Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die mees effektiewe vorm van regering is die gesin self – die gelowige gesin is in wese ook 'n klein kerk op sy eie – dit wil sê: die krag van 'n hele volk hang van die integriteit, geloof en toewyding van die gesin af.
WAARHEIDS- MEMORANDUM (14)
TEMA 4: ROOMSE MISLEIDING
Lees reeks by Waarheidstryders
U word vriendelik versoek om hierdie memorandum aan soveel persone moontlik te versprei. U word ook hartlik uitgenooi om u mening oor die inhoud te lig. Stuur dit gerus aan die webmeester by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
KINDERNAGMAAL
Afvalligheid skiet altyd soos paddastoele op ʼn mishoop in die akker van ontspoorde teologie op. Die evangelie van verlossing deur genade alleen kom in talle Protestantse kerke deur eie toedoen onder skoot. Kerke soos die NG Kerk wat eeue lank geen gemene sake met die Roomse Kerk gehad het nie, maak al hoe meer van Roomse tradisies, simbole en gebruike onder die dekmantel van liturgiese vernuwing gebruik.
Dit word as ʼn verruiming van die liturgie aangebied om die geloofslewe kwansuis verdiep. Dis ʼn leuen! Roomse tradisies en simbole verdiep nie die geloofslewe en verruim geen sinvolle erediens nie. Dit dwing kerke eerder al hoe dieper in die drukgang van die Vatikaan.
Toe die NG Kerk haar vir die verandering oopgestel het, moes sy beginsels inboet.
En hoe meer sy dit gedoen het, hoe meer het sy gedwaal. Wie beginsels begin versaak, begin by een, daarna word dit twee en so hou dit aan totdat daar niks meer oorbly behalwe die begeerte om te verander terwille van verandering nie.
Die Hervorming van die 16de eeu het die Roomse Kerk in haar fondamente geskud waarna sy gesweer het dat alle Protestantse kerke na haar sal terugkruip. Dit gebeur vandag sienderoë. Roomse simbole, rituele en dwalings steek in al hoe meer Protestantse kerke kop uit sonder noemenswaardige teenstand.
Hierdie ontsporing het in die moederskoot van ekumene uitgebroei, ʼn Rooms-georkestreerde interkerklike beweging wat Protestante van hul kerklike erfenis vervreem. Kerke wat in die verlede teen die Roomse gevaar gewaarsku het, swyg vandag in alle tale. Die viering van Roomse heilige dae, liturgiese danse, kruissimbole en die aansteek van kerse by spesiale geleenthede soos by ’n huwelik, die voorstelling van nuwe lidmate of die doop vind al hoe meer byval, om nie eens van die NG Kerk se toelating van kinders tot die nagmaal te praat nie! Dit spreek boekdele van die teologiese ontsporing wat lidmate al hoe verder van die waarheid van die Skrif af wegdryf.
ʼn Kerk is alleenlik suiwer indien dit die Woord en die sakramente suiwer bedien en die kerklike tug uitoefen. Wie hiervan afwyk, dwaal soos die NG Kerk toe die nagmaal in 1998 na ʼn Sinodebesluit ook aan kinders bedien ongeag of hulle kategese deurloop of openbare geloofsbelydenis afgelê het.
Om met die bediening van sakramente te dwaal, skaad die geloof. Daarom het kindernagmaal deur die eeue heen altyd met ʼn dwaling in die verlossingsleer asook ʼn valse verbondsbegrip verband gehou. Daarom het die apostels en eerste leraars nooit nagmaal aan kinders bedien nie.
Hierdie dwaling het eers in die derde eeu ná Christus sy kop uitgesteek toe ʼn sekere Ciprianus Joh.6:53 verkeerdelik verklaar het: “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie”. Hy het geglo dat hierdie waarskuwing ook vir kinders was en aan hulle die nagmaal begin bedien.
Soos wat dwaalleer in die Christelike kerk toegeneem het, het kindernagmaal gevestig geraak. Dit was so tot in die laat Middeleeue toe die Hervorming die Skriftuurlike weg gevolg en kindernagmaal beëindig het. Tot aan die begin van die 20ste eeu was daar geen enkele geval van kindernagmaal wat nie met ʼn dwaling in die verlossingsleer gepaard gegaan het nie.
Die NG Kerk se gebruik van hierdie dwaling hou direk verband met haar betrokkenheid by die Wêreldraad van Kerke (WRK). In 1982 het ʼn verslag oor die kindernagmaal op die WRK gedien met die opskrif: “ ...en verhinder hulle nie”. Die NG Kerk het openlik met ʼn organisasie wie se gemene doelstellings ʼn ope boek was, geheul en liturgiese toegewings begin maak. Met haar voet op die glybaan van ontsporing was dit net ʼn kwessie van tyd!
Gelowiges glo dat soos wat die doop in die plek van die besnydenis gekom het, die nagmaal in die plek van die pasga gekom het. Die verhouding tussen nagmaal en pasga is egter nie so eenvoudig as wat die voorstanders van kindernagmaal dit maak nie. Hulle beweer dat die nagmaal, soos die pasga, vir al die mense in die huis bedoel is. Om so ʼn simplistiese lyn tussen pasga en nagmaal te trek, is eksegeties onhoudbaar. Jesus het bv. by die pasga van sy tyd aangesluit deur wyn te gebruik. In die tyd van Moses was dit nie die gebruik nie.
Die Gereformeerde belydenisse en kategismusse laat geen ruimte vir kindernagmaal nie. In 1568 is daar op ʼn Sinode in Wezel besluit dat niemand tot die nagmaal toegelaat sal word alvorens hulle nie die openbare belydenis van die geloof afgelê het nie.
Kindernagmaal verbreek die verband tussen doop, kategese, geloofsbelydenis en nagmaal. Vir die toelating tot die nagmaal val die klem sterk op amptelike opsig en tug. Niemand mag die nagmaal gebruik indien hy hom nie aan die kerklike opsig en tug onderwerp nie. Kindernagmaal voldoen nie hieraan nie.
Om die verantwoordelikheid van die nagmaal aan ouers oor te laat, is verkeerd. Dis is ʼn saak vir die hele gemeente. Almal is by die toelating van nagmaal betrokke. Deur slegs die ouers se verantwoordelikheid te beklemtoon, word die gemeente per se oor die hoof gesien.
Die gebruik van nagmaal moet dus deur deeglike kategese vooraf gegaan word. Geloof is mos nie sonder inhoud nie. Om in Jesus te glo, veronderstel ʼn bepaalde kennis van Hom. Daarom is die Heidelbergse Kategismus (HK) eeue gelede al opgestel om ʼn brug tussen die doop en die nagmaal te vorm. Dit gaan in die HK oor die kennis van sonde, verlossing en dankbaarheid waarsonder niemand die nagmaal durf gebruik nie.
Die NG Kerk dwaal as sy die doop as enigste voorwaarde vir die toelating tot die nagmaal stel. Kategismusse uit die tyd van die Hervorming getuig dat die doop nooit as die enigste voorwaarde tot die nagmaaltafel gestel is nie. Alhoewel kategese en die openbare geloofsbelydenis nie Bybelse voorwaardes vir die deelname aan die nagmaal is nie, berei dit tog die weg vir sinvolle nagmaalsgebruik voor. Ongelukkig het die NG Kerk se begrip van glo in Jesus al so hol geword dat dit ingrypend van die geloof in Jesus verskil waarvan die HK so duidelik praat.
Volgens Art 35 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) is die nagmaal slegs vir wedergebore gelowiges bedoel. Voorstanders van die kindernagmaal vervang egter wedergeborenes met gedooptes; die dwaling van die leer van die veronderstelde wedergeboorte wat die Roomse Kerk verkondig!
Die RK glo op grond van ʼn korrupte uitleg van Mt.16:18,19 dat die kerk in ʼn groot mate oor die saligheid beskik en dit soos genade-inspuitings aan lidmate toedien. Hulle leer dat die reddende genade van God in Jesus binne die sfeer van die verbond universeel is. Elke gedoopte kind ontvang hierdie genade. Die Gereformeerde geloof daarenteen, verwerp die leer van die universele genade as kettery en glo op grond van die Skrif dat regverdiging alleenlik uit die geloof is.
Kindernagmaal vernietig in der waarheid die band tussen geloof en sakrament. Geloof word ʼn kerk- in plaas van ʼn persoonlike saak. So ʼn kerklike ritueel is, wat die geloof betref, leeg en inhoudloos. Desondanks beskou die NG Kerk die bediening van kindernagmaal as ʼn uitstaande skuld wat betaal is. Haar optrede is uiters verdag, gesien in die lig van die WRK se aandrang op die kindernagmaal suiwer op grond van humanistiese redes. Die WRK sê dat kinders deel van ʼn wêreld van verdrukking, honger en onreg is en gevolglik ook deur sekere strukture weerhou word. Daarom is dit kerke se plig om vir kinders se bevryding te werk - ook via die nagmaal.
Die rede waarom Skrifgetroue gereformeerde kerke nie aan kinders nagmaal bedien nie, het niks met onreg te doen nie. Dit gaan oor ʼn diep saak: “Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en die bloed van die Here” (1 Kor.11:27).
Wie nagmaal gebruik, moet hulself vooraf ernstig voor God ondersoek. Die apostels het duidelik geleer dat diegene wat hulself nie wil ondersoek nie, hul van die nagmaal moet weerhou. Kinders onderskei as ʼn reël nie genoegsaam tussen reg en verkeerd nie. Daarom is seuns in die tyd van die NT eers op die ouderdom van 13 in die Joodse kerk aangeneem. Eers daarna kon hulle aan die pasga deelneem.
Die selfondersoek voor nagmaalgebruik behels dat die gelowige homself weens sonde moet mishaag. Hy moet kwaad wees vir homself dat hy hom met sonde laat besmet het. Daarna moet hy sy hand smekend na Jesus uitsteek en glo dat Hy hom sal reinig. Daar moet dan ook ʼn ernstige begeerte by hom wees om hoe langer hoe meer in die geloof versterk te word. Dit kan slegs deur volwassenes verstaan word. Daarom is kategese onontbeerlik voor nagmaalsgebruik. Dit beskerm die kerk teen ʼn misbruik van die sakrament en bewaak die eer van God.