Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Gebrek aan volharding veroorsaak meer mislukkings as ‘n gebrek aan intelligensie of bekwaamheid. Volharding en vertroue gaan hand aan hand. Vertrou op Jesus en jy is verlos. Vertrou op jouself en jy is verlore.
BROKKIES UIT DIE BOEK – DOODSAKKER (1)
Die groot Cooper Discoverer-bande van Herrie se Jeep grom-fluit eentonig waar daar nog teerpad is, maar wanneer die slaggate te veel raak, ry hy op die grondoppervlak van die pad se skouer langsaan en hy is dankbaar vir diep groewe en hoë sywande. Van die gate is vol water van die onlangse swaar reën en hy kan nie die diepte bepaal nie, sonder om stil te hou en dit met ‘n stok te toets nie en daarvoor het hy nie tyd nie.
Skeer, Max en die ander het hom laat begaan net anderkant Sannieshof, waar hulle noorde toe, na die Soutpansberge gedraai het. Hulle verwag baie moeilikheid, nie net as gevolg van die ineenstorting van alle stelsels in die land nie, maar ook omdat hulle die hele valse narratief aangaande Mandela, Gibson Makhanda, Chris Hani en Samora Machel ontbloot het en natuurlik is Cornelle Maritz en haar waterstofenjin vir die oliekartelle ‘n steen des aanstoots, wat hulle so gou moontlik moet verbrokkel en uit die pad kry.
Herrie is vasgevang tussen emosies. Die oorheersende een is die verlange na ‘n vrou, Tersia Brink, wat hy maar ‘n halwe dag en nag lank geken het, maar dieselfde vrou is dalk nie meer te vinde nie, en miskien wil sy niks van hom weet nie. En moontlik, met al hierdie dood en geweld in die land, kan sy dalk net ook nie meer leef nie en dit sal sy, Herrie, se skuld wees. Net omdat hy selfsugtig en bang opgetree het. Hy weet nie of hy dankbaar teenoor Maya moet wees dat sy hom aangespreek het nie en of sy hom eerder moes laat begaan het. Wat-ookal!
Aan sy linkersy is die ou, groot .44 Magnum Smith&Wesson Model 29 en aan sy regter die Astra A100 wat Arno vir hom gegee het. Agter op die bak van die voertuig is ‘n Sauer 90 in .300 Winchester Magnum en onder sy sitplek een van die Heckler&Koch MP5’s wat herwin was na die geveg langs die strand by Kleinzee.
Hy ry oor Lichtenburg en Coligny sonder baie probleme, behalwe waar hy een maal van die pad moes ry en deur die veld om ‘n nie-amptelike, impromptu padblokkade, gemaak uit brandende bande, takke en groot klippe, te vermy. Miskien kon hy sy pad daardeur oopskiet, maar hy vat eerder nie die kans nie. Hy het ‘n plek om te wees en ‘n vrou om te soek.
Veertig kilometer anderkant Ventersdorp sien hy die dynserigheid van rook ver voor hom. Potchefstroom brand.
*
Ek, Taps, is onseker oor wat die toekoms vir my inhou. Al wat my troos is die groot greep van die Z88 en die paar vol magasyne in my sak. Ek is honger en dors en my voete brand van die baie loop. Ek is bevrees die herfs het vroeg gekom vanjaar en die winter is op pad. Ek het ‘n baadjie, langbroek, kortmouhemp en kort stewels aan, maar dit gaan my nie warm hou in die lang en koue nagte van die winter nie.
Sodra ek naby Pretoria se treinstasie kom, is dit duidelik dat die samedromming van baie lywe die pad daarheen ontoeganklik maak. Ek wil nie weer teruggaan Sunnyside, Brooklyn of Hatfield se kant toe nie. Daar is niks vir my nie en die enigste twee opsies is reg na Kerkplein toe en daarvandaan Van der Hoffweg, of dalk na die noorde, na Wonderboom se kant toe. Ek weet nie.
Die besluit word uit my hande geneem as een van die mense my raaksien en uitroep dat daar ‘n “mhlungu” is. Van alle kante stroom hulle na my toe en vir die eerste keer besef ek dat dit my laaste oomblikke kan wees hier op moeder aarde. Sal die Here die dood van soveel ander mense my toereken, of kan Hy my dit ook vergewe?
Die enigste uitweg is ‘n hoë kantoorgebou op die hoek van Kerkstraat, maar om daar te kom, moet ek in die rigting van een van die groepe hardloop en hoop dat ek daar kan kom voor hulle dit doen. En ook dat die deur nie toe is, gesluit en ondeurdringbaar nie.
Wanneer ek veertig treë van die gebou is, besef ek die mense wat op my afstorm gaan voor my daar wees en al veroorsaak die adrenalien, gebore uit paniek dat ek vinniger kan hardloop, gaan ek dit steeds nie maak nie.
Uit desperaatheid pluk ek die pistool uit, en sonder om na ‘n spesifieke teiken te mik, skiet ek sommer na die voorste ry van die bondel. Onmiddellik het dit die gewensde uitwerking. Die mense se beweging stuit vir ‘n oomblik, alhoewel hulle die terugval nie, maar dan kom hulle weer vorentoe. Dit gee my egter genoeg tyd om die gebou binne te hardloop. Tot my verligting is die deur reeds afgebreek.
Die foyer is groot en was eens op ‘n tyd indrukwekkend en luuks, maar nou is die vloer besmeer, vol gate, die skilderye of portrette afgeruk en net die gate waar die skroewe of muurspykers in was, is nog stille getuies daarvan. Duur skilderye is gebreek, geskeur en vol vuilgoed gesmeer, waarvan die oorsprong net te bespiegelbaar is.
Skuins aan die agterkant van die vertrek is ‘n trap wat boontoe gaan, langs die gapende deure wat eens op ‘n tyd, voordat dit vol rommel gegooi is, die skag van ‘n hysbak was. Die trapreling is afgebreek en lê eenkant. Dit stink in die gebou van vuil lywe, sweet, ontlasting en urine. Dit alles neem ek binne sekondes in, as ek na die trap hardloop.
Drie fikse manne haal my in en ek kan die gehyg van asems agter my hoor. Op die derde landing draai ek om en skiet twee van hulle, terwyl die derde een van die trappe afspring na die grondvlak toe. Dis hoog genoeg dat hy sy regterbeen breek en hy gil van die pyn.
Ek het vyftig rondtes oor.
*
Herrie hou stil en gooi nog ‘n Jerrie-kan diesel in die tenk van die voertuig. Hy is self verbaas oor hoe goed die ding werk, om nie nog te praat van vasbyt nie! Die fris V6 Nissan diesel is nie sleg op brandstof nie, trek sterk deur al die ratte en die Nissan Patrol onderstel en aste werk puik saam. Die ding is nie werklik gemaklik nie en die wind wat sonder verposing verby en oor Herrie skreeu, maak sy kop seer.
Net na elfuur hou hy stil, eet ‘n toebroodjie wat die tannies op Kleinzee nog gepak het, saam met ‘n stuk gerookte snoek en sluk dit af met aanmaakkoeldrank. Hy sluk twee Brufen-pille vir die hoofpyn en al sal hy dit nie erken nie, sy lyf protesteer ook al, veral oor sy blaaie en lae-rug. Sy neus loop van die koue wind en sy oë traan van die moeg. Hy oorweeg dit om eers ver van die pad af te trek en ‘n slapie te vang. Met inspanning beveg hy die impuls, maak sy veiligheidsgordel vas en ry verder.
Sodra hy die eerste vlamme sien uit die huise aan sy oostekant, net buite die dorp, haal hy die MP-5 submasjiengeweer onder sy sitplek uit, span dit en hou die ding op sy skoot. Hy voel aan sy sye of die handwapens los in hulle skedes sit. As hy homself nie misgis nie, gaan die lood binne minute vlieg.
Kan Tersia nog daarbinne wees?
Agt kilometer van Potchefstroom af, is daar skielik beweging uit ‘n grondpad wat by die hoofpad aansluit. ‘n Ouerige tweewiel-dryf Mazda Drifter-bakkie kom aangejaag en draai met ‘n vaart agter die Jeep in. Hy vat die draai sò vinnig dat die bakkie gevaarlik oorhel na sy regterkant toe, ‘n paar swaaie oor die teerpad maak, soos die drywer naarstiglik die voertuig onder beheer probeer bring. Uiteindelik is die bakkie weer reguit en hy jaag op Herrie af. Herrie is nie lus vir moeilikheid nie; hy voorsien genoeg daarvan sal vorentoe wag en hy skakel twee ratte af, trap sy voertuig se versneller plat en begin onder die Mazda uitbeweeg.
Die Jeep is net oor die volgende bult of ‘n Toyota Quantum kom op hom afgepyl. Dis duidelik dat hy vir Herrie van vooraf sal keer en die bakkie van agter af. Herrie pluk die MP 5 van sy skoot af en skiet met sy regterhand die hele magasyn op vol-outomaties op die taxi af. ‘n Skuins streep gate verskyn oor die Quantum se voorkant en dan oor die windskerm. Of die drywer gewond is, dood is en of hy geskrik het, dit het die gewensde uitwerking en die ding swaai ‘n keer of wat wild oor die pad, voor dit van die pad af loop en omslaan in die lang gras langsaan.
Herrie versnel en beweeg onder die bakkie uit, maar dan is hy skielik woedend. Hoe kan hierdie mense dink almal is maar slagoffers van hulle onverskillige vraatsug en kan voor die voet aangeval word, net omdat hulle in die meerderheid is?
Hy verminder vinnig snelheid, bring die kar tot stilstand en staan regop met sy linkervoet op die bestuurdersitplek en sy regter een op die passasiersitplek. Hy rus sy voorarms op die dik rolstaaf. Hy het die masjiengeweer neergesit en bring die ou groot .44 Smith&Wesson op, korrel vinnig op die aankomende bakkie, wat nou angstig rem, maar dis te laat. Vier swaar 250 grein loodkoeëls skiet die verkoeler, enjinblok en daarna die drywer agter die windskerm. Die bakkie swaai van die pad af en tref eers ‘n padteken, jaag deur die heining langs die pad en tref ‘n boom, vol in die middel van die voorkant. Die enjinkap vou dubbeld, ‘n straal stoom spuit uit die verkoeler en manne vlieg van die bakkie af wanneer dit onverbiddelik tot stilstand kom.
Herrie gryp die lang geweer van die bak af, druk ‘n rondte in die kamer en sodra die teleskoop se kruishare ‘n man in vier deel, druk hy die sneller. Onmiddellik is daar geen teikens meer oor nie, soos die oorblywende manne dekking slaan. Hy wag ‘n volle minuut vir iemand om op te staan of terug te skiet, maar daar is geen beweging van enige kant af nie.
Hy ry tot waar die taxi lê, haal sy rewolwer weer uit en loop nader, gereed om enige lewende wese die ewigheid in te stuur. Wie egter nie weggehardloop het nie, is dood of ernstig beseer. Herrie soek rond, kry ‘n paar vuurwapens en gooi dit sonder seremonie agterop die Jeep, klim terug en ry weg, Potchefstroom se kant toe.
Dis nie ‘n goeie ding om ‘n kwaai, ou man nog verder die harnas in te jaag nie. Herrie is in elk geval kwaad om mee te begin.
En sy kop is seer.
En hy is angstig oor Tersia.
Voor hy die dorp binnery, klim hy uit en sluit die vryloopnawe by die voorwiele.