Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Bejaardheid moet positief benader word – ongelukkig is daar te veel bejaarde mense wat depressief raak en baie ongelukkig is omdat hulle opgehou het om met hoop en verwagting na die toekoms te kyk, en in die verlede begin terugkyk het waar daar net frustrasie en nutteloosheid is. Sorg dat daar altyd iets is om te doen, bly besig en sien daarna uit.
BROKKIES UIT DIE BOEK – DOODSAKKER (14)
Net iemand wat nog nooit in ‘n geveg was nie, beskou hulleself as helde en wat hulle alles sal doen indien dit met hulle sou gebeur. In elkeen se drome is hy die held en sal nooit terugdeins nie. Hy is ook onoorwinlik en sal nooit kwesbaar wees nie. In die aansien van erge geweervuur is hy die man wat onverskrokke die masjiengeweernes van die vyand bestorm met net ‘n rewolwer en ‘n mes tussen sy tande en al die skote wat op hom afgevuur word sal mis wees, soos die vyandelikes terugdeins as hulle sy vasberadenheid sien.
Tot dit gebeur.
Almal is nie Audie Murphy, Rambo, of Carlos Hathcock nie. Daar is ‘n skielike skok wat menige dapper held tot ‘n klein, opgetrekte bondeltjie vrees kan laat inkrimp met die besef dat die koeëls van die vyand inderdaad sy vleis, been, bloed en ingewande kan uitruk en ‘n skielike, pynlike en patetiese dood tot gevolg kan hê.
Daar is inderdaad min manne – of vroue – wat sy of haar kop in so ‘n situasie sal oplig uit die veiligheid van die skans of skuiling en vasberade en doelgerig die wapen oplig en terugskiet. Die ou Boere het gepraat van “gesoute vegters”.
In die televisiereeks “Band of Brothers”, sê luitenant Ronald Spiers vir ‘n bang troep die geheim is om te weet jy gaan dood wees voor die oorlog verby is en as jy vrede met daardie besef gemaak het, is jy ‘n oorwinnaar – nie altyd van die vyand nie, maar van jou vrese.
Generaal Christiaan de Wet vertel dat gedurende een van die veldslae het ‘n jong seun met ‘n Mauser langs hom teen ‘n walletjie gelê en skiet. Na elke vierde of vyfde skoot is die outjie dan teen die wal af en hy het hom vererg vir die seun se lafhartigheid, maar toe hy hom daaroor wou aanspreek, sien hy die geweer skop hom met elke skoot ‘n entjie verder teen die walletjie af, tot hy elke keer moes terugkruip, sy hoed weer agtertoe op sy kop skuif en weereens op die vyand aanlê.
Daardie aand het die seun sy pyp uitgehaal en wou hom stop, toe een van die burgers die mannetjie skerp aanspreek omdat hy nog te jonk was daarvoor. De Wet het toe gesê hy mag inderdaad rook, want hy is ‘n man net soos enigeen van die ander. Hy het die seun selfs van sy eie twak aangebied.
*
Daar is ‘n gedruis van stewels in die gang as die soldate die gebou waarin ons skuil binne hardloop. Dis onvermydelik dat hulle ons hier, waar ons naby die trap is, sal vind en dis net so seker dat ons nie hierdie keer gaan oorleef nie. Dis tog ook ‘n beginsel dat, wanneer jy daarvan oortuig is dat die vyand te veel is en jou posisie te sleg, dat jy ‘n beter een gaan soek. Ons hardloop by die gang af, op soek na ‘n oop kantoor of konferensiekamer, maar al die deure is gesluit, so ook die een aan die einde van die gang. Ek probeer die deur oopkry, terwyl ‘n angstigheid ons groep oorval. Ek word half hardhandig uit die pad gedruk en Herrie druk ‘n groot, breë skouer teen die deur, gee ‘n treë terug en stamp die deur nie net uit sy slot nie, maar uit sy skarniere.
Sodra ons almal in die vertrek is, tel hy die dik houtdeur op en plaas dit terug in die opening. Ek besef weereens dat jy nooit ‘n ou man met breë skouers en ‘n jonger vrou as meisie vlak moet kyk nie.
*
Die geveg tussen die twee magte loop wipplank, soos die een na die ander die oorhand kry. Dit is egter so, en die geskiedenis bewys dit, dat enige stryd op die langduur gewen sal word deur vindingryke denke, dissipline en dapperheid en, maak nie saak wat hulle politieke beweegrede is nie, die nuutgestigte leër van die regering en nie die amptelike een nie, voldoen aan al drie die voorwaardes.
Die SANW begin stadig, maar seker terug te val en gee uiteindelik oor. Hulle word voor die keuse gestel of hulle by die nuwe leër wil aansluit en hulle onderhewig aan ysere dissipline stel, en of hulle tereg gestel wil word. Sonder uitsondering besluit hulle op eersgenoemde.
*
“Wat is dit Herrie?”
Herrie sit, vir die eerste keer vandat Tersia hom gesien het, met ‘n gelate, hartseer trek op sy gesig. Hy het die deur vir ‘n paar minute afgehaal en uitgesluip om te gaan kyk wat aan die gebeur is. Vandat hy teruggekom het, is dit of die verslaentheid van hom afdrup. Hy haal diep asem, voordat hy praat, kyk na ‘n vuil kol teen die oorkantse muur en uiteindelik vertel hy.
“Ons is omsingel. Dit lyk my die twee groepe het nou hande gevat en hulle is besig om al die geboue te deursoek. Terwyl ek gekyk het, het hulle tien op ‘n slag daar voor oom Paul laat kniel en dan skiet hulle elkeen agter die kop.”
Herrie is sigbaar ontsteld.
“Dis net ‘n kwessie van tyd, dan gaan hulle ook hier aankom.”
“En wat van die offisier wat ons laat gaan het?”
“Hy is nie meer in bevel nie, soos dit vir my lyk. Nee, ons sal maar hier aanhou veg, tot die laaste koeël.”
“En dan?”
“Dan hou ons die laaste ses vir onsself.”
Die skok van sy woorde gaan nie by een van die ander verby nie. Het hulle so ver gekom, dat hulle so moet omkom?
Ek kyk na hulle een vir een. Madel sit uitdrukkingloos, May skuif effens dieper onder my vlerk in, Tersia en Jessica is duidelik ontsteld, Herrie probeer sterk wees.
Ek vat my wapens en gaan hulle een-een deur. Die pistool is maklik om skoon te maak en ek doen so. Ek ontlaai elke magasyn, maak ook hulle uitmekaar en skoon, maak seker die vere is styf, vee elke ronde af met ‘n lap en laai weer die magasyne. Ek haal die slotte uit die lang gewere en kyk of die lope darem soorte-van skoon is. Ek het niks om daardeur te druk nie. Herrie sien wat ek doen en volg my voorbeeld. So ook Jessica met die Star, alhoewel ek haar moet help om die ding te stroop en weer aanmekaar te sit. Net Madel sit met haar wapen en, alhoewel sy haar rondtes tel, maak sy nie skoon nie. Wanneer Herrie vir haar vra waarom, sê sy dis ‘n Colt – hy sal nie stoor nie.
Die klap van die enkele skote raak nou meer en dis nie nou nog die dowwe knal van pistole nie, maar die enkele skote van gewere, ek aanvaar AK’s.
“Luister, dames, ek en Herrie gaan in die gang sit en die spul hier van julle af weghou solank ons kan. As julle sien daar is nie meer salf aan te smeer nie, moet julle julleself so stil as moontlik hou. Ongelukkig is hier nie uitkom plek na buite toe nie en dis in elk geval hopeloos te hoog om te spring. So, wag hier. En bid.”
“Wanneer jy, Taps Mouton, praat van ‘julle dames’, hoop ek nie julle sluit my daarby in nie. Ek is nie hulpeloos of ‘n brose poppie nie. Ek sal saam met julle in die gang gaan sit. Ek en Ouboet” sy hou die pistool in die lug. “Ek en Ouboet sal saam kom sit. Ek is nie bang nie.”
“En ek”, sê Jessica.
“As ek ‘n geweer by een van julle kan kry, sal ek ook eerder gaan.”
May hou haar hande, steeds verbind, in die lug.
“Ek kan nie help nie, maar ek gaan saam met julle gang toe, ek gaan nie alleen hier wag nie.”
Herrie hou sy pistool, die Astra A100, uit na Tersia toe.
“Hier, Tersia. Die ding vat sewentien skote in die magasyn en daar is een in die loop. Mik net na wie-ookal en trek die sneller. Die eerste skoot gaan swaar trek, maar van daar af sal die ander makliker wees. As hy leeg is, sit een van die spaar magasyne in. Jy druk hierdie knoppie, dan val die leë een uit. Jy sit net die volgende een hier onder die greep in en trek die boontoe gedeelte effens agtertoe. Laat gaan dan en hy sal self vorentoe gaan. En Tersia? Ek is jammer dat ons hier opgeëindig het. Ek het dit nie so beplan nie.”
Tersia vat die wapen en hou dit in albei hande voor haar vas. Sy is duidelik nie gewoond aan die ding nie en sukkel om die visiere opgelyn te kry.
“Hy is swaar, maar ek kan dit ‘handle’. En Herrie? Dankie dat jy my kom haal het.”
*
Die twee leërs het saamgesmelt en alhoewel hulle mekaar nog nie heeltemal vertrou nie, het hulle albei nou ‘n gemeenskaplike doel en dit is om soveel mense as moontlik uit die weg te ruim, vriend sowel as vyand. Afrika het nog altyd ‘n oorvloed mense-lywe gehad en elke een wat nie gaan eet aan die bietjie kosvoorraad, water en drank nie, is een met wie hulle nie hoef klaar te kom nie.
Die vroue gil en die manne probeer losruk. Hier en daar sal een wat op sy knieë staan en wag vir die onvermydelike, aan die prewel gaan; sommige wat bid en ander wat die voorvadergeeste roep. Dit hou eensklaps op as die skoot teen die agterkop klap.
Die lyke word met hande en voete weggedra en op ‘n hoop gegooi. Sodra die hoop hoog genoeg is, word ‘n kan petrol daaroor uitgegooi en aan die brand gesteek. Die reuk van gebrande klere, vleis en petrol hang swaar oor die plein. Net Oom Paul staan nog onbetrokke en uitdrukkingloos, terwyl hy kyk na die manewales van die spul.
Na ‘n anderhalf-uur besluit een van die bevelvoerders dat daar genoeg ammunisie gemors word hiermee en word die koppe afgekap, eerder as geskiet. Die bloed word eers ‘n plas, maar naderhand loop dit van die plein af en vorm ‘n stroom wat in die afvoerslote inloop.
“Africa is a tough country.”