Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geen tyd vir God? Daar's tyd vir speel en lag, vir eet en slaap... en dood. En as jy voor God's aangesig verskyn, sal Hy vir jou nog tyd oorhê?...
Ú ONDERHOU MY LOT
Hannes Ollewagen
Ps. 16:1-11
“Die HERE is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” (:5&6).
Dawid herinner ons in hierdie gedig van hom aan ’n baie belangrike werklikheid, naamlik dat God in beheer van ons lot in die lewe is. Hierdie werklikheid word myns insiens deesdae verdof in die verstikkende stof van die humanisme wat die lewenslig van ons tyd besoedel. In die donker van humanisme sukkel mense om ’n toekoms te sien omdat hul visie van die toekoms deur hul eie beperking aan bande gelê word. Eweneens neem mense ’n swaar las van die toekoms op hul skouers wat hulle glo hulle alleen moet dra omdat hulle alleen vir hul eie toekoms verantwoordelik is.
Hulle is totaal onbekend met die uitnodiging van God in Matt. 11:28-30. “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” Ons kan as God se kinders ons lewe en toekoms veilig aan Hom toevertrou en ons daarop toespits om aan Hom diensbaar te wees eerder as om te fokus om ons eie lot en heil self te probeer bewerk.
Ons kan gerus na ’n paar voorbeelde hiervan uit God se Woord kyk. Die groot name, die helde uit die Woord van God, is nie mense wat oor besondere vaardighede of vermoëns beskik het en sodoende hul eie lot bewerk het nie. Tewens, ons lees van gewone mense wat op buitengewone wyse hul lewens met geloof aan God toevertrou het en die gevolg daarvan was dat God op merkwaardige wyse in hul lewens werksaam was. Dit was Hý wat aan hulle guns bewys het en nie hulle wat aan Hom enige guns bewys het nie.
Ek dink dadelik aan Abram as eerste voorbeeld. Ons lees in Gén. 12 van die roeping van Abram. God roep Abram om Hom in geloof te volg. Abram reageer hierop deur sy eie planne vir die toekoms te laat vaar en vertrou sy toekoms aan God toe. “EN die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, en Lot het saam met hom getrek. En Abram was vyf-en-sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran.” (Gén. 12:1-4).
Abram was dus reeds ’n ou man op hierdie stadium – vyf-en-sewentig jaar oud. En God beloof om uit hom ’n groot nasie te maak terwyl hy op daadie hoë ouderdom nog nie eens ’n kind gehad het nie. God kon mos vir Abram net sowel op vyf-en-twintigjarige ouderdom as ’n jongman reeds geroep het. Dit sou tog baie meer waarskynlik wees dat uit hom ’n groot nasie kon word op daardie tydstip. En tog wag God tot op hierdie tyd wat dit onmoontlik lyk dat dit wat God beloof sal kan gebeur voordat Hy Abram roep.
Al wat Abram hier het, is sy geloof in God se belofte en vermoë – hyself het niks om te bied om hierdie belofte van God te help verwesenlik nie. En dit is presies hoe God dit bepaal het as bewys dat Hý die een is wat Abram se lot sou bepaal.
Ons lees dan in Gén. 15 waar God weer aan Abram verskyn. Dit is nou seker nagenoeg twintig tot vyf-en-twintig jaar later en steeds het Abram geen kind nie – wat nog te sê van ’n groot nageslag. En Abram se antwoord aan God uit verse 2&3 laat dit vir ons blyk dat hy hiermee geworstel het. “NÁ hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in ’n gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ’n skild en jou loon is baie groot. Toe vra Abram: Here HERE, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is? Verder het Abram gesê: Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees. Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam voortkom, hy sal jou erfgenaam wees. Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” (Gén. 15:1-6).
Ten spyte van die tydsverloop bewys Abram steeds aan God die eer deur Hom te glo. Hy berus daarin dat sy toekoms en lot deur Hom bepaal word, ongeag sy ouderdom of watter ander omstandigheid en hoe onwaarskynlik die vervulling daarvan mag lyk.
Ons lees in Gén. 28 dan van die lewe van Jakob, een van die twee kleinseuns van Abram. Jakob vlug basies uit sy ouerhuis uit vrees dat sy broer Esau hom sal doodmaak. Ons lees in verse 20 – 22 hoedat hy ook sy lewe en die lot van sy toekoms aan God toevertrou. “En Jakob het ’n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees. En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ’n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.”
Hierdie man vra van God die mees basiese dinge in die lewe. Hy pleit vir die behoud van sy lewe tesame met kos en klere. Dit is ’n man wat niks het om te bied nie. Hy vertrou sy lewe en toekoms aan God toe en stap in geloof die lewenspad agter Hom aan. En hierdie man raak uiteindelik die vader van twaalf seuns, dogters en ook word hy met baie meer as net kos en klere geseën. In die lewe van een van sy seuns, Josef, maak God dit weer duidelik hoedat Hy die lot van sy kinders bepaal. Josef moes ’n ontsettende hoeveelheid hartseer en leed verduur a.g.v. die jaloesie en verwerping van sy broers wat hom uiteindelik aan die reisgeselskap van die Ismaeliete verkoop. En in Egipte aangekom was dit nie die einde van sy ellende nie. Hy word in Egipte nog verder in die tronk gestop omdat hy gedoen het wat reg is deur nie aan die verleiding van die Farao se vrou toe te gee nie. En die verloop van al hierdie omstandighede en eindelik die uitkoms wat aan hom geskenk is en sy verheffing was in die lotsbepalende hand van God.
Josef maak ook hierdie belydenis in Gén. 45:5-8. “Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle 'n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot 'n groot verlossing. Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my 'n raadsman van Farao gemaak en 'n gebieder oor sy hele huis en 'n regeerder in die hele Egipteland.”
Wanneer Jakob dan na Egipte aftrek, sien ons ook reeds God se beskikking van die slawerny wat op sy nageslag in Egipte sou wag. God het dit alreeds aan Abram bekend gemaak as verdere en duidelike bewys van sy absolute lotsbepalende beskikking. “Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ’n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed.” (Gén. 15:13&14). God het nie aan Abram alleen die slawerny wat op sy nageslag gewag het openbaar gemaak nie, maar ook die verlossing wat Hy sou teweegbring.
Dit bring ons weer by Moses – ’n man wat God kies om Israel eindelik uit Egipte te lei. God se keuse – ’n vlugteling uit Egipte en boonop ’n man wat swaar van tong was. ’n Mens sou uit menslike perspektief seker kon redeneer dat jy ver sou soek vir ’n swakker kandidaat vir hierdie taak. En dit bewys verder hoe min God enige bydrae van enige mens nodig het om sy raad te volbring. Hy is nie vir een oomblik teenoor ons verleë vir enigiets om sy raad ten uitvoer te bring nie. En dit geld ook vir ons eie lewens. Hy word nie aan bande gelê in die bepaling van ons lot en toekoms deur ons eie tekortkominge nie, nog minder is Hy afhanklik van ons bydraes of vermoë om die een-of-die-ander te kan verwesenlik. Die enigste aspek waardeur ons Hom aan bande kan lê, is ongeloof. “En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie.” (Matt. 13:58).
God stel dit ook vir ons op verskeie plekke in sy Woord duidelik dat Hy die een is wat ons lot verander. Luister na die woorde uit Deut. 30:3. “...dan sal die Here jou God jou lot verander en Hom oor jou ontferm; en Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen die Here jou God jou verstrooi het.” Hy verander nie alleen die lot van individue nie. Hy bevestig vir ons in Jeremia 30:2&3 dat selfs die lot van volkere deur Hom bepaal en verander word. “So spreek die Here, die God van Israel: Skryf vir jou in 'n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het;want kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander, sê die Here; en Ek sal hulle terugbring in die land wat Ek aan hulle vaders gegee het, en hulle sal dit in besit neem.” En is die woorde uit Sef. 2:7 nie so bemoedigend en bevestigend van hierdie saak nie? “...want die Here hulle God sal op hulle ag gee en hulle lot verander.”
Dit is nie alleen belangrik dat ons aan hierdie waarheid herinner word om te verseker dat ons ons hulp in die lewe van God sal verwag eerder as om op ander mense of ons eie vermoë te vertrou nie. Dit is ook nodig sodat ons hierdeur herinner kan word dat God die Een is wat ons huidige omstandighede deur sy wyse Raad bepaal. En as ons huidige omstandighede dalk meer beproewing as vreugde inhou kan ons berusting vind dat hierdie beproewinge nie sonder ’n doel is nie. Dalk is ons huidige omstandighede gevul met vreugde en baie seëninge en voorspoed en dan moet ons nie in onsself roem as die bewerker van ons eie goeie heil en lot nie maar met dankbaarheid teenoor Hom hierin ook tot sy eer leef – gedagtig aan die feit dat dit Hý is wat hierdie mooi erfenis en lot vir ons afgemeet het.