Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hemelse Vader, sal U asseblief ons volk vergewe wanneer ons so maklik swig voor die versoeking om die waarheid se effe te wysig? Selfs heelwat te wysig? Here, help ons asseblief om weer 'n biddende volk vir U te word, 'n volk wat in gehoorsaam u Waarheid erken en uitleef. Dan alleen sal dit weer met ons volkslewe wel wees.
DIE VOLMAAKTE OFFER
Hannes Ollewagen
Matt. 27:11-56
Van al die belangrike dae wat ons as Verbondsvolk gedenk, is Goeie Vrydag, oftewel die kruisiging van ons Verlosser, Jesus Christus, seersekerlik dié belangrikste gebeurtenis. Die duurste prys vir vryheid is hiér betaal.
Ons leer uit die lewe dat daar vir alles ‘n prys te betaal is. Hoe meer kosbaar die artikel, hoe duurder die prys. Die prys vir alledaagse goedere kan maklik in rand en sent bereken en sommer maklik bekom word. Ander dinge soos kennis, sukses, ‘n gelukkig huwelik, en so meer, verg egter harde werk, opoffering en deursettingsvermoë. Die duurste prys wat op aarde betaalbaar is, is natuurlik die prys vir vryheid. Hoewel vryheid deur verraad in rand en sent uitgedruk kan word, is die prys vir vryheid net met bloed betaalbaar. Wanneer ‘n volk vry wil wees, is daar noodwendig bloedvergieting as voorvereiste.
Ons volk het al menigmale ons vryheid “gekoop” deur die volle koopsom daarvan in bloed te betaal.
ANC BY VTM LIG WEER BEEN TEEN AFRIKANER
Mediaverklaring
Herstigte Nasionale Party
Voortrekkermonument nie die plek vir die ANC
Die hou van ‘n politieke vergadering deur die ANC in die Voortrekkermonument is vir die HNP onaanvaarbaar.
Die Monument is gebou ter ere van die Voortrekkers wat die Kaap verlaat het om as volk sy vryheid in die onbewoonde binneland te vestig. Daarom is die Monument vir die Afrikaner ’n simbool van volksvryheid en word dit as ’n heiligdom van die Afrikanervolk beskou.
As die ANC met verteenwoordigers van die Afrikanervolk wil praat, kan aanvaar word dat dit nie oor die vryheid van die Afrikaner sal gaan nie. Diegene wat aan die ANC se gesprek wil deelneem, kan na die ANC se eie vryheidsmonument oorkant die pad by die Voortrekkermonument genooi word.
BRIEWE AAN CHARLES (6)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Mof en sy mense
Beste Charles,
Ek wil nou sommer net met jou gesels oor Mof en sy mense. Dit gaan nie oor hulle rekords en prestasies en dies meer nie. Sommer oor hulle as mense. Sonder om onnodige dinge te vertel wat hulle in die verleentheid kan bring.
Van Piet Uys, die platjie in die unieke vriendekring, het ek al heelwat vertel. Ek sien hom dan en wan by funksies van die Brits-Rugbyklub, waar hy 'n gesogte gas en ek erelid is. Deesdae stel hy my spottend voor as die man wat hom uit talle toetswedstryde “gedrink” het en as die ou wat oor die pieperigste ou vuishoutjie beskik wat hy nog gesien het. As hy my nie die aand in Toulouse bygestaan het nie, sou Richard Breeze my behoorlik opgefoeter het. Hy geniet dit om my siel so te versondig. Ek laat hom maar begaan, al las hy met elke vertelling ’n ietsie by.
KINDERS IN DIE BYBEL (9)
DIE DOGTERTJIE BY NAÁMAN
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
Ons lees van haar in II Konings 5. Wat haar naam was, weet ons nie en ons weet ook nie presies hoe oud sy was nie.
Al wat ons weet, is dat die Arameërs strooptogte in die land van Israel uitgevoer het en toe die dogtertjie as ’n gevangene weggevoer het. Blykbaar het dit daardie tyd ook maar gegaan soos dit vandag die geval is. Terroristebendes kom oor die grens en voer van die bevolking weg.
Hierdie mense wat weggevoer is, is dan op die slawemark te Damaskus verkoop. Heelwaarskynlik was die hoof van Naáman se huishouding ook die dag op die mark. Toe koop hy die dogtertjie om in Naáman se huis te gaan werk in diens van sy vrou.
Is dit blote toeval dat sy in die huis van Naáman beland het en verantwoordelik was vir die verdere gebeure met Naáman?
CHRISTELIKE ONDERWYS
Waarheen gaan ek met my kind?
Ds WJA van Schalkwyk
Uiters belangrike aspekte soos Kan ek my kind aan die staat toevertrou?; gevare in staatskoolonderwys vir die onmondige kind, seksonderrig en vele meer word in hierdie artikel behandel. Indien u as ouer van 'n skoolgaande kind waarlik omgee en betrokke wil wees in u kind se toekoms, lees asseblief ds Van Schalkwyk se referaat met aandag. Die almagtige God wat ons aanbid, gaan van elke ouer rekenskap oor sy kinders eis.
"In ’n graad 7 Lewensoriënteringhandboek wat algemeen deur skole in ons omgewing gebruik word, word die kinders geleer hoe om te voorkom dat ’n meisie swanger word. Wat meer is, een van die maniere wat hulle dan geleer word, is onttrekking. Teenoor 'intercourse' noem hulle dit 'outercourse'.As kinders op hierdie jong ouderdom al met leermateriaal met seksuele inhoud gekonfronteer word, is dit geen wonder dat die grootste verbruikers van pornografie tussen die ouderdomme van 13 tot 17 jaar is nie.
Verder word kinders, jou kinders, nie geleer dat dit sonde is om voor die huwelik seksueel aktief te wees nie, maar hoe om veilig te wees. Elke ouer wat die Here lief het, mag tog nie sy/haar kind blootstel aan ’n onderwyssisteem waar die waardes en die beginsels van die Woord van die Here vertrap word nie."
Ek wil die aanbieding vanuit ’n totaal onkonvensionele hoek benader. Ek wil eers ’n stelling waag en dit verduidelik en dán ons aandag vestig op die beginsels vir Christelike Onderwys.
Dr. Tim Keller is ’n gereformeerde teoloog van Amerika. Hy bedien ’n groot gemeente in New York en doen geweldig baie om die Evangelie regoor die wêreld uit te dra. Hy het in ’n preek ’n stelling gemaak wat kortliks op die volgende neerkom: Dit is vir ons wat in christelike huise grootgeword het baie moeiliker om die Here met oorgawe te dien as iemand wat later in sy lewe tot bekering gekom het.
STIEFKIND VAN DIE AFRIKANERVOLK
Opgedra aan die CVO-skole
WJA van Schalkwyk
Saam het ons uit die Party gestap
omdat hul ons taal en volk vertrap.
Pa't gesê as hulle aan ons kinders vat
daar meer as net vonke in die vuur sal spat.
Saam het ons weer die stryd begin
om te veg vir kerk en huis en suigeling.
Pa't gesê as hulle in ons kerke kom,
draai hy sy rug net wederom.
Saam besluit waar ons die Heer wou dien ...
ek verstaan so min – ek was net tien.
Pa't gesê as hulle aan ons kinders vat
daar meer as net vonke in die vuur gaan spat.
Alleen moes ek toe daar staan
tussen heiden, Jood, Mohammedaan.
Pa sê hy't duur betaal
vir koshuis, skool en ook die saal.
Alleen moet ek nou my stryd hier stry
beginsels geld vir pa en nie vir my.
Ag, as ek maar net na die skool kon gaan
waar die God-stem ruis en die vierkleur staan.
JY KÁN OMDRAAI!
Ds AE van den Berg
“..... en Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het... En hy het in trane uitgebars” -Mark.14:72
Daar was eenmaal ʼn wilde eend wat elke jaar wanneer die lente aangebreek het saam met ander wilde eende noordwaarts oor Europa gevlieg en in die herfs weer teruggevlieg het. Een jaar het hy baie uitgeput vir ʼn wyle op ʼn Deense plaas tussen mak eende gaan sit. Hy was baie honger en het besluit om vir ʼn dag daar te vertoef voordat hy verder sou vlieg. Die dag het ʼn week en die week het ʼn maand geword. So het hy die hele somer daar vertoef.
Toe dit herfs word en die swerms wilde eende op hul tog suidwaarts oor die plaas vlieg, het hy opgewonde sy vlerke geklap om by hulle aan te sluit. Maar hy was te swaar en kon niks hoër as die skuur se dak vlieg nie. Toe het hy maar besluit om daar te bly – dit was veilig en die kos volop. Maar elke lente en herfs as die swerms wilde eende oor die plaas gevlieg het, was sy hart by hulle. Dan het sy oë geglinster en het hy met sy vlerke geklap asof hy nog by hulle kon aansluit. Hierdie verlange het stelselmatig getaan totdat hy geen aandag meer aan die swerms gegee het nie. Hy was tevrede met sy gemaksone.
BRIEWE AAN CHARLES (5)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Meer oor Charles
Saterdag die 18de November 1995 is die dag en datum presies vyf jaar gelede toe my stembande verwyder is omdat 'n swaelnes in my keel gegroei het. Dit was sewe-uur die oggend toe ek op 'n trollie gelaai is oppad na die operasieteater. Ek was kalm en onder die invloed van verdowing. Ek kan nie veel van die oggend onthou nie - behalwe my laaste woorde met die stem wat vir soveel jare my brood en botter was: “Goodbye, ou seun,” my troetelnaam vir my vrou Maryna.
Van die volgende vier dae van my lewe onthou ek genadiglik niks nie. Gelukkig so. Daar was seker pyn, maar met die dierbare sorg van dokter Berte le Roux, die vriendelike en bekwame susters en matrone De Bruyn van die Zuid-Afrikaans Hospitaal kon ek met die genade van Bo die stryd teen die helse stilte wat voorgelê het, oorwin.
Ek sit nou en kyk na 'n krieketwedstryd op die kassie en my gedagtes dwaal terug na die aangename jare wat ek saam met die beste krieketkommentator van alle tye, Charles Fortune, beleef het.
KINDERS IN DIE BYBEL (8)
REHABEAM
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
REHABEAM was ’n regte rykmanskind. Sy vader Salomo was seker een van die rykste mense van sy tyd. Rehabeam het dus in weelde groot geword en hy kon dus alles kry wat sy hart begeer.
Die Here waarsku telkens in die Bybel teen te veel geld omdat te veel geld een van die struikelblokke in jou weg kan wees om die koninkryk van God te beêrwe. Verder kan rykdom en weelde ook veroorsaak dat die Here hier op aarde nie deur jou geëer word soos wat Hy dit in sy Woord vereis nie.
Dit wil natuurlik nie sê dat rykdom ’n sonde is en dat die gelowige in armoede moet leef nie. Ons lees van heelparty persone in die Bybel wat ryk was soos Abraham en Job. Ons hoor ook in die Nuwe Testament van persone wat baie ryk was. Maar die groot gevaar van rykdom is dat dit tussen jou en God kan staan.
SOEK EERS DIE KONINKRYK VAN GOD
Hannes Ollewagen
Matt. 6:19-34
Vers 33: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Begin m.a.w. by die logiese en belangrikste punt: die begin. Wanneer ‘n mens ‘n lang reis aanpak, maak jy tog seker dat jy die basiese benodighede inpak, jou voertuig nagaan, seker maak jy het genoeg brandstof, indien nodig jou GPS instel en inpak, maar alvorens al hierdie dinge afgehandel word, moet jy tog weet waarheen jy oppad is.
Ons leef in ‘n wêreld waarin daar so baie verwarde mense is wat nie weet waar hulle hulself bevind nie. Die rede daarvoor is eenvoudig: hulle weet nie waarheen hulle in die lewe oppad is nie.
Die grondliggende oorsaak waarom die jeug vandag nie weet waarheen hulle oppad is nie, is grotendeels te wyte aan die feit dat hulle nie eers weet vanwaar hulle kom nie en selfs nog erger, sommige nie eers weet wie hulle is nie (alles weens ‘n gebrek aan kennis van hul geskiedenis).
BRIEWE AAN CHARLES (4)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Drank verdra nie onreg nie
"Daardie dae was rugby nog ’n spel. Deesdae is dit deur en deur ’n sakeonderneming - sonder die trots en glorie van ouds. Ek vrees die blikkie se boom gaan nog uitval. Die ou spreekwoord 'geld is die wortel van alle kwaad' is tog so waar."
Beste Charles,
Charles, ek wil jou nou eers vertel van ’n onderonsie waarby ek betrokke was. Dit was ’n Dinsdagaand in 1968. Die Springbokke het vroeër die middag hulle wedstryd in Toulouse verloor. Jy het ’n groot pot tee bestel en beduie dat jy moeg is en vroeg gaan inkruip. Ek het ander planne in my agterkop gehad, naamlik ’n lekker ete êrens met 'n ietsie onder die prop. Ons moes die volgende dag Parys toe vir die tweede en laaste toets die Saterdag teen die Franse. Die nederlaag in Toulouse was die eerste keer dat 'n Springbokspan in Frankryk geklop is.
Die pot tee was amper leeg toe Mof en sy mense hulle by ons aangesluit het. Jy het dit as 'n goeie geleentheid gesien om verskoning te maak en te verkas. As jy tog maar bly sit het, sou ek nie daardie nag skande gemaak het nie.
SELFKASTYDING – REG OF SLEG?
Ds AE van den Berg
1 Kon.18:1,17-39
Daar word jaarliks op Goeie Vrydag weersinswekkende beeldmateriaal op TV vertoon - Filippyne sonder hemde wat hulself met karwatse stukkend slaan; karwatse wat stukke glas of metaal bevat sodat bloed sal vloei. Etlike van hierdie skynmartelare laat hul selfs ten aanskoue van duisende nuuskieriges kruisig om glo die pyn wat Christus aan die kruis op Golgota beleef het self te beleef. Hierdie ritueel staan as penitensyn bekend. ʼn Mens hoor die Engelse woord penance wat boetedoening beteken duidelik hierin.
Die skynmartelare beskou hierdie selfkastyding as genoegsame boetedoening vir hul sondes wat deur die jaar gepleeg is en die heiligste vorm van geloof wat ʼn mens op aarde kan bereik. Hulle skuld is afgelos. Daarbenewens glo hulle dat hulle spesiale guns van God as vergoeding vir hul lyding ontvang en dat Hy met ʼn spesiale oor na hul wense luister. So ʼn skynmartelaar onderneem om homself een maal per jaar vir ses jaar lank te martel waarna die twyfelagtige eer aan ʼn familielid oorgedra mag word. Sulke optredes versterk glo familiebande, veral in tye van nood wanneer familielede na so ʼn persoon as ʼn tipe van Christusfiguur opsien.
HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (7)
Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd
DR. VERWOERD EN BINNELANDSE VEILIGHEID
Flip Coetzer
Adv. J.RJ. Coetzer SC was van 1953 tot met sy uittrede as direkteur- generaal in 1984 aan die hoofkantoor van die Departement van Justisie verbonde. Hy was o.a. lid van die International Bar Association, die Nasionale Verkeersveiligheidsraad, die Staatsveiligheidsraad en die Regshulpraad. Hy was ook lid van die kommissie in 1979 deur die Staatspresident aangestel om veiligheidswetgewing te ondersoek en aanbevelings te doen. Ná 1984 was hy vir 'n jaar buitengewone professor by die regsfakulteit van UNISA en het hy vir nog tien jaar by die Pretoriase balie gepraktiseer. Hy was ook vir 17 jaar lid van UNISA se Universiteitsraad.
Adv. Coetzer aan die woord:
AS 'N BETREKLIK JONG REGSGELEERDE het ek by 'n paar geleenthede indirek met dr. Verwoerd te doen gekry.
AS 'N ENGEL VERVEER (7)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by As 'n engel verveer
DIE VERMEENDE KOMPLOT
Toe Saul enkele dae later al sy hooggeplaasdes na die paleis ontbied, is Jonatan ook teenwoordig.
"Julle wonder seker waarom ek julle almal hierheen ontbied het?" sê Saul en vryf selfvoldaan oor sy baard.
Almal kyk hom vraend aan.
"Ek het 'n gewigtige saak op die hart. Etlikes van my onderdane sweer teen my saam. Hulle wil my koningskap gryp en my doodmaak” sê Saul somber.
Almal is stom van verbasing. Niemand het so ‘n aankondiging verwag nie.
"Het u enige vermoede wie agter dié bose plan sit, my vader?" vra Jonatan hoogs ontsteld.
"Ja, ek weet wie die leier van die groep is!" sê Saul en talm opsetlik.
"Wie is dit dat ons met hom kan afreken!" versoek Abirag.
"Dis Dawid!" sê Saul met beslistheid.
"Nee, dit kan nie wees nie! Nie Dawid nie!" protesteer Jonatan.
"Moenie vir my sê: `Dit kan nie wees nie’. Ek is seker van my feite!" snou Saul sy seun toe.
KINDERS IN DIE BYBEL (7)
HOFNI EN PINEHAS
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
BAIE keer dink kinders dat hulle ouers wreed is as hulle sekere dinge nie vir hulle toelaat nie. Soos byvoorbeeld om nie saam met sekere maats uit te gaan of om saam met sekere maats te gaan fliek nie. Maar hulle besef nie dat hulle ouers net die beste vir hulle in die oog het nie en dat hulle ouers nie graag wil hê dat hulle van hul lewens ’n mislukking moet maak nie. Ouers doen dit omdat hulle hul kinders liefhet en weet dat slegte maats hulle kan verlei en dat hulle dan nie van hulle lewens ’n sukses sal maak nie.
Eli het egter nie veel vir sy twee seuns Hofni en Pinehas omgegee nie. Hulle het maar ’n swak opvoeding gehad en in die meeste gevalle gemaak soos hulle wou.
AS 'N ENGEL VERVEER (6)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by As 'n engel verveer
SAUL VERBREEK SY BELOFTE
"Ek kom net kyk hoe dit met Israel se nuwe leëroffisier gaan" skerts Jonatan wanneer hy inloer.
"Jy is glad nie snaaks nie!" sê Dawid vies.
"Sjoe, jy kan nie hier bly nie, die plek is so onpersoonlik soos 'n grafkelder!" sê Jonatan.
"Het ek dalk ‘n keuse?” antwoord Dawid. “Jou pa het my so pas as siterspeler afgedank en gedwing om 'n pos te aanvaar waarvoor ek nie opgewasse is nie, nog minder nog lus het!"
"As ek jy is, sal ek nie hier bly nie. Dit sal selfs beter onder ‘n boom wees” sê Jonatan en kyk na die groot kraak in die muur.
"Makliker gesê as gedaan" sê Dawid neerslagtig.
"Ek gaan beslis hieroor kla. My pa kan dit nie aan jou doen nie!" sê Jonatan veronwaardig.
"Los dit liewer, netnou maak jy hom net kwaad, dan sit ek nie net sonder blyplek nie, maar ook nog sonder werk” sê Dawid suur.
KINDERS IN DIE BYBEL (6)
SAMUEL
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
HY was ’n besondere kind. Letterlik beteken Samuel se naam: Deur God gehoor.
Hanna, sy moeder, het self duidelik verklaar hoekom sy aan hom hierdie naam gegee het. By sy geboorte het sy gesê: "Ek het hom van die Here gebid.”
In Samuel se naam hoor ons dus van gebedsverhoring. God het geluister na ’n gebed. Dit is dan ook die stempel wat van jongs af op die lewe van Samuel gedruk word.
Samuel se naam is dan ook die eerste tekening wat ons van hierdie kindjie kry.
Hoe oud Samuel presies was toe sy moeder hom na die tabernakel in Silo gebring het, vertel die Bybel nie aan ons nie. Al wat die Bybel aan ons sê, was dat hy nog jonk was.
SIEKTE IS NIE DIE GEVOLG VAN JOU SONDE!
Ds AE van den Berg
Lees reeks by MY KRUIS, MY KRAG
Die wêreld is vol van dwaalleraars wat sê dat siekte die gevolg van ‘n spesifieke sonde is. Dis ‘n leuen en doen die Christendom skade aan. Die Bybel praat anders. Lees gerus Joh.9 waar Jesus hierdie vraag duidelik beantwoord.
Daar is mense wat al jare lank ernstige beproewing verduur, maar terselfdertyd baie na aan God leef. ‘n Mens het byna instinkmatig medelye met sulke mense. Eintlik behoort ons hulle te beny omdat hierdie dapper lasdraers God op ‘n besondere wyse verheerlik. God plaas hulle voete op ‘n stewige rots. Daarom sink hulle nie!
HERINNERINGE AAN DR HF VERWOERD (6)
Lees reeks by Herinneringe aan dr HF Verwoerd
DIE WÊRELDHOFSAAK IN DEN HAAG
"Lang" David de Villiers
"Die saak voor die Wêreldhof het uiteindelik op Maandag 18 Julie 1966 ten einde geloop met 'n uitspraak wat as 'n groot oorwinning vir Suid-Afrika bestempel kon word... ... Hierdie woorde was in werklikheid dr. Verwoerd se laaste boodskap. Dit was die laaste openbare uiting van sy gedagtes. Die volgende geleentheid wat hy sou hê om verder oor die gevolge van die Wêreldhofsaak en die ontplooiing van sy beleid te praat, was in die parlement op 6 September, die dag toe Tsafendas hom vermoor het. Die vraag oor wat hy daardie dag wou uiter, hang in die lug."
Adv. D.R de Villiers (191 9-2001) was die leier van die regspan wat Suid-Afrika se verdediging behartig het in die hofsaak wat Ethiopië en Liberië in 1960 by die Wêreldhof in Den Haag aanhangig gemaak het oor die administrasie van die mandaat oor Suidwes-Afrika. Van 1969 tot 1984 was hy Besturende Direkteur van Nasionale Pers Beperk, en daarna lid van die Pers se direksie tot sy uittrede in1987. In die sewentiger- en tagtigerjare het hy 'n leidende rol gespeel in aangeleenthede van die Persunie en dikwels kritiek uitgespreek op regeringsoptrede.
ONDER GOD SE BESKERMING...
... IN STORMAGTIGE TYE
Hannes Ollewagen
Deut. 6:1 – 25
Met die herdenking van ons volksplanting en die besef dat dit alleen deur genade van God was dat ons voorsate heelhuids hier te lande gekom het, verrys die gedagte seker weer opnuut by ons dat alles op aarde wel met ‘n doel gebeur?
God het dit in sy Alwetenheid goedgevind om vir Hom ‘n geringe volkie af te sonder en te vestig hier aan die suidpunt van Afrika. Hierdie klein “halfwegstasie/landjie” het die heenkome geword waarheen onder andere die Franse Hugenote kon vlug toe hul lewens en geloof bedreig is en hulle ter wille van hulle geloof in God ALLES moes agterlaat om hulself hier te kom vestig. Deur die wonderlike werking van ons Almagtige Vader het hier uiteindelik ‘n nuwe volk uit al die onderskeie aankomelinge ontstaan wat die Here sou vrees en dien.
In verse 1 – 9 gee God dan ook vir ons die opdrag wat om in hierdie land te doen waarheen Hy ons voorvaders gelei het.