Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Leier se liefde vir God en sy volk is die spil waarop sy menseverhoudings draai. Dis die deur wat hom uit die kerker van selfsug na buite lei. Eer moet egter nie met eerbewys verwar word nie. Geen mens is nog ooit vereer vir wat hy ontvang het nie, maar slegs vir wat hy gegee het.
BROKKIES UIT DIE BOEK: DARIUS PRINS – STAATSVYAND (8)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Behalwe vir die gedruis van die enjin se uitlaatstelsel en die gesuis van wind, is dit stil in die Jeep. Darius kyk skuinsweg na Robyn, en sien haar tande is so hard op mekaar gekners, dat die spiere in haar wange en kaak bult en spring. Hy weet genoeg van haar agtergrond om te besef hierdie was nie haar eerste geveg nie, net soos dit ook nie syne was nie. Tog het dit iets diep in haar geraak en sy dra nou die emosionele gevolge daarvan. Net sosiopate, psigopate (wat die verskil ook al mag wees, en psigote – waar die sielkundige lyne ook verdof, hou nie ‘n stuk trauma oor wanneer hulle nie net onder geweld deurgeloop het nie, maar aktief daaraan deelgeneem het.
Hy wens hy kan iets doen of sê om haar effens te laat ontspan, maar net soos in sy eie geval, veertig jaar gelede, maar ook nou onlangs en selfs netnou, weet hy daar is in werklikheid niks wat dit beter gaan maak nie. Niks nie behalwe tyd en tyd werk ook nie altyd nie.
Gedurende sy tyd in die bediening het hy met vele gebroke mense te doen gekry wat op die een of ander manier daaraan blootgestel was, vanaf mishandelde kinders, roofslagoffers, botsings, tot by ouman-soldate wat maar net nie die spoke wat hulle pla kan afskud nie. Sommige hou ‘n ruk lank uit, ander sal uiteindelik daaroor praat as hulle nie meer kan inhou nie, en nog ander, in baie gevalle ‘n groot persentasie, sal onder ‘n prop daarvoor gaan wegkruip. Niemand is werklik ongeskonde nie.
Teen laatmiddag wys hy die ander voertuie om stil te hou, trek self af en met behulp van een van die jonger manne, maak hy die Jeep se petroltenk vol. Dis nog ver van leeg, maar indien hulle vinnig en ver moet padgee is daar nie nog tyd vir brandstof aanvullings nie.
Dertig kilometer verder, en sonder noemenswaardige oponthouding of probleme, hou die groep weer stil. Hulle bereik konsensus daaroor dat hulle nie na donker op die pad wil wees, nie, maar sit met die probleem dat nie een van hulle iemand ken waar hulle in veiligheid die nag kan deurbring nie. En natuurlik kan hulle nie eens daaraan dink om sommer langs die pad te oornag nie, al het hulle wapens en messe om te gebruik.
“Waar is ons nou presies?”
“Iewers naby Warmbad.”
“Is ons al verby die Nylstoom-afrit?”
“Nog nie. Ek dink dis die volgende een, hoekom?”
“Jong, my pa se neef, oom Flip Prinsloo, het ‘n stukkie grond naby Nylstroom gehad en as ek eers naby is en dis nog nie donker nie, kan ek die pad daarheen kry. Hulle bly lankal nie meer daar nie, nie na die laaste plaasmoorde nie. Die ding is dat daar ‘n koppie is waar ons as kinders uitgeklim het, nie baie ver van die pad af nie. Ons kan die koppie van agter-af uitry, dink ek. Daar is ‘n effense leegtetjie binne die kruin daarvan en ons kan daar gaan intrek en slaap. Dis net ‘n gedagte.”
Met Gys wat nou voor ry met die Pajero, soek hulle die pad. Dit raak nou vinnig donker en almal is verlig wanneer hy van die grondpad afry, deur ‘n plaashek en al word die plaaspad later net twee spore, lyk dit tog asof hy na ‘n koppie toe mik.
Aan die voet van die koppie hou Gys stil en klim uit. Vir Darius is die parkeerligte aan die agterkant van die voertuig skielik baie helder en hy wonder hoe ver dit gesien kan word, en deur wie. Gys kom teruggeloop met ‘n frons tussen sy wenkbroue.
“Die pad is nog daar, net soos ek dit onthou, maar dis dig begroei en daar is, so ver ek kan sien, ‘n hele paar modderkolle. Wanneer ons verby daardie ouland is, en die stukkende damwal, sal ons deur die vlei moet ry. Ek weet nie of julle daarvoor kans sien nie.”
“Laat ek gaan kyk.”
Darius klim uit die Jeep en is eers bewus van Robyn as sy langs hom inval. Hulle loop versigtig, met die skemer wat nou donker kolle gooi. Dis steeds diep Bosveld en die slange gee nie pad net omdat die land plat geval het nie. Hy merk sy het nie haar ewige haelgeweer by haar nie, maar sê niks.
Daar is genoeg oop grond dat hulle aan kan loop tot by die vlei. Darius loop stadig die klam oppervlakte binne en kan voel dit gee effens mee, maar met ‘n bietjie geluk kan hulle daardeur. Dis in elk geval net so dertig meter ver.
“Ons kan daardeur dink, ek. Veral die Jeep kan dit maak, daarvan is ek seker,” gee hy verslag aan die ander wanneer hulle terug is by die karre.
Sonder enige verdere tydmors, ry hy verby die stukkende damwal, die vlei binne. Die Jeep se breë bande breek die kors, maar die voertuig beweeg gemaklik deur, tot aan die ander kant. Darius trek effens uit die pad en wys die volgende een, die Nissan, om deur te kom. Die groot, swaar sportnuts is skaars tien meter die vlei binne, of die gewig druk die bande deur die kors en binne in die sagte klei en modder aan die binnekant daarvan. Ten spyte van die gebrul van die 4,2 liter diesel en die bande wat die klei langs die kante van die voertuig opspat, is dit duidelik dat hulle nie verder gaan kom sonder hulp nie.
“Whôô” roep Darius en wys met ‘n vinger wat hy oor sy keel trek vir Skeermes om af te skakel.
“Wat nou?”
“Die Jeep is te lig om julle uit te sleep, en ek weet nie of enige van die ander karre beter gaan vaar nie.”
Sonder om vir toestemming te vra, draai die Porsche verby die Land Cruiser en Pajero, ry verby die wal en sonder veel moeite en met baie min gemaal van wiele is hy deur. Maya klim uit die bestuurdersitplek, haal ‘n sleepband agter uit die kar se luikrug en loop na die Nissan. Natuurlik is die band hopeloos te kort en eers as hulle drie bande gelas het uit verkillende voertuie, kan sy die kar met baie min moeite uitsleep. Die ander voertuie volg en kort voor lank is hulle almal deur die vlei.
Die Porsche is nou aan die voorpunt en Darius los vir Maya om die pad te kry. Daar is ‘n smal deurgang tussen ‘n ou hardekoolboom en ‘n rots en die Porsche en Nissan kom net-net deur sonder skrape of duike.
Met die voertuie in ‘n los sirkel getrek in die holte van die koppie, maak hulle ‘n klein vuurtjie. Enige onverbiddelike of onvriendelike plek raak sommer gou beter wanneer daar vuur is. Darius loop ‘n ent teen die kant van die holte, oor die lae wal en kyk of hy die gloed van die vuur kan sien. Niks.
Aandete is heerlik, alhoewel eenvoudig, met geblikte worsies en boontjies, beskuit en tee. Almal wens hulle het nog koffie gehad. Na ete begin die mense een-een bed maak, sommer binne die karre waar moontlik en die ander langsaan.
Darius het ‘n stukkie grond gelyk gemaak, gaan lê, opgestaan en ‘n onvriendelike klip verwyder en as hy op sy sy draai, sien hy vir Robyn op haar slaapsak sit. Sy kyk die vertes in, en hy kan sien, selfs in die effense gloed van die kole, dat sy baie bleek is.
“Robyn, is jou arm seer? Kan ek daarna kyk?”
Sonder om te antwoord kom sy nader, rol haar hemp se mou op en wys vir hom die lang sny. Dis nie diep nie, maar moet seer wees, soos enige wond is, al is dit ook hoe gering.
“Sit net hier, dan gaan kry ek iets.”
Versigtig, met groot sorg, maak hy die sny skoon, smeer ‘n bietjie antiseptiese salf aan en verbind dit met ‘n skoon verband. Nie ‘n regte een nie, maar met ‘n reep laken wat hy opgerol en in die noodhulpsak gesit het.
“Drink hierdie. Dit sal help vir die pyn en jou dalk effens lomerig maak.”
“Mybulins? Ek wil nie lomerig word nie. Ons is nog nie veilig nie.”
“Robyn, ons gaan nie gou weer heeltemal veilig wees nie. Drink dit. Ek sal kyk dat jy so veilig is as wat omstandighede toelaat.”
Sy knik met haar kop, drink die twee pille en mik om op te staan na haar slaapsak toe.
“Robyn?”
“Ja?”
“Bring jou slaapsak en kom lê hier langs my. Ek sal jou nie pla nie.”
“Bedoel jy jy is edel en behoorlik, of wil jy nie?” Sy glimlag effens, maar baie kortstondig.
“Nie een van die drie nie, maar jy is veilig by my, ek belowe.”
Die nag is nog koel, veral hier in die koppie, maar net na twee-uur die oggend is dit koud. Darius word effens wakker as hy besef Robyn bewe van die koue. Sonder om ‘n woord te sê, rits hy sy slaapsak oop en maak vir haar plek langs hom. Sy kom lê in sy arm en die twee raak so aan die slaap tot dagbreek toe, waar Robyn vinnig opstaan, sodat die ander mense in die groep nie gedagtes kry nie.
Na beskuit en tee is hulle terug in die voertuie. Hulle moet immers weer terug deur die vlei. Darius merk dat Robyn se haelgeweer agter in die Jeep lê.
“Is jy klaar met die geweer?”
“Nee, hy is klaar met my. Die sneller het gebreek.”
Darius vat die Mossberg, kyk na die meganika daarvan en sien die plastiek snellermeganisme het in twee gebreek. Dis die enigste slegte aspek van die ou haelgewere. Hy plaas dit terug in die bak van die Jeep, haal ‘n lang geweersak uit en gee vir Robyn die M16.
“Hier. Dis nie so fris soos jou ou ding nie, maar hy sal werk, totdat ons joune kan heelmaak.”
Wanneer sy na hom kyk, sien hy sy is minder bleek en die harde trek om haar mond en kakebeen is weg.