Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Met watter rede kan ons aanspraak maak dat God hierdie afgedwaalde Afrikanervolk hoegenaamd sal spaar en nie heeltemal sal uitwis deur die hand van ons huidige verknegters nie? Ons kan iets leer hieroor in 1 Konings 10:18: "Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nié voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nié gesoen het nie". Ons het steeds dieselfde God vandag, die God van Israel, Wie altyd dieselfde bly...
BROKKIES UIT DIE BOEK – DOODSAKKER (8)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672
“Hoe kon dit so vinnig gebeur, Herrie?”
“Hoe bedoel jy nou?”
“Die een dag was ons nog aan die gang, met die krag wat steeds aangebly het, al was dit soms onbetroubaar, om dit saggies te stel, maar die OTM’s van die banke het steeds gewerk, daar was water en brandstof in die pompe, kos en drinkgoed op die winkelrakke, mense het steeds werk toe gegaan, die politieke grapmakers het nog hulle manewales op TV en sosiale media kwytgeraak en ons gewone siwwies het aangegaan met ons lewens, en toe skielik: Boem! Is alles in chaos.”
“Dis nie heeltemal so nie. Die aanloop was al vir dekades sigbaar, jy moes net hard en diep genoeg kyk. Ek het ‘n neef wat ‘n ‘blaster’ is. Jy weet wat dit is?”
“Nee?”
“Hy werk met springstof. Skiet myne oop en geboue af. Indien hulle ‘n gebou wil afbring, veral tussen ander geboue, moet hy baie versigtig, oordeelkundig en wetenskaplik te werk gaan. Hy moet die struktuur van die gebou ondersoek, kyk waarop die hele ding rus, bepaal watter kant toe dit moet val en die meeste van die kere is dit reguit ondertoe, amper soos die Twee Torings in Amerika. Terloops, enigiemand wat dink die vliegtuie het dit so netjies laat val, moet sy kop laat lees en sy varkies laat tel.”
“Whôô eers! Wil jy my vertel dit was aspris gewees?”
“Ja, maar ons kan later daaroor praat. Vir nou kan ek jou sê die Bush-administrasie wou net ‘n verskoning hê om Irak in te val en hulle olie te annekseer. Maar ja, kom ons kom terug by die gebou. Nadat die neef van my besluit het hoe die ding moet val en waar, boor hulle gate in die pilare of fondasie, of wat ook al, plaas springstof daarin, net die regte hoeveelheid natuurlik, en sodra die tyd reg is, ontsteek hulle die spul en siedaar! Die hele gebou plof in homself neer.”
“En wat het dit met ons situasie te doen?”
“Dis bloot ‘n allegorie of simbool van ons samelewing. Vir drie honderd en vyftig jaar het jou en my oupas, oumas, grootjies en hulle voorgeslagte aan hierdie land gebou. Dis het opoffering, sweet en vindingrykheid gekos, maar stadig het hulle toegewydheid vrug gewys en het Suid-Afrika vanaf ‘n verskroeide aarde wat die Britte vir ons gelos het, verrys na ‘n eerste-wêreldse land. Ons ekonomie, ten spyte van sanksies en ander weerstand, was gesond. In 1972 kon jy ‘n Amerikaanse dollar koop vir twee en sewentig sent. In 2025 het dit naby twintig rand per dollar geval. Waarom? Deur ‘n volgehoue afbreek van alle stelsels, ekonomies, sosiaal, kultureel en elke ander gebied waaraan jy kan dink. Dis soos om eers die gebou se vensters te breek nog voordat jy hom verwoes.”
“Gaan aan, u dienares luister.”
Herrie kyk na Madel, waar hulle stadig deur die stad ry om te sien of sy sarkasties is. Sy is nie.
“So, ons het met ingehoue asems gesit en wag om te sien of die gebou gaan inplof en of die spul ontlont gaan word. Ons het aan moorde en veral plaasmoorde gewoond geraak. Jy as sielkundige sal weet dat daar iets soos ‘toleransie’ is. ‘n Dwelmafhanklike of alkoholis moet meer en meer kry, omdat sy liggaam gewoond geraak het aan die vorige dosisse. Net so het ons ‘n eelt oor ons sensitiwiteit gekweek. Jy kon later nie meer regtig gepla word oor ‘n nuwe moord, plaasaanval of grootskaalse bedrog nie, want jy is volgestop daarmee.”
“Dis soos jy daar sê.”
“So, binnelands het ons ons nie juis meer aan die misdaad gesteur nie, solank dit nie ons aan die lyf geraak het nie. Ons was keelvol van Malema se waansinnige gedreunsang, die geweldige bedrae wat genoem is by staatskaping en korrupsie het ons koud gelaat, ons het al vergeet van die Zondo-kommissie, en die VBS-sage. Maar toe hoor die buiteland daarvan en spesifiek die VSA. Pleks daarvan dat die politici net hulle bekke gehou het, het hulle voortgegaan met hierdie malligheid, asof hulle van alle gevolge gevrywaar is tot in ewigheid.”
“Wat van die begroting wat nie goedgekeur kon word nie, omdat daar te veel trogvreters was en die kos op?”
“Ja, dit het natuurlik ook bygedra, maar selfs dit kon uitgestel en mettertyd soortvan oorkom word. Wat die lont na die springstof gelê het was dinge soos die hofsaak teen Israel by die Internasionale Strafhof, die hele eskapade rondom die Lady R, die gesamentlike maritieme oefening met China en Rusland, maar ook die uitsprake van Ibrahim Rasool en dat hy uitgeskop is uit die VSA. Intussen het Donald Trump die verkiesing gewen, hy weet hy kan nie ‘n volgende termyn hê nie en sy beste pêl is Elon Musk, soos jy weet ‘n Suid-Afrikaans-geborene. Die VSA onttrek hulp aan ons, veral die PEPFAR-donasies en AGOA blyk in die slag te bly. Ou Cyril gaan besoek Trump en wat sommige meen ‘n lokval te wees – wat Cyril self gereël het – maak dat die ANC se leier met nie net eier op sy gesig daar uitloop nie, maar ook met ‘n rooi gesig, indien so-iets moontlik sou wees.
“Terug by die huis, probeer hy red wat te redde is en steek sy breë neus in sake waaruit hy dit moes hou. Plaas daarvan dat hy plaasmoorde en Malema se ‘Kill the Boer, kill the Farmer’ veroordeel en plaasmoorde as prioriteitsmisdaad verklaar, leef hy in geskokte en verrasde ontkenning. Ons ou landjie se mense ervaar daarna ‘n week of drie se stilte vanuit Amerika, maar die Malema-lied word in die Europese Unie se vergaderings gespeel en die spul neem daarvan kennis. Amerika dreig met geteikende sanksies en die klomp skuldiges by ons maak benoude spronge soos ‘n kat op ‘n warm sinkplaat.”
“En?”
“En die res is geskiedenis. ‘n Ekonoom het anderdag gesê dis soos om bankrot te gaan – eers gaan jy stadig maar seker agteruit en dan skielik is dit verby – jy is bankrot. Die springstof is ontsteek en die gebou het inmekaar getuimel. Die rotte het die skip, of die gebou vir ons storie, verlaat en gedink hulle kan met weggesteekte geld en skelm-gekoopte huise gaan wegkruip in selfopgelegde ballingskap, maar Trump en kie het intussen ‘n stokkie daarvoor gesteek met die sanksies. Die twee duisend drie honderd agt en veertig manne en vroue op wie die sanksies toegepas is, kon nie meer reis na hulle kaya’s in die buiteland nie, kon nie geld trek of enige transaksies doen nie. Al wat oor was, was om die gepeupel te oortuig om tot geweld oor te gaan.”
“Waarom het hulle dit nie voorheen gedoen nie?”
“Hulle het ‘n ingebore vrees vir die blankes, selfs al was ons net minder as agt persent van die bevolking. Hulle weet. Miskien het hulle gewag vir ons laaste ou dienspligtiges om die kop neer te lê, ek weet nie. Maar die besluit is uit hulle hande geneem, nog voordat hulle alles kon doen wat nodig was om die blankes te ontwapen.”
*
May verkeer in ‘n waserigheid, amper asof die hele werklikheid plek gemaak het vir ‘n droom. Sy hoop sy word gou wakker, maar elke maal as sy van blote uitputting gaan lê en in ‘n meer bewusteloosheid as slaap opgekrul lê, word sy wakker met die letterlike koue werklikheid wat haar omvou. Dan loop sy aan.
Haar voete is seer, haar mond droog en sy wens sy kan doodgaan, opkrul iewers waar die koue haar kan wegvat van die realiteit van haar omstandighede af, maar iets dryf haar. Dit maak dat sy telkens, wanneer sy val, weer opstaan. Een voet voor die ander, treë vir treë, sonder om te weet wat op haar wag, wat sy gaan doen as sy daar kom, wat “daar” ook al mag wees.
Die oggend is koud en bewolk, met ‘n effense mistigheid wat voor die vaak sonnetjie wegsmelt. Daar is vogtigheid op die bossies en sy neem een blaar op ‘n slag, suig dit af, maar dit maak haar dors net groter. Haar maag pyn van wanvoeding en ontsteltenis, maar daar is niks om te eet nie en die hartseer knaag in haar binneste.
Haar donkerbruin, amper swart, hare is klam van die nag, haar skoene is nie ver van deurgeloop nie en skielik besef sy dat sy een of ander tyd haar rugsak neergesit het en vergeet het om dit weer op te tel. Dis maak nie saak nie. Die afgelope twee jaar het niemand hulle werklik oor haar en haar kind ontferm nie en sy het geleer om met teleurstelling saam te leef.
Sy haat nie, huil nie meer nie en eintlik is daar niks oor om haar te dryf nie. Maar tog loop sy aan. Sy hallusineer nie van biefstuk en skyfies nie, nie van melkskommels en sjokolade nie, maar na enigiets, enigiets om die pyn in haar maag en hart, haar gemoed en voete weg te neem.
Laat-oggend kom sy by ‘n lae sementdam. Die water is nie heeltemal skoon nie en sy vee die goggas van die oppervlak af weg, steek getuite lippe in die water en begin drink. Dit les haar dors, maar veroorsaak ‘n geweldige pyn op die krop van haar maag, so erg, dat sy langs die dammetjie gaan lê en in ‘n bondeltjie inmekaartrek. Selfbejammering het plek gemaak vir die honger wat sy nie veel langer kan verduur nie.
*
Die oostewind het ‘n papiertjie aangewaai. Dis nie asof dit ‘n vreemde ding is nie, daar is uiteraard rommel wat oral waai, maar as dit teen my wang vaswaai en ek dit wil weggooi, is die gesig van ‘n ouer man op die voorkant. Daaronder staan ‘n kort boodskap gedruk:
TERSIA, EK IS HIER. KRY MY BY OOM PAUL, SODRA JY KAN. EK SAL VIR JOU WAG.
HERRIE.
Wie is Herrie? Die man wie se bakkies hier vertoon word? En wie is Tersia. Ek is nie ver van Kerkplein af nie, net sowat twee honderd meter. Miskien moet ek daarheen loop en kyk of sy opdaag? Maar van waar af? Daar is mos nie ‘n foto van haar op die velletjie papier nie en hoe sal ek weet as dit sy is. Indien dit die ou man se vrou of vriendin is, moet ek op die uitkyk wees vir ‘n vrou in haar middel vyftigs of ouer. Waarom soek hy haar? En laastens, weet hy hoe gevaarlik dit hier in die stad is?
My gedagtegang word onderbreek as ek besef ek moet beter fokus en oplet: ‘n groep jeugdiges kom vanuit die stegie tussen die geboue aangeloop. Hulle sien my, skreeu en juig, hardloop nader en ek kan sien elkeen het ‘n wapen van een of ander soort: stokke, kieries, ‘n graaf, tuinvurk. Een het selfs ‘n houtsaag in sy regterhand en ‘n ander een ‘n sekel. ‘n Sekel – waar sou hy dit kry?
Ek onthou dat ‘n vriend van my eendag opgemerk het dat ‘n mens nie maklik op kinders of vroue sal skiet nie en daarom huiwer jy soms te lank. En gewoonlik is daar volwassenes wat agter die kinders aankom. Toe ek hom vra wat sal hy doen, toe sê hy hy sal maar skiet. ‘n Kind kan jou net so dood maak as ‘n man of vrou.
“Indien jy een het, skiet hulle dan met ‘n kleiner kaliber.”
My kleinste is sekerlik die nege millimeter Z88.