannes voor en bemoedig lesers in krisissituasies.
OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (6)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Deur Jesus Christus geopenbaar
Openb.1:1-8; Mt.25:1-13
1. Van God aan Christus, die engel en Johannes
Die Grieks vir “openbaring” is apokalupsis, ʼn woord wat 44 keer in die NT voorkom. Dit beteken “om dit wat voorheen ongekend was bekend te maak”. Openbaring is die hoogtepunt van God se bemoeienis met die mens - die mens is nou oppad einde toe. Dis as’t ware God se stroomversnelling in die geskiedenis. Gevolglik is ons bevoorreg om met die volgende 22 hoofstukke saam met Johannes die wederkoms van Christus tegemoet te stap. Hy is nie net die skrywer van hierdie toerdokument nie, maar ook die organiseerder en toerleier van die interessante reis. Soms praat hy baie hard oor God se oordeel en dan weer sag oor vergifnis en verlossing.
Die verhaal begin heel voor by die paradys en loop dan verder, verby Golgota tot by Sionsberg waar die volle getal verlostes die lied van verlossing sal sing.
OU PRETORIA... (10)
...'n verhaal van die stad se Voortrekkerperiode
Dr. GUSTAV S. PRELLER
Lees reeks by Ou Pretoria
GROOT GESANTE TREF MEKAAR OP GROOTPLAATS
Pretorius het ingesien dat, tensy dit voorkom word deur ander maatreëls, die Suid-Afrikaanse Republiek weldra dieselfde lot sal ervaar as die Vrystaat en Natal. Hy het vervolgens aan majoor Warden, en deur hom aan sir Harry Smith, voorgestel dat ’n onafhanklike ondersoek gehou moet word vir die wegruiming van alle bestaande dispute.
In die geskiedenis is dit nie soseer die bewuste arbeid van die individu, hoe kragtig en goed ook, wat koers gee aan die dinge nie, maar in veel groter mate die algemene loop van sake self, en die invloed van bykomende omstandighede wat die deurslag gee. Pretorius het vir sy voorstel die goeie oomblik uitgekies en dit sou vrugdraend word. In die Vrystaat het die dinge teruggeval in 'n toestand wat gegrens het aan volslae regeringloosheid. Mshweshwe het die Engelse die oorlog aangesê en Warden by Viervoet verslaan.
GEESTELIKE SOENOFFERS
Hannes Ollewagen
1 Petrus 2:1-10
Vers 5: “...en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.”
Om 'n jong volk met ‘n baie ryk geskiedenis te wees het ons een van die mees trotse volke in die wêreld gemaak ten spyte van die feit dat ons so ‘n geringe volkie is. In getallewig het ons nog nooit swaar geweeg nie, maar ons karakter het menigmaal kop en skouers bo ander volke uitgestaan - ‘n karakter wat ‘n mens net kan ontwikkel wanneer jy waarlik in die lewende God van hemel en aarde glo; ‘n karakter wat kenmerkend is aan ‘n doelgerigte volk – ‘n volk met duidelike riglyne, ‘n volk met onveranderlike riglyne, ‘n volk met ‘n onveranderlike en onsterflike, ewige, almagtige God en Koning as Leidsman.
Ons volk se Godsvrees het ons laat ry oor die hoogtes van die aarde wat ‘n mens laat dink jy droom wanneer jy van die prestasies en voorspoed in ons geskiedenis lees.
KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Die seuntjie van 'n pastoor besluit om sy drie katte in die bad te doop. Die eerste een is 'n klein katjie en hy aanvaar die nat spul redelik gelate. Die tweede is 'n jong kat en dié veg ook nie te hard teen die genatmakery nie. Maar die derde kat is 'n ou kat met 'n sterk wil wat geen nonsens duld nie en hy baklei met alle mag teen die onderdompelry. Na 'n hele paar probeerslae gee die seuntjie moed op en laat die worstelende kat los wat met groot spoed die pad vat. Die seuntjie kyk hom agterna en roep: " Nou goed dan, bly maar 'n ateïs!"
OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (5)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Mense en gebeure
- 1. Die godsdienstige bure
Paulus sê in sy toespraak op die Areopagus dat die Atheners baie godsdienstig is (Hand.17:22). Die Grieks-Romeinse wêreld het ʼn veelgodedom gehuisves waarin gode en godinne vereer is. Die godin Athena het Athene beskerm en Artemis vir Efese. Tempels is vir hulle opgerig, asook beelde wat aanbid is. Feeste en spele is ook aan hulle gewy sodat die beleweniswêreld van die Christene in Klein-Asië met veelgodedom besmet was. Onder invloed van die filosowe het die rasionalisme mettertyd die ou gode verdring en het die mens met behulp van sy verstand sy eie verlossing bewerkstellig.
In hierdie tyd het die misteriegodsdienste ook baie opgang gemaak en het die klem van ʼn staatsbeheerde godsdiensbeoefening na privaat aangeleentheid verskuif met klem op die lewe na die dood. Ingewydes het ʼn baie hegte broederskap gevorm. Waarsêery, toekomsvoorspellings en astrologie, wat mense se toekoms volgens die sterre stand voorspel, was veral gewild. So ook toorkuns.
OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (4)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Die agtergrondsituasie
1. Geen maneskyn en rose nie
Openbaring is onder ongunstige toestande geskryf. Christene van Klein-Asië is veronreg en selfs vervolg. Daarbenewens moes hulle fyn trap om deur die mynveld van heidense gebruike, Joodse agterdog en Romeinse onreg te beweeg soos in Openbaring gesien word. Hulle moes in probeer maak van ʼn bykans onuithoudbare daaglikse krisis. Apokaliptiese is dikwels die verslag van ʼn bepaalde krisis. Dink maar aan Daniël wat die optrede van Antiochus Epifanus beskryf. Vervolging het veral in die omgewing van Efese voorgekom. Waar dit op sosiale, politieke, ekonomiese en geestelike terrein beroerd gegaan het. Daarom was Openbaring salwend omdat dit Christene begeester het om te oorleef en te oorwin.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG (27)
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, uittreksels oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas
'n "Tannie" hendsop die Skotte
H. van der Merwe (Rabie)
My man en ek is albei gebore Vrystaters van die distrik Fauresmith. Toe die oorlog uitbreek, het ons op ’n plaas naby Oos-Londen geboer. Ons het dadelik alles te gelde gemaak en terug na ons land laat vat. Al wat ons oorgehou het, was twee perde wat geskik was vir sowel trek as rywerk.
Op Springfonteinstasie is my man van die trein af met die twee perde om by die Fauresmithse kommando aan te sluit en ek is na my moeder in Bloemfontein. Daar het ek egter nie lank vertoef nie, want ek het verneem dat daar ’n groot behoefte was aan verpleegsters in die tydelike hospitaal op Jacobsdal, terwyl die meeste groot gevegte destyds plaasgevind het op Magersfontein en Belmont in die rigting van Kimberley.
Die reis van Bloemfontein na Jacobsdal op ’n oop wa was nie juis aangenaam nie. Bedags het die son ons gebak en snags het die koue windjie oor die vlaktes gesny.
LEEF REG
Ds Andrè van den Berg
“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die morester opgaan in julle harte...” - 2 Pet.1:19
“U woord is ʼn lamp vir my voet en ʼn lig vir my pad” (Ps.119:105).
Mense hou daarvan om te reis/toer. Jy ontmoet nuwe mense, sien nuwe plekke en geniet besienswaardighede. En indien ʼn mens oor die fondse beskik, kan jy gereeld reis. Daar is egter een reis wat net eenmaal plaasvind en nooit weer nie; die lewensreis. Hierdie reis begin met jou geboorte en eindig met jou dood. Dis ook nie vir almal ewe lank nie; stap maar gerus deur ʼn begraafplaas en kyk na die datums op grafstene!
Om sinvol te reis, is ʼn padkaart onontbeerlik. En dis wat die Bybel is; ʼn padkaart vir die aardse lewe na die ewige lewe. Die lewe is ʼn onbekende pad. Net ʼn dwaas sal dit sonder ʼn padkaart aandurf! Dit geld ook vir iemand wat wel ʼn padkaart het, maar dit nie gebruik nie. Daarom lê die lewenspad besaai met menslike wrakke; mense wat die padkaart van God gehad het maar nie gebruik het nie.