Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kyk rondom jou: God openbaar Homself en sy Grootheid en Almag aan ons in die natuur wat ons elke dag met ons eie oë kan aanskou. Kan jy hoegenaamd twyfel?!
BROKKIES UIT DIE BOEK – DOODSAKKER (3)
“Hoeveel ammo het jy vir daardie vier-vyf?”
“Genoeg om mee te begin.”
“Dit antwoord my nie werklik nie.”
Madel reik agtertoe, kry haar sak in die hande, haal ‘n paar stukke klere uit en sit dit by haar voete neer. Die ou, groot en swaar 230 grein, .45 ACP rondtes lê los in die sak, en sy tel dit een-een.
“Een honderd ses en vyftig. Plus vier vol magasyne, van sewe elk. En die een in my wapen, en nog ‘n enkele patroon in die loop. Een honderd twee en negentig, as my somme reg is.”
“Honderd vyf en tagtig.”
“Dankie, Slimjan. Amper maak ek ‘n fout.”
Hulle ry ‘n paar minute in stilte, met net die diesel se gerusstellende gegrom onder die enjinkap, die growwe bande se ruising en die wind wat bo-oor, langsaan en tussen hulle deur waai.
“Het jy kos in hierdie ding wat jy ‘n Jeep noem?”
“Ek noem hom niks. Hy kan vir homself praat. En ja, help jouself uit die koelboks agter-op. Gee sommer vir my ook iets.”
“Asseblief.”
“Sê weer?”
“As jy wil hê hierdie verhouding moet uitwerk, moet jy leer om ‘asseblief’ te sê en nie op my te blaf nie.”
Herrie kyk na die vrou of sy ‘n paar varkies kort. Sy het ‘n niksseggende uitdrukking op haar gesig, maar hy kan sien sy probeer haar beste om nie te lag nie. Hy antwoord nie, maar aanvaar die stuk gedroogte snoek en tuisgebroude bier, wat die mense daar aan die Weskus ingepak het. Hy hoop die bier het nie baie skop in nie, maar as hy dink aan ‘n verhouding met Madel, hoop hy inniglik die alkoholpersentasie daarin is inderdaad baie hoog. Wat ookal, hy vat ‘n lang sluk en voel hoe die bier sy maag brand.
Aan die bokant van die N1, waarop hulle nou gedraai het vanaf die Delmas-afrit, is die groot ou Erasmus-kasteel, ook bekend as die “spookhuis”, wat later gedien het as die hoofkantore van Denel. Nou is dit verlate en werklik spookagtig. ‘n Kort ent verder, met die lang, steil afdraand, draai Herrie af op die Atterbury-afrit. Hulle vleg tussen die sakesentrums, woongebiede, parke en kerke, skole en veiligheidskomplekse deur. Vreemd genoeg staan die jakarandabome nog, nou sonder blare en met kille, donkerbruin, kronkelende stamme en takke. Dit dra by tot die gevoel van verlatenheid en desperaatheid, wat net ‘n gewapende konflik kan meebring. Oral lê uitgebrande buitebande en meubels, omgekeerde karre en alles wat uitgedra is uit die huise voordat die vensters gebreek en die deure afgehaal is. Woede en desperaatheid, frustrasie en honger, is nie juis bedmaats nie. Of is dit juis? Plastieksakke, rommel van alle kleur en geur, lê verstrooid.
“Ons met iewers ‘n veilige slaapplek kry voordat dit heeltemal donker is. Ek wil nie die Jeep,” Herrie kyk na Madel of sy reageer as hy sy voertuig ‘n “Jeep” noem, “se ligte aanskakel nie. Dit sal van ons ‘n teiken maak.”
“Is ons nie reeds een nie?”
Herrie antwoord nie, maar draai by ‘n donker en oënskynlik verlate kompleks in. Die hek is nie afgebreek nie, maar oopgeforseer. Die wooneenhede is in ‘n groot sirkel gebou, om ‘n gemeenskaplike sportkompleks, met ‘n nou-leë swembad en parkbankies, ‘n buitenshuise gimnasium, wat nou oortrek is met verdorde onkruid. Die sporttoerusting is uitgebreek, omgegooi en verwoes. Waarom?
Een van die huise se garagedeur staan oop en op die ingewing van die oomblik trek Herrie daarin. Die oprol houtdeur is nog heel, al werk die elektriese motor wat dit oop en toemaak nie meer nie. Sodra hulle diep genoeg is, skakel Herrie die voertuig se enjin af en sit ‘n paar angstige minute, waarin hulle stil sit en luister vir enige onvriendelike geluid. Wanneer hy seker is dis stil en met niemand wat hulle inwag nie, rol hy die deur af en toe. Dis pikdonker in die gebou.
*
Miskien moes ek die SKS ook gehou het. Dis immers ‘n semi-outomatiese wapen en al kom dit vanuit die destydse ystergordyn en hierdie een, wat ek gesien het met Cyrilliese skrif op, is in Rusland vervaardig. As ek reg onthou, gebruik dit dieselfde ammunisie as ‘n AK en AKM en variante, dit wil sê 7,62 by 39mm.
Die Chinese het dit bokant AK-47’s verkies (en self miljoene vervaardig), omdat hulle gemeen het die AK’s is ryk lande se wapens, waar die infanterie agter grofgeskut en tenks na die vyand toe beweeg het, terwyl hulle duisende rondtes vanaf die heup gevuur het, na ‘n sigbare of onsigbare vyand. Die Chinese se strategie en taktiek was anders en daarvoor is die SKS meer geskik. Of so-iets. Nou egter, gaan ek nie terug na daardie gebou toe waar ek hom weggesteek het nie. Miskien later, ek sal maar sien. Nood leer bid – en planne maak.
In die laaste strale van die laatmiddagson kyk ek behoorlik na die Mauser. Wanneer ek die slot uithaal en deur die loop kyk, wens ek ek het iets gehad om die gemors uit die loop te kry. Afrika glo nie juis aan skoonmaak en onderhoud nie. Nie net wat wapens betref nie, maar enigiets waarop hulle hulle sweterige hande kan slaan.
Een van die karre, ‘n ent af in die straat en nog nie uitgebrand of omgekeer nie, het ‘n outydse lang, dun, staal lugdraad wat op die voorste modderskerm uitsteek. Ek loop versigtig daarheen, knip dit met die Leatherman, maar dis hard en die gereedskap se draadsnyer maak net twee duikies aan weerskante. Tog kan ek dit met nie veel moeite nie, afbreek, daar waar die duikies in is. Ek haal die enjin se dipstick uit en dra dit versigtig. Ek sal die olie wat daaraan vaskleef, gebruik om die aksie van die Mauser te smeer.
Nou net ‘n stukkie lap, en dis met ‘n redelike hoeveelheid walging dat ek die trappe opklim, tot ek een van die manne kry wat ek net anderdag geskiet het. Hy het begin ontbind, en ruik uiters sleg, maar ek druk my neus toe en kan uit sy hemp ‘n stuk lap sny.
Met die loop skoon genoeg, olie die aksie soveel ek kan met die beperkte hoeveelheid olie aan die diepsteek (soos ‘n oom van my dit genoem het), sit ek die slot weer terug en druk ‘n rondte in die loop.
*
Dis baie donker in die motorhuis en Herrie skakel die Jeep se parkeerligte aan. Daarby kan hulle genoeg sien om op die gasstofie water te kook vir koffie, ‘n blikkie boeliebief en een met mielies, warm te maak. Dis maar ‘n karige ete vir twee mense, maar nie een van hulle kla nie. Tog is daar nie ‘n krieseltjie vleis of een mieliepit wat oorbly nie.
In die hoek staan ‘n verweerde tapyt, opgerol en met die een kant wat begin muf raak. ‘n Mens gooi nie maklik ‘n mat uit nie en hierdie een staan seker al ‘n paar jaar so en wag dat iemand daarvoor ‘n gebruik kan uitdink. Herrie kry dit, rol dit oop, maar dit krul weer op teen die kante.
“Dink jy die mense, as hulle eendag terugkom, sal die ou mat mis?”
“Nee. Dit ruik na muf.”
Herrie rol dit so oop as wat hy kan, gebruik sy knipmes en sny die mat in drie eweredige, of naasteby, groottes en sit dit op mekaar.
“Nou ja, dis nie ‘n Sealy-Posturepedic nie, maar dit sal beter wees as die kaal sementvloer.”
Hy haal hulle slaapsakke van agter die Jeep af en sit hulle sakke met klere aan die bokant, om te dien vir kussings. Madel staan met hande in die sye en ‘n gemaak-bekommerde uitdrukking in haar oë en kyk wat hy doen.
“Wat is dit?
“Dis ons bed vir die nag.”
“Ons gaan koud kry so. Rits die slaapsakke oop, dat ons onder twee kan lê en warmer kan slaap. En Herrie, jy gaan nie kanse met my vat in die donker nie, nê?”
“Nee, Madel, glo my, jy is veilig,” sê Herrie ernstig.
Nadat Herrie die Jeep se ligte afgeskakel het, klim hy en Madel onder die slaapsakke in. Die sakke met klere in is nie werklik gemaklik op die oor nie, maar is beter as niks. Dis baie koud. Na ‘n halfuur skuif Madel teen Herrie vas.
“Jy mag my maar vashou. Ek is mos veilig, of hoe?”
“Glo my.”
*
Daar is geen manier waarop ek weer ‘n nag in hierdie gebou kan deurbring nie. Nie net oor Alida Ebersöhn en die ander dooie mense nie, maar dis te vol herinneringe, al is dit kort tevore gemaak. Eendag, as ek weer vrede het – dis nou as hierdie land weer in so ‘n situasie kan kom – sal ek in my gedagtes hierheen terugkom. En selfs miskien, as dit moontlik is, om haar baas op te spoor en sodoende haar familie. Miskien.
Tans is ek soos ‘n hond wat ‘n donker hoekie soek om te gaan lê en my wonde te lek.
Die nag is gevul met koue, ‘n skraal wind, nagmerries, harde, koue sementvloer en vroegoggend swaar dou, of ligte reën. Teen vroeglig staan ek op, vat my wapens en loop na die straat toe.