Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Mens se kruis hier op aarde is nie 'n las nie, dis 'n skat aan jou gegee sodat jy daaruit kan leer en groei – moet dit dus nie sleep nie, dra dit!
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (20)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Mense, ons het geselskap!”
Basjan het vir ‘n oomblik die twee bote in die effense maanlig gesien aankom, al is die gordyne toegetrek. Hy gryp sy geweer en met drie haastige treë is hy by die voordeur uit.
‘n Verskriklike slag volg en kort daarna nog twee as drie haelpatrone die agterdeur tref; een op elke skarnier en een deur die slot. Dit word gevolg deur ‘n skop wat die deur binnetoe laat val. Dieselfde oomblik gaan die kragopwekker af as ‘n sarsie koeëls dit tref en die huis is oombliklik in donkerte gehul. Daar is vir ‘n oomblik pandemonium, soos die goedopgeleide manne hulle taak vinnig en noukeurig uitvoer.
Sodra die aanvallers uit is, staan die groep op, waar hulle dekking geslaan het.
“Hoe...!?
“Frans Neethling. Waar is hy?”
“Jy bedoel?”
“Ja, ek bedoel hy is nie hier nie en wie anders kon ‘n sein stuur as hy? Hy het hoeka so ‘n sluwe trek om die oë.”
“Ja, Oom, ek probeer al heeltyd vir julle vertel, maar jy sê ek moet wag. Hy loop heeltyd uit na ‘n ou kar en daar is goeters in die binnekant, wat ek dink radio’s kan wees,” sê klein Ezra.
Dis nou egter te laat vir redekawel en almal gryp wapens. Van die aanvallers is egter al agter by die huis om en skielik is daar die knal van outomatiese en semi-outomatiese wapens, die vinnige geskreeu van bevele en uitroepe van skok en pyn. Net so skielik is die aanvallers uit die werf en op pad na die see toe.
“Kom, hulle het vir Cornelle!”
In die harwar en chaos het van die aanvallers vir Cornelle gegryp, vir Manie du Preez en Bossie van Staden geskiet en nie een van hulle lewe meer nie. Johan het ‘n skramsskoot teen sy bo-arm, maar dit skrik hom glad nie af nie. Hy het sy handwapen en skiet een van die aanvallers tussen sy blaaie soos die man weghardloop. Arno word in die been gewond, nie teen die been self nie, maar dis ‘n ernstige vleiswond en hy is buite aksie.
Wanneer Max, Skeer, Basjan, Len, Herrie, Maya en die ander by die deur uit is, moet hulle platval soos die agterste manne ‘n sarsie outomatiese skote op hulle aftrek. Dis egter hoog genoeg dat nie een van hulle ook getref word nie. Hulle vlieg onmiddellik op as die skote ophou en hardloop agterna.
Die afstand van die huis af na die see toe is maar sowat vier honderd meter en die fikse en sterk manne, met Cornelle oor een van hulle se skouer, hardloop terug na die twee rubberbote, elkeen toegerus met twee fris buiteboordenjins. Die bote is omgedraai, met die agterkante en skroewe net diep genoeg agter dat dit nie sand sou tref nie, maar sodat hulle vinnig weg kan kom.
Die voorstes van die aanvallers is reeds in hulle rubberboot, maar die ander sukkel nog effens met Cornelle, wat baie spartel en steeks is. Skielik is daar die geraas van motorenjins en asof afgespreek, jaag die Jeep wat hulle in Warmbad gebou het, van agter die huis af op pad strand toe en kort op sy hakke ook Herrie se “Jeep”.
Die passasier by Herrie, Maya, het haar lang geweer verruil vir ‘n pomp-aksie haelgeweer. Die twee voertuie, met hulle kragtige enjins en ligte gewig, hardloop oor die sand asof dit teerpad is. Langs Max in die veselglas Jeep, sit Len Groenewald en as ‘n sarsie koeëlgate hoog teen die windskerm verskyn, slaan hy die dreksels van die oorblywende stukke windskerm uit met sy geweer se kolf.
“Whoe-wee!” skreeu hy van pure opwinding.
Max stuur vir die linkerkant van die bote, waar die rotse die inham bewaak. Sodra hulle naby genoeg aan die bote is, skiet Len na die regterkantse boot, en tref die stuurboord enjin, wat aan stukke spat aan die agterkant, waar die swaar 500 grein .458 koeël dwarsdeur die enjin trek, opskram as dit die plaatmetaal aan die agterkant tref, en een van die insittendes ook tref.
Die koeël het skaars die enjin getref of Herrie se voertuig vlieg oor die laaste stukkie klein sandduin, sonder dat hy enigsins van snelheid verminder het. Die regterkantse boot, waarvan die een enjin nou flenters is, is net sowat vyftien meter van die duin af en die Jeep land met sy voorkant op die agterstewe van die boot, wat agteroorslaan, met die manne wat soos poppe deur die lug vlieg.
Sodra Herrie tot stilstand kom, staan hy regop op die sitplek wat nou onder water is, met sy eie .44 wat dood en verwoesting saai. Maya se wapen begin ook met die swaar, diep knalle wat net ‘n 12-boor haelgeweer kan maak. Op hierdie kort afstand is die effek vernietigend op die manne se duikpakke.
Agter die linkerkantse boot is ‘n gemaal van lywe. Van die manne het reeds in die boot gespring, maar in die vlakwaters is daar ‘n erge gewoel. Max het op die rotse gespring, waar hy met die Walther en knaldemper na enige beskikbare teikens skiet; na nege skote – een in die loop en agt in die enkelgestapelde magasyn – is die wapen leeg en hy ruil vinnig en geoefend magasyne, laat skiet die sluitstuk en korrel dan na die manne in die water, agter die boot.
“Wag, ek het jou meisie!” skreeu die man wat Cornelle teen sy bors vashou. Die lig is sleg en Max kan nie seker wees van sy skoot nie. Vir ‘n paar sekondes staan hy stil en hoop iets gebeur dat hy ‘n skoot kan inkry. Max kan nie verstaan waarom hy Afrikaans praat nie.
Skielik is daar beweging en hy kan nie behoorlik sien wat gebeur nie, maar die man los oombliklik vir Cornelle, gryp na sy gesig en en buk effens af, asof in skok. Max kan nou duidelik sien waar hy is en skiet vinnig drie skote in sy rigting. Die man val in die vlak water, waar hy verdwyn, maar na ‘n paar sekondes boontoe dryf, sy arms en bene gesprei in die bloedige water.
Max hardloop nader, terwyl Herrie, Len en Maya op die boot se insittendes vuur. Die skote word halfhartig beantwoord en skielik verskyn die skuim van gemaalde water agter die enjinskroewe. Len skiet in die algemene rigting van die vaartuig en met sy laaste drie skote verflenter hy die rubber van die kante van die boot. Die boot se agterkant, waar die swaarder enjins gemonteer is, sak eerste die see in en daarna die res van die vaartuig, as die groot Yamaha’s hulle in die diepte aftrek. Len, Herrie en Maya skiet na die dobberende koppe, totdat almal dood is.
“Max, kom help my, asseblief!”
“Wat is fout?”
“Draai die ding om dat ek my mes kan kry!”
Die “ding” is toe Frans Neethling, wat steeds naby haar dryf. Wanneer Max naby kom, sien hy Frans se liggaam is omring van bloed wat met water meng. Hy draai die man op sy rug en Cornelle herwin haar klein messie wat sy in sy oog gedruk het. Sy sit dit terug in die klein skede wat steeds om haar nek hang en druk met haar voet teen hom, dat hy weer effens in die water sink en dan wegdryf saam met die ander gesneuweldes.