Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Het u geweet? Die OT is oorspronklik in Hebreeus en die NT in Grieks geskryf. Hierdie oorspronklike tekste bestaan nie meer nie. Ná die verwoesting van Jerusalem (586vC) het die Bondsvolk in verstrooiing gegaan waarna die OT tekste op verskillende plekke gekopieer is; ’n moeisame proses omdat dit met die hand oorgeskryf is.
BROKKIES UIT DIE BOEK – DOODSAKKER (12)
Daar is ‘n baie sterk vermoede dat die ANC besig is om vir hulle ‘n privaatleër saam te stel uit vrywilligers vanuit die infanterie en spesiale magte. Foto’s duik met ongereelde tussenposes op van opleiding wat nie baie ver vanaf die Phalaborwahek nie, in die wildtuin plaasvind. Gerugte en nogmaals gerugte.
5 Spesiale magte se front-organisasie word betrek by ‘n Mercedes Vitobussie wat nie net by die Mall of Africa opgemerk is tydens die ontvoering van ‘n sakeman nie, maar is ook baie duidelik te sien op foto’s wat geneem is by die Russiese skip, die “Lady R”.
Vra word gevra oor Panyasa Lesufi se inderhaas-saamgestelde en toegeruste polisiemag in Gauteng, bestaande uit 10 000 manne en vroue. Waar is hulle?
Hierby kan ook gevra word waarom die nasionale weermag en die polisie sodanig afgetakel is, dat hulle eintlik min of niks sal beteken indien hier moeilikheid sou uitbreek nie. Is dit weens korrupsie, onbekwaamheid, kaderontplooïng, of met ‘n doelgerigte opset?
*
Dis vreemd hoe ‘n mens ‘n plek vir jouself kan toeëien as jy jouself daar tuisgemaak en verdedig het. Ek aanvaar dit is hoe mense vanaf primitiewe tye dit ervaar het en ek is nie anders nie. Hierdie vierkante kilometer rondom Kerkplein het vir my ‘n tuiste geraak, al is dit koud, hard en onvriendelik.
Hierdie stukkie plek is myne en ek het al baie opgeoffer daarvoor.
Dit is juis daarom dat ek myself vererg as ek nuwe insypelaars sien inbeweeg. Hierdie manne en soms ook vroue, het uniforms aan wat gemaak is uit ‘n kamoefleerpatroon wat ek nie ken nie. Dis nie dieselfde as die ou SANW-camo’s nie en ook nie van die tipiese kommersiële jagters-kamoeflering nie. Daar is iets vreemds daaraan, wat my half herinner aan die patroon van die ou Soviet-Oosblok se uniforms. Dis ‘n skakering van grys, donkergrys en ‘n ligte skakering daarvan. Die patroon is ook meer reghoekig as wat dit aan die natuur gekoppel sou wees. ‘n Verdere waarneming wat ek maak is dat elkeen van hulle gewapen is met Oosblok-wapens, soos AK-variante en hier en daar een of ander lang geweer met ‘n teleskoop op. Hierdie teleskope is kort, met ‘n stewige rubber oogstuk en sonder ‘n groot objektiewe lens, met ander woorde, dis dieselfde as die hoofbuis van die teleskoop.
Dit lyk ook vir my asof hierdie mense opgelei is en meer dissipline aan die dag lê as enige vorige groep. Hoeveel daar is, kan ek nie met sekerheid sê nie. Hulle kom nie as ‘n groot groep binne nie, maar in kleiner groepe, so vyf na tien op ‘n keer. Ek besef dat ek myself uiteindelik nie teen hierdie hele groep kan verdedig nie en maak planne om te vertrek.
*
Behalwe vir ‘n paar benoude oomblikke, waar Herrie en Madel nie veel meer hoef te doen as om hulle wapens op ewe verskrikte mense te rig nie, loop hulle sonder voorval Plein toe. Dis vir hulle opmerklik dat die meeste mense wat hulle sien, veral in Pretoriusstraat, op pad is stad-uit. Iets of iemand maak hulle bang, want daar is nie die gewone gedrentel van mense wat op pad is êrens heen, maar wat nie aan tyd gekoppel is nie. Dit gebeur selfs dat van hierdie groepe aan die ander kant van die pad vanwaar hulle twee loop, sal verbygaan, sonder om eens direk na hulle te kyk.
“Wat gaan aan, Herrie?”
“Jou raaiskoot is so goed soos myne. Maar terwyl niemand ons probeer kwaad aandoen nie, is dit goed.”
‘n Uur later is hulle feitlik by die plein. Herrie kan sien daar is drie vroue tussen die soldate en hy weet instinktief een van hulle is Tersia.
Hoe wreed is die noodlot tog nie! Daar is geen manier waarop hulle lewendig hier uit kan kom nie.
*
Ek het die groen Nissan Champ gesien aankom. Dit steek soos die spreekwoordelike seer vinger uit, tussen die nuwe uniformmagte uit. Ek het onmiddellik gedink hier gaan die insittendes doodgemaak word, maar tot my verbasing maak hulle eerder pad vir die voertuigie om deur te kom. Ek het geen idee waarom nie, en die hele situasie is vir my uiters vreemd. Uiteindelik hou die bakkie naby Oom Paul stil en drie vroue klim daaruit. Ek hou hulle dop deur die 9,3 se teleskoop, met die idee dat hulle enige oomblik aangerand of doodgemaak sal word. Immers het elke uniform ‘n swart man of vrou binne, en hierdie is drie blanke dames. Wat op dees aarde maak hulle hier?
Skielik onthou ek die stuk papier wat hier in my besit is:
TERSIA, KRY MY BY OOP PAUL. HERRIE.
Bo-aan die vel papier is die foto van ‘n laat-middeljarige man. Hy is lank en wat my opval is die abnormale breë skouers van die man, maar dit kan ook wees dat die foto ‘n optiese illusie kan veroorsaak.
Ek lê vir ‘n paar minute half-besluiteloos. Wat besiel die meisiekinders om so tussen alles deur te ry en dink hulle is onbreekbaar? Ek kan sien hulle is baie benoud, maar ek het bewondering daarvoor dat hulle uitklim en hulle man staan. Regop en skynbaar onbevrees. Van die manne staan nader, maar dit lyk nie asof hulle die drie wil seermaak nie. ‘n Lang, sterkgeboude man kom tussen die ander deur en staan by die vroue en praat. Uiteindelik neem ek ‘n besluit – een wat ek nie normaalweg sou nie.
Ek los my wapens en baadjie langs die venster, loop die drie verdiepings af na die straat en dan aan na waar die vroue staan. Met elke treë verwag ek ‘n skoot en onwillekeurig span ek elke spiertjie in my lyf, nie dat dit enigsins ‘n verskil sou maak nie.
Naby die plein gaan staan ‘n groepie op en hou my nuuskierig dop. Ek hou my hande skouerhoogte en sonder die baadjie kan almal sien ek is ongewapen. Niemand keer my voor of dreig my nie.
“Goeie môre dames. Ek is Taps Mouton. Ek aanvaar een van julle is Tersia?”
Ek word getref deur die drie vroue se voorkoms. Een van hulle, die langste, is een van die mooiste vroue wat ek nog ooit gesien het. Sy het natuurlike blonde hare, met groen oë en perfekte – as daar so-iets bestaan – gelaatstrekke. Die vrou aan die ander kant is duidelik haar suster, maar haar hare is meer rooierig en al is sy ook baie mooi, is sy nie so mooi soos haar sussie nie. Die derde een is baie skraal, met groot, blou-grys oë en donker hare. Haar hande en een voet is in verbande toegedraai. Ek kan sien die voet is nog baie seer, aan die manier waarop sy staan.
“Ek is Tersia,” sê die langer vrou. Haar stem is sag, maar mooi, sonder om aangeplak of genuanseerd te wees.
“Julle wag vir Herrie?”
“Ja,” sê sy met ‘n opgewondenheid in haar stem. Ken jy hom?”
“Nee, maar as ek mooi kyk, dink ek dis hy wat daar aankom.”
Ek wys na ‘n man en vrou wat aangeloop kom van die Oostekant af. Die man het inderdaad die breedste skouers wat ek nog aan ‘n skraal man gesien het. Tersia snak na haar asem en wil sommer na hom toe loop.
“Nee, Tersia, staan botstil. Ek dink nie julle besef hoe groot die gevaar is waarin julle verkeer nie. Julle en ek en Herrie.”
Die offisier draai om en kyk na waar Herrie en Madel loop. Hulle het albei wapens by hulle, maar hou dit so dat dit nie enigsins dreigend lyk nie.
“Friends of yours?”
“I suppose so. I haven’t met them in person.”
Die man draai terug na my toe en kyk my deurdringend aan. Hy het sterk, skraal gelaatstrekke en dit lyk nie vir my asof hy een van ons plaaslike swartmanne kan wees nie.
“Do you have any idea why we haven’t killed you by now?
“No, I am truly flabbergasted.”
“We have orders not to shoot or otherwise bother people, until the order comes. It could happen at any time, so I advise you to take your five friends and leave. You may take the truck, if you wish.”
“I still do not understand.”
“You will, eventually. Now, go.”
Ses mense, saam met ‘n koudhouer agter-op die bakkie is amper te veel vir die voertuigie, maar ons ry stadig straat-af. Net sodra ons naby die gebou is, waar ek my wapens en baadjie gelos het, kom ‘n aantal voertuie van voor af – bakkies, sportnutse en lorries met soldate agter-op. Hulle het ander uniforms aan, Suid-Afrikaanse Nasionale weermag drag, en daar is geen manier waarop ons by hulle verby kan kom nie.
“Kom!”
Ek gryp die koudhouer en hardloop die trappe op na waar ek my wapens gebêre het. By die eerste landing sien ek dat die skraal vroutjie nie vinnig kan beweeg nie, ek veronderstel met haar seer voet. Ek sit die koudhouer neer, hardloop na haar toe, gryp haar soos ‘n mens ‘n baba sou en dra haar die trap op. Sy is lig, weeg amper niks, soos ‘n kind.
Aanhoudende kleingeweervuur dawer deur die gebou, soos die twee groepe slaags raak.
Ek verstaan nog steeds nie wat aangaan nie maar ek is bly om weer my wapens en my baadjie te hê.
“Wat gaan aan met jou hande en voet, dame?” vra ek wanneer daar ‘n effense stilte is in die geveg.
“Ek is nie ‘dame’ nie. My naam is May. Dis ‘n lang storie.”
“Soos dit vir my lyk, gaan ons nog ‘n rukkie hier wees. So, ons het tyd.”
Herrie en Tersia sit styf langs mekaar. Hy hou haar hand vas vir ‘n paar minute en dan neem hy stelling in by die venster. Hy het ‘n mooi geweer by hom en as ek reg is, ‘n sub-masjiengeweer van die een of ander aard. Die vrou wat saam met hom aangekom het, Madel, sit uitdrukkingloos aan sy ander kant.
“Wat is daardie mooi geweer van jou, Herrie?”
“Dis ‘n Sauer model 90.”
“Kaliber?”
“.300 Winchester Magnum. Hoekom?”
“Want ek voorsien groot moeilikheid wanneer hierdie geveg ons kant toe kom.”
My woorde is skaars koud, toe die gebou geskud word deur ‘n ontploffing. Van daar ver, by die plein, staan ‘n man met ‘n vuurpyl-skouerlanseerder, of soos meeste mense dit ken ‘n RPG (Rocket Propelled Grenade). Of die man bloot ver mis geskiet het of doelbewus na ons gemik het, weet ek nie. Die volgende granaat tref een van die troepe-lorries, wat in vlamme uitbars, met meer dooies as gewondes wat deur die lug trek.
“Kom, ons gaan sit in die gang, waar ons veiliger gaan wees!”