Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Here beproef dié wat aan Hom behoort, nie met ligte beproewings nie en Hy oefen hulle nie sagkens nie, maar Hy dryf hulle dikwels tot die uiterste toe en wanneer hulle daartoe gedryf is, laat Hy hulle soms lank in die slyk bly voordat Hy hulle enige smaak van sy soetheid bied.
BROKKIES UIT DIE BOEK – DOODSAKKER (5)
Die knal wat feitlik onmiddellik op die klap van die koeël langs my volg, sê vir my twee dinge. Die eerste is dat die skut nie baie ver weg is nie, want ‘n koeël trek baie vinniger as die klank van die skoot en die twee was bymekaar.
Tweedens is die knal plat en venynig, wat beteken dat die kaliber klein en vinnig is. Miskien ‘n ding soos ‘n .243 Winchester, of 5,56 millimeter NATO. Ek dink nie dis ‘n R4 of R5 nie, want dan sou meer as een skoot geklap het, maar ek kan verkeerd wees. So, miskien ‘n slot-aksie geweer?
Ek dink daaraan dat die meeste rowers en inbrekers van tien, vyftien jaar gelede oor die algemeen net handwapens gebuit het – behalwe natuurlik R4’s of R5’s by die polisie en weermag, gewoonlik vir gebruik by transito-rowe – maar die afgelope vyf jaar of so jaggewere, waarvan ek glo die oorsprong van hierdie een is.
Baie versigtig loer ek by die kant van die opening uit. Die blinkswart graniet van die dik en breë kosyn spat weereens in splinters as ‘n volgende koeël dit tref, weereens nie ver van my kop af nie. ‘n Paar fyn splinters tref my voorkop en ek kom agter daar is bloed op my kop, wat in ‘n paar dun straaltjies in my regteroog loop. Ek staan so ver terug as moontlik, om die graniet tussen my en die skut te kry. Versigtig, nie om enigsins vir die ou ‘n teiken te geen nie, haal my eens-wit sakdoek uit my broeksak en vee die bloed van my kop af en uit my oog. Ek hoop die skade is nie groot nie en die snytjies vlak.
Ek gebruik die eeu-oue taktiek om my hoed by die gebou verby te steek, maar die skut val nie daarvoor nie. Die volgende stap oorweeg ek vinnig, maar ewe versigtig. Ek sak af, met die idee dat die man die kol sal dophou waar ek flussies my kop uitgesteek het en die hoop dat hy nie laag af sal skiet nie.
Die probleem is dat die stukkie skans wat ek in die opening het, baie smal is en dat, as ek afsak, my knieë dalk mag uitsteek. Tog het ek geen ander opsie nie, draai met rug teen die kant wat na die skut wys en sak af. ‘n Stukkie van my knie moes tog uitsteek, want feitlik dadelik knal die volgende skoot. Dis hoog en mis my been heeltemal.
Reg oorkant my, nie meer as vier meter van my af nie, staan die oorblyfsels van ‘n dubbelkajuit-bakkie en ek hardloop daarvoor. Die opvolgskoot is ook mis, maar nie ver nie. Agter die bakkie val ek plat op my maag. Wie ook al die oud-eienaar van die bakkie is, meneer, ek dank jou! Die bakkie se veerstelsel is gelig, met groot bande, as ek nou naby een is, sien ek dis Dunlop, 285/85. So uit die vuis uit reken ek in die ou taal sou dit 33 duim hoog wees. Die feit dat die bakkie se onderstel en suspensie gelig is, maak nie dat die grondvryhoogte groter is onder die ewenaars nie, maar die hoë bande lig dit wel.
Ek maak my lyf dun, of so dun as moontlik en trek met moeite my baadjie uit – probeer gerus om dit te doen terwyl jy plat op jou rug op die teerpad lê – en dan is ek nòg nader aan die pad en kan onder die agterste ewenaar verbyskuif, natuurlik na die linkerkant daarvan.
Drie skote klap met tussenposes na mekaar en elkeen tref die bakkie iewers teen die bakwerk; die kajuit, die laaibak en een van die ruite. Dis duidelik dat die skut weet ek is agter of naby die bakkie en die skote is soekend, meer as gerig na ‘n vaste teiken.
Die enigste manier van beweeg is stadig, met my rug teen die onderstel van die bakkie. Ek besef dat die voorste suspensie van die Ford Ranger te laag hang en beweeg tussen die agterwiel en die voorwiel uit.
Dit val my dadelik op dat ek baie moeite verniet gedoen het, aangesien ek maar net sowel al langs die kant van die bakkie kon seil, in plaas van onderdeur kruip. Maar nou ja, foute is nie so ernstig nie, solank jy nie te erg bloei as gevolg daarvan nie.
Met die enjinblok en ‘n deel van die wiele tussen my en die skut en die wete dat die klein, vinnige koeëltjie nie daardeur sal trek nie, maar eerder opbreek, kom ek stadig op, met my geweer en teleskoop eerste. Ek besef die man gaan my sien, maar ek vat die kans om te soek na waar hy kan wees.
Weereens knal ‘n geniepsige skoot en die koeël klap teen die bakkie se modderskerm se bokant vas, nie meer as ‘n handbreedte van my af nie, maar nou kan ek sien waar daar beweging is – op die dak van ‘n gebou nie ver van die Paleis van Justisie nie, sowat twee honderd en vyftig meter van my af.
Die bloed het nou weer in my oë geloop en ek voel die venynige steek van die stukkende vel nou duidelik. Nou het ek egter nie tyd vir sissie wees nie, veel die bloed uit my oë en lê aan van waar die man kan wees.
*
“So, hoe gaan ons dit doen?”
“Wat weet sy van jou?”
“Sy weet ek is baie ouer as sy, ek ry ‘n vreemde voertuig, ‘n Jeep, en dat ek haar weggestoot het.”
“En wat weet jy van haar?”
“Ek weet sy is ‘n mooi jong vrou, met blonde hare, groen oë, skraal, en sy het kuiltjies in haar wange as sy glimlag.”
“Waarom maak ons nie strooibiljette en versprei dit in die stad nie?”
“En hoe gaan ons dit maak? Ons het nie eens papier nie en hoe sal ons dit in elk geval doen as ons het? Met pen en potlood?”
“Ja, as dit nodig is. Maar ek dink nie dit sal wees nie. Ons gaan kyk oral, in elke huis, kantoor en besigheid tot ons ‘n drukker en papier kry. Ek wed jou ons sal.”
Herrie kyk haar aan asof sy een of twee skroewe het wat los is, maar sien sy is heel ernstig. Hoe langer hy aan haar plan dink, hoe beter klink dit. Hy het in elk geval nie ‘n alternatiewe voorstel nie.
“En hoe kry ons elektrisiteit, indien ons wel die papier en drukker kry?”
“Kom ons begin by die begin en doen wat ons moet.”
Dit was egter nie so maklik nie. Feitlik elke gebou wat nie gebrand is nie, is gestroop, verwoes en afgebreek. In sommige geboue kan hulle nie eens inkom nie. Die moedeloosheid begin deurslaan en selfs Madel lyk nie meer so optimisties nie. Daar is wel oral papier, wat ewig rondwaai en hulle begin om van dit bymekaar te maak.
“Miskien moet ons aan iets anders dink?”
Terwyl hulle moedverlore langs ‘n gebreekte kantoorgebou staan, met ‘n pakkie verkreukelde en nie baie skoon nie, A4 velle papier en steeds op hulle hoede vir enigiets of iemand wat gevaar kan inhou, hoor hulle iets agter hulle. Onmiddellik, verskrik, maar gereed, swaai albei om en die vrou agter hulle kyk in die lope van twee groot handwapens vas – een .44 Magnum en die ander ‘n .45 Colt. Haar oë verstar groot en blou van die skrik.
“Moenie skiet nie!”
“Wie is jy?”
“Wie is julle?” vra sy terug.
“Ons is...”
“Ons is net iemand wat iemand soek.”
“Het sy hier gewerk?”
“Nee, ek is seker sy het nie, tensy dit baie toevallig is en ek glo nie juis in toeval nie.”
“Wat is haar naam?”
“Hoe weet jy dis ‘n ‘sy’?”
“Ek het maar aanvaar sy is.” Die vrou is nou meer gemaklik, maar nog nie heeltemal oor haar skok nie. Sy kyk ook rond asof sy enige tyd iemand verwag.
“Dametjie, verwag jy iemand, dat jy so rondkyk?”
“Ja, natuurlik. Nie iemand wat ek noodwendig ken nie, maar hier is altyd iemand wat op soek is na iets om te breek, eet of dood te maak. Julle is seker nuut hier, anders sou julle geweet het.”
“Ons is. Maar om die waarheid te sê, jy kan ons dalk help. Ons weet net wat haar naam is en dat sy van Potchefstroom af kom. Ook dat haar suster haar daar gaan haal het en dat sy heel moontlik hier, na Pretoria toe, gekom het. Haar naam is Tersia Brink.”
“Ek ken haar nie, maar hoe kan ek help?”
“Jy kan ons dalk sê waar ons ‘n drukker kan kry, en natuurlik papier. Ons wil strooibiljette maak om te versprei. Miskien sien sy dit, of miskien iemand wat sy ken, wat ons kan help.”
“Julle gaan nie maklik regkom nie. Of... dalk kan ek wel help. Weet julle waar is Milnerstraat?”
“Nee, soos jy netnou gesê het, ons is nuut hier.”
Die vrou buk af en trek met ‘n stukkie stok ‘n paar strepe in die roet op die sypaadjie. Sy is miskien in haar laat dertigs of vroeë veertigs, met ‘n aangename, maar nie juis regtig mooi nie, gelaatstrekke. Daar is iets hard aan haar gesig, maar dis moontlik omdat sy in haglike omstandighede is. Haar klere is verwaarloos en lanklaas gewas. Sy trek haar langerige rooi hare uit haar gesig, wat nou vooroor geval het as sy afbuk.
“Julle is nou hier. As julle twee strate aanry in daardie rigting,” sy wys na haar linkerkant. “Draai dan regs en ry aan tot julle ‘n klein sentrumpie aan julle oorkant sien. Op daardie hoek, ek onthou nou nie die nommer nie, is ‘n man en vrou – en dalk hulle seuns ook – wat ‘n klein uitgewer en drukkery bedryf het. Die man se naam is Johannes. Miskien leef hulle nog en kan hulle julle help.”
*
Ek weet hy gaan skiet en al hoop wat ek het is dat dit weer mis kan wees. Hy weet nie presies waar sy vorige skote getref het nie en ek hoop van harte, siende dat dit reeds drie skote na my regterkant is, dat sy geweer se visier uit kan wees. Dit gebeur maklik, met net ‘n verkeerde stamp, te harde val of so iets om ‘n teleskoop se zero uit te stel. Ek hoop so. Hy het ook nou vyf skote na mekaar geskiet en ek kan net dink dat die geweer se magasyn leeg is.
Ek steek die loop van die ou Mauser uit bokant die enjinkap, maar ‘n entjie vanwaar ek dit so pas gedoen het. Die skut, wie hy of dalk sy, kan wees, skiet weereens en hierdie keer is dit lynreg na my toe, maar hoog en die koeël kerm fluitend van die sypaadjie agter my. Ek hoor hoe van die laaste stukke glas wat nog in die vensters kan wees, op die beton klingel.