Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie almal skuld het is nie belangrik nie – voor God is ons immers almal skuldig. En versoening tussen mense is nie afhanklik van skuldbelydenis of vergifnis nie. Ons moet in die eerste plek met Christus versoen word, dan sal die vrede met ons naaste vanself herstel.
BROKKIES UIT DIE BOEK – DOODSAKKER (2)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
‘n Stuk van die trapreling is afgebreek en ek struikel half daaroor. Op my hakke is ‘n hele aantal van die manne en ek kan hulle al letterlik ruik. Sodra ek oor die stuk reling is, druk ek die pistool voor by my belt in, tel die staalreling op, draai om en storm op die spul af.
Ek het nie tyd gehad om aan die gevolge te dink nie, maar dit het in elk geval ‘n gewensde uitwerking. Ek val half oor die spul as hulle instinktief stuit en die voorste manne hulle voorarms en hande opbring om hulleself te beskerm. Hulle is effens van balans af as ek hulle tref en val agteroor, op hulle opkomende makkers. Vir ‘n oomblik is daar net die staalreling tussen my en hulle as ek bo-op die ding – en die manne – lê.
My een baadjieknoop haak aan die reling vas en ek is vir ‘n oomblik half paniekierig. Miskien het een van hulle na my gegryp en hou aan my baardjie vas? Die knoop breek af en ek kan agteruit seil en op my voete kom. Terwyl hulle nog met die ding sukkel, is ek op my voete en hardloop verder teen die trap op.
By die volgende gang hardloop ek af en kry ‘n oop kantoordeur. Die slot is nog nie beskadig nie en ek kan die deur van die binnekant af sluit. Een van hulle het my egter gesien en begin aan die deur skop.
Ek het ook destyds “Die Hard” van Bruce Willis gesien en myself voorgeneem ek gaan nooit doen wat hy doen nie en dit is om op die sesde verdieping van die gebou by die venster uit te klim en op die smal lysie aan die onderkant daarvan te loop. Ek het nog nooit van hoogtes gehou nie en hierdie is angswekkend vir my. Ek druk my rug en boude so styf ek kan teen die venster agter my vas en loop skuifelend na die kant toe. Die mense onder die gebou sien my en gooi klippe na my, maar ek is verdiepings te hoog en die klippe val ver onder my.
So, met angssweet wat my afdrup, beweeg ek na die hoek van die gebou en dan om na die ander kant. Hier is ‘n brandtrap en dis met verligting dat ek sien die bokant daarvan is versper met ‘n sterk traliedeur, waar dit na die verdieping by my gaan. By die trap klim ek boontoe, toe op die dak van die gebou. Ek sal dit nooit, ooit weer doen nie.
Wat nou?
*
Herrie ry die dorp binne – sy ou studentedorp, waar hy lang jare gelede klasgeloop het, en uiteindelik graad te vang. Hiervandaan Prtoria toe, nadat hy honnieurs in Filososfie behaal het.
“Die mees nuttelose graad wat ‘n mens kan hê. Daar is nêrens wysbegeerte-fabrieke nie,” dink hy met meer as net ‘n tikkie ironie in sy gemoed. Miskien net so nutteloos om ‘n vrou te kom soek? Hy onthou dat Filosofie ‘n blinde man is wat ‘n swart kat in ‘n donker kamer soek – wat nie daar is nie.
Vreemd genoeg, as hy stadig met die dubbelpad hoofstraat afry, kyk die mense hom bloot aan, met halfsiende oë, sonder om hom te bedreig. Verby die straatkafee, waar hy gesit het toe die mense vir Tersia ontvoer het. Die plekkie is nou afgebrand en verlate, met een van die sonsambrele wat stukkend eenkant lê.
Hy kyk net betyds voor hom as daar ‘n diep sloot voor hom in die pad gegrawe lê. Dis diep, maar nie baie breed nie en die oomblik as hy daar kom, stroom ‘n klomp mense op hom af, vanuit die stegie langs die restourant en die volgende gebou.
Herrie het geen kans om stil te hou en om te draai nie en hy wil nie so vinnig na die vorige keer weer skiet nie. Hy ry tot by die sloot, dankbaar dat die nawe gesluit is. Hy druk die oordrakas se hefboom na vierwieldryf laestrek en ry oor die sloot. Die voorwiele val daarbinne, met net te veel spasie dat hy daaroor kan ry. Die onderstel skuur as die agterwiele die voertuig vorentoe druk en uiteindelik klim die sterk voorste buffer op die oorkantse wal en daarna voorwiele uit die loop, net om die agterwiele ook daarin te kry.
Weereens skuur die onderstel met ‘n staalskreeu teen die teer. Vir ‘n oomblik weifel die Jeep, maar as hy die versneller trap en die voorwiele grou vir traksie, klim ook hulle uit die sloot. By die volgende hoek draai hy links. Die agterste ewenaar het ‘n ewenaargrendel in en die bande fluit as hy die draai vat. Die oordrakas wen net genoeg op dat hy nie die voertuig uit laestrek kan haal nie. Hy ry ‘n paar meter agteruit en dan is die rathefboom los genoeg dat hy die oordrakas na tweewieldryf kan skakel. Hy hou egter die voorste nawe gesluit.
Hy ry in die rigting van die kampus, verby sy ou koshuis, Klooster, ‘n egte klooster wat die universiteit destyds by die Katolieke Kerk gehuur het. Dis verlate en die hekke hang oop, maar sover hy kan sien is die plek nog nie afgebreek of gebrand nie.
Totius se standbeeld is nie meer op sy plek op die park nie en hy kan nie onthou of die universiteit dit al lankal verwyder het en op die kampus geplaas het nie. Hy onthou dat die studente in sy tyd ‘n reguit lyn spore geplak het tot by die drankwinkel en krom spore daarvandaan terug na die standbeeld en ‘n effense glimlag beweeg om sy stywe lippe.
“As ons as studente maar geweet het wat vir ons wag...”
Hy ry na waar Tersia se woonstel was, sien die plek is feitlik verlate en wil net ry, as hy ‘n beweging agter die half-afgebreekte muur sien. Hy gryp na sy pistool en wil net versnel weg van die plek af as hy ‘n vrouestem hoor. Sy hart klop vinnig. Sê nou maar net dis sy? Maar dit was nie. ‘n Ouerige vrou staan langs ‘n hoop gebreekte beton, khaki-klere aan en ‘n swaar ou Colt pistool in haar hande. Net haar bolyf, met die pistool op hom gerig, steek bokant die muur uit.
“Wat soek jy?”
“Ek soek ‘n jong vrou wat ek ‘n ruk gelede hier geken het. Weet jy van haar? Tersia Brink?”
“Is jy die bliksem wat haar hart gebreek het? Jy is oud genoeg om haar pa, nee, oupa te wees. En jy lyk nie na veel nie.”
“Waar is sy? Weet jy dalk?”
“Sy is Pretoria toe. Sy het ‘n suster daar en sy is saam met vriende weg net voor hierdie chaos uitgebreek het.”
Herrie sit ‘n paar oomblikke besluiteloos.
“Weet jy waar in Pretoria?”
“Ek weet nie wat die adres is nie. Ek het dit gehad, maar dis saam met my huis weg. En ek onthou nie wat dit was nie. Wat wil jy in elk geval met haar hê? Weer seermaak?”
“Nee, mevrou. Ek wil gaan regmaak, as ek kan.”
“Wanneer ry jy?”
“Ek gaan sommer dadelik ry.”
“Kan ek saamgaan?”
Weereens is Herrie besluiteloos. Het dit nou deel vgan sy lewe geword?
“Ja... jy kan. Wat is jou naam?”
“Madel van Wyk. Gee my vyf minute, dan is ek by jou. Net my klere en kos kry.”
Sy is binne vyf minute terug, met ‘n drasak wat hy vermoed haar klere is en ‘n sak waarmee sy spook, vol kos. Haar laaste kos.
“En jy is Hermaans?”
“Herrie. Van Hermanus afgelei. Hermanus Maritz.”
“Ja, ek ken die storie. Sy het my van jou vertel.”
Herrie bly stil. Hy wil eerder nie die gewone vraag van: “Ek hoop goeie dinge?” vra nie.
Na ‘n paar minute praat Madel weer, bokant die windgeruis uit.
“Het hierdie kar van jou nie ‘n ‘cubby-hole’ nie? Wat is dit in elk geval – ‘n Land-Rover?”
“Nee, dis nie ‘n Land-Rover nie en moenie dat hy dit hoor nie, dan begin hy oorverhit en olie lek. En nee, wat jy sien is wat jy kry.”
“Nou waar moet ek my ammunisie sit?”
Madel buk agtertoe, rits die sak oop en haal vier pakke .45 ACP ammunisie uit, saam met twee spaar magasyne. Sy sit dit op die vloer by haar neer.
“Waarvoor is jy bang, Madel?” vra Herrie.
“Met hierdie ou rollie by my? Vir niks, Ouboet. Vir niks. En jy moet my sien skiet!”
*
Ek is vir eers veilig. Die dakluik van die gebou is toegesluit en alhoewel ek nie daardeur af kan gaan na die gebou self nie, kan niemand opkom daardeur nie. En ek gaan definitief nie ondertoe op dieselfde manier as wat ek opgekom het nie. Intussen word dit donker en die nag gaan koud wees, dit weet ek. Sonder ‘n kombers, sonder enigiets wat kan help nie.
Ek gaan sit aan die kant van die geboutjie se dakluik waar die wind die minste sal waai. Of so dink ek.
*
Madel het ‘n ou wolserp om haar kop gebind, en onder haar ken vasgeknoop. Herrie kyk na haar en besef sy is nie so oud as wat hy aanvanklik gedink het nie. Miskien laat vyftigs of vroeë sestigs dalk? Sy is ook op ‘n vreemde manier aantreklik.
“Wat kyk jy, Ouboet?”
“Nee, ek wonder maar.”
“Hoe oud ek is en waar kom ek vandaan? Ek is twee en sestig, is ‘n weduwee en ek is nie beskikbaar nie. Nie vir jou nie, in elk geval.”
“Wat maak my nou anders?”
“Tersia. Sy maak jou anders. Sy is lief vir jou, die Vader weet waarom, maar sy is. So, bepaal jou maar by haar en die pad. Kyk voor jou.”