Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Pyn is nie net sleg vir jou nie, dit laat mens baie dink oor baie aspekte van die saak, en denke gee 'n mens nuwe wysheid, en wysheid bring vrede. Verdra dus jou pyn met die wete dat daar 'n groter saak aan verbonde is.
SKUIL BY DIE ALLERHOOGSTE
Hannes Ollewagen
Psalm 91:1-16
Hierdie is seker een van die mees gerusstellende gedeeltes en beloftes in God se Woord vir elkeen van sy kinders. Hierdie pragtige beloftes sal vir elke goddelose mens bloot leë woorde wees, maar vir die kinders van God, beloftes wat ons gerusstel dat ons geen onheil hoef te vrees nie, want ons kan by God skuil.
Ons as God se kinders se geloofsgrondslag is natuurlik gesetel in ons Verlosser, Jesus Christus, deur wie ons die Ewige Lewe bekom het. In die gelese gedeelte kan ons sien hoe lief God ons wat sy kinders is het, maar sy liefde vir ons is egter op ‘n nóg duideliker manier bewys, nl. die geskenk van ewige verlossing van die bose. Dit het Hy ons geskenk deur sy Seun, Jesus Christus. Wanneer ‘n mens tot die ware besef kom van hoe groot God se liefde vir jou is en sy Verlossing uit genade aanneem, sal jy nie anders kan as om met dankbaarheid oorweldig te word nie.
GODDELIKE WAARSKUWINGS (2)
Lees reeks by Goddelike waarskuwings
Hierdie reeks handel oor visioene van verskeie persone, hoofsaaklik oor Suid-Afrika.
Hier volg nog gesigte van Kobus Strauss van Rustenburg:
9 Junie 1994
Ons bly in 'n huis of woonstel en ek sien mense buite rondstaan en beduie. Ek gaan uit en moet deur 'n ry bome aan die westekant van die pad na die tuinhekkie gaan. Ek sukkel om deur die laaste bome by die tuinhekkie te gaan, so al asof die takke my terughou. Ek kyk in die rigting waarheen die mense beduie en daar op die horison is donker onweerswolke en vyf orkane met hulle draaikolke tot teen die wolke. Een orkaan breek weg en kom na die dorp se kant toe en ek kan met die eerste rukwinde voel hoe hy met sy verwoestingswerk begin.
April 1995 - Die dood van die waarheid:
Ek is in 'n veld waar kort grassies hier om my brand. Ek is in 'n voetpaadjie en daar is rante om my. Hier by my brand slegs die kort grassies maar agter die rantjies brand groot, verwoestende vure wat ek kan hoor hoe knetter dit. Ek vlug en kom voor 'n leë huis te staan. Ek voel vasgekeer en kan nie verder vlug nie.
Augustus 1996
Ek kyk na buite en sien daar staan 'n huis op lang houtpale. Daar kom ' n wind op en die huis wieg al hoe meer op die pale totdat hy op die grond val en amper ook op die huis waarin ons bly – die huidige regering met sy swak fondasie is van die begin af verdoem maar in sy valproses gaan ons blankes seerkry, daarom dat hy amper op 'ons huis' val.
EMILY HOBHOUSE... (5)
...heldin uit die Vreemde
Rykie van Heerden
Lees reeks by Emily Hobhouse
Uncle Arthur en Aunt Mary
Hulle ondersteun Emily se gedagte aan ’n hulpfonds en Aunt Mary, prakties en verstandig, skryf dadelik aan Chamberlain, minister van koloniale sake, en aan lord Lansdowne, wat sy albei persoonlik ken, om regeringsverlof vir so ’n stap te kry. Ja, sê Chamberlain, dit klink ’n goeie gedagte. Hy raadpleeg net die Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, sir Alfred Milner, en hoor wat hy dink. Ja, laat weet ook Milner, so ’n fonds sou nogal nuttig kon wees om "ekstra geriewe” te help voorsien.
So word gestig, onafhanklik van die S.A.C.C., ’n aparte S.A. Women and Children’s Distress Fund — ’n suiwer liefdadige, nie-politieke, nie-sektariese organisasie, met die doel om vroue en kinders van Boere, Engelse en ander wat ten gevolge van die verwoesting van eiendom of ander militêre maatreëls hulpbehoewend en haweloos gelaat is, te voed, te klee en te herberg. En "sonder om hul selfrespek te na te kom", voeg Emily by met die fyngevoeligheid wat haar hele benadering tot die Boervroue sou kenmerk.
GODDELIKE WAARSKUWINGS (1)
Lees reeks by Goddelike waarskuwings
Hierdie reeks handel oor visioene van verskeie persone, hoofsaaklik oor Suid-Afrika.
As Christengelowiges leef ons in benoudende tye, veral in ons land, anders as die heidene en afgedwaaldes wat meen dat alle struikelblokke verdwyn het nadat afsonderlike rasse-ontwikkeling in die land afgeskaf is. Ons weet egter ook dat God 'n besondere plan met ons het, en ons glo dat Hy tot in die eindtyd vir Hom 'n oorblyfsel hier suid van die riviere van Kus behoue sal laat bly; 'n oorblyfsel wat wel hulle heiligheid wil handhaaf – en natuurlik 'n struikelblok en ontsteltenis vir die res van die 'wêreld is.' Die pad van die beplande Eenwêreldregering moet volgens hulle ten alle koste gestap word en enigiets wat dit verhinder moet uitgeroei word. Daarom moes 'apartheid' tot sonde verklaar word en moet die Christendom, die behoudende faktor hier aan die suidpunt van Afrika, met alle mag uitgewis word.
Die Bybel is vol uitsprake oor die liefde en trou van God vir sy kinders. Nogtans ontken hulle sy liefde en het ontrou aan Hom geword. Die Christendom verkondig vandag kliphard saam met die goddeloses dat "omstandighede verander het, dat God niks meer te doen wil hê met 'n apartheidstelsel in Suid-Afrika nie". Eendag sal ons met groot skaamte staan oor hoe goddeloos hierdie redenasie was!
EMILY HOBHOUSE... (4)
...heldin uit die Vreemde
Rykie van Heerden
Lees reeks by Emily Hobhouse
Skaars het Emily haar voete in Londen gesit of sy is knie-diep in die gistinge en roeringe wat in verband met ’n moontlike oorlog in Suid-Afrika in die Britse hoofstad prut en kook.
Eenkant is daar die oorgrote meerderheid, opgesweep deur invloedryke koerante, wat luidrugtig sa! skree en net wil hê Engeland moet die Boererepublieke annekseer. Daar is baie praatjies oor die regte van die Uitlanders in Transvaal vir wie Brittanje dan in die bresse moet tree, maar dis net ’n ekskuus: die politici aan bewind wil die land met sy goud vir die Empire inpalm - soveel van die wêreld as wat hulle in die hande kan kry, wil hulle konsolideer in die magtige Britse Ryk. En hulle is so oortuig van hul meerderwaardigheid dat hulle hul verbeel die "lesser breeds” van ander lande kan maar te dankbaar wees vir die voorreg om deel van die groot ryk uit te maak.
Maar daar is Engelse wat anders voel. Hulle sê dis skandelik vir ’n magtige ryk om klein landjies se vryheid te wil afvat net om homself ryker te maak.
HEILIGE WATERS
Ds AE van den Berg
“Verder het hy nog ’n duisend gemeet – ’n stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys – waters om in te swem, ’n stroom waar ’n mens nie deur kan loop nie” Eseg.47:5.
Water kan gevaarlik wees, veral as dit ’n sterk stroom is. Jare gelede het ’n jong meisie (Le Roux) by die Augrabiese waterval gegly en is deur die stroom meegesleur. Haar lyk is nooit gevind nie. Ja, daar is water wat ons liefs vermy! Een stuk water wat ons egter nie moet vermy nie is God se heilige water waarin ons onsself moet werp om soos drenkelinge meegesleur te word!
God se heilige water vloei deur die wêreld en bring nuwe lewe vir almal wat daarin swem. God wil hê dat ons induik en die wal van ’n saai geloofslewe verlaat en in die diep waters van geestelike verdieping vir Jesus lewe. Om dit te illustreer het God aan Esegiël ’n gesig van ’n heilige stroom water gegee:
EMILY HOBHOUSE... (3)
...heldin uit die Vreemde
Rykie van Heerden
Lees reeks by Emily Hobhouse
Lank was sy, aan die skraal kant, mooi, met die fier, regop Hobhouse-houding (vertel almal wat Emily geken het) met waterpas en baie blou oë en lang, ligte hare, wat sy agtertoe weggekam het maar waarvan sy die krullerigheid nooit heeltemal kon klop nie sodat sliertjies soms sagweg by die ore losgekom en jonk en vroulik haar gesig omraam het.
Gesag lees ’n mens in die karaktervolle foto van haar geneem tydens haar vader se sterfjaar. Maar die oë is eensaam. Die lippe sluit ferm. Moed sien jy in daardie mond; lewensblyheid nie.
Wat nou vir haar? Eindelik was sy vry. Maar waarnatoe? Sy was vier en dertig jaar oud, amper vyf en dertig. En as tipiese vrou van haar tyd en stand, omtrent heeltemal sonder formele opleiding. Vir meisies van vandag wat klas vir klas saam met seuns skoolgaan, saam met hulle die universiteit besoek en vir wie omtrent elke loopbaan onder die son teenswoordig ooplê, is dit amper onmoontlik om te besef hoe gekniehalter ’n meisie van die Victoriaanse tydperk was.
KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
MOF SE FLOUTE
Frik du Preez, Mof Myburgh en Piet Uys was 'n onmoontlike trio en natuurlik uithaler Springbokrugbyspelers.
Ná 'n belangrike wedstryd op Nuweland teen die Westelike Provinsie vertrek die span die volgende oggend onder bestuurderskap van prof Daan Swiegers huiswaarts.
Die vliegtuig se wiele het skaars die grond verlaat toe die grote Mof Myburg flou neerslaan vanaf sy vliegtuigsitplek. Chaos en ontsteltenis ontstaan en Frik vlie op en skreeu vir die lugwaardin:
"Bring ys, gou-gou, dis ernstig!"
Haastig maak die lugwaardig haar gordel los en in 'n ommesientjie is sy met die bak ys by ou Mof. Toe sy die bak neersit, haal Frik 'n bottel whiskey uit, Piet Uys die glase, en skielik is Mof op en wakker!
Dit was voorwaar flink bediening aan drie dorstige manne...
KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
VERSIGTIG TRAP!
Die Engelspratery het maar altyd in die 'warm' oomblikke van rugby 'n kleitrappery gebly. As 'n man se humeur ontvalm het hy nie nog tyd om die regte woorde te soek nie. Daan Swiegers vertel dat hy en Kaspaas van Schalwyk by geleentheid vir die Maties teen die Ikeys tydens intervarsity gespeel het. In 'n woeste losskrum beland Kaspaas op die grond met 'n spul Ikeys al trappende bo-op hom. Benoud skreeu hy op die Ikeys:
"Don't tramp on my breast!"
CHRISTELIKE LEWENSWANDEL
Hannes Ollewagen
Efesiërs 4:17-32
God het ons uit genade vrygekoop van die slawerny van sonde, daarom moet ons nie langer diensknegte van sonde wees nie, want die prys wat betaal is vir ons vryheid was ongelooflik duur.
Ons, as God se kinders, is vrygekoop van die sonde. Dit bring egter die verantwoordelikheid mee dat ons lewens moet getuig van mense wat vrygekoop is van die sonde, maar ook die verantwoordelikheid om te stry daarteen om nie weer deur sonde verkneg te word nie. Hierdie is die rede waarom ons gemaan word om daarna te streef om ‘n heilige lewe te lei, aangesien die duiwel uitgeslape is en stadig maar seker klein dingetjies in ons lewens gebruik om ons van voor af te verkneg. Die satan sal bv. ‘n slegte gewoonte van jou vir homself omskep in ‘n geleentheid wat kan lei tot verslawing en wat dan in ‘n reuse stryd kan ontaard vir enige gelowige om weer daarvan ontslae te raak. Dit is waarom Paulus ons maan in die gelese gedeelte om vir die duiwel geen plek te gee in ons lewens nie.
EMILY HOBHOUSE... (2)
...heldin uit die Vreemde
Rykie van Heerden
Lees reeks by Emily Hobhouse
Honderd jaar ná Emily se geboorte kon ’n mens nog in sy donker huisie met die oop vuurherd op St. Ive ou Tom Barrett raakloop, ’n reus van ’n ou strooikop-Cornishman met ’n groot twak-bruin snor en ’n baie-blou blou oog onder ruie blonde wenkbroue. Hy is ’n afgetrede konstabel wat vir Miss Emily en haar familie geken het of hy hulle gemaak het. Sy oudste suster was wasvrou daar by die pastorie. Selfs op agt-en-tagtig jaar het die galante ou rakker nog iets van die sjarme wat daardie broer John van hom moet gehad het oor wie die hoë Miss Emily self eentyd glo erg was - al was hy maar ’n mynwerker en boonop jare jonger as sy.
As die predikant weg is wat die besoekers uit Suid-Afrika na hom gebring het, vat ou Tom hulle eenkant tuin toe na sy stookketeltjie. Hy tap vir hom en vir elke besoeker ’n bekwame dop, en as hy ’n slukkie weg het, raak sy tong los.
"The trouble with Miss Emily,” sê hy vir hulle onder daardie woeste wenkbroue deur, "the trouble with Miss Emily: she went and nursed, not like that lady Nightingale, our wounded soldiers, she went and tend’ the blinkin’ Boers! And that was that! ” snuif hy ergerlik en slaan op die knie van sy verbleikte blou broek.
KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
'N VRIENDELIKE VERSOEK
Prof Daan Swiegers se betrokkenheid by Noord-Transvaalse en Suid-Afrikaanse rugby het hom periodiek die skyf van menige kritikus se aanvalle gemaak. So het dit dikwels met keurders van sportsoorte gegaan.
Ná afloop van 'n westryd waarin Noord-Transvaal die middag op Loftus Versveld baie swak vertoon het, lui die telefoon in Daan se huis.
"Swiegers hier," antwoord Daan.
"Is dit professor Swiegers van die rugby?" vra die man aan die ander kant.
"Ja", sê Daan.
"Professor, wil nie jy Noord-Transvaal se rugby 'n vreeslik groot guns doen nie?"
"Meneer, ja natuurlik sal ek Noord-Transvaal se rugby enige guns wil bewys. Wat reken u is die guns ek die Bloues kan bewys?"
"Professor, voertsek uit Pretoria!"
En kaplaks smyt die 'adviseur' die foon neer.
EMILY HOBHOUSE... (1)
...heldin uit die Vreemde
Rykie van Heerden
Lees reeks by Emily Hobhouse
Op Woensdagoggend 27 Oktober 1926, halfnege die oggend al, is die bekende ou Tweetoringkerk van Bloemfontein prop-, stamp-, hoek tot kant vol. Voor in die kerk, op ’n baar oorgetrek met ’n diep pers fluweelkleed met ’n silwer rand, staan ’n klein vierkantige kissie van donker eikehout op ’n pers fluweelkussing..
Dit bevat die as van ’n Engelse vrou wat vier maande tevore in Londen oorlede is en omdat sy op ’n besondere manier hier hoort, nou duisende myle ver van haar eie mense in Suid-Afrika begrawe word. En van oor die hele land kom mense om hierdie herbegrafnis by te woon. Die Vrystaatse vroue onder leiding van mev. pres. Steyn reël dit.
As? Vir daardie dae is dit nog iets vreemds. Mej. Maynie Fleck, sekretaresse van die herbegrafniskomitee, het, toe dit aankom, die kissie geskud. "Klink nes gruis,” het sy verwonderd gesê.
2e GROOT TREK (7)
...EN DIE TERUGTREK VAN DIE GROOT TREK
AHM Victor
Lees reeks by ...en die terugtrek van die Groot Trek
WÊRELDHOF SE UITSPRAAK HET GEEN WAARDE
SUIDWES-AFRIKA
" Sou ons politici dan nie baie deeglik besef het dat deur met die VVO te onderhandel, met Satan sélf onderhandel word nie? Andermaal is dit weer 'n geval waar 'n korrupte stelsel jou verhinder om aan die leiding van gesonde verstand gehoor te gee. Jy voer maar net die voorskrifte uit van die internasionale geldmagte wat oor die rykdomme van jou land heerskappy voer... Suid-Afrika produseer driekwart van die wêreld se goud ('n kommiditeit waarsonder olieproduksie onmoontlik behoort te wees) maar die Goudbeurs setel in Londen, nie in Johannesburg nie!"
Toe die Nasionale Party met 'n skrale meerderheid ná 1948 se verkiesing regeer, is Suidwes-Afrika (SWA) spoedig betrek om nog 'n kwota parlementariërs vir die NP te lewer. Hierdie manne uit Suidwes het ook handig te pas gekom toe die referendum oor die "republiek" uitgeskryf is. Hulle het ook 'n deurslaggewende bydrae tot "republiekwording" gelewer.
Hierdie land, ryk aan minderale, koper en diameante, was sedert die ontstaan van die Sionistiese VVO 'n twisappel. Uiteindelik het die Wêreldhof beslis dat Suid-Afrika onbetwisbaar alleenreg oor die administrasie van SWA het. Toe 'n groep uit die VVO in 'n stadium nog dink hulle kom nogtans inmeng, het die Regering van dr Verwoerd hulle vliegtuig netjies onderskep en gedwing om in Botswana te land. "Hande af!", was die duidelike boodskap.
KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
UIT DIE MOND VAN DIE SUIGELING...
Die destydse Eerste Minister John Vorster is by geleentheid deur 'n seuntjie versoek om sy handtekening sewe keer te herhaal. Vorster het nogal gewonder waarom die kind sewe handtekeninge wil hê en vra toe daaroor uit.
Die kind het onbeskroomd en eerlik geantwoord: "Oom, as ek gelukkig is, sal ek dit geruil kry vir een handtekening van Mannetjies Roux!"
KERSFEES OF NIE?
Ds AE van den Berg
“En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar”;
Is 25 Desember werklik die geboortedag van Jesus of kom dit uit die heidendom soos sommige kritici beweer? Die antwoord op beide die vrae is nee; 25 Desember is nie die werklike geboortedag van Jesus nie. Dit kom egter nie uit die heidendom nie. Wat wel waar is, is dat 25 Desember sedert die vierde eeu n.C. die Christelike kerk se feesdag is waarop Jesus se geboorte gevier word. Let wel: sy geboorte en nie sy geboortedag nie!
Koningin Elizabeth het ’n amptelike verjaarsdag met ’n nasionale fees wat nie op haar werklike verjaarsdag gevier word nie. Met Kersfees is dit pressies dieselfde; dis nie ’n geboortedag-herdenking nie, maar ’n herdenking van Jesus se geboorte – dis twee verskillende dinge.
DIE VUUROOND VAN JOU LEWE
Ds AE van den Berg
“…laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie” - Dan 3:18
Die Bybel is vol verhale van gelowiges wat in moeilike omstandighede beland en deur die ingrype van God behoue daaruit gekom het. Dis alles lesse vir die lewe. Die verhaal van Daniel se drie vriende is een van die aangrypendste; drie jongelinge wie se beproewing en onwrikbare geloof in God van hulle geestelike oorwinnaars gemaak het.
God waarborg gelowiges geen maklike lewe en ’n vrywaring van die vuuroonde van die lewe nie. “….In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Joh.16:33). In tye van beproewing vra ons dikwels: Ek is dan God se kind, waarom gebeur sulke dinge met my? Geloof in Christus is nie ’n ongeluk-vrywaringspolis nie. Paulus het sy lewe lank ’n doring in die vlees gehad wat God nie verwyder het nie!
God beloon ’n skoon en rein lewe nie met ’n sorgelose bestaan nie.
ANC “STRUGGLE” NOU TEEN IMPERIALISTE
Dr PE vd Dussen
Die hoof van ‘n skool in Boksburg word aangekla van diskriminasie teen die swart leerlinge wat hulle eie swart tale gedurende skoolure praat. Dit het gebeur nadat sy ‘n brief aan die ouers geskryf het om toe te sien dat die kinders vandat hulle op die skoolterrein arriveer tot huistoegaantyd, slegs Engels sal praat. Haar motivering hiervoor is glo om die swart leerlinge te help om Engels beter magtig te word. Die ouers het egter hierdie saak na die Menseregte Kommissie geneem. Kyk gerus na die video by hierdie skakel.www.eNCA.com: Boksburg principal says no more black languages.
Dit laat mens terugdink aan ‘n eeu terug toe Afrikanerkinders nie Engels kon en wou praat nie en verplig is om ‘n bordjie om die nek te dra waarop staan I Am a Donkey. Met die digter C P Hoogenhout van destyds kan ons vandag weer sê: Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor! In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor! Afrikaans het die aanslag oorleef en sal dit blý oorleef.
ANC SKOLE: HOE OM TE VERKRAG
Mediaverklaring
Eksamenvraag in drama is satanies
Herstigte Nasionale Party
Die verpligte vraag waarin matrikulante in die drama-eksamen moes beskryf hoe hulle ’n verkragtingsdaad sou laat uitvoer om die aakligheid aan die gehoor oor te dra, is skokkend en onaanvaarbaar.
Die vraag was verpligtend en kinders wat sou weier om dit te beantwoord, het die risiko geloop om nie hulle eksamen te slaag nie.
Om kinders in ‘n eksamen te dwing om sulke banale voorstellings te maak, is satanies. Dit bevestig andermaal die totale onbevoegdheid van die ANC se onderwysdepartement om betrokke te wees by die opvoeding van die Afrikanervolk se kinders.
Dit beklemtoon die noodsaak van ’n eie onderwysdepartement vir die Afrikanervolk waar ons kinders deur ons eie mense volgens ons waardes en opvattings in die Christelik- Nasionale lewensbeskouing opgevoed en onderrig kan word.
KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
ORTOPEDIESE UITDAGING
'n Groot voorspeler van Noord-Transvaal word beseer in 'n harde wedstryd. Hy word dadelik hospitaaltoe geneem met sy ontwrigte skouer. Die medikus besluit om die bo-arm sonder narkosetoediening terug te druk in die skouerpotjie – 'n pynlike prosedure natuurlik!
Terwyl die dokter hiermee besig is, kla die voorspeler steen en been van die pyn. Toe die dokter begin moeg word van die klaery, sê hy:
"Man, jy is so 'n groot, fris man en jy kla so aanhoudend. Hou tog bietjie uit! Hier langsaan in die kamer het 'n vrou 'n paar minute gelede die lewe geskenk aan 'n babaseun, en jy het haar nie eers gehoor nie!"
Die voorspeler vererg hom en sê: " Probeer hom terugsit, dan kyk ons weer!"