Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons lewens is wat ons gedagtes daarvan maak. Die dinge waaraan ons dink, bepaal ons persoonlikheid. Dit maak dat ons lewe die kleur van ons gedagtes aanneem. Daarom is dit moontlik om ons lewe te verander deur ons gedagtes te verander. Gedagtes kan die hemel in hel verander of van ons hel ‘n hemel maak. Daarom moet ons altyd positief dink en sê: “Wat ek nie kan wegdink nie, gaan ek reg dink!”
BROKKIES UIT DIE BOEK: DARIUS PRINS – STAATSVYAND (6)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die grootste vyand van die georganiseerde staat is onafhanklike denke.
Daar is min ander geleentheid as wanneer ‘n mens so diep in jou gedagtes kan insak wanneer jy ver ry. Darius hou die pad dop, wat nou in lang ente verlate is, behalwe vir die voertuie agter hom, natuurlik. Hy sal onwillekeurig kort-kort na die meters kyk – die oliedruk, hitte, ammeter, spoed en so af en toe na die toere of rewolusies. Daar is genoeg om te doen sodat jy nie aan die slaap raak nie, maar min genoeg dat jou gedagtes die loop kan neem.
Die wind se gesuis is nie onaangenaam nie, maar maak dat gesprekke met Robyn moeilik raak. Wanneer dit absoluut nodig is, sal hulle hard praat en dan net om iets te vra of antwoord. Na ‘n halfuur is dit makliker om eerder met jou eie gedagtes besig te wees.
Darius dink aan wat hy van die vrou weet. Natuurlik dat haar man, Reiner, oorlede is en dat hy haar alles probeer leer het voor sy dood om op haar eie te oorleef: Waar die kragskakelaars is, die bankrekeninge en die wagwoorde, die boorgatpomp, waar dit aan en af geskakel moet word, hoe lank dit kan loop, veiligheid, die sleutels van die brandkluise, die hoeveelheid kos, drinkgoed, en ammunisie. Waar die veiligste plek in die huis is, hoe om te rantsoeneer... Hy weet ook dat sy in die verlede haarself beskerm het en inderdaad meer as haar kant gebring het toe daar geskiet moes word.
“Robyn, het jy werklik op die huis se dak geklim en met die haelgeweer die rowers geskiet?”
“Ek het!”, roep sy teen die wind terug.
Dit lyk asof sy ontsteld oor die bekentenis is en nie of sy daaroor spog nie. Dis net ‘n feit.
Na ’n vlugtige blik op die meters, kyk Darius weer vorentoe. Dis nie nodig om af te rat wanneer daar ‘n opdraand is of wanneer hy moet versnel nie. Heerlik!
Waar was hy? Ja, nugtere denke is iets wat die regerings van hierdie wêreld probeer vermy. ‘n Paar jaar gelede was daar gepraat, op heel afkeurende en smalende wyse van die “clever blacks”. Dit was gemik op die meer intellektuele swart mense, wat vrae begin vra het. Einstein, as hy reg onthou, het gesê vrae is belangriker as antwoorde. Jy kan immers nie antwoorde verwag voordat jy die regte vrae gevra het nie.
Darius onthou dat sy ma dikwels gesê het sy byname is “hoekom” en “kan ek?” Hy wou altyd weet waarom dinge gebeur, waarom dit so gedoen moet word en nie anders nie. Aan die ander kant het sy, indien dit so genoem kan word, skeppingsdrang daarin gelê dat hy van alles wat hy kon kry, iets wou maak. Wat ‘n vryheid het hy nie ervaar toe hy vir die eerste keer kon leer sweis nie! Waar ander mense ‘n wrak sien, sien hy ‘n toekoms. Miskien is dit een van die redes waarom hy nie kon inpas nie.
Selfs in die weermag, waar die korporaals onmiddellike en absolute gehoorsaamheid geëis het, was dit vir hom soms ‘n bietjie verregaande.
So, waarom sit ons waar ons nou is? Hy stem met alles saam wat Arno die afgelope tyd verhaal het, en hy kan sien hoe die kolletjies verbind word om ‘n prentjie te vorm, maar die prent is nog nie volledig nie.
Daar is verskillende maniere om die mensdom (soms met klem op die “dom”) onder jou duim te hou en die belangrikste is om hulle te keer om vrae te vra en wanneer hulle vrae vra, hulle intellektueel te verneder. Een manier is om hulle aandag bloot af te trek. Die ou Romeine het dit gedoen deur brood en sirkusse. Hulle het vermaak verskaf en gedurende die skouspel letterlik brood uitgedeel, genoeg vir die mense om huis toe te neem. Aan die begin van die 1990’s is geld en internasionale sport aan die blankes belowe, hulle eie sirkus en brood. Dit is die groot rede waarom hy wat Darius is, nog nooit weer sport gekyk het op TV nie. Wanneer iemand sien sy span doen goed in die rugbybekers, is sy aandag van sy ellende afgetrek en natuurlik ook van die mense wat dit veroorsaak het.
Die ander metode is waninformasie en disinformasie, wat nie dieselfde is nie. Die een is bloot die skeeftrek van feite en die ander is uitbundige liegstories. Mense glo eers met hulle emosies en daarna met hulle verstande, in die meeste gevalle omdat hulle te lui is om te dink.
Voeg hierby ontkenning. Baie min mense sal verder vorentoe kyk as net die naweek se braai en volgende maand se salaristjek. Solank sy orde nie versteur word nie, wil hy en sy eenvoudig nie weet van probleme op of oor die horison nie. Dis baie moeilik om mense te oortuig dat hulle ‘n bietjie eenkant moet staan en objektief na gebeure kyk. Neem maar in gedagte hoe diegene wat dertig jaar gelede na die feite gekyk het, dit gemeet het aan die geskiedenis en bloot gesê het: “Dit gaan nie werk nie.” Hulle is afgemaak as agter die bult, onintelligent en laastens, die troefkaart wat alles troef, hulle is rassisties. Nie een van hierdie faktore het ‘n rol by Darius gespeel nie. Dis nie asof hy aspris rebels is of homself eenkant voel nie, dit is nou maar net hoe dit werk.
Die derde element is te véél inligting. Deesdae, met die internet, wat nie net Google, Chrome, Wikipedia, Youtube, AI en ChatGPT insluit nie, maar ook selfs toegang tot meer geslote webwerwe inhou, word mense so deur ‘n oormaat informasie gegooi, dat dit nie net verwarrend is nie, maar in meeste gevalle die normale mens distansieer van rasionaliteit.
Waarom is daar soveel teenstand teen Kleinfontein en Orania? Want dis wit en dit werk, soos ‘n Disprin. Darius was nog nooit by enigeen van die twee plekke nie, maar die video’s en foto’s wat hy daarvan gesien het, laat die indruk dat die plekke skoon, netjies, veilig, onafhanklik en behoorlik is. Al rede waaraan hy kan dink is dat dit ‘n spieël is wat opgehou word vir die regering om te kan sien hoe die land kon wees onder blanke bestuur. In plaas van die res van die land te probeer ophef tot op hierdie standaarde is dit makliker om die spieël te breek.
Wat van die Wes-Kaap, waar die DA die kitaar slaan? Ja, daar is groot gedeeltes waar dinge behoorlik verloop, daar is water en elektrisiteit met behoorlik-funksionerende munisipaliteite, maar die Kaapse Vlakte, Mitchellsplein, Bishop Lavis en ander buurte waar geweld, misdaad, verval, bendes en maatskaplike verval aan die orde van die dag is, maak dat daar krake en vuil kolle op die spieël wys.
Die mees gemene manier om mense se nugtere denke te onderdruk is deur intellek, of die verwysing daarna te kaap. Iemand met ‘n effens bogemiddelde IK word oor die algemeen beïndruk deur kwasi-intellektueles. Dis die linkse meningsvormers, wat geborg deur eksterne individue, maak asof hulle die denkwyses onder beheer het. Hulle kom ook voor as die meer gekunstelde, verfynde en hoër deel van die samelewing en hulle voer diegene wat dit graag wil wees, saam in die proses.
As jy nie met Max, Carl, of Piet Kopdoek saamstem nie, is jy dom. Nie ‘n beter of ligter woord nie. Jy is dom. Punt.
Na die aanvanklike skok en verwoestende impak wat die val van die regering meegebring het, was die reaksie natuurlik ooglopende paniek. Skielik is niks meer wat die land se mense aan gewoond is nie. Ja, almal het gepraat van die uitwerking wat die verval van stelsels gaan hê, sommige het gewaarsku, ander het vermaan, en ander het bloot gesê wie nie hoor nie moet voel. Tog was die gevolge onder die grootste persentasie van die mense skokkend.
Paniek is in alle opsigte skadelik. Dit ontneem jou tydelik van enige nugtere denke en behoorlike optrede. Natuurlik reageer nie alle mense dieselfde onder sulke omstandighede nie. Weereens is die eerste reaksie dié van vlug of veg en om op te hou dink. Daar is wel sommige mense wat deur die omstandighede kan dink en maak ingeligte en rasionele besluite, maar dis onbeduidend min.
Ja, die handjievol mense wat dit as onvermydelik gesien kom het, het voorbereidings getref. Kos is opgegaar, in soverre as wat mense dit kon bekostig, daar is voorsiening gemaak vir water, veiligheid en beskerming, maar min mense het verder as dit gedink, wat betref mediese voorsorg, en die natuurrampe wat dikwels deel van die hele pakket inhou. En die ergste is dat dit onbepaald is – niemand weet hoe lank dit gaan aanhou nie.
Diegene wat ingebly het, is nie almal voorberei vir ‘n langdurige beleg nie, en diegene wat voorberei het vir vlug het nie heeltemal voorsien waarheen nie of vir die gevaar op pad nie.
Na die uiterse paniek het woede gevolg. Iemand moes die skuld kry en dit was nie jy self nie. Ja, die regering het dit uiteindelik veroorsaak deur swak en roekelose besluite te neem, maar hulle is nie alleen verantwoordelik nie. Iemand moes hulle uiteraard verkies en aangestel het.
Weereens kom ons uit by ‘n gebrek aan deurdagtheid. Die regerings het nog altyd staatgemaak op burgerlike gehoorsaamheid. Die kerke het die gedeeltes in die Bybel wat dit vermaan, skeefgetrek en so aan die gemeente verkondig. Iemand dink altyd namens jou en as dit die regering is, dan moet jy daarby inpas, want die Here stel konings aan en Hy haal hulle af. Paulus, Jakobus en Petrus sê jy moet vir die owerhede bid en hulle gehoorsaam. Dit maak nie saak of hulle onmenslik optree nie, dis vir jou eie beswil. En dit is heel onbelangrik of die regering deur iemand buite die landsgrense voorgeskryf word.
In Suid-Afrika maak die regering staat daarop dat die gemiddelde IK plus minus 60 is, wat natuurlik inhou dat helfte van die mense se IK baie laer is. Dit beteken dat jy nie die oorgrote meerderheid met feite en logika hoef te oortuig nie; al wat jy moet doen is om hulle basiese drange aan te wakker, na hulle emosies te spreek en hier en daar ‘n handvol pitte moet uitdeel en daarna dink niemand meer nie. En natuurlik drome in hulle onderbewuste te plant, reg langsaan vrees.
Mense sal enige ellende verduur, solank as wat hulle kan droom en as die gesin uit hulle sink en plastiek kaya die verbrokkelde, modderige, riooldeurdrenkte pad inloop om te kyk na die duur, luukse motors wat deel van die elite se kavalkade uitmaak, sien hulle nie meer hulle armoedigheid raak nie, maar eerder dat hierdie elite-leefstyl ook hulle s’n kan wees. Wanneer hierdie droom verpletter word, gaan dit oorwegend oor in woede. Nie woede teenoor die mense wat die ydele droom aan hulle verkoop het nie, maar na hulle wat dit nie laat verwesenlik nie en dit is in die rigting waarheen die regering se vingers wys: Blanke Monopolie Kapitaal. En hoe is die droom verkoop? Deur die televisiekanale, musiekafgode, sogenaamde “celebrities” en natuurlik deur die politici se manipulering.
Paniek het veroorsaak dat die immigrante aanvanklik die land begin verlaat. Daarna het van die burgers gevolg. Uiteindelik het die stoom dunner en vlakker geword en mense het begin nesskop. Ongelukkig moet die kuikens gevoer word en as daar nie meer kos is nie, moet diegene geteiken word wat dalk kan hê.
Mettertyd maak ongeorganiseerde chaos plek vir meer georganiseerde chaos. Alhoewel dit as oksimoron voorkom, gebeur dit wel. Daar is nog geen vaste struktuur nie, maar mense begin saamkom om ‘n groep te vorm waar hulle gemeenskaplike belange en behoeftes deel, maar steeds is daar nie ‘n vaste regering nie. Soort soek soort en diegene wat meer geneig is tot geweld, sal by ander geweldenare tuishoort. En wie nie assimileer nie, word uit die weg geruim. Veiligheid is slegs binne die grense van die groep en wanneer jy dit verlaat is jy voëlvry.
Darius se gedagtegang word onderbreek as hy rook voor in die pad sien. Hy verminder snelheid, maar sonder om uit te klim, maak hy die knip los wat die windskerm regop hou. Robyn sien wat hy doen en doen dieselfde aan haar kant. Met die windskerm plat, kan hulle ongehinderd skiet en natuurlik raakgeskiet word.
Uit die hoek van sy oog sien hy dat Robyn haar rewolwer uit die holster haal en die rondtes in die rol nagaan. Sodra sy klaar is, plaas sy die wapen terug aan haar sy, vat haar Mossberg 12 boor haelgeweer, voel of die magasyn onder die loop vol is, span die aksie en druk ‘n rondte in die magasyn, waaruit die gelaaide een gekom het. Sy sit effens agteroor, laat haar voete op die bokant van die paneelbord rus en stoot die loop tussen haar voete deur tot oor die enjinkap.