Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Red my van my vyande HERE! By U skuil ek – Ps 143:9
BRIEWE AAN CHARLES (20)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Gister se dinge
Beste Charles,
Charles, ek weet nie of jy dit ook ondervind het nie. Hoe ouer ek word, hoe meer dwaal my gedagtes na die verre verlede. Dit is seker hoekom my vertellings aan jou nie in chronologiese volgorde is nie. Ek het reeds in November 1995 met jou begin gesels. Dis nou al November 1996 en ek praat nog steeds. Gelukkig nie elke dag nie, want anders sou die skrywe van my al baie dikker as die ou Hollandse Bybel gewees het.
In die Lyric Theatre in die destydse Mafeking waarvan ek jou vertel het, het my liefde vir die avontuur in die natuur begin. Voordat ek Johnny Weissmuller as Edgar Rice Burroughs se Tarzan of the Apes leer ken het, het ek die film Trader Horn in die ou saaltjie gesien. Dit was ook voordat ek daar "Assistant Operator” was en die eienaar se dogter, Joan, se handjie houvas het.
KOMMUNISTE BANG VIR STAATSKOLE...
Kriewelkop
Na aanleiding van die artikel oor die Rooi Gevaar in ons staatsonderwys wonder mens nie juis waarom die klomp kommunistiese ministers hulle kinders nie in staatskole laat skoolgaan nie – die hele kaboedel is in duur privaatskole...
ONS KOMMUNISTIESE ONDERWYS
SO SIEN EK DIT
Dr PE van der Dussen
Opmerking: Bylae A onderaan hierdie artikel sit die onmiddellike Kommunistiese bedreiging van ouer-verbonde private onderwys uiteen. Dit sal sinvol wees om as agtergrond vooraf die Bylae en veral die onderstreepte gedeeltes daarin te lees. Kyk ook die artikel van Frans Cronjé van die South African Institute of Race Relations, oor Die rooi gevaar is terug (of was hy ooit weg?) in Rapport van 1 Junie 2014.
PRIVATE ONDERWYS EN OPLEIDING:
VRYE GEHALTEONDERWYS ‘N NOODSAAK
DIE REWOLUSIONÊRE AANSLAG
Skaars is die verkiesing verby of die Kommunistiese Rewolusie kom na vore. Ditsem Nuus berig op 30 Mei: Geharde Kommuniste sit breed en prominent in die nuwe kabinet van die ANC-regering. Die SA Kommunistiese Party se senior leierskap bestaan uit Blade Nzimande, sekretaris-generaal; Jeremy Cronin, adjunk-sekretaris-generaal; Senzeni Zokwana, nasionale voorsitter; Thulas Nxesi, adjunk-nasionale voorsitter en Buti Manamela, jeugleier. Met die aanstelling van Zokwana as Minister van Landbou en Manamela as Adjunk-minister is al hierdie senior SAKP-lede nou in prominente regeringsposisies. Lede van die SAKP se sentrale komitee wat ook ministers of adjunk-ministers is, is Rob Davies, Jeff Radebe en Godfrey Oliphant. Davies is Minister van Handel en Nywerheid met Patel uit Cosatu as Minister van Ekonomiese Sake.ENCA berig onlangs: Striking miners are taking their fight for a better wage beyond the platinum belt in North West province. They say their families are suffering with no end in sight to country's longest-running strike. And they want to bring their ordeal closer to the homes of many other South Africans. Dit is niks minder as ‘n oorlogsverklaring deur die werkers in die land nie – of liewers deur die leiers wat in weelde lewe en rewolusie stook teneinde vote democracy in selfvernietigende feet democraziness te omskep en die land onregeerbaar te maak. Dit onderstreep Zuma se verklaring dat “economic transformation” een van sy regime se fokuspunte is.
BRIEWE AAN CHARLES (19)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
My groot “gatslag”
Beste Charles,
Jy het haar altyd aangespreek as “my dear”. Ek dink jy het probleme gehad om haar naam, Maryna, lekker uit te spreek. Ek wil hê jy moet ’n brief lees wat sy op my sewentigste verjaardag aan my geskryf het. 'n Bekende vrouetydskrif het dit gepubliseer. Uit die brief kan jy aflei van die groot “gatslag” wat my getref het. Dit is nie nodig dat ek soos ’n wafferse smartvraat verder oor die ding praat nie. Lees maar self. Jy sal ’n paar name in die brief teëkom wat jy nie ken nie. Jy onthou seker die program 50/50. Dit is ’n program oor die omgewing wat op TV vertoon word en waarvan ek vryskutaanbieder was. Dit is 'n program wat my altyd baie na aan die hart gelê het en die aanbieding daarvan is sekerlik die een ding wat ek naas rugby-uitsaai die meeste mis. Maar eers terug by die brief.
GOD BLY GETROU
Hannes Ollewagen
Psalm 106:1-48
In vers 3 van hierdie Psalm sien ons dat dit goed is voor Hom om die reg te bewaar en altyd geregtigheid te doen. Maar hoeveel mense is nie daarop uit om net “geregtigheid” te doen en “reg” te doen wanneer hulle deur ander mense gesien en dus geprys kan word nie? Dit laat my dink aan die opdrag dat ‘n mens nie jou liefdadigheid voor die mense moet bewys om deur hulle gesien te word nie of dat jou linkerhand nie moet weet wat jou regterhand doen nie.
Tog is daar so baie mense wat in hul wese dwaal wanneer hulle organisasies wat hul oënskynlik beywer vir liefdadigheidswerk maar in wese bedorwe is, ondersteun. Ja, maar dit gaan vir ‘n goeie doel, sal die verskoning wees! ‘n Goeie doel met ‘n verkeerde en geveinsde gesindheid is nie vir God aanvaarbaar nie.
WEES GETUIES
Ds Andrè van den Berg
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterstes van die aarde” - Hand.1:8
Met Pinkster herdenk die kerk die uitstorting van die Heilige Gees wat meer as 2000 jaar gelede in die tempel in Jerusalem plaasgevind het. Maar waarom word die woord uitstorting en nie bekendstelling of 'n ander sinoniem gebruik nie? Die Gees is tog ʼn Persoon, hoe kan Hy uitgestort word? Was Hy dan nie voor Pinksterdag daar nie? Ja, Hy was. Hy het nie op daardie dag vir die eerste keer sy Heilige opwagting gemaak nie, maar was reeds so vroeg as in die skepping werksaam: “.... en die Gees van God het gesweef op die waters” (Gen.1:2). In die tyd van die aartsvaders sê Job: “Die Gees van God het my geskape, en die asem van die Almagtige maak my lewend” (Job.33:4).
Die Heilige Gees was ook by Israel op pad na Kanaän teenwoordig:
BRIEWE AAN CHARLES (18)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Verkeerde diagnose
Beste Charles,
Australië is vir my 'n baie mooi land. Net soos dit seker vir jou ook was. In baie opsigte nogal baie soos Suid-Afrika. Sydney is vir my ’n besondere stad. Daar het ek in 1971 twee keer op die Sydney Cricket Ground rugby uitgesaai. Charles, ek het ongelukkig nooit daar soos jy krieketkommentaar gelewer nie.
Maar soos ek belowe het, wil ek jou eers vertel van my ondervinding in die beroemde stad in 1977. Jan Snyman en ek was op pad terug van Nieu- Seeland af en moes 'n SAL-vlug daar haal. Ek was baie opgewonde toe ek hoor dat daar ’n staking van lugvaartpersoneel is en dat geen vliegtuig bedien mag word of enige vlug mag vertrek nie. Dit was nie opgewondenheid oor die staking as sodanig nie, want jy weet ek verpes dit. Dit was blydskap dat ek ’n paar dae in Sydney kon vertoef sonder enige verpligtinge of bekommernis.
KINDERS IN DIE BYBEL (19)
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
DIE BLINDE KIND
IN Johannes 9 lees ons van ’n man wat blind was van sy geboorte af. Hy kon dus reeds as klein kindjie nie sien nie en het in ’n donker wêreld van sy eie geleef. Hoe die wêreld rondom was, het hy nie geweet nie. Hy kon maar net raai. Oral waar hy gegaan het, moes hy maar net voel.
In die dae van Christus was daar nie baie medelye en meegevoel met ’n blinde nie. Hy is beskou as iemand wat benede die ander mense gestaan het. Want hy was vir niks nuttig nie. So byvoorbeeld kon hy nie eens die wapens opneem en sy land help verdedig nie. Daar was natuurlik nie die fasiliteite wat ons vandag het vir blindes waardeur hy homself kon bekwaam en vir homself sorg nie.
GOEIE EN SLEGTE RASSISTE...
Kriewelkop
Cosatu het destyds die blanke boere as "slegte rassiste" uitgekryt toe hulle hul werkers R69.00 per dag betaal het. Nou swyg Cosatu in al elf tale toe die nuwe Minister van Landbou, 'n swart Kommunis, Senzeni Zokwana , uitgevang is dat hy sy werkers net R26.00 per dag betaal. Is Zokwana nou 'n "goeie rassis"? Hy doen dit baie beter as die blanke boere! Of is hy sommer net "sleg"?
PINKSTERWEEK 1-6 JUNIE
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Pinkster 2014
IN GOD SE OEFENSAAL
Vrygewigheid
Skrif: Luk.21:1-4; 2 Kor.8:1-15
Sang: Ps.116:1, 9 +10; Ges.288:1
Teks: “Maar soos julle in alles oorvloedig is – in geloof en woord en kennis en alle ywer en in julle liefde vir ons – sorg dat julle ook in hierdie liefdesdaad oorvloedig is” (2 Kor.8:7).
Ons het nou al vier aande in God se oefensaal deurgebring en aan vier oefeninge deelgeneem - gebed, meditasie, sang en geloofsgemeenskap. Die vyfde en voorlaaste oefening is milddadigheid. Dit gaan nie net oor geld of middele aan mense in nood te gee nie, maar ook ons tyd, energie en gawes wat opoffering vra. Hier in Christus ʼn wonderlike voorbeeld: “Want julle ken die genade van ons Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word” (:9). Om meer soos Christus te word (die doel van geestelike oefening) moet ons goed geoefen wees in Christelike milddadigheid.
BRIEWE AAN CHARLES (17)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Sportpotpourri
Beste Charles,
Ek wil 'n potpourri van gebeure in herinnering roep. Dinge wat ek en jy saam gesien en beleef het, Charles, en ander waarvan ek jou sommer wil vertel.
Onthou jy toe ons in 1965 in Engeland aangekom het? Ek glo nie jy het jou gesteur aan ’n plakkaat van 'n poniekoerant wat gelees het “First strike-free day in England in 366 days” nie.
Waaraan jy jou wel gesteur het, was die talle koerantparagrawe waarin geskryf is oor die vermoë van Colin Bland in die veld. Hy het beslis nie teleurgestel nie. Ses en twintig duisend mense het op die beroemde Lords soos een man ontplof van verbasing en applous toe hulle 'n fantastiese stukkie veldwerk van Colin Bland sien. Dit was in die eerste beurt van Engeland in die eerste toets. Onthou jy, die beroemde Ken Barrington was op pad na sy honderdtal.
PINKSTERWEEK 1-6 JUNIE
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Pinkster 2014
IN GOD SE OEFENSAAL
Geloofsgemeenskap
Skrif: Hand.2:37-47
Sang: Ps.119:1+7; Ges.228:1 +3
Teks: “En hulle het volhard in die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die van die brood en in die gebede” (:42).
Om geestelik te groei, moet gelowiges bewustelik oefen: “Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels en oefen jou in die godsaligheid” (1Tim.4:7). Benewens gebed, meditasie en sang, is geloofsgemeenskap een van die beste geloofs-oefeninge in God se oefensaal en word in Grieks koinonia genoem. Dit beteken om aktief (handelend) aan iets deel te neem. Een van die vyf vrae waarop nuwe lidmate bevestigend moet antwoord is of hulle beloof om aktief aan die werksaamhede van hul gemeente deel te neem. Hulle verbind hulle met ’n plegtige belofte voor God en die gemeente tot koinonia.
PINKSTERWEEK 1-6 JUNIE
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Pinkster 2014
IN GOD SE OEFENSAAL
Sang
Skrif: Ps.147:1-9; 149 +150
Sang: Ps75:1+6; Ges.227:1
Teks: “Loof die Here, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; ’n loflied is gepas!” (Ps.147:1)
Ons is al deur twee oefeninge in God se oefensaal - gebed en meditasie. Die derde oefening is sang/lofprysing wat ons in ’n geestelike rykdom laat deel. Ongelukkig ervaar baie mense niks hiervan nie en sing sonder emosie of glad nie! Die sing van geestelike liedere het groot waarde en is ’n vereiste vir almal wat geestelik fiks wil word.
Geestelike sang is onontbeerlik vir geestelike fiksheid omdat dit drie waardes het; boon-toe, buiten-toe en innerlik. Na bo: Ons sing eerstens om God te loof. Die Engelse “hymn” kom van die Griekse humnos en beteken ’n lied ter ere van. Psalms roep gelowiges op om God met sang te loof: “Psalmsing tot eer van die Here, o sy gunsgenote en loof sy heilige gedenknaam” (Ps.30:5).
LOOF DIE HERE!
Hannes Ollewagen
Psalm 103:1-22
“Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.” (Vers 19)
Is ons nie geneig om hierdie klein versie, gevul met groot waarheid, só maklik te vergeet nie? Die HERE is in die hemel en van daar af heers en regeer Hy oor alles! Hy is in beheer van elke ding wat hier op aarde gebeur en nié gebeur nie.
Soms gaan ek deur stormagtige tye in my lewe en wil by God weet hoe Hy so met my kan handel? Ek probeer dan altyd om so vroom en opreg voor Hom te leef! Dit mag van ons almal waar wees, maar die feit van die saak bly staan dat Hy God en ek mens is. Hy het nie nodig om enigiets aan my te verduidelik nie. Hy het my op aarde geplaas met 'n spesifieke doel en Hy kan my seker daarvoor gebruik? (Job 41:2: “Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne.”). Wat is God aan my en u verskuldig?
KINDERS IN DIE BYBEL (18)
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
DIE KINDERTJIES WAT NA JESUS GEKOM HET
ONS kry in Mattheus 19 die verhaal van die kindertjies wat na Jesus gekom het. Voor hierdie kindertjies na Hom kom, voer Jesus ’n gesprek oor die huwelik, dit wil sê hoe die toestande by die huis is. Hoe tree ma en pa en kinders teen mekaar op?
Hierdie gesprek vind plaas na aanleiding van die Fariseërs wat Christus wil versoek. Hulle vra aan Hom of dit geoorloof is vir ’n man om oor allerhande redes van sy vrou te skei.
By egskeiding is dit natuurlik altyd die kindertjies wat die meeste swaarkry en ly. Daarom sien ons ook in hierdie kindertjies die leiding van die Here. Hy laat hulle na Christus kom juis direk ná die gesprek oor die moeilikhede en probleme van die huwelik.
PINKSTERWEEK 1-6 JUNIE
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Pinkster 2014
IN GOD SE OEFENSAAL
Meditasie
Skrif: Fil.4:1-9; Kol.3:1-10
Sang: Ps.18:1+14; Ges.47:1-3
Teks: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Fil.4:8)
Ons het ons geestelike oefenprogram met gebed afgeskop. Die tweede oefening wat met gebed saamhang, is meditasie (bepeinsing), ’n geestelike oefening wat gelowiges geestelik fiks maak en al eeue lank beoefen word: “En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld…” (Gen.24:63).
Wat is meditasie?
PINKSTERWEEK 1-6 JUNIE
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Pinkster 2014
IN GOD SE OEFENSAAL
Gebed
Skrif: 1 Tim.4:6-16
Sang: Ps.107:1+10; Ges.100:1+4
In 1 Tim.4 vermaan Paulus die jong Timotheüs om geestelik fiks te wees: “Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het” (:8). Timotheüs was ’n Griek en vir die Grieke was liggaamlike oefening baie belangrik. Griekeland het baie oefensale (gimnasiums) gehad en die plek waar die Olimpiese Spele ontstaan het.
Paulus gebruik die beeld van ’n oefensaal as hy aan Timotheüs skryf. Soos wat liggaamlike oefening ’n mens fisies fiks maak, so maak geestelike oefening jou geestelike fiks. En dis beter as fisiese fiksheid omdat dit “…. die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het”(:8). Liggaamlike fiksheid is slegs van aardse waarde. Na die dood beteken dit niks meer nie.
OM JESUS TE SIEN
Ds Andrè van den Berg
“En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen” - Hand.9:6
Om ’n kerklike amp te beklee, is ’n wonderlike voorreg. “Dit is ’n betroubare woord: As iemand na ’n opsienersamp verlang, begeer hy ’n voortreflike werk” (1 Tim 3:1). Ongelukkig sien baie mense dit nie so nie en lyk kerkleiding eerder na ʼn las as ʼn lus omdat iets baie belangrik in hul geloofslewe ontbreek; hulle sien Jesus nie raak nie!
Wanneer word Paulus ’n kragtige instrument in God se hand? Nadat iets baie belangrik in sy lewe gebeur waarsonder geen mens die saak van die Here kan dien nie nl. hy het ’n ontmoeting met Jesus gehad; hy het Jesus met geestelike oë gesien! Let op sy reaksie: “Here, wat wil U hê moet ek doen? (Hand.9:6). Paulus is onmiddellik tot diens bereid en word die grootste sendeling ooit op aarde. Die Bybel leer ons ʼn belangrike les: Voordat gelowiges Jesus nie sien nie, kan hulle nie effektief vir Hom werk nie.
GOD SE GEES
HANNES OLLEWAGEN
Handelinge 1:1-14
Dit is met ‘n doelbewuste rede dat hierdie dag, Hemelvaart, van die kalender verwyder is. Wanneer ons Hemelvaart vier, onderskei mense duidelik dat ons nie paasfees/Goeie Vrydag met ‘n wêreldse gesindheid vier nie. Ons erken en bely met die viering van Hemelvaart dat Christus nie net vir ons sondes gekruisig is en gesterf het nie, maar dat Hy die dood oorwin en opgestaan het uit die dood. Selfs nie die dood kon ons Meester oorwin nie, daarom het ons niks om te vrees nie, selfs nie eers die dood nie.
Nadat Christus opgevaar het na die hemel, het Hy ons nie alleen gelaat om ons eie weg te vind in hierdie deurmekaar wêreld nie. Ons lees dat Hy deur die Heilige Gees vir die apostels bevele gegee het. Só werk Hy steeds vandag nog met ons wat sy kinders is.
BRIEWE AAN CHARLES (16)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Kritiek - die wind of die hond?
Beste Charles,
Onthou jy die dag op Kingsmead in Durban toe jy my kom bedank het omdat ek nie gal gebraak het oor bierblikke wat na my kommentaarhok gegooi is nie? Ek moes koes vir die goed wat eintlik vir jou bedoel was oor dinge wat jy oor die lug kwytgeraak het. Die manne in die volgepakte “Castle Corner” links van ons kommentaarhokkie, se luidrugtigheid het begin toeneem soos die Saterdag se spel gevorder het. Hulle span was aan die verloor en die gemor en die slimmighede het mekaar afgewissel. Die son was warm en die skuimende voggies was besig om van binne warm te maak. Daar is al hoe meer draradio’s aangeskakel, en jy het dinge gesê waarmee hulle skynbaar nie tevrede was nie.
Die kommentaarhokkies op stellasies was te hoog vir hulle om van grondvlak af te sien wie in watter hokkie sit, en dis net waar die probleem ontstaan het.