Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Martin Luther het by geleentheid gesê dit is die allerbeste teken wanneer as antwoord op ons gebede, skynbaar die teenoorgestelde gebeur. Net soos dit ook geen goeie teken is as in antwoord op ons gebede alles na wense verloop nie. Daarom gaan God teen ons gedagtes in sodat dit lyk of Hy ná ons gebede nog meer toornig op ons is as voor ons gebede. Dit doen Hy alles slegs omdat dit in sy aard is om eers tot niet te maak wat in ons is voordat Hy ons sy gawes skenk.
MODDER, BLOED, EN BAIE MOED
15 JULIE – 100-JARIGE HERDENKING VAN DELVILLEBOS
Die herdenking van die Slag van Delvillebos, presies 100 jaar gelede, het 'n paar dae gelede plaasgevind met 'n somber, waardige plegtigheid by die militêre monument buite die dorpie Longueval in die noorde van Frankryk.
Waarvoor het die 2 536 Suid-Afrikaners in Delvillebos gesterf?
Gelofteland het die afgelope tyd heelwat aandag geskenk aan die Rebellie van 1914-15 toe genl. Jan Smuts en Louis Botha slegs 11 jaar ná die Tweede Vryheidsoorlog groot verdeeldheid in Afrikanergeledere gebring het. Ons land was steeds in armoede gedompel na die Drie-jarige oorlog en was nie gereed vir nog so 'n verwoesting nie. Nog het Smuts, 'n vertroude Sionistiese ondersteuner, en Botha nie toegegee aan die weerstand wat daar onder Afrikaners was om nie aan die Engelse se oorlog teen die Duitsers mee te doen nie. Genl De Wet, Beyers, Maritz en De la Rey het groot weerstand daarteen gebied maar Smuts en Botha was ongenaakbaar in hul hebsug na eer komende van Brittanje. Hulle was eerder bereid om met bedrog en vuilspel dapper Afrikanerleiers om die lewe te bring, vir hoogverraad aan te kla en in tronke aan te hou as wat hulle hul meesters in Brittanje teleur sou stel. Die besluit om saam met Engeland teen Duitsland te veg is op Afrikanerseuns en –manne afforseer; daarom het nog 2 536 in Delvillebos gesterf.
Die historikus, dr Leopold Scholtz, vertel meer daaroor:
Delvillebos. Dié naam is ingegrif in die bewussyn van byna elkeen wat al ooit ’n Suid-Afrikaanse militêre uniform gedra het.
Die brigade wat Delvillebos op die oggend van 15 Julie 1916 binnegegaan het, was sowat 3 000 man sterk. Toe hulle vyf dae later deur vars troepe afgelos word, was slegs 3 offisiere en 140 man nog – na liggaam, maar ongetwyfeld nie na gees nie – ongeskonde.
Maar hulle het gedoen wat hulle gevra was, ondanks die verskriklikste aanslae wat die Duitsers teen hulle geslinger het.
Dat hulle dapper was, kan niemand betwis nie. Dat hulle hulself met eer oorlaai het, kan niemand ontken nie. Ook nie dat hulle op persoonlike vlak ’n voorbeeld was vir elke Suid-Afrikaanse soldaat wat daarna in bloedige gevegte betrokke was nie.
Maar was hul opoffering sinvol? Die antwoord hierop kan slegs gegee word as ons die volledige konteks skilder van die breër verloop van die oorlog en veldtog, waarvan die Slag van Delvillebos eintlik maar ’n klein, relatief onbelangrike onderdeel was.
Teen Julie 1916 was die Eerste Wêreldoorlog al byna twee jaar aan die gang. Wat begin het as ’n vinnige bewegingsoorlog, het egter binne enkele maande ontaard in ’n statiese stellingoorlog, met lang loopgraaflinies teenoor mekaar.
Dit het albei kante beweeg tot dom, massale frontaanvalle op goed voorbereide verdedigingslinies, sonder enige poging om intelligent te maneuvreer, sonder om die vyand onkant te vang of om hom op sy swak plekke aan te durf. Vroeër in 1916 het die Duitsers die Franse by Verdun aangeval, swaar verliese gely, en feitlik geen vordering gemaak nie.
Deels om die druk op Verdun te verlig, het die Britte besluit om ’n offensief verder wes by die Somme teen die Duitsers te begin. Dit het op 1 Julie 1916 met ongelooflike bloedvergieting begin soos die aanvallers in hul duisende deur die Duitse masjiengewere in rye afgemaai is. Op dié dag alleen het die Britte ’n skrikwekkende 57 470 man dood en gewond verloor, van wie 19 240 gesneuwel het.
In die Britse gevegsorde was ook ’n Suid-Afrikaanse infanteriebrigade (met drie bataljons) onder die leiding van brig.genl. Tim Lukin as deel van 9 Skotse Divisie, laasgenoemde onder die bevel van genl.maj. W.T. Furse.
Die Suid-Afrikaanse brigade in Frankryk was daar op aandrang van die land se eerste minister, genl. Louis Botha, kragtig gesteun deur genl. Jan Smuts.
Smuts was die groot dryfkrag agter Suid-Afrika se deelname aan die oorlog aan Brittanje se kant.
Dit maak die verliese van Julie 1916 dubbel wrang. Maar laat ons die mense vir hul dapperheid onthou.
Sy oorkoepelende doel, sterk vereenvoudig, was om die nuwe Unie van Suid-Afrika (wat pas in 1910 tot stand gekom het) op die wêreldkaart te plaas as ’n belangrike Afrika-moondheid wat nie geïgnoreer kan word nie.
Dít was die basiese rede waarom die pas opgerigte Unie-Verdedigingsmag Duits-Suidwes-Afrika (vandag Namibië) binnegeval en beset het, en waarom Suid-Afrikaanse troepe ook die hoofrol in die veldtog in Duits-Oos-Afrika (deesdae Tanzanië) gespeel het.
Maar dié teaters was in die oorlog se breër verband van sekondêre belang. Die belangrikste slagvelde was in Frankryk, en ter wille van Suid-Afrika se internasionale politieke geloofwaardigheid het Botha en Smuts geoordeel dat die land ook daar militêr aanwesig moes wees.
Die rampspoedige aanval van 1 Julie 1916 het net op die Britse regterflank beperkte sukses gehad. Dit het die Britse bevelhebber, genl. Douglas Haig, laat besluit om dit uit te buit.
Dus het hy sy reserwes, waaronder 9 Skotse Divisie (en dus ook 1 SA Infanteriebrigade) in die stryd geslinger om die dorpie Longueval en Delvillebos te beset.
Die Slag van Delvillebos het om dagbreek op 14 Julie begin toe die ander twee brigades in die divisie die Duitse verdedigingslinies aangeval het. Hulle het die Duitsers verras en die voorste linies is gou ingeneem.
Maar, taai soos die Duitsers is, het hulle vinnig herstel, en ’n titaniese geveg was die gevolg. Net ná middagete het genl. maj. Furse die Suid-Afrikaners ingestuur. Hul opdrag: Verower Delvillebos!
Onder die regstreekse bevel van lt.kol. William Tanner het die drie Suid-Afrikaanse bataljons vroeg die oggend van 15 Julie op die Duitsers afgestorm. Die gevolg was ’n uitgerekte geveg waartydens die Suid-Afrikaners met bloed vir elke tree terreinwins moes betaal.
Herhaalde aanvalle en Duitse teenaanvalle het daarop uitgeloop dat die Suid-Afrikaners die grootste deel van die bos beset het, maar ’n deel het in Duitse hande gebly.
Maar die Suid-Afrikaners se posisie was wanhopig en takties uiters wankelrig. Hul linies het soos ’n yslike ballon in Duits-besette gebied ingedring.
Hulle is dus van drie kante deur die Duitsers omsingel, met slegs ’n relatief smal korridor wat hulle met Geallieerde grondgebied verbind het.
’n Slegter posisie kan ’n mens jou amper nie indink nie, want die Duitsers kon hulle van drie kante bestook. Bowendien was die afvoer van gewondes en die aanvoer van voorraad feitlik onmoontlik.
Maar die soldate het opdrag gekry om die bos teen elke prys te behou. Hulle mog geen millimeter wyk nie.
In die dae wat hierop gevolg het, is die Suid-Afrikaners onderwerp aan ’n ongelooflike reeks artillerie-bombardemente en infanterie-aanvalle. Sonder noemenswaardige versterking het die Suid-Afrikaanse kragte steeds verder afgeneem namate soldate gesneuwel of gewond is.
Volgens die Suid-Afrikaanse krygshistorikus Ian Uys, wat die veldslag uitvoerig beskryf het, het lt.kol E.F. Thackeray, bevelvoerder van een van die bataljons, op 20 Julie ’n desperate nota aan Lukin gestuur:
“Urgent. My men are on their last legs. I cannot keep some of them awake. They drop with their rifles in hand asleep in spite of heavy shelling. We are expecting an attack. Even that cannot keep some of them from dropping down. Food and water has not reached us for two days – though we have managed on rations of those killed . . . but must have water . . . Please relieve these men today with-out fail as I fear they have come to the end of their endurance.”
Later dié dag het versterkings uiteindelik opgedaag om die Suid-Afrikaners af te los. Net ’n fraksie van dié wat die geveg begin het, kon nog op hul voete staan. Maar hulle het die hel oorleef en gehou.
Die Suid-Afrikaners het die bos nooit heeltemal verower nie. Ook die Duitse weerstand was dapper en uiters hardnekkig. Die laaste Duitsers is eers op 25 Augustus uit Delvillebos verdryf.
Die Slag van Delvillebos, die ondenkbare swaarkry van die soldate en die vasberadenheid en moed wat hulle aan die dag gelê het, het ’n ware legende in die Suid-Afrikaanse krygsgeskiedenis geword. Selfs teenstanders van die Suid-Afrikaanse deelname aan die oorlog in die nuut gestigte Nasionale Party is, sy dit enigsins onwillig, hulde aan die soldate gebring.
Volgens die historikus Ian van der Waag het Delvillebos baie gedoen om die diep verdeelde wit Suid-Afrikaanse bevolking te wys dat ’n gesamentlike oorkoepelende identiteit moontlik was.
Ná die oorlog het die Suid-Afrikaanse politikus sir Percy Fitzpatrick Delvillebos vir een frank van die Franse staat gekoop en aan sy eie land se regering geskenk. In 1921 is begin met die beplanning van ’n monument daar om die gesneuweldes te gedenk.
Die monument is in Oktober 1926 deur die destydse premier, genl. J.B.M. Hertzog, onthul en is deur die bekende argitek sir Herbert Baker ontwerp. Baker self, Fitzpatrick, genl. Haig, en die weduwees van genls. Louis Botha en Tim Lukin was ook teenwoordig. ’n Replika staan voor die Uniegebou in Pretoria en in die Kompanjiestuin in Kaapstad.
Op die boog van die monument staan dié inskripsie (dis ook in Engels): “Aan die onsterflike Suid-Afrikaners wat op die slagvelde van Afrika, Asië en Europa en op see die Groot Offer op die Altaar van Plig gelê het, is hierdie Gedenkteken deur hul landgenote in trotse dankbaarheid en herinnering gewy.”
In die sentrum, bo-oor die boë, staan: “Vir ons is hul ideaal ’n erfenis/ hul offer ’n besieling”. Dáárbo is die Franse woorde
“Aux Morts” (“Aan die dooies”).
Op die koepel is ’n beeldhouwerk van die antieke mitiese figure Castor en Pollux wat mekaar met hande van vriendskap bo-oor ’n perd se rug groet. Hulle simboliseer die eenheid van Afrikaners en Engelse Suid-Afrikaners.
Ná die veldslag het slegs één boom nog gestaan. Die bos is intussen herplant en dien in sy geheel as oorlogsmonument.
Waarvoor het die 2 536 Suid-Afrikaners in Delvillebos gesterf?
Aan die een kant was hul offer vergeefs. Uys haal ’n verslag aan van Thackeray ná die geveg:
“It is virtually the unanimous opinion of military authorities that the losses incurred by the South African Infantry Brigade at Delville Wood were indeed in vain. The most costly defence of the Wood served no strategic purpose whatsoever. Ultimately, the most fitting epitaph to the struggle of Delville Wood is contained in the words of John Buchan, who stated that ‘It was an epoch of terror and glory scarcely equalled in the campaign’.”
Dit maak die verliese van Julie 1916 dubbel wrang. Maar terwyl ’n mens dit, as jy eerlik is, moet erken, is ’n ander waarneming ewe geldig: Laat ons die mense vir hul dapperheid onthou.
Saluut!