Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie. U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie! - Klaagliedere 3:56-57
BROKKIES UIT DIE BOEK: DARIUS PRINS – STAATSVYAND (7)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Cry havoc and release the dogs of war!” In die toneelspel: “Julius Caesar” (William Shakespeare) roep Julius hierdie opdrag uit. “Cry havoc” was ‘n militêre bevel waardeur soldate toegelaat word om te buit en te verniel, en die “dogs of war” is ‘n metafoor vir soldate, wapens en dui op die brutaliteit van konflik.
Aan die einde van meer as dertig jaar van ANC-regering staan die slagordes opgestel. Die afgelope jaar of twee het dinge vir die regerende party baie akuut geword, met interne struwelinge, ‘n lafhartige president en ‘n aantal moontlike opvolgers wat soos Oom Bartel destyds gesê het: “From badder to worserer” was.
Hulle het nie meer fondse om die November 2025 salarisrekening (meer as 10 miljoen rand per maand) te betaal nie, hulle word steeds verantwoordelik gehou vir meer as R105 miljoen se advertensiegeld, die leierskap is in krisis, lede staar sanksies vanuit die VSA, Brittanje en ander lande in Europa in die gesig, hulle word beskuldig dat hulle hulle skaar by anti-Westerse moonthede, dat Suid-Afrika ‘n geldwas-moontheid vir die finansiering van terrorisme geword het, die administrasie word allerweë beskou as ‘n misdaadsindikaat, die uitskop uit die G20 deur die VSA, en natuurlik die onthullings uit die twee kommissies en komitee na aanleiding van Genl Mnkwanazi se persverklaring op 6 Julie 2025. En dan word die verval van alles waarop hulle hulle hande die afgelope drie dekades geslaan het, nie eens genoem nie.
Intern maak die hoofde van die weermageenhede geluide wat kan dui op ‘n staatsgreep, die polisie en die juristiek se aansien lê in die afvoersloot, geld is klaar, maatskappye sluit hulle deure en alhoewel die staat dit ontken en wiskunde-gimnastiek probeer om die syfers te kook, dui alles daarop dat werkloosheid kritiese afmetings bereik.
Tog is daar ‘n verbete vasklou aan ‘n lewenskabel, wat niemand tot dusver kon voorsien nie. Maar een of ander tyd moet die hande onvermydelik moeg word en gly.
*
Nadat die SANW deur die M23 Rebelle verslaan is en moes uitwyk na Tanzanië toe, word onthul dat die VSA Skaars Aard Elemente by die DRK koop.
*
Die pad is opgebou en dus is daar aan weerskante walle, wat in Engels as “enmbankments” bekend staan. Die walle is steil en bykans sewe meter hoog. Dis die perfekte plek vir ‘n hinderlaag en wanneer Darius die Jeep tot stilstand bring, stroom mense na die teer oppervlak. Hulle lyk geoefend en dis duidelik dat hulle hierdie operasie al voorheen uitgevoer het.
Die ander voertuie is kort op Darius se hakke en wanneer die golf oor die pad beweeg, skuur hulle tot stilstand. Die eerste man is skaars vyf meter van hom af as hy die skoot trek. Die Glock 31 in .357 SIG, neem sestien rondtes in die opsionele magasyn en die sewentien wat Darius dus tot sy beskikking het, klink byna soos een lang ononderbroke sarsie, soos hy skiet, nuwe teiken soek, skiet, weer en weer, tot die sluitstuk aan die agterkant van die raam vassteek.
‘n Vrotruikende vrou met wilde oë is nou by hom en hy stamp eerder as skop haar van hom af weg, terwyl sy met een of ander skerp voorwerp aan ‘n stok vasgemaak, na hom steek en kap.
Robyn het die mense aan haar kant weggehou met die oorverdowende skote uit die haelgeweer, die leë geweer eenkant gesmyt en haar groot .44 rewolwer getrek. Die knalle uit hierdie ding is skerp en venynig op die oordromme. Die mense aan haar kant is onkant gevang en hulle val effens terug. Sy neem die oomblik om die groot vrou wat Darius weghou, ‘n skoot in die voorkop te gee. Hy gebruik die verposing om ‘n nuwe magasyn te laai.
Die Nissan, Toyota, die Porsche en Mitsubishi Pajero van Kerneels se deure is oop en die insittendes skiet eers ‘n sarsie voordat hulle op onderskeidelik die laaibak en dak van die voertuie kan klim. In die proses het een van die jonger mans ‘n lang, vlak, sny aan die bobeen gekry en alhoewel die bloed sy broekspyp deurweek, gaan hy aan met baklei.
Na elf minute wat soos ‘n ewigheid voel, val die mense terug na die veiligheid van die walle en die pad is vir die oomblik leeg. Koeëls begin rondom Darius en Robyn vlieg. Vanaf die versperring aan die voorkant, waar die bande en stukke boom brand, is ‘n hele bende, wat sekerlik die aanvallers langs die kante gebruik het, half ingegrawe en hulle skiet met vuurwapens op die konvooi karre.
Die afstand is groot, meer as vier honderd meter, en enige skote wat sal tref is heel moontlik met opset gemik, maar min mense het werklik die vermoë om teikens verder as drie honderd meter met doelgerigte vuur te tref. Daar is natuurlik altyd goed soos ongemikte vuur wat net in ‘n bepaalde rigting afgeskiet word. En die wet van gemiddeldes bepaal dat sommige sal tref. Weereens is dit die Jeep wat eerste deurloop en Darius ervaar ‘n vreemde woede daaroor dat mense nie sy goed wil respekteer nie.
Hy kniel langs die pad met die R1, neem versigtig korrel na waar ‘n man van agter ‘n stuk boom na hulle skiet. Darius kan nie mooi uitmaak watse geweer dit is nie, maar dit maak nie werklik saak nie. Die eerste skoot is laag, maar skram van die heel bokant van die stomp af op en tref die skut in die gesig.
Mya het van die pad afgehardloop, deur die skuilende oorspronklike aanvallers deur en sy hardloop na ‘n lae bult sowat sewentig meter van die pad af, waar sy oop defiliasie het na die skuts. Haar eerste skote is albei treffers en daarna kom die manne eers agter daar word op hulle geskiet. Hulle sluip nader aan die dik boomstam, hou hulle koppe laag en waag net hier en daar ‘n steelskoot na die konvooi.
Sy kan uiteraard vanwaar sy nou is, die mense sien wat teen die walle by die pad lê en skiet twee skrikmaakskote na hulle. Sy probeer nie om een van hulle te tref nie, maar hulle vat die skimp en hardloop skuil-skuil pad-af na vanwaar hulle makkers so af en toe ‘n skoot waag.
‘n Skoot wat sommer losweg afgetrek word, kan soms meer skade maak as ‘n doelgerigte een, soos Agab van ouds kan bevestig en ook so onlangs as 1976 waar Yonatan Netanyahu, broer van die Benyamin Netanyahu, deur ‘n dwaalskoot dodelik getref is, by die ontsetting van gyselaars op die lughawe Entebbe.
‘n Man staan vinnig agter die stomp op, bring sy outomatiese wapen tot so naby aan sy skouer as wat hy kan waag, maak ‘n hele magasyn op die voertuie leeg en val dan hard en beslis as een van Maya se .300 Magnum skote hom byna van sy voete af lig.
Een van die halfgemikte skote tref vir Robyn in haar linker voorarm. Die koeël vlieg vanaf naby haar gewrig tot byna ewe ver van haar elmboog en laat ‘n vlak, maar pynlike en bloeiende wond, net ‘n entjie deur die vel. Sy is bewus daarvan dat haar arm effens brand, maar steur haar nie verder daaraan nie. Sy draai eerder na Darius toe.
“Kan ons nader ry?”
Darius antwoord nie, maar maak seker sy wapens is volgelaai, gaan sit in die bestuurdersitplek en hoop die Jeep vat. Hy weet nie of daar enige kritieke onderdele getref is. nie. Die Jeep, tot sy verligting, vat met die eerste draai. Hulle ry met bestendige spoed nader, net om te hoor ‘n skoot klap weer vanwaar Maya nog lê.
Met die Jeep wat nader kom, met Maya wat dekvuur gee en met hulle opsies uiters beperk, besluit die hinderlaag-lêers om eerder te onttrek. Terwyl hulle hardloop, sal een of twee omdraai om ‘n sarsie uit die heup te skiet of sommer agtertoe oor sy skouer, maar met Maya en van die ander manne se skote wat te naby kom vir gemaklikheid, hardloop een en ander so vinnig hulle kan.
Die stomp is dik en swaar. Darius weet nie hoe die mense dit daar gekry het nie, maar dit maak nie nou saak nie. Hy wys vir die Land Cruiser om sy neus teen die een kant te druk en as die voertuig dit effens wegstoot, maar die bande daarna begin fluit op die teer, druk die swaar Nissan sy neus teen die Toyota se agterkant en met hulle gesamentlike krag en gewig, stoot hulle dit gemaklik weg.
Anderkant die versperring tref ‘n gesig hulle wat byna te erg is om te hanteer. Dis duidelik dat die hinderlaag al meer as een voertuig en gesin ingesuig het. Die mense is doodgeslaan, gekap en vermink. Meer as een liggaam is aan stukke gekap, met kop en ledemate wat duidelik met meer as een hou met ‘n stomp byl of kapmes gedoen is. ‘n Jong meisie lewe nog, maar haar maag is oopgesny en haar ingewande peul tussen haar vingers uit. Daar is niks wat hulle vir haar kan doen nie.
Of dit die omstandighede van die mense is, die verminkte jongmeisie, of die feit dat sy nou bewus geraak het van die pyn in haar voorarm, niemand weet nie, nie eens syself nie, maar Robyn klim agter die Jeep se stuur in en met skreeuende agterbande trek sy weg, so vinnig, dat niemand haar kan keer of saamgaan nie.
Na ‘n paar honderd meter haal sy die agterste voortvlugtende in, los die stuurwiel vir ‘n oomblik en skiet dan die man in sy rug op kort afstand. Net iemand wat dit al ervaar het, weet wat ‘n twaalfboor haelgeweer met SSG aan ‘n mens kan doen op minder as vyf meter.
Sonder om te huiwer of uit te swaai, ry sy oor die liggaam en oomblikke later is sy by die tweede een, wat byna dieselfde lot ervaar. Die laaste twee manne besef hulle word agtervolg en draai om, maar Robyn het nou die geweer verruil vir die rewolwer en die skote uit die Ruger Super Blackhawk is byna net so verwoestend.
Sy hou stil, trek die handrem op en met die Jeep wat nog luier, laai sy die haelgeweer en loop van liggaam na liggaam, waar sy weer en weer skiet, totdat Maya, wat besef het wat gebeur, haar vasgryp.
“Kom nou! Komaan, Robyn! Niks gaan hulle terugbring nie.”
Die ander voertuie is nou by hulle.
Robyn, jy bloei,” sê Skeermes, byna lakonies.
Bennie Holt was die enigste erge gewonde, met ‘n koeël deur die maag. Hulle maak hom so gemaklik as moontlik agter-in die Pajero, maar hy sterf ‘n uur en ‘n half later.