Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons is tog so besorg oor ons kinders, maar ons doen ook soms groot skade daarmee. Ons kinders is nie óns kinders nie; hulle behoort aan God – ons moet hulle ons liefde gee en hulle liggame huisves maar nie hulle siele nie, dit behoort aan God. Ons moet ook nie probeer om hulle te maak soos ons is nie want die lewe beweeg nie agteruit nie. Vertrou hulle net aan God toe terwyl julle hulle in liefde versorg.
DIE "HELLE" WAARONDER ONS LY
"Jij is 'n Afrikaner en jij skrijwe in die taal van die helle onder wie ons lij!" Só het genl De Wet vir J A B Joubert gesê toe dié as rebel teen die inval in Duits-Suidwes 1914-15, in aanhouding vir sy vrou 'n brief in Engels geskryf het. Genl De Wet was 'n sterk taalbewuste Afrikaner wat hom dikwels uitgelaat het oor die taalkwessie. In sy pleidooi op 'n kongres te Brandfort reeds op 1 en 2 Desember 1904 het hy hom beywer vir eie skole ter wille van die eie taal: "Al moeten wij onszelf en onze familien van benodigdheden afknijpen om onze taal te behouden, zullen wij het doen tot den dag dat het God sal behagen het hart van die Regering te weken alvorens ons volk uitgewist is." Hierdie hartstogtelike pleidooi was vir fondse vir die C.N.O. – skole (Christelike Nasionale Onderwys) waar die Boerevolk hulle eie taal kon huldig. (Vandag het ons die C.V.O – skole tot ons redding as ons dit net wil gebruik).
Onderwys het nog altyd 'n betekenisvolle rol gespeel om die kind sy moedertaal te laat behou of 'n ander taal oor te neem. Wanneer 'n kind se moedertaal vir hom vreemd word is daar natuurlik nie meer trots en waardering voor nie en gaan sy selfwaarde, sy oorsprong en ankers verlore. As 'n Afrikanertjie nie meer sy taal ken nie (en daarby sy geskiedenis wat ook van hom weggeneem is in die staatskole van die ANC) kan daar lateraan van 'n volk geen sprake wees nie. Dit weet ons volksvyande nog deur alle eeue. Daarom is daar deur die kommunistiese ANC ná oorname in 1994 groot veranderinge op alle vlakke van onderwys aangebring.
Hierdie is egter nie die eerste aanslag op ons taal en voortbestaan nie. In ons volksgeskiedenis is daar talle voorbeelde van terugslae maar ook nasionale oplewing byvoorbeeld in die jare vóór en tydens die Eerste Vryheidsoorlog toe Die Afrikaanse Patriot al hoe meer lesers bygekry het weens sy sterk pro-Transvaalse standpunt. 'n Nasionale oplewing van Afrikaners as gevolg van die anneksasie van Transvaal en die Vryheidsoorlog het 'n soort parallel in 1915 gekry: 'n groter nasionale oplewing vanweë die Rebellie en sy nasleep – die groei van Het Volksblad (en later De Burger vanaf 1915) – die groei van die Nasionale Party.
Die Nasionale Party se oorwinning het Afrikaans baie bevoordeel. Terwyl die Botha- en Smuts-regerings al meer moes staatmaak op Engelse steun, onder andere op mense soos die Unioniste en sir Percy Fitzpatrick wat 'n kabaal opgeskop het oor die toepassing van die tweetaligheidsbeginsel, het Afrikaners op alle vlakke nader na mekaar gekom in die Nasionale Party en het Afrikaans begin gedy.
Laat in die sewentigerjare het die Afrikaner se volksvyande nóg 'n grootse poging aangewend om ons volk te probeer vernietig, en soos ons die geykte ou deuntjie ken, het die Engelse pers weer 'n volskaalse aanslag op Afrikaanse instellings geloods met die 'apartheid'- storie. Dit was nie lank nie toe selfs eens nasionaalgesinde Afrikaanse koerante begin saamsing en moedertaalskole as 'n vorm van "blanke apartheid" veroordeel het. Wat hulle almal doelbewus verswyg het is dat afsonderlike skole en organisasies binne ander taalgroepe net so algemeen was. Politici en koerante wat eers teenstanders van tweetaligheid op ander terreine was het hulle ewe skielik as voorstanders daarvan voorgedoen in die stryd téén moedertaalskole. En uiteindelik het ons volksvyande daarin geslaag om die Nasionale Party en al sy reggesinde koerante om te haal om die Afrikanervolk te probeer vernietig.
Vandag is daar geen Nasionale Party nie en maar min van die eens stoere Boerevolk. Maar soos die opstand tydens die Rebellie van 1915 Afrikanernasionalisme begin versterk het, vlam die hoop vandag op dat Afrikaners onder die hiel van die ANC weer in opstand sal kom teen die onreg wat teen ons volk gepleeg word. Deur opstand het die Rebellie op die lange duur Afrikaans onregstreeks bevorder. Uit hierdie groeiproses was daar onder andere 'n Bloemfonteinse koerantjie Het Westen (later Het Volksblad) wat ses maande ná die Rebellie byna die enigste koerant in Suid-Afrika was wat nog vir die regte van die Afrikaner gepleit het. Die Rebellie het nog meer Afrikaners se antipatie teen die regering van Louis Botha laat opbou met onregmatighede gepleeg teen die Afrikaners soos die teregstelling van Jopie Fourie. Dit het die gemoedere gaande gemaak het teen genl Smuts en die onderdrukkers.
Vandag is ons weer in 'n soortgelyke oorlewingstryd. Ons word verdruk en vermoor, en ons taal versmoor met beletsels van die "helle waaronder ons ly". Maar daar brand 'n helder lig van hoop wat direk uit ons verlede na vore skyn: die dag wanneer die Boerevolk genoeg van sy onderdrukkers verduur het sal hy weer die taal van vervreemding soos gif uit sy mond spuug en ons kosbare taal sy eie maak. "Al moeten wij onszelf en onze familien van benodigdheden afknijpen om onze taal te behouden, zullen wij het doen tot den dag dat het God sal behagen het hart van die Regering te weken alvorens ons volk uitgewist is." Maar tot dít nog nie gebeur het nie, het ons nog nie genoeg gely nie en kan ons seker wees daar kom nog groot lyding vóór die herstel sal begin plaasvind!