Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy hoef nie ryk te wees om te gee nie. Die suiwerste vrygewigheid vind jy juis by diegene wat niks besit nie maar die waarde van 'n woord of 'n glimlag ken.
BROKKIES UIT DIE BOEK – DROOMLAND (6)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Ledigheid is die duiwel se oorkussing en Thomas Mans besef dit net so goed as enigiemand. Sy manne begin rusteloos raak en dit lei tot frustrasie, opgeboude irritasie en natuurlik gevegte onder mekaar. Hierdie bakleiery is ook nie beperk tot vuiste nie, maar sluit ook messe, bajonette en gebreekte bottels in. Hy is opnuut gewalg oor die tipe man wat hy as makkers in hierdie geveg moet aanvaar. Hy beskou homself natuurlik verhewe bo hulle almal en onder gewone omstandighede sou hy hulle vermy het.
Nou het hy egter geen ander keuse nie en die moeilikste om te aanvaar is dat hy weet dat hy nie ‘n beter tipe mens sou kon kry om hom te volg nie. Nadat hy ‘n hele aantal van hierdie gevegte moes opbreek en die kwaaddoeners straf, besef hy dat hy iets sal moet doen om die leeglêery te verbreek en die enigste ding is natuurlik om op te pak en ‘n nuwe stel slagoffers te gaan soek. Die probleem is dat die sagte teikens, soos die mense wat op reis is, nie veel het om te bied nie, behalwe ‘n paar intense minute van doodslag.
Onwillekeurig wonder hy hoe hulle as “veggroep” sal vaar teen mense wat ook gewapen is.
Alhoewel hy hou van hierdie woord, “veggroep”, weet hy diep in sy binneste dat hulle allermins een is. Hy kyk oor die klomp manne wat leeglê, drink, dobbel, te veel eet, rommel strooi, lag, en vloek. ‘n Paar van hulle se wapens lê in die stof en onwillekeurig dink hy daaraan dat as dit nie was vir die feit dat die meeste daarvan AK 47’s en AKM’s is en ten spyte van rowwe en nalatige behandeling steeds funksioneel was nie, hy te doen sou gehad het met vele storings en gebreekte gewere gedurende ‘n aanval.
Die wapens is gedurende die “struggle” die land ingesmokkel en begrawe, en die res gedurende die ANC se regeertyd. Het hulle miskien hierdie situasie voorsien en daarom die “people” voortydig bewapen? Hy dink so en plaas die gedagte diep in sy agterkop.
Hy het geen idee wat vorentoe gaan gebeur nie en eintlik maak dit nie vir hom saak nie. Net so min as wat hy empatie met die mense het wat sy groep aanval en beroof, net so min gee hy om wat hierna gaan gebeur. As hy so na sy makkers kyk, is hy vir ‘n wyle vervul met diepe veragting vir hulle. Nogtans sal hy plan moet maak om hulle besig te hou.
*
Dit word vroeg donker. Die groep sit onder ‘n groot, groen skadunet en eet ‘n voedsame, maar eenvoudige aandete, bestaande uit groente, mielies en ‘n stukkie vleis. Daar is lankal nie meer vars melk nie en die koffie is net effens van swart af met ‘n bietjie verromer of kondensmelk by. Abel en Nala sit naby Fred en Pieter. Dis vreemd dat Bekka skuins oorkant hulle sit, naby ‘n ander groep.
“Hoekom sit Oom se vrou daar en nie hier by ons nie?”
“Hoe bedoel jy? My vrou kom selde of ooit uit die karavaan.”
Fred wys na ‘n veldkaravaan wat half eenkant staan.
“Ek verstaan nie nou nie. Ek het gedog Bekka…”
“Jy weet wat het dog gedoen nê? Nee, Bekka is… was my sekretaresse. En nee, ons het nie ‘n verhouding gehad nie.”
Fred sien die vraagtekens in die twee jongmense se oë en op hulle voorkoppe gefrons.
“Nee, my vrou se naam is Florence. Sy bly eenkant, miskien omdat sy bang is of moeg vir sukkel, maar sy meng nie met ander mense nie.”
Fred bly ‘n rukkie stil, asof hy oorweeg of hy verder sal gaan. Wanneer hy weer praat, is dit met ‘n stukkie weemoed in sy stem en voorkoms.
“Florence en ek is al baie jare getroud, maar ek het besef ek kan nie wees wie sy wil hê ek moet wees nie. Ek weet nie waarom ek dit vir julle vertel nie, miskien omdat ek wil hê julle moenie dieselfde foute maak nie. Florence het met my getrou nie oor wat ek is nie, maar oor wat ek in haar gedagte moes wees. Ons is getroud net nadat ek my klerkskap voltooi het as prokureur. Na ‘n paar jaar het sy begin karring dat ek eerder my moet kwalifiseer as advokaat. Dit klink mos beter as ‘n man ‘n titel voor sy naam kan skryf. Nou-ja, dis nie asof jy net kan besluit om ‘n kursus of wat verder te studeer om as advokaat te kan praktiseer nie. Jy moet half ‘n dissipelskap, oftewel pupilskap, loop en dan toegelaat word tot die balie. Die punt was dat ek gelukkig was met wat ek gedoen het en tweedens, en dit sê nie dat ‘n advokaat noodwendig slimmer is as ‘n prokureur nie, maar ek het geweet dat ek my intellektuele hoogtepunt bereik het. Ek het haar dus teleurgestel en ek dink sy het respek en haar liefde vir my verloor. Nou hou sy haar eenkant. So, daar het julle dit.”
“Dit klink vir my nie baie regverdig nie.”
“Daar is baie min dinge in die lewe wat regverdig is. Nou, dis amper slaaptyd. Het julle ‘n tent of ‘n ander skuilte saamgebring?”
“Nee Oom.”
“Ek het nog agter in die karavaan ‘n tweeman tent. Ek kan dit vir julle leen. Julle het mos al bymekaar geslaap?”
“Ja, natuurlik, Oom… nee, ek bedoel ons het op dieselfde plek geslaap, maar nie saam nie, as Oom weet wat ek bedoel.”
Nala laat sak haar kop tussen haar hande wat op haar knieë rus, uit blote skaamte. Haar ore word rooi. Fred kan nie help om te lag nie.
“Dis vir my baievertroostend. Ek het gedink dis amper normaal onder jongmense in vandag se tyd. Moet ek rondvra of iemand nie nog ‘n klein tentjie het nie?”
“Dis nie nodig nie, Oom Fred. Ons sal ons gedra en ons gee nie om wat die ander dink nie.”
*
Net na donker word die wagte uitgeplaas en elkeen verkas na sy of haar slaapplek toe. Die tentjie van Fred is eenkant opgeslaan, waar Abel en Nala elkeen in hulle eie beddegoed inkruip. Lig en geraasdissipline is belangrik en die enigste beweging na donker en voor lig is wanneer iemand noodgedwonge moet opstaan om die roep van die natuur te gaan beantwoord.
“Dankie, Abel.”
“Waarvoor?”
“Dat ek veilig by jou kan voel, al het jy my sommer gesoen daardie eerste dag.”
“Dis goed. Slaap nou.”
“Is jy kwaad vir my?”
“Waarom? Ons het nog nie eens saam geslaap nie en jy gedra jou soos ‘n vrou.”
Nala lag saggies vir sy antwoord.
“Jy sal nog sien.”
Die maan het opgekom en skyn by die skrefiesingang van die tent in. Nala lyk baie mooi met haar donker hare en ligte vel in die effense lig. Abel lig himself op sy elmboë, skuif effens nader aan haar en soen haar saggies. Hy beweeg weer terug na sy komberse, klap sy kussing ‘n paar maal om in die regte posisie te wees, draai op sy sy en maak sy oë toe.
“Slaap nou!”