Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Doen goed – hoe jy ook al kan, waar jy ook al kan, wanneer jy ook al kan, aan soveel mense as wat jy kan, so lank as wat jy kan – John Wesley
BROKKIES UIT DIE BOEK – BERGLAND (9)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672
Soos dit dikwels die geval in die Berg is, het ‘n ligte reën die nag geval en dis opgevolg deur ‘n digte mis. Dit sou van ver af lyk soos ‘n brander sagte wit skuim wat oor die Berg spoel. Daaronder, egter, is sig beperk tot minder as vyftig meter.
George is baie bang. Hoe kon die Man net so wegkom? Sy eerste verdagte is natuurlik Sherry. Sy het hom egter so gevloek, dat hy maar eerder padgegee het en ‘n ander skuldige gaan soek het. Dit het nooit by hom opgekom dat die klein dogtertjie die stoel kon wegskuif en haar pa se bindings knip nie.
Dan moet dit uiteraard een van die manne wees. Dis egter vir hom duidelik dat hy nie meer tussen hulle welkom is nie. Mannetjies het in die middel van die nag verdwyn, en dit kon nie hy wees nie. Hy werk al te lank hier, eers vir sy pa en nou vir hom, wat George is. En natuurlik is daar die kwessie van die twee lyke. Hoe? Waar het die Man ‘n wapen gekry?
Hy loop na die groep manne toe, maar die ontvangs wat hy kry is nie net louwarm nie, dis yskoud. Miskien is dit ook nie die regte woord nie, dink hy. Die manne is warm onder die kraag en hy kan nie verstaan waarom nie. Is hy dan nie nog die hele tyd goed vir hulle nie? Kry hulle nie genoeg om te eet en te drink nie? Hy is nou wel somtyds ‘n bietjie hard op hulle, maar elke goeie leier is mos so. Hulle moet mos weet wie die baas is.
“Kry jou ry, Georgie,” kom ‘n stem sonder emosie
“Wat sê jy daar, Tros?”
“Ek sê jy moet voertsek voordat ek jou bliksem.”
“Jy bedoel dit nie. Dis seker ‘n grap. Ha-ha.”
Maar Tros staan op en kom dreigend nader. Die veglus loop nog sterk in hom en George kan sien hy speel nie. George trek die Beretta uit sy lyfband en rig dit op Tros. Die ander manne staan nou ook op en, al kom hulle nie nader nie, is dit duidelik hulle skrik nie vir George of die pistool nie.
“Nou kyk hier, manne…”
Hy besluit egter dis genoeg en draai om. Die dertig meter na die agterdeur toe lê hy vinniger af as enige wedloop ooit vantevore in sy lewe. Hy klap die deur toe, sluit dit en druk die Yale-slot ook op. Angstig maak hy seker die voordeur is toe en die gordyne getrek. Hy gaan skink vir hom, met bewende hande, ‘n stywe enetjie en plak homself in die stoel neer. Hy moet dink!
Sherry staan in die gangdeur. Sy leun met haar een heup teen die kosyn, een van haar zolle in haar linkerhand, met haar elmboog op haar heup gestut.
“Lyk my ons baas van die plaas is nie meer baas nie, of hoe, Liefste?”
Die laaste woord is smalend en sarkasties. Dit rol met ‘n tuit rook uit haar lippe en snipperig lig sy haar onderlip en blaas die laaste reste smalend in sy rigting. George voel hoe hy weer tiener Georgie-Porgie word wat deur die skoolseuns uitgetart is, soveel jare gelede. Die woorde wat hy haar toesnou kom onder sy ma se rok uit, waar dit eers deur die rioolsloot gesleep word, voordat dit klank kry.
Buite klink ‘n skoot op. Dis nie baie ver weg nie.
*
“Hoeveel is daar?” dink hy. Miskien vyf en twintig? Minder? Meer?
Sy skouer is nog seer, maar hy kan hom nou gebruik. Die aanvanklike skok van die skoot het sy hele arm lam gemaak, maar dis nou verby. Hy dink daaraan dat die cowboys in die flieks mos ‘n skoot deur die been kry. Dan druk hulle bloot die wond toe of bind ‘n rooi bandana daaroor en asof niks gebeur het nie, huppel hulle verder om die geveg te gaan wen. In die regte lewe werk dit nie so nie. Die hidrostatiese skok van ‘n moderne wapen laat jou arm of been totaal en al lam vir die oomblik. Dis nie asof jy ‘n sissie is nie – jy het eenvoudig nie ‘n sê daaroor nie.
‘n Figuur doem skielik uit die mis voor hom op. Hy dink nie daaraan om die man met die geweerkolf te slaan nie. Dit beskadig te maklik die teleskoop, en hy het nogal ‘n idee dat hy dit mag nodig kry en nie lank van nou af nie. Hy sien die man gaan nie wegswenk nie en dat hy hom ook enige oomblik kan raaksien, al hurk hy in die digte mis. Hy skiet twee skote met die Colt en die man slaan neer. Hy wag vyf minute en loop versigtig nader. Die man is dood. In sy sakke is elf rondtes 7,62 millimeter rondtes en in die geweer self ses. Hy haal dit uit, steek dit in sy sak, haal die man se ou CZ Brno se slot uit en gooi dit in die bosse.
“Een minder.” Die gedagte aan die feit dat hy iemand doodgemaak het, begin nou aan hom knaag. Hy probeer die gevoel onderdruk, maar dan voel hy ‘n naarheid in hom opstyg. Hy wens dis die laaste een ooit. Onmiddellik dink hy weer aan sy twee dogtertjies en ‘n nuwe vasberadenheid kry hom beet. Hy beweeg terug die bosse en die digte mis in. ‘n Uur later kry een van die manne hulle kameraad.
“Ai, ou Bert, ons gaan jou mis.”
Die manne wat vir Bert gekry het, loop stadig terug opstal se kant toe.
“Jan, dink jy wat ek dink?”
“Net as jy dink wat ek dink?”
“Ons het niks belangrik om te gaan haal nie.”
“Nee.”
Hulle verdwyn in die mis, af van die berg af, pad se kant toe.
Drie ure later is daar minder as tien manne by die plaas oor.
*
“Mamma waar is Pappa nou?”
“Hy is gou-gou weg om te gaan mense haal om te kom help. Hy kom weer terug.”
Sherry kan letterlik die hare uit haar kop trek. Wat het haar besiel? Sy het die Man so vlak gekyk. Die feit dat hy selde hard gepraat het, nie saam met haar wou rook nie, nie vuil grappe vertel het nie en sy saggeaarde manier om met die dogtertjies te werk het haar laat dink hy is maar ‘n sissie.
Magtig!, Hoe het sy hom nie onderskat nie. As sy sien hoe George rondloop, van die een venster na die ander, pistool in die een hand en whiskey in die ander, hoop sy vir die eerste keer in jare dat die Man dit maak. “Wat maak?” wonder sy. Dat hy dit deur die gevaar maak en na ons toe terug kom.
Diep in haar hart weet sy egter dat, al sou hy dit maak en terugkom, dit nie na haar toe sal wees nie. Die gedagte laat haar leeg en desperaat. In die deur sien sy weer vir George en wonder vir die hoeveelste keer wat sy in hom gesien het. Ja, hy het haar beïndruk met sy Mercedes 6.3 AMG, sy posisie as regsverteenwoodiger vir ‘n afdeling van die korporasie waar sy werk – gewerk hét, tref dit haar ook – sy arrogansie wat sy verwar het met dapperheid. Maar nou: hy is net ‘n maer bleswordende, prewelende papbroek met ‘n drankprobleem en ‘n boepens. Depressie neig om haar te oorweldig.
*
Om elfuur begin die mis te lig. Waar hy nou sit, kan hy sien die oorblywende manne kan die nota lees wat hy drie ure gelede op die Oostelike hek by die werf gesit het. Hy het dit gemaak van ‘n stuk karton, nou sag en papperig van die mis, maar die woorde wat hy met ‘n stuk houtskool daarop aangebring het, duidelik genoeg:
NA ELFUUR KOM EK TERUG. WEES GEWAARSKU.
“George, jy is op jou eie,” sê een van die manne droog. Hy wil omdraai om sy pakkasie te gaan haal in die skuur, maar dan staan Tros voor hom.
“Nie voor ek sê jy kan gaan nie, Don.”
“Maar, Tros, dis al amper elfuur…” sê Don in ‘n hoë pleitstem. “Ek is nie hier om te vrek vir daardie outjie nie.” Hy wys na die huis toe.
“Wanneer ek sê jy kan, en nie ‘n sekonde vroeër nie.”
‘n Skoot klap en Don val neer. Die skoot het hom in die middel van sy bo-been getref. Hy gil van skok en gryp sy been vas.
“Ek het jou gesê, Tros, nou gaan ek vrek en dis alles jou skuld!”
“Ek het julle gewaarsku! Die volgende skoot is deur die kop!” kom Die Man se stem van ver af.
“Daar! By daardie koppie net bokant die ouland!” skreeu Tros op sy manne. Hy gryp sy ou .303 en trek sewe skote so vinnig as wat hy die slot kan werk na die koppie toe. Skielik klap ‘n treffer-skoot en die man langs hom val agteroor, sy oë starend na die wolke wat wegtrek bokant hom.
“Ek moes ook weggegaan het…” dink hy al stadiger, tot dit donker word vir hom.
Die ander manne hardloop vir skuiling, terwyl Tros op hulle vloek vir hulle papbroekigheid.
Die agterdeur gaan oop en George wink hulle nader.
“Kom gou! Hy gaan julle almal daar buite uithaal.”
Die agt manne skarrel die huis binne.
“Baas, die sleutel!”
“Wat bedoel jy?”
“Ons soek die sleutel van die geweerkluis. Ons weet hier is een.”
George huiwer lank. Dis een van die laaste troefkaarte wat hy het.
“Kom nou, George. Ons manne het nie veel gunne nie en ons ammo is min. Hoe kan ons daardie ou van jou maer gat af weghou sonder dit?”
Tros hou sy hand uit. Na ‘n ruk gee George die sleutel vir hom.
“Agter die kombuis… kom ek gaan wys julle.”
Tros se asem slaan amper weg as die wapenopslagplek oopgaan. Hy fluit ‘n lang wolwefluit, asof hy ’n mooi meisie sien.
“Elkeen net een geweer, hoor?”
“Voertsek George. Ons sal vat wat ons wil.”
George verander vanaf die Baas na die smekeling-klaas binne sekondes.
“Asseblief Tros, Abie, dit is myne, dit was my pa s’n…”
Tros ignoreer hom, loop na die rak met die lang gewere en soek vir hom ‘n AKM en ‘n Steyr Mannlicher in 300 Winchester Magnum uit. Hy vat ook ‘n Tokarev 7,63 millimeter pistool en ‘n pakkie rondtes. Die ander vat elkeen wat hulle wil.
“Georgie, nou die drankkas se sleutel if you please.”
George sien sy lewe inmekaar tuimel. Hy handig ook hierdie sleutel vir Tros, wat nou duidelik in beheer is.