Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In ons land sedert 1994 het ons geleer hoe lyk goeie sekuriteitsheinings om ons huise om misdadigers uit te hou, maar ons kan nie heeltyd daarbinne bly nie. God se evangelie werk ook so: dit beskerm ons terwyl ons daarbinne bly maar Hy wil hê ons moet dit uitdra, nie vir onsself hou nie.
VOLKSREGERING (63)
Dirk Denker
Lees reeks by VOLKSREGERING
Natuurlik – Doelmatig
Beskrywing van die enigste regverdige politieke bedeling
vir enige volk, hetsy klein in getalle of groot
RYKDOM VAN AFRIKAANS
Afrikaans as taal word deur beriggewers afgeskeep, dikwels voer hulle bestaansredes aan en gee boedel oor in plaas van vir die voortbestaan van Afrikaans te veg. Die volkvreemde regering doen niks hieraan nie, maar as dit met 'n ander taal gebeur, word gou bohaai opgeskop. Staatsinstellings gee meer aandag in ander tale as gebruiktaal in sportsoorte en aan musiek en ander vermaak as in Afrikaans. Engels kry voorkeur terwyl swartes by toonbanke in hul eie tale aangespreek word. Praat Afrikaans en . . . . .
Taalrubrieke word grootliks deur koerante, tydskrifte en radiostasies vermy terwyl ons elke oomblik in Afrikaans dink en praat; baie meer aandag daaraan skenk as aan enige ander onderwerp. Trouens, wanneer ons oor 'n vakgebied dink of praat, word dit in jou taal gedoen. Probeer beriggewers Afrikaans doelbewus vermink of is hulle traak-my-nie-agtig?
Afrikaners veg vir die voortbestaan van moedertaalonderrig omdat volkvreemdes voortdurend die taal wil afkraak en kultuurbotsende woorde en uitdrukkings in die Afrikaanse woordeskat opgeneem probeer kry. Hulle doel hiermee is om 'n sterk beginsel van die Afrikanerkultuur te vernietig sodat die eienskappe van die volk vernietig kan word. Afrikaans is glo politieke apartheid, en Zoeloe?
Die grootste gevaar vir verdringing van Afrikaans kom uit die Engelse taal. Omdat ons so naby aan Engels leef, bestaan die gevaar dat die twee tale plaaslik vermeng sal word en aldus moet ons sterk daarteen waak. Laat ons hieroor eerlik wees; Engels is net eenvoudig 'n te sterk en gevestigde taal om met Afrikaans mee te ding. Wanneer iemand sê dat ons onnodig bang is vir die invloed van Engels, laat dit my dink aan beroemde laaste woorde van mense wat later hulle hare uit hulle kop kan trek omdat hulle aan insig tekort geskied het.
AFRIKAANS IS VOLKSTAAL
Afrikaans is tans onder groot druk by staatsdepartemente en ook by ander liggame waar klante of kliënte in Engels begroet word. Die verteenwoordigers gebruik dan die verdoeselde verskoning dat hulle Afrikaans nie magtig is nie en verwag dat die belastingbetaler of klant of kliënt na Engels moet oorslaan. Afrikaanssprekendes probeer dan Engels praat, al sukkel hulle en is hulle Engels gebrekkig, omdat hulle van nature vriendelik en beleefd is, die persoon jammer kry en ook nie "moeilikheid" wil veroorsaak nie.
Hoekom word van die Afrikaanssprekende verwag om 'n ander taal te praat en sy eie af te skeep? Van ons mense vind dit na skoolonderrig geheel onnodig om Engels in hulle Afrikaanse omgewing te praat en na 'n paar jaar het hulle kennis van Engels weens onbruik, verswak. Sal van Engelssprekendes verwag word om na Afrikaans oor te slaan? Word net van Afrikaanssprekendes verwag om met Engels te ploeter?
Die probleem is egter dat Afrikaans sodoende as 'n algemene taal afgeskeep word totdat dit verdwyn. Ons moet onthou dat ons nie met daardie persoon onderhandel nie, maar met die munisipaliteit of staatsdepartement of winkel of watter organisasie ookal. Daardie organisasie moet sorg dra dat hy die land se grondwet nakom en iemand beskikbaar hou wat in ons geval Afrikaans kan verstaan en praat. Dit is nie moeilik nie. As 'n besigheid jou geld wil bekom om wins te maak, moet hy die diens lewer wat daarmee gepaard gaan. Eensydigheid is skoorsoek.
Skole en universiteite is sterk in die nuus omdat daar geëis word dat Afrikaans misken moet word. Tog word geen andertalige persoon skade aangedoen nie omdat die betogers steeds onderrig in Engels ontvang soos hulle aanspraak maak en dit verkies. Die eis gaan eersdaags omskep word in 'n eie volkstaal (apartheid) in plaas van Engels. Engels is maar die eerste stap om aanvaarbaar te klink. Waarom mag die Afrikaanssprekende nie ook sy keuse maak nie? Is die Afrikaner se akademiese vooruitgang te sterk vir ander volke?
Volgens meedelings het van die andertaliges nou begin om met die Afrikaanssprekendes saam te werk om aan Afrikaans die nodige erkenning te gee. Samewerking hou egter 'n verskuilde gevaar in waaraan min mense klaarblyklik dink. Samewerking in 'n taalgemengde komitee of samesprekings met verskeie andertaliges geskied in Engels en dus word Afrikaans verwaarloos. Dit sal juis die onafhanklikheid en voortbestaan van Afrikaans in die wiele ry.
Vennootskap in die een of ander vorm deur middel van die ander party se verkose taal, is 'n toegewing wat verder sneeubal en is weer miskenning van Afrikaans. Uiteraard sal Afrikaanse eiesoortige woorde en uitdrukkings vir andertaliges ander betekenisse hê. Ondersteuning en samewerking met ander word verwelkom, maar elke taalgroep moet sy eie stryd aanknoop met die verstandhouding dat die ander taalgroepe dit aanvaar. Terselfdertyd verleen Afrikaanssprekendes erkenning aan ander taalgroepe se tale en hulle erken Afrikaans en elkeen kan sy eie taal op sy eie manier bevorder. Dit is die goeie stelsel van apartheid.
Andertalige volkgroepe dring daarop aan om hulle lesings in Engels te ontvang. Mettertyd sal elke taalgroep met reg opleiding in hulle eie tale wil ondergaan. Dit kan dan makliker en gerieflik gereël word in die bepaalde volksgroep se eie sosiale gemeenskap sonder dat hulle op ander volke se gebiede oortree. Weer is apartheid die enigste wenoplossing vir alle volke. Eie onderwysers en eie dosente is welkome voordele vir alle volke. Wedersydse begrip en erkenning van regte is die enigste oplossing.
In die verlede is doelbewus gepoog om die ontwikkeling van Afrikaans te verhoed as deel van die stryd teen die Afrikaners se strewe na volkseie (apartheidstrewe). Verengelsing is oral afgedwing, maar steeds het die Afrikanervolk met suiwer Afrikaans in hulle huise en ander gesprekke volhard. Dit was 'n stryd om uit die wurggreep te kom. Die Afrikanervolk wou sy siel bewaar en het destyds vasgebyt sonder om te hensop al was hulle in 'n veel swakker posisie as ons vandag. Slegs mense wat hulle in daardie tyd ekonomies, akademies en kerklik kan inleef, begryp hulle onmoontlike stryd. So sterk was hulle bewuswording dat hulle oral suiwer Afrikaans gepraat het sodat Afrikaans erken moes word. Ingevoerde Engelse predikante moes net eenvoudig verafrikaans. Daar is besef dat taal– en kultuurverwaarlosing tot algehele ondergang sal lei.
Genl Hertzog: " 'n Taal kan nie van 'n volk weggeneem word sonder dat die karakter van die volk ook weggeneem word nie. . . . . Iemand wat te kort kom in respek vir die taal waarin ek opgegroei het, kom ook te kort in sy respek vir my; 'n mens met selfrespek kan sy taal nie weggooi nie."