Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
HERE, help my asseblief om nie 'n praatsieke ou mens te wees nie; en behoed my van die noodlottige gewoonte om oor elke onderwerp by elke geleentheid iets kwyt te raak in plaas daarvan om na ander te luister.
BROKKIES UIT DIE BOEK – DROOMLAND (5)
)
Uiteindelik lyk dit asof hulle soeke na ‘n diensbare voertuig vrugteloos gaan wees. Hulle soek al vir meer as ‘n dag na een wat hulle kan gebruik, maar die storie is elke keer dieselfde. Moderne voertuie, wat met Elektroniese Enjinbeheerstelsels werk, het ‘n sleutel wat kodes bevat en daarsonder is dit baie moeilik om die betrokke voertuig aan die gang te kry, natuurlik om juis dit te bereik wat Abel en Nala wil doen – een te kry sonder die eienaar se toestemming. Natuurlik is daar baie maniere om ‘n kat dood te kry en ook om voertuie aan die gang te kry sonder die sleutel, maar dis ‘n ingewikkelde proses wat motordiefstalsindikate onder die knie het, en nie die gewone burger op straat nie, selfs nie een met ‘n ingenieursgraad soos Abel nie. Die frustrasie is uiteindelik op Nala se gesig te lees.
“Ons gaan nie regkom nie.”
Uiteraard is baie van die voertuie uitgebrand, sommige onbruikbaar beskadig met klippe, stokke en staalpype. Wanneer hulle ‘n onbeskadigde een kry, is die sleutel weg, hetsy saam met die huis afgebrand of in die afwesige eienaar se sak.
Skuins teen ou Skuldbult op is ‘n groot, dubbelverdiepinghuis wat nog met ou geld gebou is uit donker siersteen. Die hek is afgebreek en as Abel en Nala versigtig nader aan die huis beweeg, is dit duidelik aan die bloedkolle en die groot aantal leë patroondoppies dat hier ‘n erge skietery was. Die goedversorgde grasperke lyk, in teenstelling daarmee, asof dit nog gister gesny is. Die motorhuis se een roldeur staan oop.
“Miskien is ons gelukkig.”
Hulle is nie. Die motorhuis is groot, met drie voertuie wat langs mekaar kan staan en twee diep. Die eerste voertuig, - hulle kan nie weet wat dit is nie - is uitgetrek en drie ander staan in die parkeerplekke: ‘n ou, maar baie duur Mercedes 280 sportmotor, ‘n nuwe Polo en ‘n Toyota Prado. Die nuwe voertuie is gesluit en daar is nie sleutels vir hulle nie. Die Mercedes lyk belowend, maar as Abel die enjinkap oopmaak, is dit duidelik dat die ding onder restourasie is en nog nie gou sal loop nie, indien ooit onder huidige omstandighede.
“Kom ons gaan kyk in die huis of daar nie sleutels is nie. Die Prado sal absoluut perfek wees.”
Die huis se agterdeur is oopgebreek en as hulle inloop, is dit met ingehoue asems en wapens wat gereed voor hulle gehou word. Die inhoud van die yskas is op die vloer uitgegooi, met net die waterbottels en ‘n paar ander half-leë houers wat nie gebreek is nie. ‘n Bottel tamatiesous is stukkend op die vloer en as dit nie vir die swaar kenmerkende reuk was nie, sou ‘n mens kon glo dis bloed. So ook ‘n bottel mosterd, ‘n leë houer jogurt, ‘n platgetrapte, plastiese melkbottel en ‘n half-leë blik konfyt.
Die vrieskas is ook gestroop en net sakke gevriesde – nou ontvriesde – groente lê op die vloer. Daar is nie ‘n stukkie vleis in sig nie. Die kruidenierskaste het ook deurgeloop, met net dít wat die buiters nie wou hê nie, op die spensvloer gegooi.
“Kyk of jy nie ‘n kas kan kry waar sleutels gehang is nie.”
“Jy bedoel soos daardie een?”
Nala wys na ‘n vlak muurkas wat langs die agterdeur hang. Sy maak dit opgewonde oop, maar tot hulle teleurstelling is dit leeg. In die gang is ‘n sleepsel bloed en spatsels teen die muur, asof iemand baie gebloei het. In, wat hulle aanvaar die kantoor of studeerkamer is, is ‘n groot geweerkluis, waarvan die deur soos ‘n oop mond, leeg staan.
“Kom ons loop, Abel, ek kan dit nie meer vat nie!”
Teleurgesteld loop hy agter Nala aan buitentoe. Moedeloosheid hang soos ‘n laken om hulle.
“Nala, ek gaan net kyk wat onder daardie seil is”, sê Abel en wys na ‘n voorwerp wat met ‘n ou spoorwegseil toegemaak, teen die agterkant van die motorhuis staan.
Nala loop nie eens saam nie, maar gaan staan teen die kant van die huis langs die oprit. Sy wil net wegkom en hoe gouer hoe beter. Alles herinner haar aan haar eie huis en haar vermoorde ouers.
“Nala, kom hier!” hoor sy Abel skreeu. Met haar wapen gereed hardloop sy terug om die agterkant van die huis, na waar Abel staan. Hy gee ‘n fluit van verwondering en verbasing.
“Wat is dit?”
“Kom kyk”.
Onder die seil, wat hy nou weggevou het, staan ‘n oop Jeep-tipe voertuig. Sy herken die voorkant daarvan as ‘n ou Toyota Land Cruiser, maar die res is vir haar vreemd. Abel het die enjinkap oopgemaak en hy fluit weer, dié keer langer en met nòg meer bewondering.
“Okay, ek is nie ‘n ingenieur nie – waarna kyk ons?”
Abel maak die enjinkap toe en klim onder die voertuig in. Hy lê vir meer as vyf minute daar en net sy bene en voete beweeg soos hy dieper en kant toe beweeg om iets beter te kan ondersoek. Uiteindelik klim hy uit en vat amper liefdevol aan die bakwerk.
“Ek is beïndruk!” sê Nala. “Nie met die kar soos jy nie, maar met jou verliefdheid daarop. Vertel tog vir my, meneer die ingenieur, wat sien jy?”
“Hierdie, my liewe vriendin, is meer as net ‘n kar. Dis ‘n stuk onverbeterde kunswerk, noem dit poësie op vier wiele.”
“Jy oordryf.”
“Nee, nie werklik nie. As ek honderde duisende rande gehad het, sou ek dit net so gebou het. Wat jy hier sien, as ek tegnies kan raak, is ‘n ou Ford F350 onderstel wat korter gemaak is, let wel, sonder om te sweis, want die agterste vere se klinknaels is uitgeboor en die hele as net nader geskuif. Die enjin is ‘n Navistar T444E V8 diesel. Dis dieselfde as ‘n Ford Powerstroke enjin, behalwe hierdie een het nog twee turbine-aanjaers, wat jy as ‘turbo’s’ ken, op. Dit behoort seker so drie honderd kilowatt te lewer en ongeveer agt honderd Newton-meter.”
“Sjoe ja. Ek is beïndruk.”
“Het jy ‘n idee waarvan ek praat?”
“Nee, maar gaan aan.”
“Goed. Die ratkas is ‘n ses-spoed Getrag en die oordrakas Ford. Dis afgerond met langafstand dieseltenks, wat, as ek daaraan klop, lyk of dit vol is. Die bande is groot en nuut, soos jy self kan sien.”
“Maar dit lyk glad nie soos ‘n Ford nie, eerder na ‘n Toyota?”
“Heeltemal reg. Die bakwerk was òf ‘n Land Cruiser FJ45 bakkie waarvan die kajuit verander is, òf dis ‘n egte FJ40.”
“Nou goed, en wat van die sleutel?”
“Hierdie is ou tegnologie – ek sal hom uiteindelik aan aan die gang kry sonder ‘n sleutel.”
Dit was uiteindelik nie eens nodig nie. Wie ookal die voertuig gebou of laat bou het, het eenvoudig ‘n gewone skakelaar op die ontsteking gesit en ‘n indruk-knop vir die aansitter. Abel het rondgekarring, totdat hy die regte skakelaar kry, en met pure opwinding gesien hoe die paneelliggies aangaan as hy dit aanskakel. Hy sorg dat die sesspoed ratkas in neutraal is, druk die aansitter-knop en die groot diesel swaai net een maal, dan vat hy. Twee bolle rook kom vir ‘n oomblik by die dik uitlate uit en dan luier die enjin tevrede.
“Kom jy saam, of bly jy?”
“Siende dat jy so aandring, het ek nie ‘n keuse nie, het ek?”
Nala draf terug huis toe en kom na ‘n paar minute uitgeloop met twee volgestopte kussingslope.
“Miskien kan jy vir ons beddegoed gaan haal, siende dat ons nou ‘n kar het?”
In die opwinding het Abel glad nie daaraan gedink nie en hy hardloop huis toe, om na ‘n minuut met ‘n dubbele armvol duur duvet’s en kussings terug te kom. In Nala se slope is al die eetbare goed wat die rowers nie weggedra of gebreek het nie.
*
Thomas Mans en sy lyfwagte, bestaande uit ses van sy vertrouelinge, hardloop die laaste drie honderd meter van hulle ses kilometer oggend-draffie. Hulle is, ten spyte van die koue en nat weer, natgesweet en uitasem, dit is, behalwe vir Thomas self. Hy is uiters fiks en hy hou daarvan om dit ten toon te stel.
Alhoewel hy net van mediumlengte is en nie groot gespierd nie, is hy sterk en taai, met nie ‘n greintjie sigbare vet aan sy lyf nie. Wanneer die groepie by die kampplek aankom, draai hy om en voor die res van die bende, met groot vertoon, laat hy hulle spring en strekoefeninge doen. Alhoewel sommige teen hierdie tyd al baie moeg is, naby aan totale uitputting, weet hulle dat as enigeen van hulle omval of gaan sit, die straf onmiddellik en finaal sal wees.
Hierna loop Thomas terug na sy tent, trek homself poedelkaal uit, was met die water wat in die skottel vir hom aangedra is, skeer versigtig en trek ‘n skoongewaste uniform aan. Om die een of ander onverklaarbare rede sit hy die rooi kerkhoed op sy kop. Sielkundiges sou dit sekerlik as ‘n soort fetisjisme of transgender-ding beskryf het en alhoewel hy self nie weet waarom nie, is hierdie stukkie uitrusting vir hom baie belangrik.
Sy ontbyt is dieselfde as al die ander s’n, en hy sit plat op sy boude, met gekruisde bene tussen hulle en eet. Dit bestaan uit koue, ongesoute mieliepap, gegeur met een of ander onherkenbare sous en ‘n stukkie koue vleis daarby. Dit word afgesluk met swart, melklose koffie met baie suiker in.