Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wat sê die Bybel oor menseregte? Dis uiteraard nie ’n Bybelse begrip nie, maar ’n regsbegrip. In die Bybel is daar geen woord wat regstreeks met regte vertaal kan word nie. Die woord wat die naaste daaraan kom, is regsaak. In Spreuke word koning Lemeul byvoorbeeld aangemoedig om vir die regsaak van ellendiges op te kom: “Maak jou mond oop vir die stomme, vir die regsaak van almal wat wegkwyn” (Spr.32:8).
BROKKIES UIT DIE BOEK – DROOMLAND (2)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Abel het nooit gedink so ‘n klein, skraal vroutjie kan sò hard klap nie. Dis ‘n oophandklap, met al die woede en vrees daaragter, wat sy kan bemeester. Sy tref hom oor die linkeroor en vir ‘n paar oomblikke is hy half van balans af, met sy binne-oor wat probeer om die skokgolf te oorkom. Sy mik vir ‘n tweede klap, maar hy gryp haar aan die gewrig en hou vas. Ongedwonge staan sy nou styf teen sy bors.
“Wat gaan jy nou doen? Op die grond gooi en my aanrand, soos die spul netnou wou doen? Ek moes jou geskiet het toe ek die geleentheid gehad het!”
Abel los haar gewrig en voel hoe die woede in hom ook opstoot. Hy het immers ook die afgelope tyd geweldige trauma beleef. Wie dink hierdie stukkie flerrie is hy?
“Nie al betaal jy my nie! Jy is in elk geval nie my soort nie!”
Hy tel sy wapen op en draai om by die deur uit te loop.
“Siende dat jy so voorbarig was om my te wil soen - iets wat ek niks van gehou het nie. Maar terloops, kan jy vir my iets doen terwyl jy nou hier is.”
“Wat is dit?” vra hy nors.
“Ek… ek wil hê jy moet gaan kyk of my ouers dood is en ook sommer die een wat ek met die mes gesteek het.”
Trane loop nou onbeheers oor haar wange en sy vee dit verergd uit haar oë. Abel maak asof hy dit nie sien nie, maar draai om, loop in by die voorhuis se deur en na die gang toe. Hy steek vir ‘n paar lang asemteue vas en kyk na die man wat half in en half uit die gang lê. Daar is baie bloed, meer as wat hy kon dink in ‘n menslike liggaam kan wees.
Huiwerig loop hy nader en sien die skade wat die vleismes aan die gesig en buikholte van die man gemaak het. Dis nie nodig om te kyk of hy leef nie; niemand kan sò baie bloei en nié daarvan sterf nie. Nogtans hou hy die geweer op die ou gerig as hy naderkom en versigtig aan die vérkant van die gang verbyloop om nie bloed aan sy skoene te kry nie.
By die volgende kamerdeur huiwer hy voordat hy die handvatsel afdruk met sy skoensool, terwyl hy die R1 gereed in albei hande hou. Dit wat hom begroet is nog erger.
Die vrou se hande is bokant haar kop aan die katel vasgemaak met kabelbinders, haar mond met ‘n stuk hegband toegeplak, haar klere feitlik alles afgeskeur en haar liggaam bebloed en bleek agtergelaat asof dit ‘n uitgesuigde lemoen is, wat bloot weggegooi is. Die man, ‘n sterk, fris ou met donker hare en baard het hom duidelik teëgesit en hy is geslaan en gemartel te oordeel aan die hoeveelheid snyplekke aan sy arms, bene en borskas. ‘n Elektriese boor is gebruik om sy knieskywe te deurboor en sy keel is afgesny.
Abel sluk die naar weg, maar dit kom terug; hy hardloop na die badkamer en gooi op in die toilet. Die reuk van bloed, naarheid en dìt wat hy gesien het, maak hom weer naar en sy lyf ruk en roggel soos hy weereens opgooi.
Bleek loop hy terug na die kamerdeur, haal die sleutel uit die sleutelgat aan die binnekant, druk die deur toe en sluit dit. Hy bêre die sleutel in sy sak.
“Is hulle dood?” vra Nala.
“Ja, juffrou, ek is bevrees hulle is.”
“Al drie?”
“Ja, al drie. Ek is jammer.”
“Is dit baie erg… met my pa en ma?”
“Los dit eers.”
*
Geen mens word beskaafd gebore nie. Dis aangeleerde gedrag en kom dus grootliks van die opvoeder af. Natuurlik is die ouers of voogde die eerste mense wat hierdie gedrag bepaal en die mate waarin die ouers of voogde self beskaafd is, gaan natuurlik ‘n bepalende faktor speel. Beskaafde mense verwag beskaafde optrede van ander, om die samelewing ‘n veilige en bewoonbare plek te maak. Dit gaan gepaard met reëls, wette en gedragspatrone.
Die meeste mense word gevorm voordat hulle vyf jaar oud is. ‘n Kind wat voor daardie tyd aan beskaafde optrede blootgestel word, sal uiteraard makliker in ‘n sodanige patroon val. ‘n Kind uit ‘n ruwe, ongepoetste omgewing, sal daardie gedrag uitdra na die mense met wie hy of sy in kontak kom.
Kinders, as avontuurlustige en nuuskierige wesens, sal altyd die grense van aanvaarbare gedrag toets. ‘n Sprekende voorbeeld hiervan is ‘n seun of dogter wat geleer is om hulle oë tydens gebed toe te maak, sonder om te weet wat gaan gebeur indien hulle dit nie doen nie. Sodra daardie kind sy oë sou oopmaak onder gebed en niks gebeur soos weerlig wat slaan, ongemak, of om te sterwe te kom nie, sal hy ‘n stuk ontnugtering ervaar, wat nooit weer herstel kan word nie. Die eerste keer as ‘n kragwoord gebruik word of iets onbeskof aangevang word en daar is nie iets negatief wat plaasvind nie, sal dit makliker weer gebeur.
Die mens, jonk of oud, is van nature geneig om selfsugtig te wees en sal homself alles toeëien indien daar nie ‘n groot stuk opvoeding teenwoordig is nie.
‘n Tiener wat die eerste drange van puberteit ervaar, sal verward wees oor die uitlewing daarvan, skuldig voel oor sy of haar gedagtes en fantasieë en in die geval waar dit nie onder leiding van ‘n meer ervare persoon reg gekanaliseer word nie, kan hierdie skuldgevoelens ten kwade onderdruk word en selfs tot promiskieuse gedrag lei.
Veral in seuns is die jagtersinstink van kleins af teenwoordig. Indien daar behoorlike opvoeding sou plaasvind, en hierdie instink reg gekanaliseer word, sal hy respek vir lewe ontwikkel en selfs sy jagtersdrang onder bedwang hou en uiteindelik reg aanwend.
Weens wanopvoeding sal mense ander seermaak uit sadisme, plesier en selfs in ekstreme gevalle, seksuele genoegdoening vind in die marteling van dier sowel as mens.
Uiteindelik is aanvaarbare gedragsnorme die smeermiddel wat die gladde interaksie van die samelewing, waarom die beskawing draai, bepaal. Iemand wat hom of haar nie steur aan die norme van die samelewing nie, word mettertyd uitgewerp, hetsy deur die persoon tydelik of permanent daaruit te haal. Ons noem dit kriminaliteit. Die meeste kriminele word in toom gehou deur nie bloot wette te promulgeer nie, maar om dit ook effektief toe te pas.
Wanneer wet en orde verval, wanneer mense gedragsnorme kan oortree sonder die vrees vir straf, wanneer drange groter as die weerhouding word, sal die beskawing eensklaps verval in chaos, wreedheid, en die onbeteuelde uitleef van drifte en drange.
Beskaafdheid is uiteindelik net ‘n vernislagie wat rondom dierlikheid gesmeer is.
*
“Hoeveel ammunisie het jy vir daardie wapen?”
“Vier pakke.”
“Hoeveel is in ‘n pak?”, vra Abel geduldig.
“”Vyftig. Dit gee my twee honderd, as ek reg is,” antwoord Nala snipperig.
“Het jy nog magasyne, behalwe vir die een wat in die pistool is?”
“Ja, daar is drie.”
“Is hulle gelaai, dit wil sê is daar rondtes in?”
“Ek weet wat ‘gelaai’ beteken. Nee, ek wou dit nog doen.”
“Gee hier, dan laai ek hulle vir jou. Veral die laaste een kan nogal styf teen die veer druk en moeilik ingaan.”
Nala gee vir Abel die twee leë magasyne aan, waarin hy die sewe elk rondtes laai. Hy haal ook die een uit die pistool se greep en laai nog een daarin, gee die wapen vir haar terug en sien met genoegdoening hoe sy dit versigtig in die skede aan haar sy sit.
“Ek gaan nou loop. As jy my genoeg vertrou, kan jy saamkom. Ek belowe ek sal jou nie weer soen nie.”
“Waarheen gaan jy?”
“Ek weet nie. Net soos joune, is my ouers vermoor en ek kan nie daar bly nie, al wil ek. Ons huis is egter ook afgebrand.”
“Ek ken nie eens jou naam nie.”
“Abel Crotz. Jy?”
“Nala Pascal.”
“Nala soos uit die fliek?”
“Ja, Abel soos uit die Bybel.”
Nadat hulle ‘n halfuur geloop het gaan staan Abel.
“Hoeveel goed het jy in daardie sak?”
“Net dit wat ek nodig sal kry, hoekom?”
“Ons kan nie ver kom as jy jouself dood dra nie. Gee vir my van die swaar goed.”
Nala is aanvanklik huiwerig, maar sy dra regtig swaar. Abel haal die blikkies kos uit haar sak en van die water.
“Dankie, Abel.”