Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Laat ons liewers sterf omdat ons die waarheid praat, as om te leef en oor leuens te swyg!
BROKKIES UIT DIE BOEK - MAX (18)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Nou, waar was ons?”
Middagete van gerookte snoek en patats is vir die Limpopo-manne en vroue vreemd, maar baie smaaklik. Kleinskeer het weereens die mense rondom hom verbaas, miskien selfs geskok met sy eetlus.
“Ouboet, hoe bly jy so maer en jy eet so baie?”
“Nee, Tannie, dis maar hoe ek is,” sê hy half verleë.
“Jy hoef nie saam met die grootmense te gaan praat as jy eerder iets anders wil doen nie, Seun.”
“Dankie, Tannie. Ja, ek sal eerder gaan kyk na die vissers en die bote, maar net as ek my geweer mag saamvat.”
“Natuurlik mag jy.”
Ezra neem die .223, sit sy hoed op en loop buitentoe. ‘n Honderd treë van die huis af sien hy ‘n voetspoor langs die pad en sommer uit blote nuuskierigheid gaan kyk hy waarheen die spore kan lei.
‘n Stukkende, verweerde Corolla, sonder wiele en met die enjinkap oop, staan min of meer in die rigting waarheen hy dink die spore kan wys. Tipies nuuskierige seuntjie maak hy die kattebak oop. Aan die binnekant is ‘n kortgolfradio en ‘n stel duur oorfone.
Versigtig maak hy weer toe, sonder om die elektroniese toerusting te versteur. Hy kyk of hy self nie spore gelaat het nie, gaan sit agter ‘n lae duin en wag. Na ‘n halfuur sluimer hy in, maar word wakker as hy haastige voetstappe op die pad hoor. Frans Neethling maak seker niemand sien hom nie en loop na die kar toe. Hy maak weereens seker hy is alleen, maak die kattebak oop en is vir drie minute daar besig. Hy maak seker niemand het hom gesien nie en loop haastig terug huis toe. Niemand nie, behalwe Kleinskeer.
*
“Gibson Makhanda was uiteindelik maar net te gewillig. Hy is voorheen dikwels aangesien as Nelson Mandela en het dit selfs soms misbruik. Hy het so ver gegaan as, wanneer ‘n blanke man hom as ‘Nelson’ sou aanspreek, hy gegroet het met: ‘Hallo my baas!’ Daar is selfs ‘n video waar die man, wie-ookal hy was, toe hy reeds president was, gegrap het dat ‘n toeris hom as ‘Mandela’ aangepreek het en sy vrou gevra het waarvoor is hy beroemd. Tog moes hy iets daaruit kry en behalwe die status, mag en posisie, geld en ander byvoordele, het hy iets vreemds verwag: hy was steeds lief vir Graca Machel en hy wou haar hê.”
“Kan dit wees?” vra Max. “Met al die gunste en gawes wat na sy kant toe gegooi word, hoekom wil hy ‘n vrou ook hê, en dit ‘n spesifieke een?”
“Hy het voorheen met haar ‘n verhouding gehad en hy moes vlug nadat Samora Machel sy bloed gesoek het. Natuurlik was daar ook politieke redes wat hy sou voorsien, maar die liefde, of verliefdheid, noem dit wat jy wil, is ‘n magtige dryfveer.”
“En Samora Machel se vliegtuig val en hy is dood?”
“Netso. Kyk na die feite. Machel was op pad terug van Mbala, waar hy ‘n belangrike vergadering bygewoon het. Hy het probeer om druk uit te oefen op Mobutu Sese Seko, oor dié man se steun vir UNITA. Nou, die destydse Sovjet Unie was ook die hel in vir Machel, want hy het hulle afgejak nadat hulle hom gevra het om samesprekings met die opposisiepartye aan te knoop. Hierdie vergadering was in Mbala, in Zambië.
“Alhoewel hy genooi is om oor te slaap, het hy daarop aangedring om dadelik terug te keer Mosambiek toe, want die volgende dag was Graca se verjaardag en het so die raad van sy sekuriteitspersoneel oorskry. Hy is per straler, ‘n Tupolev Tu-134 na Maputo, die hoofstad van Mosambiek vervoer, maar die vliegtuig het ‘toevallig’ in ‘n berg vasgevlieg buite Mbuzini, net binnekant die Suid-Afrikaanse grens. Machel en 33 van sy mede-passasiers is oorlede, op 19 Oktober 1986, juis in die tyd wanneer Gibson voorberei, of soos die Engelse sou sê, ‘gegroom’ is.”
“Maar soos ek dit verstaan was dit ‘n ongeluk, in swak weer en die loodse het gefouteer,” merk Basjan op.
“Ja, die Margo-kommissie, aangestel deur die Suid-Afrikaanse regering, het bevind dit was ‘n vlieëniersfout. Mosambiek, maar meer belangrik, die Internasionale Burgerlike Lugvaartowerheid, het hoogs verskil met Margo se bevinding. Hoogs, nie grootliks nie. Hulle bevinding was dat die vliegtuig opsetlik met valse radiobakens van koers af gelok is. Hierdie bakens was skynbaar agterop vragmotors gemonteer en het selfs die loodse en vlugingenieurs se navigasietoerusting sodanig mislei dat hulle gedink het hulle is baie hoër bokant die berge. Selfs Pik Botha het later erken daar kon inmenging vanaf die Suid-Afrikaanse regering wees en het gevra dat die ondersoek heropen moes word. Hy het die ANC hierin ondersteun.”
“Dit alles om van ‘n vrou ‘n weduwee te maak?”
“Nee, om van ‘n groot bedrieëry ‘n president te maak.”
“En jy het bewyse daarvoor?”
“Nee, net ‘n groot oorwig van waarskynlikhede.”
“Maar dis mos nie noodwendig dan waar nie?”
“Nee, totdat jy na die groter prentjie kyk en dan besef dat dit een van die sleutelstukkies van die legkaart is.”
“Hoe bedoel jy?”
“Vir eeue het die mensdom probeer om iets chemies te vervaardig wat in ‘n wapen kan omskep word, sodat hulle ‘n beter en meer effektiewe wapen as hulle vyande kon kry. Die Franse het die trébuchet gemaak, die slingervel ken ons uit die Bybel, die Engelse langboog, kruisboog en werpspies was almal wapens waarmee jy die vyand kon doodmaak sonder om iets te gebruik om hom te slaan of in hom te steek. Dis asof die chemici geweet het daar is so iets, maar dit moet net in die regte kombinasie gebruik word. Ek kan my nie eens voorstel hoeveel eksperimente gemaak is nie, voordat die Chinese in die elfde eeu swael, salpeter en houtskool in die regte hoeveelhede bymekaar kon voeg om die regte reaksie te kry. Hulle het dit vir lank gebruik voordat ‘n Europeër dit in ‘n pyp gegooi het, agter toegeslaan en ‘n klip voor die lading. My punt is dat die verskillende geskiedkundige gebeure op hulle eie nie sin maak nie, totdat jy dit bymekaar voeg en dan boem!, gewere is uitgevind.”
“En al hierdie dinge saamgevoeg maak ‘n helse groot ontploffing?” vra Johan Botha.
“Netso, Ouboet, maar jy het geen idee hoe groot die ontbranding sal wees nie.”
“Nou goed, Lothar. Kom ons gestel jy is reg en ek dink op hierdie stadium jy is, maar wat moet ons daarmee maak en wat wil jy hê moet gebeur daarna?” vra Arno, wat tot dusver aandagtig geluister het, sonder om in te meng.
“Kyk, ons land is aan die brand. Dit was onvermydelik. Die ANC het van een gemors na die ander voortgeploeter en dit moes uiteraard op die ou ent die hele kaartehuis inmekaar laat tuimel het. Nie net Eskom en Transnet, die hawens en Denel nie, maar al die staatsbeheerde entiteite of semi-staats as jy wil, het ingegee onder die druk van ‘n ongelukkige populasie. Ek weet dis ‘n anglisisme, maar dit het groter betekenis as bevolking. Die finale strooi was ook nie die inmekaarvou van die kragnetwerk nie en die feit dat die fisikus nie sy begroting kon handhaaf nie. Die laaste vonkie wat nodig was, is toe Donald Trump sy waarskuwing gestand gedoen het en die veertig manne en vroue op sy lys met geteikende sanksies geslaan het.”
“So, wat...” val Basjan hom in die rede,
Lothar hou sy hand op.
“Nee, wag, ek is nie klaar nie. Die ANC en by name hulle hoofuitvoerende beamptes en sommige opposisiepartye se leiers, het krisisbestuur toegepas, waarin hulle al hulle kaarte gespeel het om die land aan die gang te hou, maar nadat hulle besef het hulle is skielik bankrot, met die VSA wat hulle uit die hele ekonomie gesluit het, dat hulle nêrens meer kon reis nie, nie eiendom besit nie en dus uitgeworpenes geword het, het hulle die land oorgegee aan die opstandige mense wat nie meer staatsuitbetalings gekry het nie, nie net die SASSA nie, en natuurlik die sogenaamde ‘three-fifty’, maar ook alle staatsamptenare, vanaf die regering, deur na die provinsies en die munisipaliteite. Dis was ‘n finale, maar onafwendbare doodshou, omdat hulle weerwraak wou inkry.
“Julle weet net so goed soos ek dat alles in ons land afgebreek, gebrand en opgeëet is. Maar dit gaan nie dadelik in ‘n burgeroorlog ontaard nie en selfs indien dit sou gebeur, sal ook dìt uiteindelik gestaak word en dan gaan die proses van oorheersing deur die meerderheid voortgesit word en ons eie mense sal weer die onderspit delf, al sou ons selfs ‘n groot deel van die swart bevolking uitwis. So, die enigste oplossing is om die buiteland te oortuig dat hulle dit nie weer kan toelaat nie. Daarom moet hierdie hele miskoek oopgeskop word en die wurms in die vuur gegooi word. En glo my, hierdie is net die eerste domino wat moet val. Die eerste, maar dit is ook die belangrikste.
“Dink net vir ‘n oomblik hieraan: indien dit bekend sou word – en ek sê juis bekend word en nie bewys nie – dat die man wat ons vanaf 1992 tot 2013 geken het as Nelson Mandela nie die egte karakter is nie, maar ‘n kloon, nabootser, plaasvervanger of watter naam jy hom wil gee, naamlik Gibson Makhanda, wat nooit as president verkies is nie, is die grondwet ongeldig, want dit moet deur ‘n sittende president onderteken word.”
Daar is ‘n hele paar minute van geskokte stilte as die manne en vroue die reperkussies hiervan sit en oorweeg.
“Dit beteken dat elke wet daarna ook ongeldig is?”
“Ja en dit beteken ook dat die voorafgaande grondwet of konstitusie, noem dit ook wat jy wil, steeds geldig is, met al die apartheidwette wat ook steeds geld...”
“En dit beteken ook elke sent wat verdien is met kaderaanstellings en as gevolg van BEE, Transformasie, Regstellende Aksie en sulke raswette onregmatig verdien is en alles daarvan moet verbeurd verklaar word.”