Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons werk nie so hard op hierdie aarde om iets te besit nie; ons werk sodat ons iets kan word.
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (21)
Skeer en Arno het ‘n lang stuk geskryf en dit saam met die foto’s op alle beskikbare elektroniese platforms gelaai: Facebook, Wattsapp, Twitter, Tik-Toc, You-Tube en nog ‘n paar ander. Dis binne ‘n uur byna ‘n halfmiljoen keer gedeel.
Dis asof die tydsberekening perfek was, met die eerste Afrikaners wat op uitnodiging van die Amerikaanse president by Dulles lughawe aankom. Die debatte en argumente oor wie reg is en wie nie, wie is rassiste en wie is die onderdruktes, aan wie se kant is die geskiedenis, word in die tyd gevoer en veral die konserwatiewes, nie net in die VSA nie, maar in Europa, Australië en selfs Nieu-Zeeland, neem nie net kennis nie, maar is oortuig dat die ANC nooit vir vryheid geveg het nie, maar vir mag en geld. En die geld is opgesteel, in die kaders en makkers se sakke. Die begroting wil maar net nie klop nie.
Alle rasse in Suid-Afrika hou asem op om te sien na watter kant die dobbelsteen gaan val. Wapens en ammunisie vlieg van die rakke af en dis asof die onluste van Julie 2021 hulle weer afspeel, net op ‘n eksponensieel groter skaal.
“Wie gaan vir ons glo?”
“Natuurlik nie almal nie, maar genoeg mense en veral diegene wat nie met oogklappe rondloop nie.”
Die linkse groepe is natuurlik ontsteld oor die wete dat Mandela in 1985 dood is, dat Samora Machel en Chris Hani se dood noukeurig beplan is. Daar is uiteraard ook die skeptici, wat, ten spyte van die klinkklare bewys, nog steeds glo Gibson Makhanda was inderdaad nie ‘n plaasvervangende Mosambieker nie, maar die werklike Nelson. Die ikoon kan mos nie besmet wees nie?
Die wêreld besef met ‘n skok wat in die verlede gebeur het; dat dit ‘n enkele onbedagte vuishou gekos het om die hele geskiedenis van Suid-Afrika op sy kop te keer, met die dood van Nelson Mandela in 1985, die plaasvervanger, Gibson Makhanda wat gesny en opgelei is, die voorwaarde wat hy gestel het dat Samora Machel se vrou aan hom besorg word, die dood van Chris Hani, wat nie wou saamspeel nie en die afpersing van die ANC-lede teenoor die NP-onderhandelaars. En uiteindelik betaal die hele Suid-Afrika, wit, swart, kleurling en Asiaat vir die “plan” wat die Nasionale Party gesmee het om sy spore te probeer doodvee.
Wanneer mense probeer om ‘n fout met ‘n lieg toe te smeer, word die leuens ‘n string en later ‘n web van oneerlikhede. Niemand kan werklik sê wat sou gebeur het indien die landsleiers eerlik sou wees oor die dood van Mandela nie. Die uitkoms sou miskien op die oomblik verwoestend, kwaad en afbrekend wees, maar dit sou mettertyd ook onder beheer kon kom. Vir baie jare, egter, sou die hele bevolking van Suid-Afrika betaal vir die kortstondige uitkoms van destyds.
Die konflik en konfrontasie wat in 1985 uitgestel is, breek met woede uit een en dertig jaar later. Dit was onvermydelik.
*
Max en die ander manne het Herrie gaan help om sy voertuig uit die see te sleep, die water uit te droog, nuwe olie in die enjin, ratkas en voorste ewenaar te tap en seker te maak daar is niks water in die enjin gesuig nie. ‘n Diesel hou nie daarvan nie. Nadat hulle doodseker was dat alles in die enjin self droog is, het dit ‘n paar draaie gekos van die aansitter voordat die enjin geloop het; eers onegalig, maar mettertyd weer soos dit voorheen was, sterk en glad.
Johan en Arno se wonde is verpleeg en hulle sal albei herstel. Skeer merk weereens op hoe Maya met teerheid Arno se wond skoonmaak, verbind en hom help sonder om gefrustreerd te raak. Hy gun dit vir hulle albei.
Uiteindelik, as die voertuie gepak is, die bewysstukke waterdig geseël en gebêre is, kos en drinkgoed gelaai en brandstofaanvullings gedoen is, loop Herrie na Skeer toe.
“Nou wat nou?”
“Nou gaan ons terug Soutpansberge toe. Die groot bakleiery kom nog.”
Herrie staan vir ‘n halfminuut stil voor hy praat.
“Ry ons Potjiesdorp om?”
“Potgietersrus?”
“Nee, Potchefstroom,” sê Herrie.
“Hoekom?”
“Daar is ‘n vrou wat ek wil gaan soek.”