Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Halfhartigheid is een van ons grootste sondes. In halfhartige bekering sterf die ou mens maar staan weer op. In ware bekering met die krag van die Heilige Gees sterf die ou mens en die nuwe mens staan in Christus op. Satan probeer hard om ons in eie krag te laat opstaan sodat ons na hom kan terugkeer in sonde. Gee aan die duiwel geen plek en bely en laat staan voor die Here elke dag opnuut in sy krag.
WAT IS DIE BETEKENIS VAN HEMELVAART?
Gedurende ons herdenking van hemelvaart fokus ons gewoonlik op die feit van die nut van hemelvaart of ons vestig die aandag op die opdrag net voor die hemelvaart, naamlik om dissipels te maak, maar dink ons ooit na oor die getuienis van hemelvaart? Dit is of ons soms in die Twaalf Artikels vassteek by die opvaar na die hemel, en dan vergeet ons van die "sit aan die regterhand van God..."
Die hemelvaart getuig ook van Christus se koningskap. Die Here Jesus sê net voor Hy opgeneem is: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde (Mt 28:18), en beklee met hierdie mag het Hy aan die regterhand van God gaan sit (Efés 1:20). Dit is die strategiese posisie vanwaar Hy alles regeer. Onder sy hoofskap word alles in die hemel en op aarde verenig.
WAAROM VIER ONS MORE HEMELVAART?
HEMELVAART
Ascensionis Domini (Latyn vir Hemelvaart)
Hand.1:11: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar ..."
Op Hemelvaartsdag vier Christene dat Christus ná die kruisiging en opstanding in die hemel opgevaar het en woon talle van hulle 'n herdenkingsdiens by.
Hemelvaart beteken in die Christendom die terugkeer van Jesus van Nasaret na sy Vader in die hemel. Die Lukas-evangelie en Handelinge van die Apostels vertel die verhaal van hoe Jesus ná die Opstanding verskeie kere aan sy apostels en volgelinge verskyn het. Ná veertig dae styg Hy op na die hemel en word sig van Hom deur 'n wolk belemmer terwyl sy volgelinge toekyk.
Hemelvaartsdag val altyd op die veertigste dag gereken vanaf Eerste Paasdag, vandaar dat die datum elke jaar verskil. Hemelvaartsdag val wél altyd op 'n Donderdag. Hemelvaartsdag val tien dae vóór Pinkster.
BRIEWE AAN CHARLES (15)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Ver in die ou Kalahari
Beste Charles,
Wanneer ons op Suid-Afrikaanse bodem uitgesaai het, was daar altyd tussen ons ’n baie goeie verstandhouding, naamlik dat die Afrikaanse Diens die kommentaarhok aan die linkerkant gebruik en die Engelse Diens die een aan die regterkant. Daar was net een uitsondering. Dit was op Upington waar ek op die dak van die hoofpawiljoen in die ope gesit het. Hieroor het ek geen klagte gehad nie, want ek het ’n pragtige uitsig van die plat sinkdak af oor die veld op die Danie Kuys Stadion gehad. Dit was een van my gunsteling uitsaaipunte. Ek kan my nie voorstel dat jy ooit van Upington af uitgesaai het nie. Jy het voorwaar 'n groot ondervinding misgeloop en nooit die wonderlike mense van die wêreld ontmoet of ooit hulle gasvryheid gesmaak nie.
Daar was ’n klompie gebeurtenisse en mense wat my besoeke aan Upington onvergeetlik gemaak het.
KINDERS IN DIE BYBEL (17)
KINDERS WAT VERMOOR IS
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
ONS lees van hulle by die geboorte van Christus.
Herodes sê aan die wyse manne dat hulle aan hom moet kom sê as hulle die Kindjie gevind het in Betlehem want hy wil ook gaan om aan Hom hulde te gaan bewys. Hy het natuurlik ’n leuen vertel omdat hy ’n heeltemal ander bedoeling gehad het. Sy bedoeling was om Jesus uit die pad te kry. Hy wou Hom doodmaak. Want hierdie Koning van die Jode wat gebore is, het vir hom ’n bedreiging ingehou.
Hy het geweet van ’n Koning van die Jode wat een of ander tyd gebore sou word omdat die Jode baie daarvan gepraat het. En hy het gehoor dat as die Koning gebore word, sou Hy wondertekens doen en die Romeine uit die land jaag. Diep in sy hart het Herodes hierdie dinge geglo en daarvolgens sy planne gesmee. Maar Herodes het in sy planne die Here vergeet.
DIE BELHAR-BELYDENIS EN DIE TOEKOMS (1)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Die Belhar-belydenis en die toekoms
"By Babel het die goddelose eenheidsdrywers gesê: 'Kom, laat ons vir ons 'n stad bou ... en laat ons vir ons 'n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.' (Gn 11:4). Hier het ons 'n tipiese strewe 'uit die mens en vir die mens en tot die mens.' In ons tyd noem ons dit humanisme - die mens, en nie God nie, bepaal sy eie lot."
1. Die aanloop tot die opstel van die Belhar-belydenis
Die aanloop tot die opstel van die Belhar-belydenis hoef vir die doel van hierdie skrywe nie verder teruggevoer te word as 1978 nie. In daardie jaar het die Ned. Geref. Sendingkerk (NGSK) 'n hele aantal ingrypende besluite rakende die apartheidsdenke in Suid-Afrika geneem en dit verwerp as in stryd met die Bybelse opdrag tot Christelike eenheid.
Die volgende aanduibare stap het gekom van die kant van swart afgevaardigdes wat op 14 Februarie 1980 tydens 'n byeenkoms van die omstrede Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) te Hammanskraal byeengekom het. By daardie geleentheid het hulle 'n ernstige beroep op blanke Christene gedoen om hulle duidelik uit te spreek teen die morele en teologiese regverdiging van die apartheidsbeleid en sodoende die kerk te suiwer van rassisme.
DIE EENHEID IN CHRISTUS
Hannes Ollewagen
1 Kor. 12:12-31
Vers 27: “Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.” Soos ‘n liggaam nie uit net arms of bene of selfs net harte en verstande kan bestaan nie, so kan ‘n gesin, gemeente, gemeenskap of volk nie uit dieselfde mense en lede bestaan nie. Daar is ‘n verskeidenheid van lede en elkeen het inderdaad sy rol om te vervul aan die liggaam waaraan hy behoort.
Ons moet daarteen waak om nie Christus te wil dien op ons voorwaardes nie!! Paulus waarsku ons juis hierteen in verse 15 – 18. Net omdat dinge nie na my sin gaan nie, wil ek nie vir Christus volg nie. Ek wil my eie kop volg, ongeag waarheen die Hoof van die liggaam waaraan ek behoort, my lei. Durf ek dan sê dat ek ‘n dienskneg van Christus is of probeer ek sy raadgewer wees? Het Hy my nie geskape en die asem van die lewe in my neus geblaas en daarom kan Hy my lei waarheen Hy wil nie?
BRIEWE AAN CHARLES (14)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Trevor en ek en die “crocodile clips”
Beste Charles,
Jou grootste aanhanger by die destydse Engelse Diens van Radio Suid-Afrika was Trevor Quirk. Jy was die ideale leermeester vir die jong man. Hy het jou in uitsendings oor die radio goed nagemaak en wat hy van jou geleer het, het hy goed toegepas. Veral op die gebied van krieketuitsendings. Hy het nie heeltemal die mas opgekom in sy kommentaar oor rugby nie. Die fondament wat jy vir hom gelê het, het tot gevolg gehad dat hy hom bekwaam het vir krieketkommentaar op die kassie. Sy kennis van die spel het verseker dat hy hiervan ’n sukses gemaak het. Hy was die paaltjiewagter vir Noord-Transvaal in heelwat wedstryde. Toe hy as Organiseerder: Sport op die Engelse Diens my eweknie geword het, het ons by baie krieketwedstryde en rugbykragmetings saamgewerk. Maar ek wil jou eintlik vertel van die twee keer wat ons saam oorsee gereis het.
’n Barbarian-rugbyspan onder die bestuur van ons vriend Chick Henderson het 'n toer na Skotland, Engeland en Wallis onderneem. Trevor en ek is aangesê om die wedstryde te gaan uitsaai.
HOE LYK JOU BAKKIE LENSIESOP?
Ds Andrè van den Berg
"Alles het by ʼn bakkie lensiesop begin. Wat is jou bakkie lensiesop? Wat verruil jy tans vir God se beloftes aan jou, met ander woorde jou sieleheil? ʼn Sondige lewensstyl? Iets waarmee jy nie wil breek nie?"
“.... So het Esau dan sy eersgeboortereg verag” - Gen.25:34
In die sestigerjare koop ʼn vrou ʼn ring vir R20 op die Kaapse parade nadat die smous haar verseker het dat dit ʼn diamantring was. Sy was skepties maar dit nogtans gekoop. Toe sy dit laat waardeer, was dit ʼn diamant van twee karaat! So het talle mense al bitter min vir kosbaarhede betaal. Maar nog nooit in die geskiedenis is iets so kosbaars vir so min gekoop as in die gelese gedeelte nie. ʼn Mens wil jou kop skud as jy die droewige verhaal van Esau se geringskatting van dit wat vir hom kosbaar moes wees, lees. Dit staan egter met ʼn doel in die Bybel. Hierdie en ander verhale is opgeteken sodat ons nie dieselfde foute maak nie.
HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (15)
Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd
OP 'N PERSOONLIKE NOOT
Mimi Coertse
Mimi Coertse is Suid-Afrika se beroemdste sangeres. Sy het in 1954 aan die Akademie vir Kuns en Wetenskap in Wenen, Oostenryk, studeer en daarna haar sangloopbaan begin as die jongste vaste lid van die Weense Staatsopera. In 1966 ontvang sy die eretitel Kammersangerin van die Oostenrykse president en in 1996 die hoogste toekenning wat 'n kunstenaar in Oostenryk kan kry, die Goue Erekruis vir Verdienste. Nadat sy twintig jaar aan die Weense Staatsopera verbonde was en slegs met tussenposes in Suid-Afrika kon vertoef, keer sy in 1973 permanent terug.
Sy is hier bekroon met 'n Erepenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (1961), die Dekorasie vir Voortreflike Diens (1 985), die Prestige- prys van die FAK (1996) en 'n eredoktorsgraad van UP (1998). Sy het ook van 1985 tot 1993 op die Adviesraad van die SAUK gedien. Met die instelling van die Mimi Coertse-beursskema in 1958 het sy talle belowende jong sangers gehelp om in die buiteland verderte studeer.
Mimi aan die woord:
CHRISTELIKE EENHEID...
...en die Belhar-belydenis
Ds Andrè van den Berg
"Geen mens hoef sy eenselwigheid of staatkundige vryheid op die vreemde altaar van ʼn reënboognasie te offer om ʼn gelowige te wees nie. Jy hoef nie op te hou om ʼn Blanke, Kleurling, Indiër of Swarte te wees om ʼn gelowige te wees nie. Ja, jy hoef nie die heining af te breek ten einde vir jou bure lief te wees nie."
“Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus” - Gal.3:28
Omdat talle kerke van Gereformeerde belydenis nie aan die suigkrag van vrysinnigheid kon ontsnap nie, verskil hulle vandag van die AP Kerk wat die oorspronklike Gereformeerde leer verkondig. Een van hierdie verskille is die leer oor die Christelike eenheid. Die Bybel leer ʼn Christelike eenheid sowel as ʼn Christelike verskeidenheid. Die een is nie belangriker as die ander nie.
Vrysinnige Gereformeerde teoloë verskil hiervan. Hulle beskou die Christelike eenheid belangriker en streef daarna om dit sigbaar te maak. Almal moet onder een dak ingebondel word; presies wat die Belhar-belydenis eis: strukturele kerkeenheid.
MALEMA NOU WETMAKER VAN SA
Mediaverklaring
HERSTIGTE NASIONALE PARTY
Besef Afrikaners wat besig is om met die Afrikanervolk te gebeur in die sogenaamde “democracy” in Suid-Afrika?
Die foto hierbo is geneem toe dié drie lede van Julius Malema se EFF in die ANC-parlement ingehuldig is as parlementslede, m.a.w wetmakers van Suid-Afrika. Die twee rewolusionêre leiers, Malema en Shivambo, is saam met ’n werklose vrou uit ’n plakkerskamp by Marikana as parlementslede ingehuldig.
Behalwe vir die EFF se minagtende optrede in die parlement, is dié mense nou die wetmakers van ons land. Hulle gaan beslis oor die dag tot dag bestaan van die Afrikanervolk en die toekoms van die Afrikanerkind.
Die HNP stel dit baie duidelik dat dit onaanvaarbaar is. Daarom het die HNP nie aan dié geklike bestel op 7 Mei deelgeneem nie.
Die Afrikanervolk moet onder die hiel van die kommunistiese ANC en EFF uitkom. Ons moet ons volk se vryheid herstel waar ons mense met die nodige intellek oor ons mense kan regeer. Daarvoor beywer die HNP as ’n vryheidsbeweging vir die Afrikanervolk hom en tot hierdie vryheidstryd word elke Afrikaner opgeroep.
ONS PAD MET GOD
Hy wys ons Hy het geklop op 'n dag;
vir jare hou Hy aan, dag en nag;
Ons Meester so geduldig bly Hy wag en staan
om by ons hart se deur in te kan gaan.
Ons het Hom beskuldig en blameer
dat Hy nie wou help en dit keer
wat alles verkeerd in ons lewe gebeur;
geglo Hy het dit alles goedgekeur.
Dis ook waar, maar Hy het geweet
ons was vir baie nog nie gereed;
baie trane moes loop en ons moes verdrukking ly
dat die Pottebakker ons lewensklei gereed kon kry.
Want as ons klei sag is kan Hy
dit met sy Hande brei en ons anders kry;
is ons soos klip, graniet en rots
móét sy hamer en beitel mos met ons bots!
VREEMDE KERSE, VREEMDE KOERSE
Ds Andrè van den Berg
Protestante het vir baie eeue lank geen gemene sake met die Roomse Kerk (RK) gehad nie. Nie vandag meer nie! Berigte van Protestantse kerke wat toenemend van Roomse tradisies en simbole gebruik maak om kwansuis nuwe inhoud aan hul geloofslewe te gee, is verontrustend!
Die Hervorming (16de eeu) het die RK in haar fondamente geskud waarna sy gesweer het dat alle afvalliges (Protestante) eendag na haar toe sal terugkruip. Dis besig om voor ons oë te gebeur! Roomse simbole en rituele steek oral in Protestantse kerke kop uit.
Kerke wat aanvanklik teen die Roomse gevaar gewaarsku het, swyg vandag in alle tale. Sommige maak selfs van Roomse seremonies en rituele gebruik om hul eredienste mee op te kikker en noem dit liturgiese vernuwing – kwansuis ‘n verruiming van die Gereformeerde liturgie om die geloof te verdiep.
Die viering van Roomse heilige dae, liturgiese danse, kruissimbole en die aansteek van kerse by spesiale geleenthede soos ’n huwelik, voorstelling van nuwe lidmate en die doop vind al hoe meer byval in Protestantse kerke, om nie eens van die kindernagmaal in die NG Kerk te praat wat onverbloemd Rooms is nie.
BRIEWE AAN CHARLES (13)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
"Wat bekend staan as Nic Swanepoel ...”
Beste Charles,
Ek weet dat jy min mense van die Afrikaanse Diens van die SAUK werklik goed geken het. Die meeste was vir jou net name. Tog wil ek jou vertel van een van die grootste karakters wat ek by die eens trotse en welvarende instansie waarvoor jy ook gewerk het, ontmoet en leer ken het. Ons twee het buiten ons belangstelling in sport ook baie gepraat oor Shakespeare en Robert Burns vir wie se werke hy 'n groot voorliefde het. Nic Swanepoel is ’n man vir die woord en het die stem om dit oor te dra. Vir diéboerseun is Burns se digkuns, soos hyself sê, “afgryslik" mooi. Dit is mos ’n treffende beskrywing van die werke van die man wat onder andere gesorg het vir die woorde van Auld iang syne, of hoe?
Nic nader nou ook al die sestig.
KINDERS IN DIE BYBEL (16)
JESUS
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
DAAR in Nasaret het Hy opgegroei saam met sy broers en susters. Sy broers se name was Jakobus, Joses, Judas en Simon (Markus 6:3). Hy het ook susters gehad maar hulle name ken ons nie.
Toe Jesus ses jaar oud was, is Hy volgens die gewoonte van daardie tyd seker ook na die skool gestuur. Hierdie skool was eintlik ’n soort van 'n "kerkskool” omdat dit baie nou verbonde was aan die sinagoge.
In die meeste van die Joodse skole van daardie tyd was die koster van die sinagoge die onderwyser. Hy het plat op die vloer gesit en die kinders het in ’n kring rondom hom gesit. Sodra ’n kind in die skool gekom het, moes hy eers die letters van die Hebreeuse alfabet leer om sodoende te kon leer lees. Wanneer hulle dit geken het, het hulle begin om die Ou Testament te bestudeer.
HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (14)
Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd
Buite die veiligheidsterrein in die jare sestig
Ná Republiekwording en Suid-Afrika se uittrede uit die Statebond in 1961 het die Nasionale Party fenomenale groei beleef en was daar 'n ongekende versnelling van die proses van samesnoering van Afrikaans- en Engelssprekende mense in Suid-Afrika onder Verwoerd as eerste minister, ondanks die aanslae op veiligheidsgebied.
Op 18 Oktober 1961 het Verwoerd dan ook aangekondig dat twee Engelssprekende lede van die parlement, A.E. Trollip en Frank Waring, in sy kabinet opgeneem word. Dit was die begin van die proses van vereniging van die twee hooftaalgroepe (Afrikaans en Engels) in die land — 'n proses wat met verloop van tyd al hoe vinniger verloop het.
DIE TWEE WEË
Hannes Ollewagen
Psalm 1:1-6
Vers 1: "WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;”
Dit is interessant om die (inverse) progressie te sien in hierdie gedeelte wat vir ons mooi illustreer hoe stelselmatig Satan ons dan ook verlei en uitlok om die sonde in ons lewens in te voer. Eers wandel jy in die raad van die goddelose, m.a.w. jy luister na die menings van mense wat nie vir God ken nie. Dit gee aanleiding daartoe dat jy dit begin oordink (i.p.v. die wet van God, soos ons sien in vers 2) en dit verwek twyfel in jou lewe oor wat reg en wat verkeerd is, terwyl God se Woord die enigste ware maatstaf van reg en verkeerd in enige Godsvresende mens se lewe behoort te wees.
KINDERS IN DIE BYBEL (15)
DANIËL
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
HY was nog baie jonk toe hy na Babel weggevoer is, seker nie baie ouer as so ongeveer tien tot twaalf jaar nie. Wat daar alles in sy hart omgegaan het toe hulle die lang tog van Jerusalem na Babel aangepak het, weet ons nie. Ons weet nie eers wie sy ouers was nie.
Maar toe Daniël in Babel aankom, het hy dadelik probleme met sy godsdiens ondervind.
Want die Minister van Jeugsake in Babilon het van sy koning opdrag ontvang om te sorg dat die jong Joodse seuns heeltemal verbabiloniseerd moet word. Hulle moes soos die Babiloniërs begin dink en doen. Daarom moes hulle die God wat hulle aanbid het, vergeet en die afgode van Babel begin aanbid. Hulle moes die Babiloniese manier van lewe begin aanvaar en vergeet dat hulle Jode was.
Daniël moes ook skoolgaan.
WEES NIE SKAAM VIR JOU GELOOF
Ds AE van den Berg
“....maar ek skaam my nie, want ek weet in wie ek geglo het....” 2Tim.1:12
Ons leef in baie onsekere tye. Daar is min dinge waarvan ons werklik seker kan wees, veral die toekoms. Wat gaan van ons land en volk word? Gaan daar vir my en my kinders/kleinkinders ʼn beter toekomsbedeling aanbreek? Die radio, TV en koerante is vol onheilsberigte - moord, verkragting, stakings, skakings, roof, geweld ens. alles onder die dekmantel van reg en geregtigheid vir almal!
Die Boerevolk bevind hom in die stroomversnelling van onsekerheid. En as ons lewensboot nie ankerplek vind nie, is dit Ikabod met ons. Die enigste ware anker in sulke tye is die vaste geloof in Jesus Christus. Ongelowiges sê: “Ons weet nie!” - gelowiges sê: “Ons weet verseker!”
BRIEWE AAN CHARLES (12)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
My beste Springbokspan
Beste Charles,
Jy het nooit aan ons tydverdryfspeletjies deelgeneem nie. Dit was so anders as die aande wat ons die ene konsentrasie saam met jou om die brugtafel gesit het. Daar is in my kamer bymekaar gekom vir die speletjies. Altyd so ’n stuk of vyf van ons wat ’n wye verskeidenheid onderwerpe en mense bespreek het of Springbokspanne gekies het.
'n Baie gewilde onderwerp was om te praat oor mense wat jou keelvol maak en waarom. Die deelnemers het elkeen ’n spreekbeurt gekry en jy sal jou verbaas watter name hier genoem is. Ongelukkig sal dit laster wees om dit te herhaal, al kan daar bewys word dat negentig persent plus van wat daar beweer is, die waarheid was.
Dit was lekker om die swakste Springbokspan van alle tye te kies. Die eenstemmigheid wat bereik is, was nogal ’n openbaring. Oor dié saak wil ek nie uitpraat nie want die meeste spelers leef nog. Ek wil liewer graag my beste Springbokspan kies.