Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die wysheid van die vroue bou die huis, maar die sotheid breek dit met eie hande af – Spreuke 14:1
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (17)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Nou, vertel ons wat julle weet, of vermoed, wat julle inligting is en hoe ons kan help om die prentjie te voltooi, as ons kan.”
“Vertel ons eers asseblief waar julle in die prentjie inpas?”
“Soos ek reeds gesê het, ek is Lothar Reilly. My neef was Eugene Reilly. Hy was die ondersoekbeampte, oftewel hy was een van hulle en twee weke nadat hy die toneel vir die eerste maal besoek het, is hy vermoor.”
“En wat het hy gekry, wat sy dood veroorsaak het?”
“Moenie dit vooruitloop nie. Laat ek hoor wat julle het en as ek dink ek kan help, sê ek.”
“Charl ken ek. Hy het lank gelede die weermag se intelligensiediens gehelp met navorsing.”
“Eintlik meer die Komops van die weermag.”
“Komops?”
“Kommunikasie Operasies. Dit het te doene gehad met die opdrag om die mense inligting te gee, nie net oor wat die weermag doen nie, maar ook hulle koppe meer positief in te stel. Dit was belangrik om die plaaslike bevolking aan ons kant te kry.”
“Amper iets soos Goebbels se propagandamasjien?”
“Ja, noodwendig. Enigiets om te keer dat die PB’s in opstand kom, hetsy die waarheid, of ‘n effense verdraaide weergawe daarvan.”
“Maar julle maatskappy was onafhanklik en privaat?”
“Ja, in ‘n mate.”
“En waarvandaan ken jy my vriend Arno?”
“Hy het ons op ‘n stadium gehelp met navorsing. Hy het ‘n groot bydae gelewer, veral met die Venda-kultuur, die Lembas en bygelowe, soos die wit krokodil – wat terloops nie PW Botha was nie – wat hulle tot vandag nog vrees, die heilige woud by Thate Vondo en nog ‘n klompie ander goed.”
“Ahhh.”
“Julle moet onthou dat die laaste, sê maar veertien jaar van die Nasionale Party se bewind, erg stormagtig was. Die weermag en polisie was paraat, goed opgelei en befonds. Tog was dit nodig om die ondersteuning van veral die stamkapteins te werf.”
“Hoeveel van hierdie ‘inligting’ was in harde kontant?”
Daar is ‘n ongemaklike stilte. Uiteindelik praat Charl weer.
“Nie naastenby wat hulle die afgelope tyd betaal word om nie die regering omver te probeer werp nie. Onthou dat veral afgeleë nedersettings in Venda relatief primitief teenoor die stedelinge is. Baie van hulle is afhanklik van ‘n paar lorries wat kos elke week aflewer, veral basiese voedelprodukte soos brood, meel, soja, hoender en ander goedkoop vleis en natuurlik boontjies en ‘n soort mengsel van achar en chillies. Die verspreidingspunte is nie veel meer as destydse spazas nie, oftewel ‘cuca-shops’ vir julle oud grensvegters, want die kettingwinkels wou nie takke daarstel nie, aangesien dit ‘n wesenlike, gevaarlike risiko ingehou het. Indien die kos te duur word, bal die mense noodwendig ‘n vuis, wat hulle net oopmaak om klippe op te tel en die lorries mee te bestook. Indien die stamkapteins gelukkig is, hou hulle die bevolking gelukkig en as die volk gelukkig is, is almal tevrede.”
Charl hou op praat wanneer drie manne in die deur verskyn. Hy is sigbaar verskrik, asof hy ‘n aanval verwag.
“Wag! Dis my manne,” sêSkeermes.
Basjan, die oud smokkelaar, Johan, die oud-spesmagte offisier en Amos Burger, wat onder die jongmense bekend staan as Rambo-Bob.
“Alles rustig?”
“Ja, Skeer. Ons het die hele primeter onder oë gehad. Hierdie dorpie is maar nege vierkante kilometer en die grenslyn is dus nie so lank nie. Alles is onder beheer en indien daar enigiemand is wat kwaad bedoel, is hulle nie naby nie. Daarvan is ons seker.”
Amos en Basjan knik ook instemmend.
“Ons stem.”
“Ek aanvaar julle het vir Bart Strùwig en Basie Malan gesien?”
“Ons het. Die twee wat in die rotse net bokant die vlakwaters sit, naby die omgekeerde skuit waarop die naam ‘Roxy’ geverf is?”
Lothar is sigbaar beïndruk.
“En ja, ons het ook vir Mannetjies Boshoff en Sydney Bakers gekry aan die anderkant van die dorp, in die sloot naby die padbordjie. Jy moet vir hulle sê hulle moenie sulke skerp twak rook nie. ‘n Mens kan dit van ver af ruik.”
“Kan ons aangaan?”
“Ja. Kom ons begin met Nelson Mandela. Daar is ‘n hele reeks vrae wat ons mekaar gevra het oor die man. Byvoorbeeld waarom is daar sprake, veral onder die swartmense, dat hy nie die man is wat by die tronkdeure ingegaan het, wat daar uitgekom het nie.”
“Besef julle wat die implikasies is, as dit so sou wees?”
“Behalwe dat leuens ontbloot sal word vanaf die regering se kant af?”
“Dis onbenullig. Kom ons praat oor die regsimplikasies. Ons wet bepaal dat die grondwet, nadat dit deur die parlement goedgekeur is, deur ‘n sittende president onderteken moet word. Indien Mandela, soos ons hom geken het, ‘n plaasvervanger was van die werklike een, en dus nie die een was waarvoor die kabinet gestem het nie, is die grondwet ongeldig. Dit beteken dat alle wette wat van daar af gepromulgeer is, onwettig is en nie enige toepassingswaarde het nie. Dink verder: almal wat onder nuwe wetgewing vervolg is, dit wil sê van 1997 af, onregmatig veroordeel is. En dis maar die begin.”
Daar is ‘n hele stuk stilte in die vertrek, soos elkeen die implikasies verwerk. Natuurlik nie Skeer, Arno of Charl nie en beslis nie Lothar nie. Hulle het dit immers al vir ‘n hele ruk lank besef.
“Maar voor ons daar kom, kom ons kyk na die inligting wat ons het, en dan trek ons ‘n lyn na elkeen van die kolletjies en kyk wat is die prentjie wat ons sien.”
“Nou goed. Dis ons teorie en dit is tans net ‘n teorie, dat die regte Nelson Mandela in 1985 in die tronk dood is, moontlik in Victor Verster gevangenis. Die destydse veiligheidpolisie het nie juis ‘n reputasie gehad dat hulle sagkens met ‘n politieke gevangene gewerk het nie. Kyk maar na Steve Biko, waaroor die destydse minister van polisie, as ek reg onthou, Jimmy Kruger, gesê het sy dood laat hom koud.”
“En wat van Chris Hani se moord?”
“Ek dink dis voor-die-hand—liggend dat hy deur Janusz Wallus geskiet is in Boksburg in April 1993. Ook dat Clive-Derby Lewis die wapen verskaf het en dat die naam van sy vrou, Gail genoem word.”
“Ja, maar waarom? Hoekom is hy geskiet - net omdat hy ‘n rassis was, en sy pa deur die kommuniste verarm is? Dit maak nie heeltemal sin nie, of hoe?”
“Maar hy was vir meer as dertig jaar in die tronk daarvoor.”
“Ja, Arno, dis juis die punt. Waarom sou ‘n Poolse man Suid-Afrika toe kom en hier deel word van ‘n komplot wat sy, Wallus, lewe sal steel? Waarom het hy na die moord nie dadelik op ‘n vliegtuig geklim en gevlug nie?”
“Jy gaan ons vertel waarom?”
“Ja, maar eers netnou.”