Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Langenhoven het 'n baie waar uitdrukking gehad dat 'n man van weining woorde se solder te klein is vir 'n klomp kaf. Daarby moet ons onthou dat iemand wat loop en skinder en laster, baie meer oor homself daarme sê as oor sy slagoffer...
BROKKIES UIT DIE BOEK – DOODSAKKER (13)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672
Die geveg in en rondom die plein, in Kerkstraat, Paul Krugerstraat, op na die stasie se kant toe, oral waar geboue skuiling kan verleen, is uiters intens. Die skote klap aanmekaar; soms net kleingeweervuur, soos R4, R5, AK’s, en die sagter klap van pistole, afgewissel deur masjiengeweervuur, swaar en hard, wat ek maar net kan raai iets soos ons destydse MAG, en selfs die .50’s wat op voertuie gemonteer is, die oorverdowende bars van handgranate en RPG’s, stemme wat bevele uitskreeu, gille van pyn en vrees. Dis ‘n disopsie van angswekkende chaos. So af en toe is daar ‘n effense stilte, waardeur die enkelskoot-knal van ‘n mediumkaliber geweer die stilte breek, soms naby en soms verder straat-af.
Die kantoorgebou waarin ons skuil skud af en toe wanneer iets naby ontplof, of wanneer ‘n granaat voor in die straat of sypaadjie val. Die reuk van brand is nou sterk en ek kan net hoop ons gebou word nie daardeur geraak nie.
Dis onmoontlik om in hierdie aanhoudende geraas ‘n gesprek te voer en soos soldate van alle tye, wanneer daar gewag word vir jou beurt, is elkeen besig met sy of haar eie gedagtes.
Die geveg wissel van lokaliteit, soms klink dit asof die magte wat ontplooi is vanaf die Plein se kant die oorhand kry, maar dan val hulle terug na hulle voertuie en die skuiling wat die geboue vir hulle bied. Ek brand om uit te kyk en te sien wat aangaan, maar ek doen dit om twee redes nie, die eerste dat ek in die roekelose en soms ongemikte vuur raakgeskiet kan word en tweedens wil ek nie ons posisie weggee nie, al is dit net ‘n skuiling.
Ek kyk na die gesigte en houdings van die paar mense rondom my – Herrie met sy arm beskermend om Tersia se skouers, terwyl sy met haar gesig op haar gekruisde arms sit. Jessica met die Star-pistool in haar hand geklem, starende na die trap, asof sy iemand verwag wat daar gaan opkom. Ek weet sommer sy sal nie huiwer om te skiet nie en ek wonder of die ding gespan is, met die veiligheidsknip op of af.
Madel sit uitdrukkingloos met die groot Colt .45 in albei hande vasgeklem. Sy drink so af en toe ‘n paar slukkies uit ‘n waterbottel, maar ten spyte van haar oënskynlike brawade, sien ek sy bewe effens, soms so baie dat die water langs haar mondhoeke afloop as sy skrik.
May het styf teen my kom sit en as dit nie was dat haar hande verbind was nie, sou ek een van hulle vasgehou het. In plaas daarvan, huiwer ek ‘n paar minute, terwyl haar maer skouertjies ruk van skok elke maal as ‘n ontploffing te naby kom. Sy skuif nog ‘n entjie teenaan my en ek sit my linkerarm om haar, terwyl ek die Beretta gereed hou.
Iets ontplof baie na of teen ons gebou en fyn stoffies val uit die beton plafon op ons. ‘n RPG moes deur een van die vensters getrek het, ‘n verdieping of twee bokant ons. Die hele gebou ruk en daar is die geluid van glas wat val. Jessica onderdruk ‘n geil van blote benoudheid.
Ek voel hoe May se brose lyfie ruk en styftrek van angs.
“Dis okay, my meisie. Dit was naby, maar ons is nog okay.”
Ek hou haar stywer vas, bloot om haar te vertroos en soen haar instinktief teen haar voorkop. Of dit bewustelik is of nie, sy tel haar gesig op, sodat ek haar op die lippe kan soen. Die soen is sag, al is haar lippe droog en gebars. Vir die eerste maal in ‘n baie lang tyd klop my hart nie van skok en spanning nie, maar van iets anders. Iets wat ek baie lanklaas ervaar het.
Hoe, kan ek nie verklaar nie, miskien ‘n intuïtiewe aanvoeling, miskien ‘n stem of voetstappe wat in my onderbewuste vasklou, ek weet nie, maar skielik weet ek dat daar soldate teen die trap opkom na ons toe. Miskien deursoek hulle alle geboue, of dalk is hierdie een waarin hulle net lukraak opkom, vir skuiling of wat ookal, maar ek weet hulle kom.
Sonder om ‘n woord te sê, los ek vir May en beweeg vinnig na die trap toe. Die reling is nog heel en ek kan daarteen leun om te kan sien wie teen die trappe opkom. Wanneer daar ‘n aantal manne twee verdiepings onder ons is, kan ek hulle sien en ek maak die Beretta leeg op hulle. Ek wens ek het ‘n handgranaat by my.
Die manne leun nou ook oor die kante van die trap en begin terugskiet. Ek val ‘n oomblik terug, buite hulle sig en ruil magasyne. Op daardie oomblik is Herrie langs my en die Heckler&Koch sub-masjiengeweer strooi dood en pyniging onder die manne in, wat nou terugval.
“Ons kan nie langer hier bly nie!” skreeu Herrie om homself bokant die geraas hoorbaar te maak. “Hulle weet nou waar ons is!”
“Kom ons gaan na ‘n gebou verder van hierdie hoofstrate af.”
Herrie ruil magasyne en laai die leë magasyn met rondtes uit sy baadjiesak. Hy span die wapen en loop stadig teen die trap af. Hy beweeg met sy rug teen die kant, die verste weg van die trap-opening. Twee trappe agter hom volg Tersia en dan Madel. Na haar kom ek en May wat aan my baadjie vashou. Heel agter kom Jessica. Ek wens ek het nou daardie SKS wat ek weggesteek het.
Dis een ding om aan ‘n geveg deel te neem, dis heeltemal iets anders om te wag dat die geveg die een kant toe of ander kant sal gaan.
*
Die regering se ou weermagmagte, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, is deur die jare afgetakel, uitgedun wat bekwame soldate, toerusting en leierskap betref. Al wat in relatiewe oorvloed is, is die getal manne en vroue. Hulle wapens, R4’s wat die leër betref, en R5’e die lugmag en polisie, Z-88 pistole en hier en daar ‘n haelgeweer, is grootliks verwaarloos, vuil en nie elke magasyn is tot bo vol rondtes nie. Baie van hulle het nog net ‘n magasyn vol of twee tydens opleiding gevuur en is baie onseker oor die gebruik van die geweer. Sommige van hulle het met die aanvang van die geveg hulle wapens leeg geskiet, oor die algemeen op vol outomaties en sonder om iets behalwe geboue te tref. Natuurlik, volgens die wet van gemiddeldes het ‘n klompie dwaalkoeëls van die vyand getref, maar die skade is nie juis noemenswaardig nie.
Daarenteen is die nuwe privaat leër beter opgelei, deur Russiese en Chinese “raadgewers” en hulle wapens is nuut en goed versorg. Dit bestaan uit ‘n oorgrote meerderheid AK’s van verskeie variasies, insluitende AKM’s, PPSh sub-masjiengewere en natuurlik is daar hier en daar Dragunov SVD’s. Die dissipline is heelwat beter, en dit wys vroeg in die geveg. Waar die SANW die voordeel van duisende meer lywe het, het die privaat leër die voordeel van beter wapentuig en opleiding.
Die geveg duur ure lank, met ongevalle aan beide kante baie hoog. Teen laatmiddag is daar ‘n sogenaamde “impasse”. Deur die nag is die geveg minder intensief, met sluipskutters wat die slagveld oorheers. Dwarsdeur die nag klink die sporadiese enkele knalle op, dikwels gevolg deur uitroepe van pyn en skok. Ons gebruik die geleentheid om tot onder op die sypaadjie te beweeg en dan in die gangetjie tussen die geboue in. Sodra die laaste een van ons groep, Madel, veilig is, klap ‘n skoot en ruk ‘n stuk beton uit die gebou waaruit ons pas ontsnap het. Iemand het nagsig.