Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God se verlossingsplan vir sy kinders is sekuur uitgewerk en uitgevoer deur die eeue en sal uiteindelik uitloop op die volkome geluksaligheid in die hiernamaals. Iewers in hierdie volmaakte plan pas hierdie nuwe jaar ook in.
BROKKIES UIT DIE BOEK – DOODSAKKER (10)
Tersia en Jessica het weerskante van May gaan lê. Tersia met haar bors en maag teen May s‘n en Jessica agter haar rug. Sy het net haar onderklere aan en sy ruik glad nie lekker nie, maar daar is niks wat hulle nou daaraan kan doen nie. Na ‘n driekwartier begin May se tande opmekaar klap, soos iemand met koue koors.
Twintig minute later maak sy sagte kreungeluidjies. Hulle draai haar op haar rug en was haar gesig met ‘n waslap wat effens warm gemaak is met water op die gasstofie. Tussen haar gebarste lippe kom haar tong uit en sy wil die water van die waslap aflek. Versigtig, sonder om haar te laat verstik, plaas Tersia ‘n teelepelvol warm, soet tee teen haar lippe, uiteindelik gaan haar mond effens oop en sy kan die bietjie tee in haar mond sit. Met die derde teelepelvol begin May verstik as sy dit gulsig afsluk.
“Laat haar regop sit.”
Jessica gaan sit agter May, met haar arms oor haar, ‘n dik wolkombers oor hulle albei gedrapeer. Sodra sy ophou hoes, gaan haar oë effens oop en sy praat deur gebarste lippe.
“Wie is julle?” vra sy krakerig.
“Sjuut, meisie. Ek is Tersia en dis my suster, Jessica. Jy is veilig nou.”
“Ek wil nog slaap.”
‘n Hele vyf ure later word Tersia wakker en die eerste ding wat sy doen, is om seker te maak May lewe nog. Tot haar verbasing en vreugde leef die vrou nie net nog nie, maar haar oë is oop.
“Waar is ek?”
“Jy is veilig in ons huis. Ek is Tersia en langs jou is my sussie, Jessica.”
“Tersia?”
“Ja, Tersia.”
“Weet jy, daar was ‘n nota op ‘n lamppaal...” sy begin weer hoes en as sy na ‘n volle halfminuut ophou, praat sy weer.
“Daar was ‘n kort sinnetjie, en die naam ‘Tersia’.”
“Dit kan enigiemand wees, maar kan jy onthou wat die hele boodskap was?”
“Ja, ek dink so. Kan ek nog ‘n bietjie iets kry om te drink?”
Sodra Jessica terugkom, het sy drie bekers vol warm koffie en kondensmelk.
“Kom, dan help ek jou. Ek wil nie hê jy moet weer verstik nie.”
“Hoekom is julle goed vir my? Vir baie lank was niemand aan my kant nie... my baba...”
“Ja, jou baba?”
“Nellie. Sy het van die koue doodgegaan, maar ek dink ook van honger.”
“Ek is jammer. Wanneer?”
“Ek weet nie. Lankal. Ek het haar begrawe onder ’n rots. Met my hande. My hande is baie seer.”
“Ja, ons het jou hande skoongemaak en toegedraai met repe uit ‘n ou laken. Hulle sal gesond word, jy moet net kans gee. Die naels is van sommige vingers is geskeur, maar ek dink nie die naelbed is beskadig nie. Hulle sal teruggroei.”
“Ek onthou nie die hele boodskap nie, maar dis in hoofletters geskryf en daar was ‘n foto van ‘n ouerige man daarop.”
“‘n Ouerige man?”
Tersia se hart klop skielik.
“Ja. Die boodskap was iets soos... ‘Tersia, kry my by Oom Paul.”
“Ek ken nie ‘n oom Paul nie. So, dit was nie vir my nie, maar hoe het die man gelyk?”
“Ouerig, soos ek gesê het. En sy naam was... ja, nou onthou ek. Sy naam is ‘Herrie’.”
“Herrie? Is jy seker?”
“Ja, ek is. Dit was een van die laaste goed wat ek gesien het, voor ek hier gekom het.”
*
Skielik is die strate leeg. Vir baie minute sien ek niemand nie en ek wonder of hulle weg is, en of almal net wegkruip. Met die 9,3 se teleskoop kyk ek van een gebou na ‘n ander, van een stukkende venster na ‘n heel een – dié hoër op in die geboue, hier van die vierde verdieping af boontoe, is meestal nog heel, miskien omdat niemand so hoog kon gooi nie.
Niemand. Niks, net verlatenheid en eensaamheid. Nie iemand wat op my afsluip nie, nie ‘n ander sluipskut wat my deur sy geweer se teleskoop dophou nie. Ek kry baie koud.
Ek haal my pistool uit die holster langs my sy en begin hom uitmekaarhaal om skoon te maak. Dis seker die mees getroue metgesel wat ek nog ooit gehad het. Ek het so ‘n een gehad toe ek destyds nog in die kommando was, of was dit ‘n regte Beretta F92? Ja, dit moet wees, want dit het houtgrepe gehad en nie hierdie swart plastiese soort nie. Ek was nogal hartseer toe die kommando’s destyds ontbind het, was dit in 2004? Ek dink so. Intussen het ek ‘n hele paar wapens gehad, maar dis destyds “verbeurd verklaar” deur die SAPD.
En hierdie een? Ek glimlag so by my selwers as ek daaraan dink. Dit was in die week net voordat die hele ou spulletjie inmekaar gestort het. Dit was in ons inkopiesentrum, oftewel die “Mall” soos almal daarvan gepraat het. Ek onthou nie eens die volle naam van die plek nie. Ek het net uit die bank geloop toe die skote geklap het. Ek was lank genoeg in die weermag om die afgemete, mislike gestotter van die Klashnikov’s te herken. Die bank se ruite, van versterkte glas, het in fyn stukkies gespat, nadat dit eers in groot spinnerakke gebreek het.
Die rowers het die oorblywende glasstukke uitgeslaan en deurgeklim. Hoe moes hulle weet dat die bank net ‘n paar duisend rand by die kassiere gehad het? Die rowers het met hulle gewere die versterkte glas probeer uitskiet, maar nie daarin geslaag nie. Hierdie is immers ‘n nuut-geboude bank en die glas dik en verhard. Wanneer hulle uithardloop, gee almal plat en soek skuiling as die manne sommer net skote in die lug aftrek. Ek onthou die prentjie baie goed.
Skuins voor my het ‘n lekker dik polisieoffisier dekking geslaan. Ek kon naby hom kom en vra waarom hy nie skiet nie, aangesien hy die pistool – hierdie spesifieke een – in sy hand gehad het. Hy het vir my gesê as ek dan so graag wil skiet, kan ek syne kry en het die wapen aan my aangegee, sommer saam met die spaar magasyne.
Ek kon net een van die rowers raakskiet, en tot vandag toe weet ek nie of hy dood is nie, voor pandemonium uitgebreek het. Vanuit al die winkels en ander besighede het mense gestroom, paniekbevange en angstig om net uit te kom.
Ek het by die uitgang gestaan en wag vir die ander polisiemanne om aan te kom, maar na dertien minute het ek na my bakkie geloop en ingeklim, steeds met die pistool in my hand, met die doel om dit te gaan inhandig by die polisiestasie. By die verkeerslig het ek anders besluit – hulle het immers my wapen gevat sonder my toestemming en nou het ek een van hulle s’n.
*
“Is dit nie vir jou te swaar nie?”
Herrie het twee rugsakke gepak met alles wat hulle nodig kan kry. Die swaar goed, soos ammunisie en water lê heel onder, met ‘n paar stukkies klere en ligte kossoorte soos beskuit, bokkems (nog vanaf die Weskus), biltong, koekies, rosyne en sjokolade aan die bo-kant.
“Nee, dis heeltemal reg. Ek is ‘n taai ou vrou, Hermaans.”
Herrie kyk vraend na Madel as sy hom op sy doopnaam noem. Die laaste mens wat dit gedoen het, was sy oorlede vrou.
“Kan jy met jou ou lyf jou rugsak dra, Hermaans?”
“Ja. Natuurlik. Ek is ‘n taai én sterk ou man.”
Herrie het sy twee handwapens aan sy sye gegordel, die lang geweer dwars oor die rugsak vasgemaak en in sy hande dra hy die Heckler&Koch MP 5, wat Skeermes vir hom gegee het. Dit was een wat die aanvallers op die rubber aanvalsbote gedra het en die eienaar definitief nie weer nodig gaan kry nie. Hy het die wapen gespan en hy voel gemaklik met die duur sub-masjiengeweer in sy hande. Madel loop met haar Colt .45 ACP in albei hande vasgeklem.
Herrie wonder hoe hulle moet lyk vir iemand van buite af.