Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer ons op ons voete staan, kyk ons vorentoe, maar wanneer ons op ons rug lê, kyk ons boontoe. In sulke tye besef ons dat ons niks anders as Jesus oor het en eintlik niks meer as Hy nodig het nie! Ja, as ons koninkryk wyk, neem God s’n oor!
BROKKIES UIT DIE BOEK – DROOMLAND (8)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die meeste suksesvolle operasies waar wapens en geweld by betrokke is, hetsy in die weermag, of ‘n siviele een (gewoonlik sou die siviele of burgerlike een rondom misdaad geskoei wees), is afhanklik van goeie beplanning.
Daar word van Veldmaarskalk Sir Bernard Law Montgomery gesê dat hy baie noukeurig beplan het, elke fynste detail ontleed het en van elke moontlike haakplek voorsiening gemaak het. Hy sou sy vyand so ver moontlik ontleed, dit wil sê die man se sterk en swakpunte, sy aantal soldate, die voertuie, artillerie, ander logistieke steun, terrein - ja alle inligting tot sy beskikking gebruik om plan na plan, minuut na minuut voor te stel en daarvoor te begroot. Dan sou hy die aand voor die geveg op sy kampbed, binne in sy tent, met slaapklere aan, gaan slaap het. Hy het geglo as elke offisier, onderoffisier en manskap hulle werk doen soos hy dit uitgestippel het, is sukses onafwendbaar. (Hy het wel sy D-Dag plan op ‘n enkele foliovel papier uitegestippel). Hy was die meeste van die tyd reg.
Natuurlik kan selfs ‘n baie goed-uitgedinkte plan skeefloop, want daar is altyd iets onvoorsiens wat kan gebeur. Dit kan ‘n voertuig wees wat breek, ‘n man wat ‘n sleutelfunksie moet speel wat seerkry, te laat of te vroeg is, en natuurlik die vyand wat sy eie planne het.
Tereg het een van die mees bekende generaals van die Tweede Vryheidsoorlog, Generaal Lord Kitchener, gesê sy grootste probleem is die amateursoldate van die Boere, wat nie volgens bestaande strategie dink of opereer nie en hy kan nie daarvoor voorsiening maak nie.
Abel het geen plan nie, net ‘n einddoel en dit is om Nala te gaan haal. Presies waarheen die groep wat haar gevat het gaan, weet hy nie en hy volg maar net die beskikbare spore. Hoe hy dit gaan regkry, is tans buite sy denkraamwerk. Al wat hy het is homself, ‘n R1, ‘n .45 Colt pistool, ‘n voertuig met baie diesel en... en dis al. Niks verder nie.
Hy is nie seker van hulle mannekrag nie, of die groep wat hulle aangeval het die totale sterkte is nie en of daar mense in reserwe was nie. Hy weet ook nie of sy nog lewendig is nie, maar hy wil nie in sy gedagtes daarheen gaan nie. Gaan sy seksueel gemolesteer wees? Al verskil wat dit vir hom maak is die hoeveelheid geweld wat hy sal toepas, voor of nadat hy haar terugggekry het.
Tot sy brutale skok besef hy dat hy haar liefhet. Natuurlik was daar al vantevore meisies, op skool en universiteit; hy was selfs al ‘n keer of wat hals-oor-kop verlief, net om later te besef dit was wat die oumense “kalwerliefde” genoem het en het nie langtermyn bene gehad soos ‘n landloopatleet nie. Ja, en hy het natuurlik ook al voorheen seergekry en homself voorgeneem dit sal nie weer gebeur nie, maar hierdie is anders.
Hy is volwasse genoeg om te weet dat ‘n vrou wat gemolesteer was, sukkel om weer in ‘n normale verhouding an te pas. Daar is ‘n kombinasie van walging, angs, vrees, haat en natuurlik selfverwyt saam gegooi in ‘n heksepot waarin haar mensheid weggekook word. Hy probeer om die beelde wat by hom opkom waar sy geforseer word, weg te skeur uit sy verbeelding uit, maar dis nie so maklik nie. Inderdaad maak dit dat hy nòg meer en meer woedend raak, dit hom aanjaag en hy besef na ‘n kwartier dat hy hopeloos te vinnig ry. Met wilskrag span hy homself in om snelheid te verminder. En natuurlik – wat is sy plan? Hy het nie een nie, behalwe om op hulle spoor te bly en so gou moontlik vir Nala te gaan haal.
*
Thomas Mans besef hy het ‘n groot fout gemaak. Daar is geen, maar geen faktor wat in ‘n situasie ingevoeg kan word wat meer moeilikheid kan maak as ‘n vrou nie. Vra maar vir Simson oor die Filistynse meisie, Delila, of die jong popmannetjie Romeo. Tot dusver was die veggroep feitlik altyd sonder vrouens, behalwe as die spul een of meer nà ‘n rooftog ingebring het, haar gebruik en weggegooi het, maar dit was selde en dan was sy die groep s’n, vir solank sy gehou het.
Hierdie is nou anders. Die vrou is syne en syne alleen en dit moet hulle besef, maar dit gaan jaloesie meebring, drange en drifte opjaag en onvermydelik groepskeuring veroorsaak. As hy kon, sou hy haar net hier afgelaai het, of selfs teruggevat het na haar mense toe.
Dit dring onmiddellik egter tot hom deur dat sy nie meer mense het om na terug te keer nie, daarvoor het hy gesorg. Hy is baie noulettend daarop dat daar nooit iemand oorbly wat hulle kan identifiseer nie en dit was ook nou die geval.
Iets knaag egter aan sy selfversekerheid en onwillekeurig kyk hy om of niemand hulle volg nie. Al wat hy kan sien is die stof van sy eie voertuig en dié wat hom volg. Hy durf nie nou weer – soos so baie keer in die verlede gebeur het – paranoïes raak nie. Hy moet sy varkies bymekaar hou, indien hy wil keer dat sy wildehonde hom nie uiteindelik verskeur nie. Dis koud buite die voertuig en koel aan die binnekant, maar hy vee met sy hempsmou die sweet van sy nek af, by die gedagte.
Thomas is miskien effens kranksinnig, maar hy is nie dom nie. Daarom, net soos vele sielkundiges en psigiaters vantevore, probeer hy om sy gevoelens jeens die meisie te ontleed. Hy het nie, sover hy kan agterkom nie, ‘n seksuele behoefte aan haar nie, nog nie, nie waarvan hy weet nie. Nou wat dan? Miskien is dit omdat sy die teenoorgestelde, noem dit antitese as jy wil, van sy ma is. Dit kan wees. Sy ma was groot en grof, ja, op ‘n harde manier aantreklik, maar bloot op ‘n uitlokkende wyse, met te veel grimering, klere wat té nou passend was, wat haar bates net-net verberg het. Hierdie meisie is jonk, fyn, skraal en onskuldig. En baie mooi – mooi sonder ‘n krieseltjie grimering
Hy draai die binnespieëltjie van die bakkie sodat hy haar kan dophou. Sy is inderdaad baie mooi, met haar hartvormige gesiggie, die bleek vel, amper swart hare en groot, donkerblou oë, so anders as sy eie bleekbloues. Sy vang sy oë vir ‘n oomblik in die spieël, maar dan kyk sy vinnig weg. Hy kyk nog ‘n minuut lank na haar en stel dan die spieël dat hy weer die bakkie agter hom kan sien.
*
Nala het opgehou om haarself te verset. Sy besef dit gaan niks baat nie en die teendeel is dat die manne hulleself kan vererg vir haar, haar seermaak of hardhandig behandel en natuurlik meer op hulle hoede sal wees. Sy sal moet wag totdat hulle waaksaamheid verslap en dan haar kans waag. Watter kans, en wat sal sy kan doen?
Sy het nie ‘n plan nie, maar sy sal weet, hoop sy, as die kans hom voordoen, dat sy dit sal herken en ook wat die plan sal wees. Sy het geen illusies oor wat met haar gaan gebeur nie. Sy het immers gesien hoe wreed en barbaars hierdie groep kan wees en al word hulle gelei deur ‘n blanke, is dit inderdaad hierdie man wat Abel se ma se hoed dra en heel moontlik hy wat haar vermoor het. Hy het geen meegevoel nie en sy weet daar is fout met sy kop. Wie weet wat gaan hy met haar aanvang as hulle alleen is?
Die enigste effense ligpuntjie is die gay kleurling-outjie, Vernon. Sy sal sorg dat hy so na as moontlik aan haar bly en sy sal op sy gevoel speel. Sy is egter nie oortuig dat hy gaan saamspeel nie en sy weet in alle geval nie tot hoeveel hy in staat is of onder die omstandighede kan vermag nie. Dis maar ‘n flou liggie, maar tans is dit al wat sy het.
Sy besef ook dat die blanke man, “Thomas” het sy gehoor, al is wat tussen haar en die swetende barbare staan.