Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kinders is nog nie in staat om 'n akkurate beeld van hulself te vorm nie; hulle vorming is afhanklik van die ouers se leiding en opvoeding wat 'n groot en verantwoordelike taak is, sekerlik die heel belangrikste en mees voltydse taak van hulle lewens – waarom keer ouers dan feitlik elke klip om en krap dit nog skoon ook om rykdom bymekaar te maak maar gee so min aandag aan hulle kinders aan wie daardie rykdom in alle geval eendag nagelaat moet word, aan 'n geslag wat nie verantwoordelik daarmee sal kan werk nie?
BROKKIES UIT DIE BOEK – DOODSAKKER (6)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672
“Kan ek saam ry, dan wys ek julle waar hulle bly?”
“Jy kan. Daar is nie baie plek nie, maar dis seker nie ver nie, of hoe? Maar vertel ons eers wie jy is.”
“Nee. Miskien een of twee kilometer. My naam is Sus Jansen. Julle?”
“Ek is Herrie Maritz en hierdie is Madel van Wyk. Klim op, dan ry ons.”
Dit is toe net ‘n kilometer vanwaar hulle was. Die huis is op ‘n hoek gebou. Skuins oorkant is ‘n kleinerige sentrum, soos sy inderdaad gesê het. Die enigste verkil is dat die kafees, winkels en restourante en die kleiner winkels en diverse handelsplekke nou verlate is en die vensters stukkend, die sterk oprol-veiligheidshekke afgebreek. Die huis waarby hulle stilhou se hek is sterk en swaar, met hoë mure wat dit omring.
“En nou?”
“Het hierdie ding ‘n toeter? Toet net drie vinnige kere.”
“ ‘Hierdie ding’ is ‘n Jeep en het ons al baie kilometer ver gebring, so, moenie dit vlak kyk nie.”
Herrie druk die toeter drie vinnige kere en dan wag hulle. Net voordat Herrie die getoet wil herhaal, verskyn ‘n man se gesig bokant die pilaar langs die hek.
“Wat wil julle hê?”
“Oom Johannes, dis Sus. Sus Jansen. Hierdie is Herrie en...”
“Madel,” help Herrie haar.
“Wat wil julle hê? Ons het nie kos of water nie en hier is nie slaapplek vir julle nie.”
Indien Johannes vir Sus herken, is dit nie met goeie herinneringe nie.
“Johannes, kan ek maar uitklim? Ek sal my wapens in die kar los.”
“Ja, kom nader. Maar weet ek is gewapen. Geen nonsens nie, asseblief.”
Herrie klim uit, loop tot by die hek en verduidelik vir Johannes wat sy probleem is en of hy wat Johannes is, kan help. Johannes bly ‘n oomblik stil, terwyl hy die storie oorweeg en ondersoek vir enige weersprekings of iets wat nie sin maak nie. Uiteindelik praat hy.
“Nou goed, ek maak die hek oop.”
Daar is duidelik meer as een swaar slot aan die hek en een-een maak Johannes hulle oop. Die hek skuif op staal wiele eenkant toe.
Die oprit is ‘n hele aantal meter en loop na ‘n motorhuis, waarvan die opslaandeur toe is. Langs die oprit staan ‘n netjiese huis, gemaklik en sterk gebou, maar heeltemal uit plek met die baie duurder en praghuise van Waterkloof. Die erf is groot. By die voordeur van die huis staan ‘n middeljarige vrou met ‘n dubbelloop haelgeweer. Sy lyk gemaklik daarmee, asof sy dit al baie gebruik het. Johannes het ‘n ouerige, kort geweer oor sy skouer.
“Johannes, watse wapen is dit? Ek het nog nooit so een gesien nie.”
“Dis ‘n Beretta model 38. Dis ‘n sub-masjiengeweer wat veral die Italiaanse magte gedurende die oorlog gebruik het. Julle wil pamflette druk? Ja, ons het dit lanklaas gedoen, want soos julle weet, is daar nie elektrisiteit beskikbaar nie.”
“Ai, dis jammer. Het julle ‘n plan vir iemand wat ons dan kan help?” vra Herrie, sigbaar teleurgesteld.
“Ons het darem ‘n fris diesel kragopwekker, maar ek is bevrees ons diesel is opgebruik.”
“Ons het nog ‘n paar kanne vol. Jy kan daarvan kry, as jy ons kan help?”
Johannes is professioneel en neem ‘n foto van Herrie, wat hy in kleur op twee honderd A4-grootte velle papier druk en elkeen in drie knip met ‘n groot guillotine.
“So, daar is ses honderd pamflette. Is dit wat jy wil hê?”
Herrie kyk na die foto van homself op die pamflet. Dis die gesig van ‘n man nie ver van sewentig jaar oud nie, met sterk, lang gelaatstrekke. Sy baard is kortgeknip en sy hare grys. Sy oë is donker op die foto en daar is ‘n groot eensaamheid in. Op die biljet is die boodskap eenvoudig:
TERSIA, EK IS HIER. KRY MY BY OOM PAUL, SODRA JY KAN. EK SAL VIR JOU WAG.
HERRIE.
*
Ek besef skielik ek het nie enige doelwit voor oë nie. Nie enige doelstelling, mikpunt of teikendatum nie, anders as om net te oorleef. Oorlewing kan nooit ‘n doel op sigself wees nie. ‘n Mens oorleef ter wille van iets; kinders, ouers, familie, vriende, om iemand te help, om ‘n ander gelukkig te maak, enigiets. Al wat ek tot dusver reggekry het met my drang op oorlewing, was om dit op die dood van ander mense te bou, waarvan Alida Ebersöhn die een is wat my die meeste geraak het. Ek het haar maar ‘n baie kort rukkie geken en het geen gevoel vir haar gehad nie, totdat sy dood is. Nou voel ek skuldig en teleurgesteld in myself oor haar. Is oorlewing so baie werd?
Ja, wat. Ek het tot dusver gekom, baie ammunisie uitgeskiet en lewens geneem, so daar moet iets wees waarvoor ek kan leef. Miskien kom die antwoord vanself. Ek hoop so.
Voorheen, dis nou voordat hierdie chaos op ons neergedaal het, het ek vir ìéts gelewe, vir mense, ‘n toekoms, maar na my vrou se dood is dit asof niks weer in plek wil val nie.
“Waar is my dogter, skoonseun en kleinkind?”
*
May Bruce is ontroosbaar. Sy het haar kind in ‘n vlak graf begrawe, waar sy oornag aan ontbering gesterf het. Die graf is vlak, bloot omdat sy haar vingernaels uitgeskeur het en die punte van haar vingers deurgeskuur het aan die harde, ongenaakbare, klipperige gevriesde grond wat sy uitgegrawe het. Sy het reeds ‘n maand gelede haar klein huisie moes ontruim, omdat sy niks geld meer gehad het nie. Sy en klein Nellie het met ‘n rugsak elk (Nellie s’n uiteraard klein en lig) die pad gevat stad toe, waar sy gehoop het hulle kos, skuiling en veiligheid kan kry.
Gisternag was baie koud en alhoewel sy vir Nellie styf vasgehou het, was die kombinasie van wanvoeding, koue en uitputting vir die vierjarige te erg en sy het saggies in die nag gesterf. May het met die yskoue, stywe liggaampie wakker geword en alhoewel sy alles gedoen het wat moontlik was, asem in die klein neusgaatjies ingeblaas, haar borsie gevryf, gevryf, geskud en gepleit het tot Wie ookal in die hemel is, het klein Nellie nie ontwaak nie. Nadat sy vir ure by die liggaampie gesit en huil het en later uitgehuil was, en net woorde en traneloos gesit het, later weer langsaan gaan lê het, was die lewe uit Nellie weg.
May het ‘n klein Victorinox-groentemessie gebruik om die graffie te grawe, maar na ‘n ruk het die hef afgebreek, waarna sy net die lemmetjie gebruik het. Dit het uiteraard in haar handpalm ingesny, maar sy het nie opgegee nie en die driekwart meter-diepe graffie met haar kaal hande klaar gegrou.
Teen donker het sy haar kindjie in die graf neergelê en toegemaak. Sy het dwarsdeur die nag op die graffie gelê en eers teen dagbreek vir ‘n halfuur lank aan die slaap geraak.
Sonder om ‘n woord verder te sê of ‘n traan te stort, het sy opgestaan en stad toe geloop.
May loop haar hartseer af. Sy hou nie op nie, voordat sy half bewusteloos gaan lê. Sy loop vir drie volle dae en kom eers tot haar sinne en waansin uit, as sy die stad se enkele en half verdowe ligte sien. Sy slaap vir agtien ure lank en word wakker in die laat-middag.
Sy is dors, honger, koud, verwaarloos en emosieloos.
*
Nou het ek twee gewere. Die een wat pas byna my dood veroorsaak het, is ‘n besonder mooi een. Dis ‘n Musgrave in .243 kaliber. Ek wil eerder nie na die oud-eienaar van die wapen kyk nie. Dood is nooit mooi nie en hierdie een is baie erg, met ‘n groot gedeelte van sy kop wat weggeskiet is. Die teleskoop op die geweer is ‘n Leupold Rifleman met ‘n 3-9X40 vergroting. Ek aanvaar dis nog ingestel, aangesien dit my ampertjies getref het. Ek hoop net dat die ding nie so hard geval het dat die teleskoop uitgestamp het nie. Met walging wat in my opstoot, vat ek al die man se ammunisie uit sy sakke.
Ek sit nou met ‘n dilemma en ‘n keuse: die groot 9,3 Mauser, of die kleiner, ligter .243 Musgrave? Ek krap rond in my geheue na ballistiese data van die .243 Winchester kaliber. As ek reg onthou, skiet dit relatief ligte punte van so om en by 6 millimeter, ek dink so tussen 55 en 100 grein en ek kan nie sommer so op gesigwaarde bepaal met watter gewig hierdie rondtes gelaai is nie. Tog, trek die kleinerige koeëltjie teen tussen 2900 en 3900 voet per sekonde, afhangende natuurlik van die gewig. Dit maak dat die geweer redelik plat skiet en dus verder kan bykom as die groot kaliber. Ek onthou ook dat dit ‘n sogenaamde “loop-verbrander” is, wat beteken dat die loop na duisend vyf honderd tot twee duisend rondes uitgeskiet is en daarna begin om die groeperings te rek, dit wil sê, bont te skiet. Ek weet nie hoeveel skote reeds deur die loop is nie en as ek ‘n rondte in die tromp plaas, punt eerste, lyk dit nog heel aanvaarbaar – die punt se agterkant steek ver genoeg uit, dat ek kan sien die voorkant, of tromp, waar die warm gasse wat die geweer ontsnap, nog goed is. Ek weet nie van die “keel” van die geweer nie en daar is geen manier om dit te meet nie.
So, watter een vat ek saam? Uiteindelik maak ek soos enige besluitelose man betaam, hang die kleiner geweer skuins oor my skouers en vat die groot een in my hande. Die goddeloses kan nou maar kom, ek sien kans vir hulle. As hy agter ‘n dik ding wegkruip, skiet ek hom met die groot kaliber en as hy ver is, met die kleintjie. Dis maak vir my sin.
Gelukkig hoef ek nie ver te loop nie, nie wat ek van weet nie, en die ekstra gewig van die twee gewere, ammunisie en die bietjie kos wat ek die afgelope tyd opgegaar het, kan ek maklik dra. En dan is daar nog die SKS wat ek weggesteek het in die ander gebou, nie ver hiervandaan nie.
Soos hulle sê: “it never rains, but it pours.”