Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is 'n egte manier om jou rykdom te meet: moet dit nie meet aan wat jy besit nie maar meet dit aan dié dinge wat jy nooit vir geld sal verruil nie.
OFFER VAN GEHOORSAAM- HEID
GEHOORSAAM TOT WAAR DIT MÝ PAS?
Hannes Ollewagen
1 Samuel 15:1-35
Ons lees in vers 3:
“Gaan nou en verslaan Ámalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.”
Hier gee die HERE aan Saul opdrag om in oorlog teen Ámalek op te trek. Hy beveel Saul om alles wat aan Ámalek behoort met die banvloek te tref insluitend die beeste en kleinvee.
Ons lees hoe Saul met sy 210,000 manskappe die stad van Ámalek met die banvloek tref, maar ook dat hy die koning van die stad saam met die beste vee asook die naasbestes van die lammers en alles wat van waarde was, na hul eie land terugbring. Dit was vir hulle maklik om die onaanneemlike met die banvloek te tref, maar hul begeerte om van Ámalek se besittings vir hulself te neem, was sterker as hul begeerte om aan God gehoorsaam te wees. Daarby was Saul baie trots op sy roemryke oorwinning.
WARE KWINKSLAE (12)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Izak J.C. de Wet, Met generaal De Wet op kommando, p. 8:
Op pad na Magersfontein voer 'n klompie penkoppe die volgende gesprek: "Ek wonder," sê die een, "of die Engelse aan die wester-front ook so onverskillig is om reguit na 'n mens te skiet?"
"Ek is bevrees," sê 'n ander een, "daar sal nie een meer oor wees om na korrel te vat nie."
"Wat sê jy daar? Hulle sê dan ou 'Ou Viktorie' broei hulle sommer met 'n masjien in Engeland uit!"
"Maar dit is ook die rede," merk iemand weer op, "waarom hulle so ellendig onnosel is!"
"Jy is reg, boet," roep 'n vyfde een uit, "want onthou jy nog daardie ou op Klein-Amajuba wat so hittete sy ma vir 'n eendvoel aangesien het?"
"Ja," antwoord iemand weer, "dit hang af of sy ma 'n vroumens of 'n broeikas was!"
"Ag man," val iemand in, "ek glo hy was sommer so iets van albei!"
"Jy meen," laat 'n ander een volg, "hy is 'fifty-fifty', half ma, half broeikas!"
DIE ONTLUIKENDE KERK
DIE DODELIKE TENTAKELS VAN DIE ONTLUIKENDE KERK
Ds Andrè van den Berg
"Die Ontluikende Kerk beskou die Bybel as woorde oor God en nie die Woord van God as sulks nie. So ʼn verdraaide skrifbeskouing is ʼn bose aanslag op die Christendom en voer lidmate verby ʼn punt dat hulle die dwaalleer herken en/of op Bybelse gronde kan weerlê!... ...Ds. Franklin Graham is by geleentheid genooi om as spreker by ʼn Presidensiële Ontbyt (VSA) op te tree. Toe hy ʼn paar dae voor sy besoek aan die Withuis in ʼn toespraak sê dat Christus die enigste weg na die hemel is, het die Withuis sy uitnodiging onmiddellik teruggetrek."
“Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle gewete” - 1 Tim.4:1,2 .
Die wederkoms van Christus is ʼn goddelike belofte wat deur sekere ontstellende sigbare tekens vooraf gegaan sal word. Die groot afval waarvan Paulus aan Timoteus skryf, is een daarvan. Dis ʼn verval wat die Christelike kerk soos ʼn getygolf gaan tref en bykans onherkenbaar verander.
Die Christelike kerk word van meet af aan deur dwaalleer geteister.
GENADEDOOD IS SELFMOORD
Ds Andrè van den Berg
" Wie versoek dat sy lewe voortydig beëindig word, pleeg selfmoord en oortree die sesde gebod... ...Tutu was onlangs in die nuus toe hy gesê het dat net omdat iets in die Bybel staan, dit nie noodwendig waar is nie. Hy het spesifiek na Paulus se briewe verwys waarin God homoseksualisme veroordeel. Dit gee glo aanstoot aan mense met ʼn ander seksuele oriëntering."
Die benaming genadedood is eintlik misleidend. Dit behoort eerder selfdood of lewensbeëindiging genoem te word. Ons het egter gewoond geraak aan lelike dinge wat in mooi papier toegedraai word waarvan regstellende aksie en swart bemagtiging twee van die lelikste is. Vir die doel van dié onderwerp word met die benaming genadedood volstaan omdat dit die bekender benaming is.
Genadedood (Grieks: Eutanasie) is die doelbewuste optrede om ʼn persoon pynloos uit die lewe te help. Dis die opsetlike verkorting van ʼn sterwensproses wat onherroeplik tot die dood sal lei. Dit word ook geassisteerde dood genoem omdat iemand wat erge lyding ervaar met behulp van ʼn professionele persoon sy eie lewe beëindig. Dit word hoofsaaklik net in gevalle waar mense aan ongeneeslike siektes ly en baie pyn verduur, uitgevoer. Die behoefte om so ʼn mens se pyn te verlig, is so sterk dat dit die natuurlike drang om eerder die lewe te behou, oorskadu.
EENSGESINDHEID IN DIE EVANGELIE
STRY IN EENSGESINDHEID VIR DIE EVANGELIE
Hannes Ollewagen
Filippense 1:27 – 2:18
Vers 27: "ALLEENLIK, gedra julle waardig die evangelie van Christus, sodat, of ek kom enjulle sien dan wel of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor en julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie.”
Nie net berispe Paulus die Filippense om ‘n lewe te leef wat by die bekering en geloof in Christus pas nie, maar moedig hy hulle ook aan om eendragtig saam te stry vir die geloof van die evangelie. Die evangelie, die onweerlegbare waarheid, moet deur gelowiges nie net eendragtig beoefen word nie, maar ook eendragtig verdedig word wanneer dit bedreig word.
Sedert ons volk se ontstaan, kon ek nêrens in ons geskiedenis ‘n tyd opspoor waar die Christelike geloof tot só ‘n mate bedreig is as tans nie. Hierby sluit ek nie in die groot bedreiging tot totale uitwissing wat ons volk by Bloukrans en Bloedrivier in die gesig gestaar het nie.
KINDERVERHALE (12)
CE Latsky
Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky
'n Kragdadige Bekering
IN die oorlog het 'n mens baie gehoor en gelees van die Rühr-rivier in Duitsland. Die vallei waardeur daardie rivier vloei, is die groot steenkoolgebied van Duitsland en groot vragte steenkool word met trekskuite op die rivier afgebring. Soos julle weet, word matrose gewoonlik as ru en roekeloos beskou, en die matrose op hierdie trekskuite was geen uitsondering nie.
Een van hulle met die naam van Wolff was 'n besonder ruwe karakter. Hy het sy vrou en kinders wreed mishandel, en selfs die ander sterk, ruwe trekskuit-manskappe het twee maal gedink voordat hulle woorde met hom gewissel het — want dit het nooit by woorde alleen gebly nie, en as hulle begin vuisslaan, dan het Wolff maar altyd geseëvier.
WAT MAAK JOU KIND IN 'N STAATSKOOL?
Kriewelkop
Afrikanerouers plaas steeds hulle kinders heel gewilliglik in die kommunistiese staatskole wat vir die Christen totaal onaanvaarbaar moes wees. Besef ouers nie dat die staatskool ideologie bevorder en transformasie wat nooit 'n einde sal kry nie, nastreef? Besef hulle ook nie waarop dit eindelik afstuur nie, naamlik die totale uitwissing van die Afrikanervolk, die Christendom en die Blankedom hier aan die suidpunt van Afrika? Waarom doen Afrikanerouers dit steeds so vrywillig terwyl daar ander keuses is?
In Suid-Afrika is die rede hiervoor eenvoudig naamlik dat staatskool, kerklike lewe en gemeenskapslewe vir baie dekades in die 20ste eeu ‘n eenheid gevorm het. Maar hierdie eenheid is lank reeds verskeur. Dit maak onderwys ondergeskik aan die kommuniste se humanistiese gelykheidsbeskouings.
UIT DIE 2e VRYHEIDS- OORLOG
Lees reeks by Uit die Tweede Vryheidsoorlog
Die Huisgenoot het in die vroeë dertigerjare, onder J.M.H. (Markus) Viljoen as redakteur, stukke oor die Tweede Vryheidsoorlog geplaas. Die Huisgenoot kon meehelp om die volk weer met moed en idealisme te besiel, het Vijoen besluit. Hy was van mening dat daar net een middel was: “Ek moes die volk voortdurend herinner aan die mees heroiëse tydperke in sy geskiedenis”.
Die eerste algemene artikels het soveel belangstelling onder lesers in alle kringe gewek dat Die Huisgenoot op 18 September 1936 ’n wedstryd vir oorlogsveterane uitgeskryf het om die belangstelling in die oorlog daadwerklik aan te moedig.
Die Huisgenoot het ’n groot aantal bydraes ontvang en het op 22 Januarie 1937 geskryf dat die heldedade wat aan die lig gekom het, die blad “andermaal onder die diepe indruk gebring” het van die “bykans ongelooflike dapperheid” van die burgers in die ongelyke stryd teen Engeland.
Een van die verhale waar die betrokke persoon self aan die woord was, is die bekende digter Jan FE Celliers.
WARE KWINKSLAE (11)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Jan Hendrik Scholtz, 'n Penkop op kommando:
Die burgers het elke dag iets gekry om oor te lag, selfs in die loopgrawe.
Elke dag het hulle die Kakies by Modderrivier-stasie sien dril. Sommige het goeie verkykers gehad en om die beurt die drillery betrag.
Dit het egter ook nie die jong Boere belet om vyfhonderd tot seshonderd tree in daardie rigting te gaan bessies pluk nie. Eendag het 'n sekere jong man wat ons maar liewer B sal noem, saamgegaan. Hy het egter langs die pad gaan sit en van die geleentheid gebruik gemaak om sy broek te lap. Skielik was daar 'n bom, hoog in die lug op pad na hulle toe. Die jong klomp het hulle byna boeglam geskrik en het dadelik rieme begin neerlê. B natuurlik ook. Toe hulle naby die veiligheid van die loopgrawe gekom het, het die paniek ook begin afneem en een van sy meer oplettende makkers het skielik gevra: "Haai, waar's jou broek, man?"
Ewe verleë moes B in sy spore omdraai en sy broek gaan haal! Daardie aand het die burgers nog tot laat oor B se verleentheid gelag. *
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (12)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Opdragte aan die offisiere
Die opdragte was so duidelik en omvattend dat lt. Evans ‘n paar van hulle hier kan weergee, want hulle toon maar te duidelik hoe Scott se organisasie die werk van die skip, die basis, die westelike geselskap, die hondespanne, en selfs die reëlings vir Campbell se geselskap ingesluit het.
Opdragte aan bevelvoerende Offisier,
Terra Nova.
Oktober 1911
In Maart het die ekspedisie ’n aansienlike aantal ponies verloor, maar genoeg het oorgebly om die suidelike plan, onder gunstige omstandighede, uit te voer.
Hierdie verlies en die ervaring met die oorblywende diere het my laat besluit om die reis na die suide later te laat begin as wat die oorspronklike plan was.
(Tans is gereël dat die geselskap na die suide aan die einde van hierdie maand (Oktober) vertrek, en volgens skatting, mits alles goed gaan, is 15 Maart die vroegste datum waarop die geselskap wat die verste gevorder het, na McMurdo-see-engte kan terugkeer. )
DIS WAT NÁ DIE GROOT AARDBEWING OP ONS WAG...
Jeanette Koekemoer
" 'Dit is nie 'n kwessie van óf 'n groot aardbewing van 7 en meer Suid-Afrika gaan tref nie, maar 'n kwessie van wanneer' – Dr Chris Hartnady, aardwetenskaplike."
Na aanleiding van die aardbewing gister, Dinsdag 5 Augustus, hier in die middel van ons land, in die middel van die dag, het dit weer tyd geword om te besin oor wat ons ter voorbereiding van nog groter rampe behoort te doen. Diegene wat gister nie direk getref is en nie hulle besittings en selfs 'n lewe verloor het nie, moet gaan sit en beplan oor wat hulle te doen staan wanneer die volgende skudding gaan plaasvind. Want na alle waarskynlikheid sal die volgende aardskudding groter as die vorige wees – so het die afgelope jare bewys.
Sedert 2010 is daar reeds ernstige waarskuwings hieroor deur aardwetenskaplikes soos dr Chris Hartnady uitgereik. Dat dit nie deur die media aan die groot klok gehang word nie is moontlik te begryp in die lig van paniek, maar die erns van die saak behoort ook op die publiek se hart gedruk te word. Alleen met kennis is dit moontlik om voor te berei op die ingrypende emosionele en fisiese ontwrigting van so 'n gebeure om die skok en impak te verminder.
In 2010 het dr Hartnady verduidelik hoe 'n aarbewing ontstaan wanneer die tektoniese plate van die aardkors beweeg, gly en dan teen mekaar stamp, iets wat in Afrika die afgelope jare besig is om te gebeur deurdat daar stelselmatige beweging plaasvind.
VLAE VAN SUIDER-AFRIKA (4)
Voordat die Bataafse driekleur in 1806 finaal van die Kaapse Kasteel gestryk is, was daar reeds ’n tydperk, naamlik die Eerste Britse Besetting van 1795 tot 1803, waarin daar ’n ander vlag oor die suidpunt van Afrika gewaai het. Dit was egter as tydelik beskou en selfs in 1806 was dit nog nie heeltemal seker of die Britte die Kaap nie tog uiteindelik aan die Nederlanders sou teruggee nie. Maar soos ons weet, het dit nie gebeur nie en van daardie jaar af voer die Engelse dus die bewind hier en waai hul vlag oor die Kaapkolonie.
Nouliks dertig jaar later begin die Groot Trek en daarmee word die geskiedenis van die vlae in Suid-Afrika in twee dele verdeel. In die Boererepublieke word die ou Hollands-Afrikaanse tradisie gehandhaaf; in die Engelsbestuurde gebiede word die Unionjack in verskillende vorme gebruik. Omdat die Afrikaanse tradisie die logiese voortsetting is van wat ons reeds genoem het, sal dit eers behandel word.
Ons het al gesien dat sowel in Nederland as aan die Kaap die oorspronklike oranje-wit-en-blou aan die einde van die Hollandse bewind feitlik heeltemal deur die rooi-wit-en-blou vlag verdring is.
KINDERVERHALE (11)
CE Latsky
Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky
Net Stukkies Papier
DAAR was eenmaal in Allehabad in Indië, 'n sekere dr. Corrie wat veldprediker vir die Britse troepe daar was. Die Indiërs daar was meestal Hindoes en dr. Corrie het dit as 'n groot jammerte beskou dat daar toe geen vertaling van die Bybel in Hindoestani was nie. Hy het dus die gewoonte aangekweek om treffende versies en gesegdes en geskiedenisse uit die Bybel op stukkies los papier in daardie taal te skrywe en dit dan by sy deur aan almal uit te deel wat daar verbykom.
Mettertyd is dr. Corrie van Allehabad verplaas. Twintig jaar daarna ontvang hy 'n brief van 'n sendeling uit Allahabad met hierdie verrassende tyding. Die sendeling sê dat hy onlangs 'n Hindoe gaan besoek het wat siek daar aangekom het om die laaste dae van sy lewe tussen vriende en familie deur te bring.
LUISTER ONS?
...OF IS ONS ONGEHOORSAAM?
Hannes Ollewagen
Gen. 3:1-24
Vers 1: “MAAR die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?”
In hierdie gedeelte wat nog maar aan die begin van die Evangelie geskryf is, sien ons hoedat soveel dinge op aarde verander het, tog het soveel dinge dieselfde gebly. In vers 1 lees ons hoedat die duiwel die waarheid verdraai om ‘n leuen te vorm waardeur die mens tot twyfel gebring word in sy Skepper. Die slang begin twyfel saai by Eva en dit oorreed haar om op die einde van die dag God se verordeninge en insettinge te betwyfel en self te beproef.
Ons leef eeue later in ‘n samelewing waarin dinge daagliks verander, maar steeds gebruik die duiwel hierdie beproefde, dog suksesvolle, tegniek om die mens van God te vervreem. Die Satan gebruik selfs dwaalleraars in “kerke” om leuens vanaf die kansel te verkondig onder die dekmantel van “godsdiens” om sodoende mense van God af weg te rokkel.
WARE KWINKSLAE (10)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Uit C.A. Vieweg se Herinneringe uit die Anglo-Boereoorlog:
Met die afsaal van generaal De Wet se kommando was 'n kwartier skaars verby of die roep "Opsaal" het gekom. 'n Klompie van die skrikkerige burgers het geen tweede uitnodiging nodig gehad nie en hulle het dadelik die pad gevat. Dit het naderhand so erg geword dat ons nie meer rus gekry het nie, behalwe as die generaal self daar was. 'n Kêrel, wat maar stadig was, het egter 'n agterryer gehad met die naam Opsaal. Die stadige burger het gewoonlik opgedaag net nadat die eerste burgers al afgesaal het. Wanneer Opsaal se baas egter opgedaag het, gewoonlik sowat vyftien minute later as die ander, het hy na Opsaal begin roep sodat hy kon begin met die vuurmaak. Chaos het gevolg. Die burgers het nie geweet wat aangaan nie en het dadelik gereageer op die bevel, min wetende dat die stadige kêrel eintlik na sy agterryer op soek was. Gou het die bevel die rondte gedoen en soos dit maar met sulke dinge gaan, het dit nie net by "Opsaal" gebly nie. Dit het gou verander in "Opsaal, kêrels!" en spoedig in "Opsaal, kerels! Kakie kom!" So het dit aangegaan.
DOODSTRAF IN LYN MET SKRIF
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
Gen.9:1-7; Ex.21:22-25; Rom.13:1-7
ʼn Eerbare regering skuld sy burgers nie bloot ʼn bestaan nie, maar ʼn goeie bestaan. Om dit te verwerklik is die toepassing van die doodstraf ’n vereiste. Dis nie liefdeloos en onmenslik nie, maar in lyn met die Skrif wat dit gebied.
Die mees basiese uitspraak word in Gen.9:6 gevind:“Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak” Mense wat daarvan verskil, verskil van die Skrif. God gee immers Self die motivering vir die doodstraf, ’n motivering wat by geen ander godsdiens gevind word nie. Omdat die mens na die beeld van God geskape is, is moord ’n vergryp teen God.
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (11)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Voorbereidings en Planne vir die Somer
Terwyl die lentegeselskap vir die aanlê van opslagplekke van die hoofkwartier weg was, het Scott op 15 September ’n klein sleegeselskap bestaande uit Bowers, seeman Evans en Simpson na die weste geneem. Hulle het meer as 150 geografiese myl afgelê en het eers ’n hoeveelheid voorrade vir Griffith Taylor se aanstaande westelike somerreis na Botterpunt vervoer.
Nadat die voedsel afgelaai was, het Scott met die Ferrargletser langs na Katedraalrotse gereis en wetenskaplike werk en opmetings gedoen. Hy kon vasstel dat die Ferrargletser 32 voet in sewe maande beweeg het. Hy het toe al met die gletser langs teruggekeer en sy reis oor die see-ys voortgesit. Hy het die kus tot in die vyfmyl-diepe baai wat as Nuwe Hawe bekend is, gevolg en vandaar na die buitekant in ’n noordoostelike rigting na Kaap Bernacchi en verby Marmerpunt waar hulle die afgebreekte punt van Gletsertong op die strand gevind het.
WARE KWINKSLAE (9)
Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902
Samesteller: Elria Wessels
Lees reeks by Ware kwinkslae
Oorlogsondervindinge van Christoffel Cornelius Pienaar A119.1247.17, Renier-versameling:
Hier by Kransfontein aan die Oranjerivier het oom Willie de Swardt amper verdrink. Hy het so baie water ingekry dat toe ons hom teen die Vrystaatse wal met die kop na onder neergesit het, die water sommer ‘n straal by sy mond uitgeloop het. Maar toe hy bygekom het, was die eerste ding wat hy gevra het: "Gee tog bietjie water, asseblief!"
Oorlogsondervinding van C.J.P. Schoeman:
Hennie Kruger en Flip Minnaar het tydens 'n slag tussen Bloemfontein en Brandfort albei agter een klip gelê. Wanneer die koeël by HennieI verbygevlieg het, het hy aan Flip gestoot en gesê: "Nee, jong, lê soontoe, netnou skiet die Engelse my dood."
Wanneer die koeël weer langs Flip verbygetrek het, het hy op sy beurt weer vir Hennie weggedruk met die woorde: "Maggies, man, lê soontoe, netnou skiet hulle my dood en dan is ek vir ewig vir jou kwaad!"
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (10)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Die Lentereis om Opslagplekke aan te lê
Hoe goed ’n ekspedisie ookal toegerus is, sal die noodsaaklikheid vir besondere reëlings en aanpassings ten einde arbeidsbesparende planne te bevorder en die straal van optrede uit te brei, altyd bestaan.
Die kort herfsreise is gevolglik onderneem ten einde die toerusting te toets, sowel as om hul ervaring omtrent sleereise te laat opdoen en om voorrade tot op die Ysbank te vervoer. En noudat Wilson nog meer kennis omtrent die moeilikhede waarmee hulle te doen sou kry, ingewin het, het Evans en sy matroosmaats die opdrag ontvang om die inspannendste voorbereidings vir die sleereis na die Suidpool te tref.
BRANDER AAN N.G.KERK-MODDERMAKER
OPE BRIEF AAN PROF. NIEMANDT
(MODERATOR VAN DIE N.G. KERK VAN SUID-AFRIKA)
29 Julie 2014
Professor Niemandt,
I/S: BERIG OP VOORBLAD VAN DIE VOLKSBLAD, 28 JULIE 2014
Luidens die berig wat in die Volksblad verskyn, meen u dat die N.G. Kerk se onlangse opname in die WRK, die herstel is van ‘n geskiedkundige fout wat dié kerk 50 jaar gelede begaan het.
Ek wil u egter daarop wys dat die huidige probleem van die N.G. Kerk nie in ‘n geskiedkundige misstap gesetel is nie, maar veel eerder is hierdie probleem gesetel in ‘n sielkundige fout om te probeer om die wêreld (mense) ter wille te wees in plaas daarvan om aan God Drie-enig gehoorsaam te wees.
Nie een maal in hierdie berig word daar eers na die Almagtige God verwys nie. ‘n Mens sou immers verwag dat die “kerk” na sy leiding sal soek in sake soos hierdie. Laasgenoemde verbaas my egter nie in die minste nie, aangesien dit duidelik uit hierdie organisasie se optrede blyk dat Hy lank reeds nie meer die Leidsman, Koning en God van hierdie “kerk” is nie. Hierdie organisasie het as werktuig in Satan se hand geval om die Afrikanervolk van sy God af weg te lei!