Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Besef jy dat jy elke oomblik van elke dag van jou lewe voor die Heilige, Drie-enige God, Beskikker van volke en nasies aan Wie alle mag in die hemel en op die aarde behoort, staan? Of dink jy dalk dit is net in die kerk of dergelike plekke waar jy in sy heilige Teenwoordigheid is?
BROKKIES UIT DIE BOEK – BERGLAND (2)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672
Die Man hurk vir ‘n paar minute om sy asem terug te kry. Die klim teen die krans op, die spanning en nou, die afrol van die rots, het hom tot in sy siel getap. Hy sit met sy rug na die krans, te moeg om om te draai. Sy asem kom in diep, swaar teue.
Sonder dat hy dit agter gekom het, het iemand hom wel gevolg; ‘n klein, rateltaai korporaaltjie. Hy is fiks en sterk, en beweeg rats en flink teen die krans en die skeur op. Hy is veilig onder die groot rots wat in die “V” gewig is, toe die klomp klippe en rotse val. Hy wag totdat die storting bedaar en rats klim hy die laaste paar meter teen die berg op. Sodra hy bo kom, kyk hy versigtig oor die rand van die krans en tot sy verligting staan Die Man nie bokant hom met ‘n wapen of selfs met klippe nie. Nee, die Man se rug is na hom gedraai. Hy druk homself vinnig vanuit die skeur en die volgende oomblik is hy geluidloos op sy voete. Die Man is skaars twee meter van hom af weg en enige geluid skryf hy toe aan die klippe wat hier en daar nog val.
Korporaal Bamba staan regop, ‘n ou AK 47 bajonet in ‘n laaghou-posisie. Hy kan nie faal nie. Hy hou sy linkerarm effens vorentoe om die Man agter sy keel te gryp en die bajonet diep van onder af, deur die Man se niere boontoe in sy ingewande te dryf.
Op daardie oomblik hoor hy ‘n sis-brom geluid, asof iemand roggel en stik aan woede. Hy en die Man kyk gelyktydig om. Agter hom staan ‘n uitgegroeide rooikat, sy ore plat teen sy kop getrek, tande ontbloot totdat die pienk-rooi tandvleise ver sigbaar is. Hy probeer nog omswaai, die bajonet vorentoe bring, maar oombliklik is die kat by hom – ‘n verwoede, harige tornado van aggressiwiteit.
Dit klap en byt en krap diep wonde in die korporaaltjie se arms, borskas en nek. Die lompe swaai van die bajonet, in vergelyking met die blitsige en verwoede bewegings van die kat, maak geen indruk op hom nie, behalwe dat dit miskien die wildheid net aanhelp. In sy poging om te ontsnap, vergeet Bamba van die krans reg agter hom en hy trap met sy een voet oor die rand.
Vir ‘n oomblik balanseer hy homself en kom half vorentoe, maar die kat gee hom weer ‘n paar klappe teen die arms en nek en hy val agteroor. Sy gille is kort en die dowwe plofgeluid onder die krans duideliker. Hy is nie dood nie, maar met ‘n versplinterde been en sy rug gebreek, en met inwendige bloeding van ‘n gebarste milt, lê hy in doodsangs en uiterse pyn stil. ‘n Sersant verskyn ‘n paar minute later.
“Wat was dit? Het jy hom gesteek?”
Die korporaal strek een arm uit na die ander soldaat. Hy huiwer ’n volle halfminuut.
Tussen pyn slukke deur antwoord hy:
“Sarge, dis nie ‘n mens nie. Dis ‘n groot kat. Die Man is ‘n ‘shape-shifter’, net soos die toordokter Tahte vir ons gesê het. Julle moet wegkom…”
‘n Halfminuut later gaan sy oë weer oop. Hy maak sy mond oop, en tussen die bloed wat sy tande rooi bevlek:
“Dit help ook nie. Hy gaan julle almal kry.”
Aan die bo-punt van die krans kom die Man tot verhaal. Hy rig instinktief sy geweer op die rooikat, maar die dier bly net sit. Hy was, soos enige huiskat, sy pote, kloue, nek en borskas.
Hy kyk die Man aan, maar sy ore is nie platgetrek teen sy kop nie. Die twee staan ‘n volle minuut vir mekaar en aankyk. Dan laat sak die Man sy geweer. Om een of ander onverklaarbare rede kom ‘n frase by hom op uit Andrew Lloyd-Weber se blyspel “Joseph and his Technicolour Dreamcoat”:
“Okay, Joe, here we go!”
Dis asof die rooikat hom verstaan. Hy staan op en as die Man aanstap, volg hy kort op sy hakke.
*
Die Man is dankbaar vir elke oomblik wat hy as kind en jong student in die veld deurgebring het. Hy is net so dankbaar vir al die ou soldate wat hy geken het; wat hom geleer het hoe om die natuurlike dekking te gebruik om onsigbaar te wees, die eetbare plante, dit wil sê, vrugte, bessies, wortels en selfs binnekante van sekere bome se bas.
Hy weet watter kruie kan gebruik word in kos, vir maagseer, vir verstuitings en om bloed te laat stol. Hy weet watter kant van die bosse en klippe lê pofadders, hoe lyk die spoor gelaat deur mambas of luislange. Hy weet aan die optrede van die miere en shongololo’s wanneer reën of koue op pad is. Hy weet hoe om fynhoutjies te kry as dit nat is en hy moet vuur maak. Hy leer aan hoe om die minimum spore te los, om versigtig te beweeg, hoe om sy reserwes te spaar na ‘n lang dag se loop.
Hy leer ook dat ‘n rooikat lojaal kan wees en ‘n goeie bondgenoot in ‘n geveg, maar dat dit maar vrot geselskap is. Joe antwoord nie terug as Die Man met hom praat nie. Nee, hy ignoreer hom en kry net so ‘n veraf uitdrukking in sy oë soos ‘n Xhosa-vrou wat hout soek. Maar as dit koud is, of reënerig, kan die Man vir Joe volg, wat gewoonlik weet waar om ‘n warm, droë plek uit te soek. Hy weet ook al wat om te verwag as Joe opspring, gaan plat lê, sy ore teen sy kop plattrek, dit oplig of as die kat homself gaan sit en was.
Hy leer om beter afstand te skat. Terwyl hy loop, sal hy ‘n voorwerp identifiseer, die afstand daarheen skat en dit dan aftree. Hy leer van dooie grond, die bedrieglikheid van bulte en vlaktes, die loop van ‘n lugspieëling (of mirage), hoe ver ‘n 7,62 millimeter se koeël val oor afstande van een tot sewe honderd meter.
Hy leer om nooit regop oor ‘n kruin van ‘n bult of berg te loop nie, maar eerder gebukkend, om nie ‘n silhoeët te vorm nie. Hy leer om lank stil te sit of lê in ongemaklike posisies.
Maar uiteindelik leer hy homself ken. Dis sekerlik een van die belangrikste stukke kennis wat ‘n mens kan hê – soos wat Sokrates soveel eeue gelede geskryf het, gnothe seauton – maar wat die meeste mense ontglip.
Mense sien hulleself onwillekeurig uit ander mense se oë: wat jy moet doen by hierdie of daardie mense om die beste voetjie voor te hou, hoe mense jou ken uit persepsies en wanvoorstelle, totdat jy identiteitloos in ‘n gesiglose samelewing saamsmelt en uiteindelik as individu verdwyn. Maar nie nou nie.
Hy leer wat sy sterkpunte is, wat hy kan en nie kan nie. Hoe sterk hy is, waardeur hy kan gaan en vir hoe lank. Hy leer sy liggaam se gevaartekens ken; wanneer hy moet rus en hoe lank kan hy sonder kos of water kan uithou. Hy leer om te slaap in haglike omstandighede en wakker te bly as dit nodig is.
Hy leer om sy gevoelens, sy verlange, eensaamheid, sy angstigheid en vrese te herken en te hanteer.
Hy leer ook hoe maklik dit is om te glo as daar nie mense is om jou met hulle optrede te verwar nie.
Nadat hy vier maande in die berg swerf, het hy steeds nie ‘n idee waar sy eks-vrou en die kinders is nie. Daar is maar sowat vyftig kilometer tussen hom en die hoofpad na die noorde. Hy is baie seker dat hulle nie na sy oostekant is nie. Daarvoor is die konsentrasie van swartmense in die gebied te veel en dis in elk geval onwaarskynlik dat daar ‘n plaas met blanke mense in hierdie gedeelte sal wees. Dit laat dus vyftig kilometer tot by die hoofpad, en dan nog sewentig na Vivo toe. Honderd en twintig kilometer dus. Hy voel skielik geskeur tussen angstigheid en moeg wees.
*
In die kom, aan die voet van die krans, miskien ‘n honderd kilometer na sy westekant, staan George se voorman, Mannetjies, met sy ou, verbleikte boshoed gefrommel in sy hande en wag vir die baas. George is verergd om hom te sien, gans en al te vroeg in die dag na sy smaak, al is die son reeds vir drie ure bokant die oostelike rantjie.
George het ‘n lang nag gehad, waarin hy die bed verruil het vir ‘n bottel Oude Meester en ‘n gemakstoel. Hy het hier rondom vieruur in ‘n alkoholbenewelde beswyming weg geraak. Dis ook nie die eerste keer nie – hy het die alkohol ‘n paar maande gelede verruil vir die bed van Sherry, maar gisteraand was hy onsuksesvol in sy amoreuse pogings en die brandewyn het nie vir hom gelag of sy oë sarkasties gerol en ‘n smalende trek om die lippe gekry nie.
Dit was soos ‘n ou vriend, wat hy eers versigtig in die glas met ys gegooi het, die eerste klein slukkie op die tong gerol en daarna die warm vriendelikheid ervaar soos dit welkom in sy maag afgeloop het. Dit het die skerp seermaak-kant van die gekneusde manlike ego weg gestreel en hom terug in die midde van niks-voel-nie teruggeneem.
Hy het in hierdie amper-dronk toestand gestrompel deur die afgelope maande se gebeure: sy ontmoeting met hierdie wulpse droomvrou wat nie genoeg van hom kon kry nie, die visioene en fantasieë wat hy aanvanklik om haar geweef het, tot die rooi vlaggies van gevaarseine aan die randjies daarvan vir hom tot orde begin roep het. Natuurlik het hy dit geïgnoreer.
Sy het hom al verder in haar web ingesuig totdat hy later willoos haar nuutste prooi geword het. Maar gisteraand het sy beskermengel hom hard teen die kant van sy kop geklap en skielik, voor die alkohol hom in ‘n half-beswyming geplaas het, was hy helder nugter en kon hy haar sien deur die oë van soveel van haar eks-minnaars. Dit het seer gemaak, o so seer! Hy is gebruik.
En nou staan Mannetjies voor hom. Hy kan sien hoe verdwyn die ou man se respek vir hom wanneer sy alkohol-en-ongeborselde-tande asem oor die voorman se kop en neus begin hang. Maar hy gee nie om nie.
“Wat is dit?”
“Meneer George, die diesel is klaar.”
“Wat bedoel jy?”
“Ek bedoel, meneer, ek het nou die laaste kan ingegooi en die tenk is leeg. Die enjin hy gaan net vir nog drie of vier ure loop.”
“Hoekom sê jy my nou eers?”
“Meneer, ek het jou al drie dae gelede gesê…”
“Nou gaan soek nog. Kyk in die trekkers, of die ou bakkie. Gaan soek net!”
“Meneer, dis alles al leeg. Jy het al ‘n week gelede gesê ek moet dit leeg tap.”
George antwoord nie. Hy loop terug die kombuis in, klap die sifdeur hard agter hom toe en gaan sit by die kombuistafel. Hy is skielik baie dors. Een van die kleintjies loop die kamer binne. Hy is skielik woedend vir haar.
“Loop! Voetsek hier uit! Los my alleen!”
Die dogtertjie hardloop verskrik na hulle kamer toe en gaan sit agter die bed op die vloer. Sherry, wat die uitbarsting gehoor het, tel haar snikkende kind op, loop na die kombuis en haar stem sny deur die plek:
“Wat bedoel jy hiermee, ou Seuntjie, wat nie eers kan regkom nie? Hoekom skreeu jy op my kind?”
George staan op. Hy dink nie wat hy doen nie, daarvoor is daar nog te veel alkohol aanwesig. Hy klap vir Sherry oophand oor haar wang, so hard dat die vier merke van sy voorvingers onmiddellik rooi op haar normaalweg-vleklose wang sit.
“Dis net die begin, vroumens! Trap jy en jou gebroedsel van nou af in julle spoor!”
Sherry hardloop kamer toe, klap die deur so hard toe, dat die kosyne rammel, gryp haar ander baba en bars in trane op die bed uit. Hoe het dit nou gebeur?
Die hadidas wat krieke langs die huis oppik, vlieg op van die klap van die deur en vlieg protesterend die lug in.
Baie kilometer na die oostekant kyk Die Man gesteurd op. Natuurlik kan hy die geskreeu van die hadidas nie hoor nie, maar iets pla hom. Hy kyk stip in daardie rigting. Hoekom?