Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ongelowige leiers het die Satan as meester. Daarom pleeg hulle onreg en doen wat verkeerd is in die oë van God. Met sulke volke kan dit nooit goed gaan nie!
BROKKIES UIT DIE BOEK – DOODSAKKER (4)
Ek sien vir baie dinge kans wanneer ek versigtig by die gebou uit beweeg met die Mauser in my arms. Natuurlik kyk ek nog skerp uit vir sluipskutters, maar nou kan ek hulle amper op gelyke voet aanvat. Ek het nie vreeslik baie ervaring met hierdie geweer se kaliber nie, maar as ek reg onthou, was dit vir baie jare gebruik as ʼn swaarkaliber spesiaal vir groot en gevaarlike wild in Afrika. Die meeste mense van Europese afkoms, wat aan begin van die twintigste eeu in Afrika gaan boer het, het ‘n goedkoper geweer as die Holland&Holland of Westley Richards dubbels in 450 Nitro of swaarder benodig en duisende Mausers in 9,3X62 is aan hulle verskaf teen ‘n baie kleiner bedrag as die Engelse gewere.
Die koeëlpunte is nogal swaar, as ek reg onthou 286 grein en die grootste nadeel is dat dit relatief stadig skiet, teen net sowat 2350 voet per sekonde. Inderdaad is dit ook in die Tweede Wêreldoorlog gebruik as skerpskuttersgeweer, maar die vinniger 7,9X57 was meer gewild. Dit beteken dat indien ‘n skoot verder as 300 meter gevat moet word, die skut vir die afstand moet kompenseer.
Wanneer ek die snellerdruk probeer, besef ek iemand moes iewers in die verlede die ou militêre sneller, wat swaar is, met baie voor en natrek, vervang het met iets soos ‘n moderne Timney of selfs Klotz-sneller. Dis nie net lig nie, maar breek skoon en duidelik. Wanneer ‘n mens met die oorspronklike sneller skiet, kan jy met die swaar trek daarvan, maklik die geweer van teiken trek.
Dit was goed vir militêre aanwendings of selfs grootwildjag, as jy met oopvisiere en ‘n veiligheidsknip wat afgehaal is, loop, met ‘n buffel, leeu of luiperd wat op kort afstand op jou afstorm, het dit baie stopkrag, waar die skut doelgerig en met meer moeite die sneller moes trek en dus ‘n veiliger opsie was, maar nie vir skerpskiet nie.
Tog, binne die beperkings van die stad, is afstande verder as 300 meter die uitsondering. Nie onmoontlik nie, maar onwaarskynlik. En ek sal die sneller gewoond raak.
*
Beide Herrie en Madel het goed geslaap, al is die omstandighede nie ideaal nie. Die driedubbele mat is sag genoeg en keer die koue van die vloer af. Die feit dat hulle die heeltyd onder spanning en druk was en dat dit ‘n mens kan uitput om ver te ry in ‘n oop voertuig, dra ook daartoe by dat hulle kan ontspan.
“Madel, as jy wil gaan antwoord op die roep van die natuur, kan jy hier agter gaan kyk. Daar is ‘n buitetoilet. Dit spoel nie meer nie, maar dit maak nie werklik saak nie. Niemand gaan binnekort hierheen terugkom nie. En ek het ‘n paar emmers skoon water gesien in ‘n tenk onder die geut. Ek sal vir jou gaan kry as jy wil was.”
Herrie het self uitgeloop en voel baie beter nadat hy die chalet de necessité besoek het. Hy is ook vars gewas en voel sommer skoon en beskaafd. Terwyl Madel doen wat hy voorstel, maak hy weer kos. ‘n Beker koffie vir elkeen en drie beskuite.
“Waarheen nou?”
“Enige plek waar ons van ons mense kan raakloop en begin uitvra oor Tersia.”
“Dink jy werklik ons gaan haar opspoor?”
“Wat kan ek anders doen, as om dit te glo? Dis waarvoor ek hierheen gekom het.”
Madel kyk vir Herrie skerp aan.
“Wat leer jy hieruit, Herrie?”
“Waaruit?”
“Uit hierdie hele gemors wat jy veroorsaak het. As jy maar net nie so hardkoppig en eiesinnig was nie, sou sy sekerlik veilig gewees het en dan het ons nie nodig gehad om nou die hooimied te gaan deursoek nie. Nie vir ‘n naald nie, maar vir ‘n enkele stukkie hooi of strooi, net soos jy wil.”
“Weet jy, Madel, dit help nie jy is so skerp op my en krities nie. Vandat ek haar gesien het, was ek deur ‘n hele paar stukke geskietery. Sy kon net sowel seergekry het. Jy weet dit nie, maar ek het Filosofie gestudeer en selfs daarin klas gegee. Niks op hierdie aarde is alles klinkklaar nie en min dinge loop volgens plan. Daar is ‘n ou gesegde in die weermag dat selfs die beste planne nie kontak met die vyand deurstaan nie. En terugskouend is alles mooi en helder, maar niemand kan vorentoe kyk nie. Indien ek haar saamgevat het en sy wel seergekry het, hoe sou ek dan voel? Baie meer skuldig, dit beloof ek jou.”
“Maar nou het jy nie en wie weet, miskien sou sy veiliger by jou en jou makkers gewees het, as nou in hierdie stad. Miskien het sy dit gemaak tot by haar suster, miskien nie. Ek gaan saam met jou soek, maar nie ter wille van jou nie, want jy is ‘n groot ou dwarstrekkerige man, met te veel sielkundige bagasie vir jou of haar.”
“En hoe kan jy sommer so ‘n sielkundige waarneming maak?”
“Jy was nie al mens wat op universiteit was nie, weet jy?”
Madel het klaar gepraat en sit haar karige stukkies besittings in die sak, terug op die Jeep, vleg haar serp om haar nek en klim in haar sitplek.
*
Na vele oorweging maak ek die skroewe wat die teleskoop se ringe vasklem met die Leatherman los. Die vier skroewe wat die teleskoop op die ringe vashou, het gelukkig skroefkoppe en nie die goed wat met ‘n Allen-sleutel gedraai word nie. Ek skuif die teleskoop so ver vorentoe as wat dit vir my gemaklik is en presies op die plek waar ek instinktief my wang kan laat sak en die teikenprentjie groot en duidelik is, sonder donker dele aan die kante. Die Amerikaners praat van ‘n “cheek-weld”. Natuurlik sal die teleskoop uit wees, ek aanvaar ‘n entjie laer as wat hy vantevore geskiet het, maar ek sal hom instel, al is dit op iemand se bors, indien nodig. Ek het ook mos nog nooit met die wapen geskiet nie en het al baie gehoor van die kaliber. As dit fris genoeg is om ‘n buffel plat te trek, sal dit sekerlik goed doen.
Onwillekeurig dink ek aan Alida Ebersöhn en wat dit aan haar gedoen het. Nou is dit my beurt.
Dit sal nie lank wees nie, dan gebeur dit. Ek weet sommer. Dis die wet van gemiddeldes en ek stry nooit daarmee nie.
Ek probeer steeds om nie aandag te trek nie en wil so ver as moontlik met die omgewing saamsmelt. Ek onthou die wenke van die twee Kroate wat ek geken het en die belangrikste, het hulle gesê, is wees “The Gray Man” – die grys man wat nie uitstaan nie, maar wegsmelt. Dis egter nie so maklik nie as jy die enigste lang, wit man in die omgewing is.
Sodra ek buite die gebou tree, slaan ‘n koeël teen die hoek van die gebou, nie vyf sentimeter van my kop af nie.
*
Dis nog baie vroeg en baie koud. Dis asof Madel in die sitplek wegsmelt. Sy het haar slaapsak uitgehou en trek dit tot onder haar ken. Wanneer sy asem haal, wasem haar bril op en sy haal dit na ‘n ruk af.
Bo aan die punt van Charlesstraat, aan die kant weg van die middestad af, hou Herrie stil, klim uit, gaan staan voor die Jeep en kyk lank na Magnolia Dal en die straat wat verby kronkel. Hierdie is ‘n rykmansbuurt, waar ou geld groot en indrukwekkende huise gebou en in stand gehou het. Die meeste buitemure is nog heel, maar hier en daar is dit duidelik dat iemand op die sypaadjie vuur gemaak het. Van die hekke is duidelik beskadig, maar ook hulle is sterk en stewig gebou, diep in die dik mure gewortel met lang boute. Of daar nog mense in die herehuise is, kan niemand met oortuiging sê nie.
Na ‘n paar minute kom staan Madel langs Herrie.
“Wat sien of dink jy, Herrie?” vra sy met deernis en sagtheid in haar stem. Herrie antwoord nie dadelik nie, maar uiteindelik is dit asof die woorde diep uit sy binneste kom:
“Jy weet, dit was maklik om daar anderkant, ver in die ou Wes-Transvaal te sê ek gaan vir Tersia soek en selfs met die ryery hierheen, kon ek die werklikheid vermy, asof ek meer sal weet as ons hier kom. Nou is ons hier en ek weet nou glad nie waarheen of wat nie. Is jy seker haar suster het nie enige aanduiding gegee oor waar sy bly nie?”
“Jy bedoel ons soek ‘n naald in ‘n hooimied?”
“Jy kan so sê.”
“Wat is die beste manier om dit te doen? Jy kan die hooi verbrand en die as sif, of...”
“Of?
“Jy gebruik ‘n magneet om die naald op te spoor.”
“Het jy ‘n plan?”
“Ek het. Luister vir my.”