Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In plaas daarvan dat ons God vra watter planne en werk ons moet doen sodat Hy dit in alle geval sou seën, vra ons nou sy seën op ons planne wat ons self gemaak het en ons alleen-gekose werk. Geen wonder dit gaan so sleg met so baie Christene nie.
BROKKIES UIT DIE BOEK: DARIUS PRINS – STAATSVYAND (9)
As die regering 'n wetsoortreder word, kweek dit minagting vir die wet; dit nooi elke mens uit om 'n wet vir homself te word; dit nooi anargie uit. - Regter Louis Brandeis
Nie net het die ANC-regering 'n wetsoortreder geword nie, dit het net so boefagtig opgetree soos dit nog altyd gedoen het. Heel openlik so. Ons presidensiële verkiesings het niks meer as 'n kriminele opvolgparade geword nie. Die wet is nie bloot oortree nie, nee, dit is verdraai tot die punt waar moord, chaos en die slagting van onskuldiges gevier word. Die dronk massas neem deel aan die pantomime van verkiesings om 'n vernis van wettigheid aan die anargie binne ons poorte te gee.
Betree die regverdige man, die man van God, die man wat net uitgelaat wou word. Hy het op die rand van hierdie waansin gestaan, en dit lyk asof hy 'n diaspora diep binne homself geneem het, maar moenie mislei word nie. Hy lyk asof hy hom net sy eie sake bemoei, maar hy kyk van buite na binne, bereken, analiseer, geduldig kurweballe van kwaadwilligheid afweer. Hy is die man in die donker hoek, die man wat nie daar was nie. Maar moenie deur voorkoms mislei word nie. Selfs wanneer hy loop, gee die voël die indruk van vlug. Dieselfde geld vir die oënskynlik kalm man. Onder die oppervlak skuil 'n barbaarse man, nie gedryf deur haat nie, maar deur sy liefde vir God, familie en vriendelikheid. Wanneer die barbaar uit die dieptes opstyg, sal die kalm, gehoorsame man sterf, om vervang te word deur 'n man van geen genade nie, 'n man wat sy gewelddadige self sal omhels en doof sal wees vir pleidooie om genade. Die uur kom, die man kom. Die dronk dwase sal verstom staan oor sy dade en as hulle geluk oorleef, sal hulle ewig geteister word deur die dade van die eens kalm man, wat met groot terughoudendheid gewag en gekyk het.
Ek sal nie gehoor gee nie, ek sal nie buig voor die vervloekte verskaffers van dood en vernietiging nie, want ek weet wie hulle vader is. Tussen my saad en hulle saad sal daar vyandigheid wees soos deur my God bepaal.
Ek is die man wat net in vrede wou leef.
*
Wanneer bose mense kwaad word, kan dit slegte gevolge afgee. Hulle word nie teruggehou deur hulle gewete, hulle oordeel en dikwels die vrees vir vervolging nie, want indien hulle uitgevang word, gee hulle nie werklik om vir skade aan hulle reputasie nie, indien daar ooit so iets sou wees.
In die meeste gevalle laat die gewone man hulle maar begaan, bloot omdat hulle nie betrokke wil raak by iets vuil nie. Indien die owerhede sulke mense vervolg, is dit baie goed. Indien nie, sal daar vir ‘n ruk lank iets soos woede wees, ‘n klomp irritasie met die mense wat die orde en veiligheid moet oppas, maar dit waai gou weer verby.
Indien onbeperk, sal boosheid van sleg tot erger gaan. Dit is die wese daarvan. Dit slurp alles wat goed en mooi is op sy pas weerskante toe en op. Wanneer boosheid van bo af kom, wentel dit baie vinnig na onder en dit kom soms voor asof dit onstuitbaar is.
Wetsgehoorsame burgers verstaan dikwels nie die pad van boosheid nie. Hulle kan hulleself nie daarmee versoen nie en staan eerder op ‘n afstand en beskryf die probleem objektief. Dis onverstaanbaar by hulle dat daar so iets kan wees as ‘n afwesigheid van gewete. Die ongehoorsame het geen probleem daarmee nie.
Tog, ten spyte hiervan, is die vermoë van die bose beperk, nie omdat dit sekere perke nie wil oorskry nie, maar weens die blote feit dat boosheid die uitvloeisel van korruptheid is en hierdie vrot maak dit uiteindelik beperkend. Vrot val uiteindelik uitmekaar.
Die teenoorgestelde is waar van gehoorsame, vredeliewende mense, wat hard werk om van die samelewing ‘n beter plek te maak. Dit is die kantoorwerkers wat soggens skeer, skoon aantrek, betyds die kinders by die skool besorg en betyds op kantoor is. Die baas hoef in werklikheid nie oor hulle skouer te loer nie, want saam met behoorlikheid kom werksetiek.
Dit is die onderwyser wat tot laat nag boeke, toetse en eksamens merk, wat behoorlik voorberei en probeer om die kinders in hulle sorg as ewe ordentlike medemense op te voed.
Dit is die plaasboere wat van voor dagbreek werk, wat die trekker kan heelmaak, die stalle skoonhou, die koeie melk en die hekke en heinings sterk hou. Dit is hulle wat soggens die dag begin met gebed en Skriflees, omdat hulle besef hul boerdery is afhanklik van die guns en genade van die Here.
Daar is die eerlike polisiemanne, waarvan daar steeds is, wat trots is op hulle uniform, wat langer ure werk as wat verwag word, wat misdadigers en klaers met ewe veel menslikheid behandel. Wat weet wanneer om te laat gaan en wanneer om aan te keer.
Daar is ook die fabriekswerker wat lang ure voor ‘n draaibank of freesmasjien staan, al pyn sy of haar voete vir die laaste paar ure van die skof.
Dieselfde met die kleinsake-eienaar wat elke dag kliënte met vriendelikheid begroet, ten spyte van norsheid en onnodige klagtes. Wat elke die dag se verkope nagaan en soms vir ure wakker lê omdat besigheid nie goed is nie.
Wanneer hierdie mense egter hulle vredeliewenheidsbaadjie uittrek, is daar rede vir bekommernis.
Die kantoorwerker sal, omdat hy bloot mens is, nadat hy vir die soveelste maal oor die hoof gesien is, net omdat sy velkleur verkeerd is, hy misbruik word omdat hy bekwaam is, nie sy bonus kry nie, omdat sy medewerkers nie hulle kant gebring het nie, die direkteure slegte besluite neem en geld mors, op ‘n oggend net te veel hooi op sy rug hê en die laaste strooitjie, sy kind word geboelie by die skool omdat hy of sy dieselfde waardes as hulle pa het. Dan word muis kat en kloue komuit.
Die onderwyser wat die swak dissipline van die ongepoetste kinders opvreet, dag na dag, wat sien wat hy gedroom het, ‘n nagmerrie word, sal een oggend deur ‘n skoolseun gestamp word en hy gaan terugstamp. Dissiplinêre stappe sal volg en gedurende die tyd van sy skorsing vat hy sy .22 en gaan skiet skyf, net om sy frustrasies uit te leef. Maar wanneer hy by die huis kom, maak hy ook sy jaggeweer skoon.
Die plaasboer wat vroegoggend geroep word, en gaan kyk hoe sy stoetkoeie in ‘n sloot lê, nadat die veestropers hulle bloot keel-af gesny het, die keurigste snitte uitgesny het en die res van die karkas net daar in die veld gelaat het. Hy sal selfs spoorsny en die skuldiges uitken, net om te sien hulle word “weens gebrek aan bewyse” – al is die vleis by hulle gekry en die polisiemanne dit eerder opgeëet het as om te gebruik in die vervolging – besluit om volgende keer reg in eie hande te neem. En weer, sal dit gebeur.
Die polisieman sal sien dat sy juniors, wat hy self opgelei het, senior offisiere word binne ‘n paar kort maande en hy bly in sy onderoffiesiersrang. Op ‘n dag gebeur dit dat een van hierdie onbekwame, maar senior-rang offisiere op hom skreeu en ‘n druppel spoeg land op sy wang...
Die fabriekswerker word oor die hoof gesien vir bevordering en sy kind val, breek haar been, maar die fabriek het nooit sy mediesefonds-bydrae oorbetaal nie. Die kind word oorgeskuif na ‘n wanfunksionerende hospitaal, waar sy weens sepsis sterf. Sy baas weet nie hy is ‘n opgeleide skerpskutter nie.
Die besigheidseienaar se winkel of werkswinkel gaan onder omdat hy nie “beskerming” wil betaal aan die dorpsboelies nie. Hy omskep sy kruiptrekker in ‘n pantservoertuig.
Dis die gesinsman wat hard werk tydens die week, om naweke met sy mense te wees, wat sy kinders behoorlik opvoed, hulle Sondae kerk en Sondagskool toe vat, en een maal ‘n jaar vir twee weke die karavaan agter sy bakkie haak. Almal het al vergeet dat hy destyds ‘n spes-magte of taakspan-lid was en die geweld verruil het vir vrede, wie se gesin een aand aangeval word in hulle beddens. Nie almal in die gesin oorleef nie, maar hy wel.
Ja, wanneer die bose mense geweld en misdaad aanhits, kan hulle gekeer word deur goeie mense wat hulleself, familie en eiendom moet beskerm, soos in Julie 2021 gebeur het in Natal. Maar wanneer die vredeliewende, Godvresende, goeie man die einde van sy tou bereik het, is dit iets vreesaanjaend.
*
Dit gaan makliker terug deur die vlei, wanneer hulle in hulle eie spore ry en dit bied nie probleme nie. Siende dat hulle reeds op grondpaaie beweeg en daar baie min verkeer is, nie karre, bakkies of mense wat loop nie, besluit hulle om sover moontlik daarop te bly. Wanneer die rigting vaag word, sal Darius stilhou en die ander vra wat hulle dink. Die Nissan het ‘n ingeboude kompas bokant sy windskerm en hulle hou sover moontlik in ‘n suid-westelike rigting.
Robyn ontspan algaande en sy glimlag selfs wanneer Darius een van sy droë opmerkings maak of een van sy meer donker grappe vertel. Elke aand maak hy versigtig die wond skoon en is verbaas oor hoe vinnig sy herstel. Die sny het ‘n kors gevorm, later ‘n roof en daar is geen teken van ontsteking nie. Na daardie eerste traumatiese dag en aand, slaap hulle langs mekaar, maar elkeen in sy eie beddegoed.
Die res van die geselskap sien iets is besig om te ontvou, en wanneer een van die meer nuwe lede ‘n terloopse opmerking maak oor die ouderdomsverskil, vat beide Arno en Maya hom vinnig, doeltreffend, maar saggies vas.
Uiteindelik, na baie swaaie en draaie, wat beteken dat hulle hier en daar hulleself vasgeloop het en moes omdraai, bereik hulle, half onverwags, die dorp langs die Oranjerivier, Upington. Hier kan hulle, tot elkeen se verligting, kos en brandstof aanvul. Daar is vir hulle plek in ‘n gastehuis en dis baie aangenaam om weer in ‘n bed te slaap. Hulle klere word gewas en die voertuie word nagegaan.
Twee dae later kan hulle weer in die pad val. Skeermes, Mya en Arno het nie lank gelede nie, ook hiervandaan na die Noord-Kaap gereis en hulle weet waar om heen te gaan. Die pad deur die woestyn was weereens ‘n belewenis.