Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Laat eensaamheid jou met hartseer na ander mense se samesyn kyk? Daar kom 'n draaipunt wanneer jy besef die HERE se teenwoordigheid is vir jou genoeg; wanneer jy besef dat alleentyd kosbare werkstyd is. Dan ervaar jy slegs dankbaarheid, geen eensaamheid nie.
BROKKIES UIT DIE BOEK – DROOMLAND (1)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Nala het ‘n ou weermag-tipe rugsak in haar pa se kas gekry, dit vinnig gepak met wat sy vermoed sy nodig gaan kry; onderklere, kouse ‘n ekstra langbroek en twee effe-kleurige T-hemde, ‘n bietjie medisyne en pleisters en dan kos en drinkgoed. Dis ‘n dikgestopte sak en sy besef dis te swaar vir haar. Sy haal die spaar skoene uit, die water – sy vat net twee halfliter bottels – en van die blikkieskos. Sy vervang dit met al die koekies in die kombuis, beskuit, biltong en droë wors.
Die groot kluis is oopgesluit (sy aanvaar haar pa het die sleutel vir die rowers gegee op voorwaarde hulle los hulle uit, voordat hulle hom vermoor het) en al die vuurwapens, geld en juwele is gevat.
In die studeerkamer is ‘n kleiner kluis wat in die muur agter die boeke versteek is. Dit het ‘n kombinasieslot, wat haar verjaardagdatum is. Nala draai die slot en dit gaan glad oop. Binnekant is ‘n pistool, nog magasyne, twee honderd rondtes en ‘n sakkie met goue Krugerrrande in. Sy hang die sakkie met ‘n skoenriem om haar nek en kyk na die pistool. Sy het ‘n klompie jare gelede saam met haar pa gaan skiet met die ding en sy het na twee skote besluit hy skop te veel terug, maak haar seer en het toe nog nooit weer daaraan geraak nie. Sy kyk na die graveerwerk op die kant van die sluitstuk. Daar is ‘n pronkende perd, en in letters: Colt’s Hartford Cty of USA. Aan die ander kant: Model of 1911 Pty of USA.
Dis ‘n skaars Colt .45 met ‘n lang sluitstuk en verbeterde visiere, maar hiervan verstaan sy niks. Al wat sy weet dis ‘n pistool, hy is swaar, hy skop hard en Pa het gesê dis ‘n skaars een en dis baie werd. Sy weet nie hoeveel in Rande nie, maar dis nou vir haar goud werd, net soos die sakkie met die munte in.
*
Skaduwees hou gevaar in, maar dit bied ook ‘n geleentheid om ongesiens te beweeg, of byna ongesiens, in elk geval. Abel het gewag dat die son oor die kruin van die berg sak, voordat hy vir oulaas die huis groet waarin hy grootgeword het, sy geweer, rugsak en mes neem en aanbeweeg.
Hy staan in elke skadukol stil, probeer so ver moontlik elke stukkie skuiling te ontleed om te kyk of dit veilig is en beweeg dan vinnig en so sag moontlik na die volgende skaduwee. Dit gaan maar stadig en na ‘n halfuur het hy skaars ‘n kilometer en ‘n half gevorder. Hy is nie heeltemal seker waarheen hy op pad is nie, maar voel instinktief aan dat daar groter veiligheid in is om te bly beweeg as om op een plek stil te bly.
Die derde huis van die hoek af, by die kruising van Joeline en Bosbokstraat, is duidelik verlate, met die voordeur wat oopstaan, die motorhek wat afgebreek is en die kleinhekkie wat halfoop staan, met die slot gebreek. Die motorhuis staan oop, maar die Volkswagen Touareg se wiele is stukkend gesny. Abel staan by die hoek van die erf en hou die huis vir ‘n kwartier lank dop. Met die son se lig wat nou begin verdof en die skaduwees wat lank getrek is, sluip hy eers langs die pallisadeheining af tot by die kleinhekkie en loop dan vinnig met die sementpaadjie tot by die oop voordeur. Hy hyg nie na sy asem nie, maar sy hart klop in sy keel en sy hande voel sweterig waar hulle die R1 vasklem.
Hy kyk vinnig by die deur in, pluk sy kop weg asof hy bang is iemand skiet daarna – wat inderdaad ‘n werklike gevaar kan wees, maar niks gebeur nie. Hy waag ‘n tweede blik na binne. Die deur is nie heeltemal oop nie, net halfpad, maar hy is bang om dit heeltemal oop te stoot, dat dit dalk sal kraak op die skarniere en iemand roep of waarsku. Na nog ‘n minuut draai hy na sy linkerkant en loop vinnig na binne.
Hy raak bewus van twee intense gewaarwordinge: die eerste is dat die huis lyk asof ‘n tornado daardeur geloop het, met meubels wat omgegooi is, laaie van die buffet en skryflessenaar wat oopgetrek en die inhoud oor die vloer verstrooi is, skilderye wat afgepluk is en op die inhoud van die buffet vertrap, die groot duur klavier wat omgegooi is, spieëls wat nog hang, maar versplinter is, asof iemand dit reg in die middel met ‘n swaar, harde voorwerp geslaan het.
Die tweede een is dat iets hard en koud teen sy linkerslaap gedruk word.
“Nie een enkele beweging van jou af nie,” hoor hy, terwyl hy die dubbele klik-geluid hoor van ‘n wapen waarvan die haan oorgetrek word.
Abel is nie seker wat hom die bangste maak nie; die koue, ongenaakbare drukking teen sy slaap, die geluid van die aksie of die effens bewerige vrouestem agter die wapen nie. ‘n Wapen teen jou gedruk met iemand wat rasioneel daar agter is, is erg genoeg, maar ‘n ontstelde, onvoorspelbare vrou daaragter?
Hy lig sy linkerhand stadig op van die R1 se voorste greep, en draai sy kop stadig in die rigting van die stem. Sy fokus val op die baie mooi, jong vrou met swart hare, ‘n spierwit gelaat en die helderblou oë. Dan verskuif dit na die donker, groot tromp van die pistoolloop reg voor sy linkeroog.
“Juffrou, is jy seker jy wil my skiet?”
“Baie seker. Maak net ‘n verkeerde beweging en jy is bokveld toe. Hierdie is ‘n punt vier-vyf pistool en glo my, al sou ek wou, ek kan jou nie mis skiet nie.”
“Ek is seker jy kan, maar nie sonder ‘n rondte in die loop nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Ek bedoel ek kan in die loop afkyk en daar is ‘n effense liggie van die son ver agter in die loop, waar die slagpen is. Jy het definitief nie die ding se sluitstuk teruggetrek nie.”
Die pistool bewe effens soos sy die greep op die wapen stywer maak.
“Jy lieg!”
“Wel, trek die sneller en kyk wat gebeur.”
“Jy dink ek sal nie? Gaan kyk in die gang. Daar lê ‘n vent net soos jy, wat nog nie eens koud is nie. Ek het hom netnou-net van die gras af gemaak.”
“Ek glo jou, maar asseblief, poppie, jy mors my tyd met ‘n ongelaaide pistool, al is dit ‘n swaar kaliber een.”
Nala is in ‘n tweestryd. Aan die eenkant wil sy die wapen wegvat van die ongeskikte man se gesig af en self kyk of hy die waarheid praat, maar aan die ander kant is sy dan aan sy genade oorgelaat. Sy oorweeg dit om die pistool te laat val, haar mes uit te pluk en teen sy keel te druk, maar hy lyk eintlik jonk en sterk en sy weet nie of sy vinnig genoeg sal wees nie. ‘n Effense snik kom uit haar keel.
“Jufrou, ek is nie vir jou ‘n gevaar nie, ek belowe. Ek sê jou wat – staan ‘n ent agteruit, daar waar jy veilig voel, en dan kyk jy self.”
Nala huiwer vir ‘n paar lang tellings. Sy laat sak die wapen en kyk moedeloos na Abel.
“Ek weet nie hoe nie.”
“Laat ek reg verstaan, jy druk die ding teen my kop, dreig my met die dood, maar jy weet nie hoe hy werk nie?”
“Natuurlik weet ek! Ek het al met hom geskiet. Maar…”
“Maar?”
“My pa het hom aan die werk gesit en ek moes net korrel en die sneller trek.”
“Kan ek jou wys?” vra Abel en hou sy hand uit.
“Hoe weet ek jy probeer my die flous nie?”
“Hier. Vat my geweer. Hy is wel oorgehaal en langs die linkerkant is ‘n veiligheidsknip wat jy met jou duim net moet oorklik vorentoe, dan kan jy skiet.”
Hy gee die R1 vir Nala aan wat dit aanvat. Sy draai inderdaad die geweer om dat die loop na Abel wys en druk die veiligheidsknip op “R”, met die loop oor haar linker pols, die pistool steeds in haar hand.
Abel wys nie hoe bang hy is vir die situasie nie, maar vat die Colt by Nala, trek die sluitstuk agtertoe en laat skiet dit. Hy druk die veiligheidsknip op, vat dit aan die voorkant en hou die wapen uit vir die vrou, sonder om ‘n woord te sê.
“Sit dit op die vloer en loop agteruit vir twee tree.”
“Dan is ek by die deur uit.”
“Nou net tot by die deur.”
Nala hou die swaar geweer aan die pistoolgreep met haar regterhand en tel die Colt van die vloer af op. Die geweer is swaar en maak sirkelbewegings half in Abel se rigting. Sy sit dit loop eerste op die vloer neer, stut die kolf tussen haar bobene en hou die Colt met albei hande op Abel gerig. Abel sug die soos ‘n mens wat baie moeg of moedeloos is.
“Onthou die veiligheidsknip as jy my wil skiet.”
“Jy weet jy is ‘n properse pyn in die agterent, nê!”
“My pa het dikwels so gesê, so ja, ek weet ek is.”
Ten spyte van alles, die dag se trauma, haar ouers, wat sy aanvaar dood moet wees, die feit dat sy ‘n lewe geneem het en nou hierdie ongepoetste man, glimlag sy effens.
“Ek weet nie waarvoor ek die bangste moet wees nie; die pistool wat jy op my wys, die geweer wat jy amper afgetrek het op my, die feit dat julle,” hy beduie met sy arm na die gemors op die vloer van die woonkamer. “So onnet lewe, of daardie laggie van jou nie.”
Onwillekeurig kyk sy in die rigting waarheen hy met sy uitgestrekte arm wys. Abel spring vinnig vorentoe, gryp die pistool met sy linkerhand en druk die tromp weg van van hom af. Hy staan nou baie naby aan haar en sy kyk verskrik effens na hom toe op.
“Jou…”
Op die ingewing van die oomblik vat hy haar saggies met sy regterhand se gekromde wysvinger onder haar ken, sodat sy haar gesig effens na hom toe oplig. Hy buk af en soen haar saggies op die lippe.