Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gaan ons Jesus weer sien? Ja, ons gaan! God belowe in sy Woord dat Jesus nie net eenmaal na die aarde gekom het nie, maar vir ‘n tweede en finale keer gaan kom. Luister wat sê die twee engele vir die dissipels na afloop van die hemelvaart in Hand.1:11: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het”.
BROKKIES UIT DIE BOEK – DOODSAKKER (11)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672
“Oom, ons is jammer om te vra, want ons weet dis iets groot.”
May het amper oornag herstel. Sy is nog jonk, het ‘n sterk gestel en haar aanvanklike toestand was ‘n kombinasie van rou-seer, wanvoeding, uitputting en natuurlik onbering as gevolg van die koue.
Na die eerste nag het sy sterk genoeg geword om eers sop en daarna vaste kos te eet. Haar hande en linkervoet is nog baie seer, maar aan die herstel. Sy het van nature ‘n baie ligte vel, met groot, groengrys oë en skouer-lengte donkerbruin, amper swart hare.
Sonder om die besonderhede uit haar te trek, het sy begin vertel van Nellie, die feit dat sy uit haar huis geskop is, die lang loop vanaf Warmbad na Pretoria. Van die laaste paar dae kan sy niks onthou nie. Sy staan nou, skraal en amper verwese, maar regop en luister na die gesprek.
“Vra maar, miskien kan ek help, miskien nie.”
“My Mazdatjie wil glad nie vat nie en ons het gewonder of Oom nie dalk kan kom kyk nie.”
Jasper los die stukkie handewerk waarmee hy in sy klein werkswinkeltjie mee besig is, vee sy hande aan ‘n geel stoflap af en loop saam.
Die Mazda is nie oud nie; ‘n 2019 model, maar Jessica het hom nie gebruik die afgelope paar maande nie. Die battery is pap gekarring en albei die wiele aan die linkerkant is ook pap.
“Is daar petrol in?”
“Nie baie nie. Die meter wys hy staan op leeg, maar die liggie het nog nie aangekom nie.”
“En hoe gaan julle die wiele hard kry?”
“Ons het maar gehoop Oom het ‘n pomp wat ons kan gebruik.”
“Nee, ongelukkig nie. Dis een van die min goed wat ek nie het nie.”
Jasper staan die karretjie en aankyk. Dis onder ‘n laag stof en Jessica het net die voor en agterruite skoongevee, sover sy kan. Water word nie gebruik om karre mee skoon te maak nie. Die enjinkap is oop, maar daar is niks wat hy kan doen as daar ‘n elektroniese probleem is nie. Hy kyk verby die enjin en kom met ‘n frons op sy voorkop uit die enjin kompartement op.
“Ek is bevrees...”
“Wat?”
“Ek is bevrees die rotte het hulleself nie net hier kom tuismaak nie, maar het ook die drade afgevreet. Kyk hier.”
Jasper buk weer in en trek ‘n klos los drade uit. Die omhulsels is afgevreet en daar lê rotte-uitwerpsel oral waar daar ‘n plat oppervlak is. Van die drade het inmekaar gesmelt en daar is ‘n duidelik brandreuk daaraan.
“Hy gaan nie gou weer loop nie. Julle sal ‘n elektrisiën hiervoor moet kry en hy sal die hele harnas moet vervang.”
“Ai...”
“Waarheen wil julle in elk geval ry? Dis mos veilig hier en ek en die tante sal help as julle iets nodig het. Dit lyk asof May heeltemal goed herstel het. Hoe voel jy, meisiekind?”
May knik net met haar kop.
“Dis eintlik ‘n lang storie, maar in kort, Tersia het ‘n geliefde wat sy wil gaan soek op of naby Kerkplein. Hy het ver gekom om haar te kry en ons weet nie hoe lank hy daar gaan wag nie.”
Jasper staan ‘n rukkie en dink.
“En as julle die man gekry het, kom julle terug hierheen?”
“Miskien, Oom. Nie een van ons kan met sekerheid sê nie.”
Jasper trek stadig aan sy baard, ‘n gewoonte wat hy lankal aangeleer het as hy ‘n groot besluit moet neem.
“As jy sê julle, dan bedoel jy, jy en Tersia en May, of net julle twee?”
“Nee, Oom. Ons al drie.”
“Julle besef hoe verskriklik gevaarlik dit is as julle hier uitry? Veral middestad se kant toe? Hoe weet julle in elk geval die man wag daar? Hoekom kan hy nie hierheen kom nie?”
“May het ‘n briefie aan ‘n lamppaal gelees wat sê hy gaan by om Paul wag. Ons aanvaar dis by die standbeeld. Daar is mos nie ‘n manier waarmee ons hom kan kontak nie.”
“Is jy seker sy het dit gesien en onthou reg? Sy was mos half deurmekaar, of hoe?”
“Nee, oom, haar beskrywing van die man was reg. Daar is ‘n foto van hom op die papiertjie.”
“En as ek eerder gaan, ek en buurman? Ons is oud-soldate en ek was ook later in die polisie. Ons kan beter regkom as julle.”
“Ek dink nie dit sal werk nie. Hy wag om vir Tersia te sien. As ek hy was, sou ek nie langs oom Paul wag nie, maar iewers waar hy kan dophou. Dis onwaarskynlik dat hy nader gaan kom as hy haar nie sien nie.”
“En as ek ‘n briefie daar gaan vasplak wat sê... nee, jy is reg. Ek wil nie hê iemand moet weet waar ons bly nie. Kom ek sê julle wat. Sal julle drie in my bakkie pas? Dan vat julle hom en ry soontoe. As julle terugkom, fine, as julle na maande nie weer kom nie en alles is weer normaal, dan hou ek jou Mazda?”
“Ja, natuurlik. Maar is Oom seker?”
“Ja. Anders sou ek nie so voorgestel het nie. Wat het julle vir wapens? Net die ou enkel-skoot haelgeweer en daardie pieperige rewolwer?”
“Ja, Oom.”
“Nou goed. Kry julle goeters en sit dit agterop die bakkie.”
Die bakkie is ‘n ou groen metaliese-kleur Nissan 1400 Champ, met die klein, wit wieletjies. Jasper het hom nuut gekoop en baie mooi opgepas. Die afgelope tyd het hy dit elke derde dag aan die gang gesit en ‘n draai binne die kompleks gery. Daar is ‘n halftenk brandstof in. Tersia, May en Jessica pas styf teen mekaar in die kajuit, maar die deure kan darem toemaak.
Net voor hulle ry, kom Jasper aangeloop.
“Hier. Vat dit. As julle terugkom, gee vir my weer. As julle nie terugkom nie, dan is dit ook okay.”
“Dit” is ‘n Star BM pistool in nege millimeter. Die magasyn vat agt skote en daar is drie magasyne. Hy gee ook drie boksies ammunisie vir Jessica.
“Weet jy hoe dit werk?”
“Nie heeltemal nie, maar Oom kan my wys.”
“Okay. Dis nie ingewikkeld nie.”
*
Dis ‘n baie vreemde opset, hierdie. Daar is nie veel beweging nie, maar die sluipskutters het nou meer aktief geraak. Sommige van hulle vat sommer lukrake skote, soos die Engelse sou sê, “pot-shots”. Die meeste daarvan is mis, maar dit hou die koppe laag en feitlik niemand waag dit buitekant hulle skuilings nie. Ander is meer bekwaam en hulle tref meer male as nie.
Wat as enkele liggame op straat of sypaadjie begin het, word later meer en die reuk van die onbindende lyke raak erg. Ten spyte van die koue, hang daar ‘n doodsreuk oor die stad. Vir die soveelste maal wonder ek as die mense destyds geweet het waarvoor hulle hulle uiteindelik gaan inlaat, en wat die onvermydelike gevolg gaan wees, sou hulle toe anders gestem het? En ek praat nie net van die blankes in 1983, met die eerste PW Botha-referendum nie, waar die drie-kamer parlement aan ons afgesmeer is nie, die 1992 een wat opgevolg sou word met ‘n volgende een nie, en toe nooit plaasgevind het nie, maar ook die swartmense wat elke maal, al het hulle tog seker die skrif aan die muur gelees, aangehou stem het vir ‘n korrupte, ongenaakbare en gulsige handjievol mense wat hulleself volgestop het op die rekening van hulle navolgers.
‘n Man hardloop uit ‘n gebou, nie ver van my af nie en haas hom na die oorkantse gebou. Onwillekeurig moedig ek hom aan, al is die afstand minder as dertig meter. ‘n Dowwe skoot knal en die man skuif oor die sypaadjie, meters van sy bestemming af.
Ek het die vinnige flits gesien van ‘n skoot, uit ‘n gebou, miskien drie honderd meter van my af. Ek merk die venster waar ek die skoot vanaf gesien het, sit die 9,3 neer en vat die .243 Mauser. Deur die teleskoop kyk ek intens na die donker venster.
Dit vat my ‘n volle vyftien sekondes, voordat ek die silhoeët van ‘n man, nog donkerder as die donker kamer agter hom, kan uitmaak. Ek besef terdeë dat ek net een skoot gaan inkry, voordat hy ook weet waar ek is en ek is nie lus vir ‘n oor-en-weer geskietery nie.
Diep asem, hou in, wag tussen hartkloppe en druk die sneller egalig.
Met die knal van die Mauser sien ek vir ‘n oomblik niks, maar dan is dit net donker. Ek hoop ek het hom raak geskiet en dat hy nie net agter die muur gekoes het nie.