Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Man skryf in 'n koerantlesersbrief dat hy vir 30 jaar lank kerktoe gegaan het maar sy tyd gemors het aangesien hy nie eers die preke se inhoud kan onthou nie. 'n Ander leser reageer hierop met die stelling dat hy vir 30 jaar lank sy vrou se kos geëet het, nie die spesifieke spyskaarte kan onthou nie, maar weet dat dit hom al daardie jare aan die lewe gehou het...
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (16)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Vanaf Vioolsdrif tot by Kleinzee is net minder as 200 kilometer en sou onder normale omstandighede so rondom twee ure geneem het, indien hulle by die snelheidsgrens gehou het. Nou is dit egter nie normale omstandighede nie, hulle bly van die bestaande paaie af en ry presies in ‘n suid-westelike rigting, deur die Richtersveld, soos hulle raad gelui het.
Die bekoring van die semi-woestyn – sommige sou dit as werklike woestyn beskryf – dring tot elkeen deur. Hulle hou van die rustigheid, die vrede van die natuur en natuurlik is die begeerte daar om te speel in die sand, veral met die twee ligter voertuie, die veselglas Jeep en die “Jeep” van Herrie. Dit veroorsaak onvermydelik dat die swaarder voertuie, wat nog swaarder gelaai is met die ekstra brandstof, kosvoorraad en water, maklik in die sand sal ingrawe.
Elke mens wat hierdie ingrawery al beleef het, sal die gevoel ken as die enjinrewolusies dieselfde bly maar die momentum ontbreek. Gewoonlik sal die agteras die eerste begin om die sand voor die wiele in te stoot om ‘n bultjie te maak waaroor jy moet ry. Dikwels begin die voertuig onbeteueld te wip soos die bande gryp en los, totdat die voorkant ook begin wegsak. En dan sit jy. Dan is dit tyd vir stoot en grawe maar as jy in ‘n konvooi ry, om uitgesleep te word.
Natuurlik is al die voertuie se bande afgeblaas tot net so onder een Bar, en dit veroorsaak ook soms, veral om skerp draaie in die los sand, dat daar sand tussen die velling (rim) en die band ingaan en die band dan afblaas, heeltemal, tot die buiteband loskom van die velling.
Dit maak dat die hele konvooi tot stilstand kom en die band vervang word met die spaarwiel. Na die tweede keer, as daar uiteraard nie meer ‘n vervangingswiel is nie, moet die sand verwyder word uit die wiel en die band weer opgeblaas word. Die groot probleem daarmee is dat daar dan gewoonlik – eintlik altyd – ‘n gaping tussen velling en band is en as dit met ‘n klein wielkompressor opgeblaas word, die lug te vinnig ontsnap. Die enigste raad daarvoor is dat ‘n klein bietjie gas uit ‘n butaangashouer in die wiel gespuit en dan aangesteek word, waar dit ‘n effense ontploffing veroorsaak, maar die gas sodanig uitsit dat die wiel feitlik onmiddellik hard is. Dit bly egter gevaarlik. Gelukkig is Max al gekonfyt daarin en niemand word beseer nie.
En daarna die proses om die voertuig, wat nou diep in die sand sit, uit te kry. In sommige gevalle is die ligte veselglasjeep te lig en moet Herrie se voertuig ook ingespan word.
Skeer wonder of dit nie beter sou wees om maar eerder met die betaande pad te ry nie, maar die waarskuwings aan die een kant en aan die ander kant die groot pret en vreugde wat die sandveld bied, maak dit die moeite werd. Dis ook nie asof hulle sending, alhoewel baie belangrik, dringend is en tydsgebonde nie.
Uiteindelik, teen skemeraand, is hulle by Kleinzee, waar ‘n man op ‘n bergfiets vir hulle verduidelik waar Charl Scheepers bly.
Dis ‘n baie mooi dorpie, wat net sowat 9 vierkante kilometer beslaan, en die westelike grens is feitlik by die see. Die huise is baie netjies, hier en daar simmetries uitgelê en gespasieer, met elkeen wat ‘n hele straatblok lank presies in dieselfde rigting kyk. Daar is ‘n kampeerplek, skure, wat nou as sale gebruik word en soms as kerk. Die water by die see is helderskoon.
Voordat die gebied oopgestel is, het die plaaslike mynbestuurder in die huis gebly. Dis groot, met ruim vertrekke en so gebou dat dit maksimum beskerming bied teen die woestynhitte.
Charl is al in sy laat sewentigs, maar hy is nog redelik gesond op die oog af en hy groet vir Skeermes Hugo hartlik, met beide hande om Skeer se regterhand geklem, asof hy nie wil laat gaan nie.
“Jy sal nie weet hoe goed is dit om julle te sien nie!”
“Hoe gaan dit met Katryn?”
“Jy weet nie, nê? Sy is so ‘n maand gelede oorlede. Gelukkig vinnig en nie baie pyn nie.”
“Nee, ek het nie geweet nie. Maar ek is baie jammer.”
‘n Ouer man kom aangeloop. Hy is regop, skraal en fyn gebou. Tog is daar iets baie waardig aan sy houding.
“Skeermes, ontmoet vir Lothar Reilly.”
“Lothar? Dis ‘n redelike skaars naam, maar ek het dit al vantevore raakgeloop.”
“Ek aanvaar jou naam is nie regtig ‘Skeermes’ nie. Charl het my al baie van jou vertel, maar ek wil graag by jou hoor waar kom jy aan die bynaam.”
“Dis iets wat ek reeds as jong polisieman gekry het, omdat ek altyd, net vir noodgevalle natuurlik, ‘n outydse skeermes met ‘n regte lem in my kous dra. Jy sal nie glo hoeveel keer dit al my lewe gered het nie. My regte naam is Jacobus Hugo en my ouers en eertydse kennisse het my ‘Koot’ genoem.”
“Goed, my beurt. Jy het seker die naam ‘Lothar’ gehoor saam met die van ‘Neethling’. Hy was ‘n generaal in die polisie en tweede in bevel daarvan gedurende die apartheidsera. Hy is in 2011 oorlede.”
“Ja, ek het al baie van hom gehoor, maar dis die eerste keer buite die bestek van die polisie dat ek iemand anders met die naam ontmoet.”
“Hier is Frans Neethling, ‘n kleinneef se seun. Hy is ook verlangs familie van Lothar Neethling.”
Frans is in sy laat vyftigs of vroeë sestigs. Sy blonde krulhare is deurspek met grys en die mees treffende deel van sy voorkoms is sy prominente, maar skewe voortande. Wanneer hy praat, stoot hy met sy tong. Hy lispel. Hy is skoongeskeer en sy vel is lig en gelerig bleek. Hy kan nie vir enigeen van hulle reg in die oë kyk nie en daar is iets aan die man wat nie heeltemal tuis voel nie, dink Skeer.
Charl stel nog ‘n paar ander ou manne voor en wanneer dit Skeer se beurt is, noem hy elkeen se naam en hulle kom nader, steek ‘n regterhand uit en groet.
Na die vroue, is die enigste een wat laat inkom nadat hy seker gemaak het daar is niks wat hulle bedreig nie, Max.
“Hierdie laaste os in die kraal is Max, oftewel Darius Maxim.”
“En drie mooi dames. Hoe pas julle by hierdie lelike en verwaarloosde manne in?”
“My naam is Maya. Ek was ‘n junior offisier in die spesmagte. Hierdie is die slimkop onder ons, Cornelle en hierdie jong een is Lara. Sy was tot onlangs toe nog ‘n bedorwe brokkie in Waterkloof, maar nou moet jy haar glad nie onderskat nie.”
“Kom na die studeerkamer toe, dan eet ons iets, drink koffie en dan praat ons.”
Lothar neem leiding en wys hulle na ‘n groot vertrek, met houtpanele langs die mure, ‘n duur persiese tapyt op die vloer, ‘n groot eikehout lessenaar eenkant en ‘n hele aantal gemakstoele in ‘n sirkel gerangskik. Teen die een muur is ‘n groot tafel met nie net toebroodjies nie, maar ook ander lekkernye soos pasteie, tert en ‘n pragtig-versierde swartwoudkoek. Die filterkoffie is in ‘n groot kan.
Skeer kyk na Arno en hy knik met sy kop.
“Soortvan deja vu, of hoe?”
“Ja. Net beter mense, dink ek.”
“Wil julle eers gaan skoonmaak en vars aantrek?” vra Charl.
“Ja, later, maar eers eet!” sê Kleinskeer.